Wendag - Debating Christianity and Religion Forum
-
Aan wie [2]
Verbond
Ons weet die teenoorgestelde van geseën is vervloeking. As ‘n gelofte ‘n belofte aan ‘n Godheid gedoen impliseer, wat is die teenoorgestelde van ‘n gelofte indien daar wel so iets is? Wat beteken verbond? Beteken dit dieselfde as gelofte (belofte) of dalk die teenoorgestelde daarvan. Wanneer is ‘n verbond ter sprake? Kon die Trekkers nie ‘n verbond met die God aangegaan het nie?
Om hierdie vrae te kan beantwoord moet na die betekenis en toepassing van die woord “verbond” in die Bybel gekyk word.
‘n Verbond is ‘n ooreenkoms tussen twee of meer partye. In die Ou Testament kom verskillende verbonde tussen mense voor. Daarnaas word gepraat van ‘n verbond wat God met mense sluit.
Die Hebreeus het die uitdrukking: “ ‘n verbond sny”. Daarop kan ‘n sinspeling wees op die seremonie wat met die verbondsluiting gepaard gegaan het (Gen. 15:9-21). Hulle het ‘n kalf of ‘n ander offerdier in stukke gesny. Die verskillende partye – of net die party wat die magtigste was en in die verbond ‘n toegewing gedoen het – het tussen die stukke deurgegaan. Die betekenis van hierdie sinnebeeldige handeling was dat, as hulle die verbond sou skend, hulle soos die in stukke gekapte offerdier moes word. Ook ander plegtighede kon die verbondsluiting vergesel: Hulle het ‘n eed gesweer, of ‘n maaltyd gehou, of die hand gegee, of klere geruil ensomeer. Sien in die geval die verbond tussen Abraham en Abiméleg hieronder (Gen. 21 : 27-32).
Gen 15:9 En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif.
Gen 15:10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
Gen 15:11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.
Gen 15:12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.
Gen 15:13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.
Gen 15:14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.
Gen 15:15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.
Gen 15:16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.
Gen 15:17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Gen 15:18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
Gen 15:19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete
Gen 15:20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete
Gen 15:21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
In die ou Testament word van verskillende verbonde gepraat wat God met mense gesluit het. Met goeie rede kan ons spreek van die werkverbond met Adam, die natuurverbond met Noag, die genadeverbond met Abraham. Daar is die verbond met Israel op die Sinai (Ex. 24:1-8). Daar is ‘n verbond met die Leviete(Mal. 2:4,8) ensomeer.
Exo 24:1 Daarna het Hy vir Moses gesê: Klim na die HERE toe op, jy en Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af.
Exo 24:2 En laat Moses alleen nader kom na die HERE toe, maar hulle moet nie nader kom nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie.
Exo 24:3 Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.
Exo 24:4 En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg ‘n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.
Exo 24:5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag.
Exo 24:6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
Exo 24:7 En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
Exo 24:8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.
Gen 21:27 Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee het ‘n verbond gesluit;
Gen 21:28 Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.
Gen 21:29 Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy uitgekeer het?
Gen 21:30 En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit vir my ‘n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
Gen 21:31 Daarom noem hulle dié plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
Gen 21:32 So het hulle dan ‘n verbond gesluit in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
In die Nuwe Testament is daar ook sprake van ‘n verbond – meer hieroor ‘n bietjie later.
Ten opsigte van ‘n verbond kan nou die volgende gesê word:
- Dit is ‘n ooreenkoms tussen twee of meer partye.
- Dit kan kollektief plaasvind soos tussen die HERE en Israel.
- Dit kan individueel plaasvind (twee mense Gen 21:27-32).
- Daar kom verskillende soorte verbonde voor.
- ‘n Verbond het ‘n sluitings aksie (handskud, sweer, ete ensomeer).
- ‘n Verbond word deur God met ‘n/die mens geïnisieer. – nie andersom nie.
