1 Inleiding
1.1 Doel en metode
Die doel van die artikel is om na die grondlegging van die vroegste Christendom te kyk vanuit die kulturele en teologiese lyne wat binne die Judaïsme ontwikkel het, vanaf die Babiloniese ballingskap in die sesde eeu vC tot met Jesus en sy eerste- en tweedegeslag volgelinge. In ’n neutedop word daar aangevoer dat, met die Babiloniese ballingskap, daar twee lyne binne die Jodedom ontstaan het, die Babiloniese lyn wat die ortodokse Judaïsme verteenwoordig het, en die Egiptiese lyn wat ontstaan het uit die Jode wat na Egipte gevlug het. Laasgenoemde het later in die Hellenistiese lyn ontwikkel. Die Babiloniese lyn het na die terugkeer uit ballingskap uiteengeval in die Hasmonitiese lyn, aan die een kant, wat uit die Fariseërs en Sadduseërs bestaan het, beheer oor die tempel in Jerusalem gehad het en sterk op die Mosaïese wette gesteun het . Aan die ander kant was daar die Henogitiese lyn wat weer sterk apokalipties was en waarbinne die Qumranitiese Esseners en die Henogitiese Esseners onderskei kan word. Die artikel voer aan dat die vroegste Christendom veral deur laasgenoemde sterk beïnvloed is.
Wat metode betref, steun die artikel hoofsaaklik op sekondêre bronne, wat beoordeel en geselekteer is op grond van interne, waarskynlike argumentvoering.
Die artikel wil veral aantoon dat die vroegste Christendom nie deur ’n Judaïsme beïnvloed is wat kultureel of teologies enkelvoudig of eenvoudig was nie, maar deur ’n Judaïsme waarbinne verskillende kulturele en teologiese lyne intern met mekaar in konflik was.
1.2 Agtergrond
Die Christendom van die eerste en vroeg tweede eeu het nie uit die niet ontstaan in ’n geïsoleerde milieu nie, maar uit ’n ineengewikkelde stryd binne die Judaïsme wat reeds vir eeue gewoed het. Die Christendom het hierdie teologiese en kulturele lyne as fondament oorgeërf waarop hulle voortgebou het as een van die vele rolspelers en bouers in die Judaïstiese konflik. Hierdie fondament van teologiese en kulturele lyne strek so ver terug as die Babiloniese ballingskap van die 6de eeu vC.
2. Die verdeling van die Egiptiese en Babiloniese lyne binne
die Judaïsme tydens die Babiloniese ballingskap Jerusalem

2.1 Babiloniese lyn tydens die ballingskap(pe)
Die Babiloniese koning, Nebukadnesar II, het in 605 vC opgetrek teen Egipte en in die proses ook Palestina verower, waar koning Jojagin aan hom oorgegee het. Hierdie was die eerste van drie geleenthede waartydens ballinge weggevoer is na Babilon. Tydens die derde geleentheid in 586 v.C. is die tempel in Jerusalem verwoes.2 Dit was hierdie wegvoerings wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Egiptiese en Babiloniese lyne wat uiteindelik ’n belangrike rol sou speel in die fondament waaruit die Christendom gegroei het.