- ‘n Verbond is is bindend.
- ‘n Verbond wat verbreek word het soos stukke gekapte offerdier tot gevolg – verbreker.
Daar blyk ooreenkomste tussen ‘n gelofte en ‘n verbond te wees. In Wese egter verskil dit hemelsbreed van mekaar. Wanneer na die Bloedrivier gelofte gekyk word, is dit beslis nie ‘n verbond nie maar ‘n gelofte. Hieroor later meer.
Neem ‘n mens nou weer Pretorius se skrywe in oënskou, en ek haal aan: “ Die Gelofte van Bloedrivier is ook nie ‘n “nuwe Verbond” as sulks nie, dit is bloot ‘n voortsetting van die oue, …….” dan erken Pretorius implisiet dat daar ‘n verskil tussen gelofte en verbond bestaan maar probeer die verskille omseil deur die ou verbond te koppel aan die Bloedrivier gelofte deur dit ‘n nuwe verbond te noem en dit dan in aanhalingstekens te plaas.
Op hierdie stadium kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat:
- Die Bloedrivier gelofte eie aan die die Boerevolk is – Jafet se nageslag.
- Dit nie verbanddhoudend tot die verbond is wat in die Ou Testament deur Yahweh gemaak is nie.
- Dit nie eienskappe van ‘n verbond bevat nie.
Wanneer die gelofte as sulks bespreek word, sal verdere uniekhede uitgewys word.
Groetnis,
Carel
-
-
11th March 2009 10:20
#12
Aan wie [3]
Bloedrivier Gelofte
Tydens die Bloedrivier verrigtinge op 16 Desember 2008 het die vraag by my opgekom aan wie die Voortrekkers die Gelofte gedoen het? Die dienste was goed maar die gebruik van die benaminge van God die Almagtige en die HERE in dieselfde verband/konteks, het gepla.
Uit die beskikbare literatuur blyk dit dat daar nie ‘n bepaalde standpunt gehuldig word ten opsigte van ‘n God-eenheid wat betrek is tydens die aflegging van die Gelofte op 16 Desember 1838 nie.
Soos alreeds hierbo uitgewys, is die Bloedrivier Gelofte, nie ‘n vootsetting van die verbond wat Yahweh met Abraham later dan ook met Isak en Jakobaangegaan het nie. Omdat ‘n gelofte en ‘n verbond verskil kan so iets nie moontlik wees nie.
Om te kan bepaal met Wie die gelofte aangegaan is, is daar twee moontlikhede naamlik: God (Elohim) of die HERE (Yahweh).
Om tot ‘n sinvolle besluit te kom is dit nodig om ten aanvang, die Geloftes se verskillende bewoordings na te gaan. Die meervoudsvorm geloftes word gebruik aangesien daar verskillende weergawes is: dié op die plaat in die wa-laer, en die van Jan Bantjies soos aangedui deur Karin Strydom. Op die Wendag forum Volksake onder “Wendag Herdenking”, is ‘n kritiese beskouing van die omstandigheidsgetuienis rondom die Gelofte van 16 Desember 1838 wat deur Karin Strydom saamgestel is.
Die gelofte – in Nedelands – soos dit staan op die plaat in die wa-laer, lees as volg:
Gelofte op gedenkplaat
“Mijne Broeders en Mede-landgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van Hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daaroor Zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven.”
Die Afrikaanse weergawe soos “vertaal” vanaf die Nederlands:
Gelofte in Afrikaans – uit Nederlands vertaal
“Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee.”
Volgens Strydom dui haar navorsing daarop dat die mees getroue weergawe van die Gelofte dié een is wat deur Jan Bantjes in sy dagjoernaal neergeskryf is. Dit is gedoen tydens die tyd van die aflê van die Gelofte in 1838. Hierdie weergawe lees as volg:
GELOFTE volgens Jan Bantjes
“Aan den Almagtigen eene gelofte doen wilde (indien allen wel wilden), om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal behagen – en dat zij ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wij den dag der overwinning, in een boek zullen aanteekene om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, op dat het ter Eere van God gevierd mag worden.”