Die wegvoerings het telkens gefokus op die leiersgemeenskap van Jerusalem, naamlik die koninklikes, die leëraanvoerders, die adellikes en die priesters. ’n Groot gedeelte van die leiersgemeenskap is weggevoer na Babilon toe, waar hulle in afsonderlike gebiede geplaas is om die afgeleë gebiede van die Babiloniese ryk te bevolk. Maar nie al die leiers is na Babilon weggevoer nie. ’n Groot gedeelte van die leiersgemeenskap het na Egipte gevlug. Die agtergeblewenes in Jerusalem het nie werklik ’n prominente rol gespeel in die leierskap van Judaïsme nie, behalwe dat hulle die terugkerendes later teëgestaan het. So het daar dan twee prominente leiersgroeperinge binne die Judaïsme ontstaan, naamlik die Egiptiese groep en die Babiloniese groep.3
In Babilonië is koning Jojagin steeds deur die Babiloniese koning as die koning van die Judeërs aanvaar. Die Judeërs het in aparte gebiede gewoon maar het nog steeds as ’n etniese en religieuse entiteit gefunksioneer. Alle Judeërs van die Babiloniese ryk het onder die gesag van koning Jojagin geval. Die priesters wat gesag uitgeoefen het in die tempel van Jerusalem, het nog steeds die gesag in Babilon behou, alhoewel die tempel verwoes was. Op hierdie manier is die gesagstruktuur van Jerusalem van voor die ballingskap oorgedra na Babilon, onder die steeds funksionerende Dawidiese koningshuis en ou priesterorde van Jerusalem.4
2.2 Die Egiptiese lyn tydens die ballingskap(pe)
Terwyl die Judese priesterlike en koninklike gesag in Babilon onderhou is, het die Egiptiese groep ook in Egipte op hulle eie gefunksioneer, alhoewel hulle nie die amptelike steun geniet het van die regeerders nie. Hulle het selfs hulle eie tempel gebou en hulle priesterlike funksies in die tempel voortgesit.
3. Die gesag van die Babiloniese lyn brei uit onder die Persiese Ryk met die herstel van Jerusalem en die onderwerping van die Egiptiese lyn
3.1 Die Babiloniese lyn na die ballingskap(pe)
Met die aanbreek van die Persiese ryk in 539 v.C. is die gesag van die Babiloniese lyn net verder verstewig en is die Dawidiese huis steeds as die gesag onder Judaïsme erken. Serubbabel, die nakomeling van Jojagin, is deur die Persiese koning Kores in 583 v.C. gestuur om die tempel in Jerusalem te gaan herbou. Dit is nie werklik seker wat gebeur het nie, maar Serubbabel het met verloop van tyd van die toneel verdwyn en daarmee het die einde aan die Dawidiese huis aangebreek. Van hierdie punt af sou daar ’n hiërargiese tydperk ontstaan waarin die priesters die gesag in Judaïsme gehandhaaf het.

Die gesag van die Babiloniese lyn word dus nie net deur die Persiese konings instand gehou nie, maar bevestig en amptelik gemaak as die gesagdraende party van alle Judaïsme in die hele Persiese ryk. Dit beteken dat ook die Judaïste in Egipte onder die gesag van die Babiloniese lyn geressorteer het. Die religieuse wette en verordeninge wat die Babiloniese lyn gemaak het, moes deur almal wat hulleself onder die Judaïsme geag het, onderhou word.
Maar dit was met terugkeer van Nehemia en Esra wat die eintlike hervorming plaasgevind het, en die gesag van die Babiloniese lyn in Jerusalem verseker is. Hulle het opgetree namens die Koning van Persië.
Die priesters van die Babiloniese lyn was niks anders as amptenare van die Persiese konings nie. Hulle was dus met ontsaglike mag beklee. Behalwe dat hulle as verteenwoordigers van die koning opgetree het, het alle Judaïste nog steeds onder die administrasie van die Babiloniese lyn geressorteer, wat nou gestasioneer was in Jerusalem met die tempel as die amptelike “Persiese administratiewe kantoor”. Jerusalem was dus die kern van alle Judaïsme, op teologiese, religieuse sowel as staatkundige gebied, met gesag van die Persiese koning.
3.2 Die Egiptiese lyn na die ballingskap(pe)
Die Egiptiese lyn het ook onder hierdie gesag van Jerusalem geval. Ten spyte van die tempel wat hulle gehad het, het hulle nogtans Jerusalem as die kernstad van Judaïsme beskou. In die Egiptiese tempel het daar doelbewus heelwat minder religieuse kultiese handelinge plaasgevind om sodoende hierdie groep se ondergeskiktheid aan Jerusalem te demonstreer. Op dié stadium was dié groepering in die gebied rondom die Elifantyne gesentreerd. Na ’n opstand wat plaasgevind het in Egipte het die meeste Judaïste gevlug na die gebied rondom die plek wat later as Aleksandrië bekend sou staan.