Indien die bewoording van die Gelofte volgens die weergawe van Jan Bantjes korrek is, ontstaan die vraag of dit enige wesenlike verskil aan die inhoud en betekenis van die gelofte, soos geskryf op die plaat in die wa-laer gaan maak? Dit sal vervolgens nodig wees om die belangrikste elemente in die verskillende “geloftes”, ten spyte van verskillende bewoordings en sintaksis, te ondersoek om te bepaal of daar ooreenstemming in hul betekenis is:
• Alhoewel die aanhef van die geloftes verskil, blyk dit duidelik dat die Emigrante Boere of Voortrekkers ‘n belofte/gelofte wou doen.
• Hulle wou hierdie gelofte doen aan die God van Hemel en aarde / aan den Almagtigen eene.
• Dat indien aan hulle, Sy bystand/beskerming verleen word, en dat die vyand in hulle hande sal gee / overwinning geven mogt, hulle ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, dat hulle dié dag elke jaar as ‘n Sabbat dag sal deurbring. Ook aan hulle nageslag sal hulle die oorwinning bekend maak tot die eer van God.
Die woord Heere in Jan Bantjes se aangetekende gelofte word gebruik as ‘n noemnaam en is nie gerig aan die HERE (Yahweh) nie.
Dit blyk dat ten spyte van verskillende bewoordings en sintaksis, die belangrike elemente van die gelofte behoue gebly het. Dit is veral belangrik om te let aan en met wie hierdie gelofte gedoen is. Dit is die Almagtig God van hemel en aarde van wie ons in Genis 1:1 lees. Hierdie God word onder andere ook vermeld in Openbaring 14:7 en in Handelinge 17:23. Dié God is die adrogene God (Elohim).
Uit voorafgaande kan daar tot ‘n gevolgtrekking gekom word dat:
• Die gelofte tydens Bloedrivier aan God die Almagtige, Skepper van hemel en aarde gedoen is.
• Die gelofte deur ‘n nuwe wordende volk – die Boerevolk – gedoen is.
• Dié volk voortkom uit ander volke – afstammelinge van Jafet.
• Die volk ‘n nuwe taal ontwikkel het.
• Die boerevolk se gelofte ‘n “as” en ‘n “dan” bevat.
• Dat God oorwinning gegee het – die “as”. Later meer hieroor.
Die omstandighede waaronder hierdie gelofte gedoen was, was van ‘n dreigende gevaar en sodanig, dat almal in die laer vermoor kon gewees het as God nie oorwinning gegee het nie.
Groetnis
Carel
-
-
12th March 2009 10:28
#13
Aan wie [3]
Bloedrivier Gelofte: die “as” [1]
Die gelofte soos aangeteken op die plaat in die wa-laer (Nederlandse weergawe) by Bloedrivier en die van Jan Bantjes, soos aangeteken deur Karin Strydom word nou van nader beskou. Om ‘n onderskeid tussen die twee weergawes te vergemaklik sal aanhalings uit die Bloedrivier weergawe in blou gedoen word en die van Jan Bantjes in groen. Karin Strydom verwys na die gelofte as ‘n kontrak tussen God en die Emigrante Boere. Soos hierbo aangetoon word ‘n gelofte aan ‘n Godheid gedoen en is ‘n kontrak nie ter sprake nie. Nietemin, vir die doeleindes van dié beredenering laat ons dit daar aangesien sy (Karin) dit slegs by implikasie aandui.
Volgens Strydom bevat die “as” gedeelte (As God dit doen dan sal…) vier elemente naamlik:
1. “zoo de Heere ons de overwinning geven mogt.”
2. “een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten.”
3. “alwaar het Hem zal behagen-.”
4. “de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen.”