3.3 Hebreeus as ’n kenmerk van die Babiloniese lyn
Een van die belangrikste aspekte van die Babiloniese lyn was die instandhouding van Hebreeus. Met die terugkeer van verteenwoordigers van die Babiloniese lyn het die meeste mense in Palestina die taal van die ryk gepraat, naamlik Aramees. Die situasie was so erg gewees dat die priesters van die Babiloniese lyn die Hebreeuse geskrifte aan die volk moes vertaal. Dit was in hierdie tyd wat die kanonontwikkeling ’n groot hupstoot gekry het. Die vorming van ’n kanon was veral om die taal te behou. Die gevolg was dat Hebreeus deur die Babiloniese lyn gehandhaaf is, te midde van ’n donker tydperk wat Hebreeus in die algemeen beleef het.
4. Die Egiptiese word die Hellenistiese lyn en neem die gesag van die Babiloniese lyn oor
4.1 Aleksander die Grote
Hellenisering was aan die orde in die opkomende Griekse ryk. Sedert 334 v.C. het Aleksander die Grote sy gesag met mag en mening uitgebrei. Hy het die Persiese ryk verower en dit by sy reeds verowerde gebiede ingelyf. Aleksander het die droom gehad om die totale gebied rondom die Middellandse See te verhelleniseer. Uiteindelik het hellenisering nie slegs rondom die Middellandse See geslaag nie, maar in die hele Griekse ryk. Tydens sy lewe het hy die stad Aleksandrië gestig aan die seekus van Egipte. Behalwe dat Aleksandrië een van die belangrikste hawestede geword het, was dit die wortel en bron van Hellenisasie, asook die kennis en filosofie wat dit onderlê het. Dit was dan in hierdie tyd wat die Egiptiese lyn binne die Judaïsme in die Hellenistiese lyn ontwikkel het. Dit is hierdie Hellenistiese lyn wat regdeur die geskiedenis van Judaïsme en die Christendom ’n uiters belangrike rol sou vervul.
Op grond van die algehele Helleniseringsproses, het die Hellenistiese groep Judaïste wat hulle in Aleksandrië gevestig het, al meer prominensie begin geniet, sodat dit ’n baie belangrike setel was vir Judaïsme en die Hellenistiese lyn ’n gevaar vir die Babiloniese lyn begin inhou het. Nogtans was Jerusalem die fokuspunt van Judaïsme en steeds die amptelike gesaghouer van alle Judaïste in die Griekse ryk. In hierdie tyd was dit meer die kulturele invloed van die Hellenistiese lyn wat die bedreiging gevorm het en stelselmatig begin veld wen het.

4.2 Antiogus die Grote
Na die dood van Aleksander die Grote is sy ryk in ’n aantal gebiede verdeel. Dit was in hierdie tyd wat Jerusalem die middelpunt van konflik geword het tussen twee van hierdie Griekse gebiede naamlik die Ptolemeïese en die Seleukidiese ryk. Nadat Palestina byna soos ’n ou lap tussen twee honde rondgetrek is, het dit op die einde onder die gesag van die Seleukidiese ryk beland, wat regeer is deur Antiogus die Grote.
Antiogus was ’n goeie regeerder en hy het ook volgehou om Judea se administrasie oor te laat aan die priesters van die tempel, saam met die gesag oor alle Judaïste in sy ryk. Die gesag was dus steeds in die hande van die Babiloniese lyn. Nogtans was Antiogus ’n groot aanhanger van die Griekse kultuur sodat hy heelwat Helleniserende maatreëls ingestel het en heelparty aksies geloods het om sy ryk te helleniseer. Die gevolg was dat die Hellenistiese lyn binne die Judaïsme op kulturele vlak die Babiloniese lyn se invloed stelselmatig ondermyn en oortref het. Die Judaïste het al meer Hellenistiese neigings begin toon.