Vergelyk ons nou Strydom se “as” gedeelte met dié op die plaat in die wa-laer, kry ons die volgende:
1. “als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen,”
2. “dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen.”
3. “waar het Hem zou behagen.”
Die gelofte soos aangedui in die wa-laer kort dus een element naamlik dié van“de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen.” wanneer vergelyk word met dié van Jan Bantjes.
Die eerste gedeelte van die “as”, het God nagekom.
Die tweede en derde gedeelte van die “as” is daar ook ooreenstemming tussen die twee gelofte weergawes. In Jan Bantjes se opgetekende gelofte word verwys na ‘n Huis met ‘n hoofletter en in die Bloedrivier weergawe na ‘n tempel. Op gesigwaarde kan dan gesê word dat daar na ‘n fisiese gebou verwys word. ‘n Gebou wat dan sodanig gebou sal wees dat dit God se Groote Naam en Sy Eer sal gedenk. Dan, dat so ‘n gebou geplaas/gebou sal word waar dit God sou behaag.
Karin Strydom erken bogenoemde siening maar gaan egter verder en sien “Huis” ook as ‘n Volk. In dié verband word verwys na die Ou Testamentiese gebruik van “Huis van Israel” waar daar dan verwys word na die “Volk van Israel”. Die gebruik van die woord tempel skep ‘n probleem om na ‘n volk te verwys in die breë of na ‘n spesifieke volk soos die Boerevolk. Karin se siening het meriete maar omdat dit na ‘n Ou Testatamentiese gebruik verwys wil ek gekwalifiseerd daarmee verskil. Later sal die redes en motivering gegee word waarom dit nie noodwendig aanvaarbaar is nie.
Karin beweer dat God Sy deel van die gelofte (“as” gedeelte), naamlik:
1. “een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten.”
2. “alwaar het Hem zal behagen-.”
3. “de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen.”
nie kon nakom nie aangesien God nooit deur die mense wat die gelofte afgelê het in die saak geken “alwaar het Hem zal behagen” nie. Sy beweer ook verder dat daar geen bewys is dat die vierde element naamlik dié van“de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen.” onderlê is deur ‘n byeenkoms om hierdie uiters belangrike deel van die Gelofte na te kom nie.
Dit is opvallend dat die gelofte soos aangeteken in die wa-laer nie hierdie element as ‘n “as” bevat nie maar wel as ‘n “dat”. Die verskil is dan daarin geleë dat God se bystand nie benodig word nie. Die volk onderneem om uitvoering daarvan self te laat geskied. Natuurlik sal God se vrywillige hulp om die gelofte te volbring ‘n besondere pluspunt wees.
Nou kan met reg gevra word waar ons nou staan met die gelofte en God se aandeel? Moet die Boerevolk eers bymekaar kom om van God te verneem waar ‘n huis/tempel gebou moet word om Hom te verheerlik? Waar gaan die geld vandaan kom in hierdie moeilike tye? Moet dit ‘n swart bemagtigings projek wees volgens regerings voorskrifte? Wie is Boere en wie aanvaar dan verantwoordelikheid? Hoe gaan God ons antwoord? Baie sulke vrae, sinvol tot onsinnig kan gevra word.
My beskeie opinie is dat God alreeds sy deel van die gelofte TEN VOLLE nagekom het. God is almagtig en weet wat vooruit gaan gebeur. In Sy wysheid is besluite alreeds geneem, en waar nodig uitvoering daaraan gegee. Somtyds sonder dat dit besef word. Soos die Voortrekkers die onbekende ingetrek het, het hulle onbewus onder God se seën Sy opdrag om die aarde te vul en om te vermeerder uitgevoer.
Groetnis
Carel
-
-
12th March 2009 17:16
#14
Aan wie [4]
Bloedrivier Gelofte: die “as” [2]
Wanneer gesê word dat God sy deel van die gelofte ten volle nagekom het, waarna word verwys? Die volgende word vervolgens bespreek:
1. “een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten.”
2. “alwaar het Hem zal behagen-.”
1. “dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen.”
2. “waar het Hem zou behagen.”
Ten eerste dui die gelofte op ‘n fisiese huis of tempel wat sodanig gebou sal wees dat dit God se Groote Naam en Sy Eer sal gedenk. Dan, dat so ‘n gebou of tempel geplaas/gebou sal word waar dit God sou behaag. Die waarskynlikheid dat so ‘n huis of tempel deesdae gebou sal word is baie skraal soos alreeds aangetoon. Bestaan daar nie dalk alreeds so ‘n gebou waarvan ons dalk net nie van kennis dra nie?
Na my wete is daar net een so ‘n gebou wat aan die nodige vereistes voldoen en dit is die Voortrekker Monument. Wanneer ‘n mens die eerste keer daaraan dink, dan wil ‘n mens dié gedagte eers verwerp. Wanneer egter na die feite, simboliek, die plasing ensomeer gekyk word, dan kom die besef tot ‘n mens dat dit moontlik kan wees. As alle relavante feite egter onder oë geneem word dan kan dit nie anders as om dié bepaalde gebou te wees nie.
Kom ons kyk eerstens na die plasing van die gebou.
Die volgende plekke het aanspraak gemaak op die beoogde Voortrekker Monument: Pietermaritzburg, Weenen, Danskraal, Bloedrivier, Blijde Vooruitzicht, Thaba Nchu, Bloemfontein, Winburg, Potchefstroom, Vegkop, Pretoria en Ohrigstad.
Die keuse het op Pretoria geval wat in 1855 gestig is, byna 20 jaar na die begin van die Trek. Die naam van Pretoruis, na wie Pretoria vernoem is, is nou verbonde aan Bloedrivier en geskiedkundiege gebeurtenisse in Natal, Vrystaat en Transvaal. Hier, na al die omswerwinge van jare, kon die Voortrekkerideale uitgelewe word. Pretoria kan beskou word as die middelpunt waarop die Voortrekkergeskiedenis uitgeloop het. Die naam van Paul Kruger wat as kind die Groot Trek meegemaak het, is ook onafskeidbaar aan Pretoria verbonde omdat hy teen die end van die negentiende eeu daar as President van die Suid-Afrikaanse Republiek gevestig was.
Wie beter was daartoe in staat om ‘n geskikte plek vir ‘n monument te vind namens die Boerevolk as die destydse Sentrale Volksmonumentekomitee van 1936.
Die ligging van die monument is uniek. Dit is vanuit baie rigtings van ver af sigbaar. Destyds vanaf die ou Warmbadpad kon die Monument (seker vandag nog) kilometers ver deur Wonderboompoort gesien word. Sy verhewe ligging maak dit moeilik om deur omringende geboue – tans nie daar nie – verberg te word indien gebou. Letterlik duisende mense reis daagliks verby die Monument – meeste glo ek is Boeremense. By die aanskoue van hierdie gebou kan nie net ons voorsate se opofferings herdenk word nie maar veral God se ingrype in ‘n kritieke stadium van ons volk se geskiedenis. So kan God se Naam daagliks gedenk en verheerlik word.
Vanaf die voet van die Monument, anderkant die amfiteater in die verre agtergrond is die stad Pretoria en die Uniegebou op Meintjieskop duidelik sigbaar – daar vanwaar die Boerevolk vir 40 jaar* regeer het.
Wanneer ons na die simboliek van die Voortrekkermonument (volgende poste) kyk, dit wat gesê en nie gesê is nie, dan sal ons besef hoe uniek hierdie gebou is en waarskynlik dan die hand van God agter alles sien.
Groetnis
Carel
*40 Jaar – later meer hieroor.