4.3 Antiogus IV Epifanus
Hierdie proses het egter eers breekpunt bereik onder die Seleukidiese regeerder Antiogus IV Epifanus (175-164 v.C.). Terwyl Antiogus IV die Hellenisering op die Judaïste probeer afdwing het, het hy terselfdertyd pogings aangewend om die Judaïsme totaal uit te roei. Onder sy regering was daar al heelwat priesters van die Hellenistiese lyn wat openlik die Griekse kultuur goedgekeur en onder die Judeërs aangemoedig het. Die Hellenistiese lyn het al hoe meer gesag gehad en selfs die Babiloniese lyn totaal verswelg.
In die Seleukidiese ryk was die stad Antiochië die eweknie van Egipte se Aleksandrië. So was daar nou twee prominente stede as bakermat van die Hellenistiese lyn, naamlik Antiochië en Aleksandrië. Jerusalem was nou onder die beheer van die Hellenistiese lyn. Hierdie situasie sou egter teen 167 vC verander met die opkoms van die Hasmoniese dinastie binne die Judaïsme, wat die Hellenistiese lyn sou teenstaan, maar ook verdeling in die Babiloniese lyn sou bring.
5. Die Hasmoniese dinastie as oorwinnaar oor die Hellenistiese lyn, en as handhawer dog verdeler van die Babiloniese lyn
5.1 Die vestiging van die Hasmoniese dinastie
Die wiel van oorheersing deur die Hellenistiese lyn het skielik begin draai in 167 vC deur die toedoen van een man, Mattathias, wat gevoel het dat daar ’n stop gesit moet word aan die onderdrukking van die Judaïsme en die vernietiging van hulle godsdiens. Mattathias het ’n Seleukidiese gesant en priester wat aan die gode wou offer doodgemaak, en sodoende ’n opstand teen Antiochus IV Epifanus (175-164 v.C.) begin. Na Mattathias se dood, is hy opgevolg deur sy seun Judas, waartydens die gesag in die tempel gewissel het tussen die Babiloniese lyn en die Hellenistiese lyn. Judas is na sy dood opgevolg deur sy broer Jonatan (161 –c.142 v.C.). Maar dit was eers tydens die bewindskap van Simon (c.142-134 v.C.) wat die Hasmoniese dinastie werklik outonomie vir die Judaïsme bewerkstellig het en die gesag van die Babiloniese lyn in die tempel gevestig het. Simon is ook deur die Judeërs aangewys as hoëpriester, generaal en etnarg.
5.2 Die Babiloniese lyn verdeel in die Hasmoniese en die Henogitiese lyn
Dit was juis hierdie handeling wat ’n verdeling in die Babiloniese lyn teweeg gebring het. Die Hasmoniese opstand het hoofsaaklik ontwikkel uit ’n groep wat bekend staan as die Gasidiem of die Vromes. Dit was ’n rigting in die Babiloniese lyn wat die Mosaïese wet streng wou nakom. Met die verklaring van Simon as hoëpriester, het ’n gedeelte van hierdie Gasidiem weggebreek. Dit was vermoedelik hierdie gedeelte van die Gasidiem wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Henogitiese rigting. Die Babiloniese lyn breek dus in ongeveer die tyd van Simon (c.142-134 v.C.) op in twee rigtings naamlik die Henogitiese lyn en die Hasmonitiese lyn. Volgens tradisie het die Henogitiese lyn weggebreek op grond van die “valse” aanstelling van Simon as hoëpriester, omdat hy nie afkomstig is uit die Levitiese stam nie. Die Henogitiese lyn was sterk apokalipties ingestel, terwyl die Hasmonitiese sterk Mosaïes ingestel was. Die Henogitiese lyn was gekant teen die priesterlike orde van die tempel, alhoewel hulle nie die tempel verwerp het nie.
Bookmarks