-
The Following User Says Thank You to Carel van Heerden For This Useful Post:
-
15th March 2009 10:00
#15
Aan wie [5]
Bloedrivier Gelofte: die “as” [3]
Die Voortrekkermonument is gebou om in tasbare vorm ‘n huldebewys te lewer aan ‘n groep mense wat ‘n groot daad verrig het. Op ‘n bepaalde wyse, onder andere deur simboliek, word hierdie dade uitgebeeld. In die Heldesaal word gebruik gemaak ‘n Historiese Fries. Dit is te betwyfel of enige simboliek van geskiedkundige gebeure van ‘n volk so ‘n monument kan verander in ‘n tempel. Die Taalmonument is ook van ver af sigbaar en en beskik oor simboliese betekenisse. Maak dit die Taalmonument ‘n tempel? Die Paardekraalmonument by Krugersdorp byvoorbeeld, is meer in die vorm van ‘n huis/gebou opgerig. Kan daar dus gesê word dat dit ‘n Boeretempel is? Helaas nie. Op watter gronde fundeer ek dan my stelling dat die Voortrekkermonument, behalwe as ‘n vorm van huldebewys vir die Voortrekkers, ook die “een Huis/ tempel tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten”is?
Volgens my lê die verskil in die volgende:
• Met die ontwerp van die monument het Dr. Gerhard Moerdeyk as vertrekpunt geneem dat die Voortrekkers met sy probleme die Bybel sou raadpleeg. Hulle sou soos Abraham toe hy uit Ur van die Chaldeërs weggetrek het om ‘n nuwe tuise te stig, sy monument godsdienstig gemaak het. In die Beskrywing van Abraham se ervaringe sou die Voortrekker telkens weer gelees het: “Hy bou aldaar ‘n altaar.” Gen. 12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
• In die monument neem die “altaar” die vorm aan van ‘n senotaaf uit Afrikaanse graniet gebou. Hierdie altaar dui op die offer van die lewe self – vir my simboliseer dit nie net op dié van Piet Retief en ander Voortrekkers nie, maar veral ook op die hoogste offer gebring naamlik dié deur Jesus Christus. Die gelofte is aan Elohim gedoen en Sy uitkoms soos bewerkstellig aan die Voortrekkers is ook vir ons bewerkstellig (afstammelinge van Jafet) deurdat ons mag woon in die tente van Sem.
• As daar een volk was wat in hulle bouwerk die eienskap van geweldigheid kon weergee, was dit die Egiptenare. Selfs in hulle kleinere bouwerke het hulle daarin kon slaag om die weergawe van die grootsheid van Afrika vas te lê. Die Voortrekkermonument bied die eienskap van geweldigheid, ‘n eienskap wat die werk van mensehand verdwerg. Dit is nie ‘n geval van besliste afmetings nie, maar van skaal en gevoel.
• Die Voortrekkermonument is geskoei op die tipe bouwerk van die Mausoleum van Halicarnassus, ‘n monument wat in Klein-Asië vir koning Mausolos opgerig is en is omtrent net so groot. Dit beslaan egter slegs een-sewe-en-twintigste van die grootte van een piramide.
• Ten spyte van die aanvanklike gedagte om die monument van sandsteen te bou is op graniet besluit. Hierdie graniet was afkomstig uit die granietgroewe in Soutpansberg – daar waar Louis Trigardt ‘n dorp gestig het – toeval? Hierdie graniet is van dieselfde gehalte as die Egiptiese graniet uit die groewe van Assoean. Die geboue in Egipte staan na 4 000 jaar nog, en die graniet vertoon in baie gevalle nog die oorspronklike hamer- en beitelmerke.
• Die gang om die monument vergelyk met sommige van die tempels in Egipte. Hier is die pilare nie rond nie maar vierkantig om aan te pas by die ontwerp en boustyl.
• Bo-om, bokant die groot boogvensters, is daar ‘n sig-sag-lys aangebring. Dit is die lyn wat in die ou spykerskrif of wigskrif (wyd in Mesopotamië aangewend vir ongeveer 3000 jaar) water aandui – die onontbeerlike element vir vrugbaarheid. Dink hier aan God se opdrag aan Noag en sy seuns om “vrugbaar te wees, te vermenigvuldig en die aarde te vul.”
• Die koepel met ‘n opening vir lig en lug, van buite af verberg vanweë die ontwerp maar van binne duidelik sigbaar. Sou daar enige verband wees ten opsigte van die ooreenstemming met koepels soos met dié van die katedraal van die Heilige Wysheid, Masedoniese Moederkerk of die moederkerk van Kiev?
• Ten laaste is dit opvallend dat die hoeksteen gelê is op 16 Desember 1938 en die monument ingewy is op 16 Desember 1949 om 12:00. Die feit dat die son se strale elke jaar op 16 Desember om 12:00 op die altaar skyn, bevestig vir my meer as enige iets anders, dat God uitkoms gegee het toe dit gevra was, en dien dié gebeurtenis elke jaar as ‘n bevesting van die gelofte wat eendersyds deur God nagekom is, en ons verantwoordelikheid om ons – die “dan” gedeelte ook getrou na te kom.
Groetnis
Carel.
Last edited by Carel van Heerden; 15th March 2009 at 17:03.
-
-
15th March 2009 11:47
#16
Vir Wie en die “dan” gedeelte
Met hierdie slotgedeelte word kortliks gekyk vir wie hierdie gelofte bedoel is. Wie kan op die gelofte aanspraak maak en wie nie? Op wie is die “dan” of “dat” gedeelte naamlik: “dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daaroor Zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven” van toepassing?
Met hierdie gedeelte gaan ek slegs konsentrreer op vrae, nie antwoorde nie. Elkeen moet self besluit hoe toepaslik sekere stellings is aldan nie en indien nodig waar hy of sy inskakel as nageslag van die gelofte.
Wie is die Boerevolk? Nakomelinge van die Voortrekkers of enige persoon wat hom vereenselwig met die gebeure? Is daar ‘n verskil tussen ‘n Afrikaner en ‘n Boer?
Thomas Halstead – ‘n Engelsman – wat as tolk tussen Piet Retief en Dingaan opgetree het, se beendere lê by die beendere van Piet Retief en sy makers in dieselfde graf. Sou sy nageslag kwalifiseer as kinders van die gelofte en as deel van die Boerevolk?
Theresa Viglione, ‘n Italiaanse vrou wat aan ‘n groepie negosiante behoort het wat met die Trekkers handel gedryf het. Hulle waens het buite die Bloukranslaer gestaan. Die nag van die moord het Theresa onraad gemerk, op ‘n perd gespring en die Trekkers al langs die Boesmansrivier gaan waarsku dat die Zoeloes op die oorlogspad is. Sou haar nageslag kwalifiseer as kinders van die gelofte en as deel van die Boerevolk?
Waar ‘n Afrikaans-sprekende Boeredogter met ‘n Engelsman trou. Hoe sal die gelofte hulle en hulle nageslag raak. Is daar voorwaardes aan verbonde?
Daar is van die jonger generasie wat hulle as deel van die Boerevolk beskou maar terselfdertyd die aanname maak dat die gelofte nie op hulle van toepassing is nie aangesien dit te lank gelede gebeur het. Hulle woon nie ‘n geloftefees by nie want dit is “outyds” en irrelevant. Hoe raak die gelofte sulke persone teen die betekenis van ‘n gelofte dat as jy dit sou verbreek is dit sonde in jou?
Dié wat sê hulle is lede van die Boerevolk en die geloftedae bywoon. Om dan tydens die diens óf worsbroodjies te verkoop, óf worsbroodjies te koop en dit dan tydens die diens in die saal te eet. Dit was om 11:30. Watter gewig dra Geloftedag vir die sulkes?
Is die “vir wie” oop vir alle rassegroepe? Wat van Albach se basterkinders en hul nageslag? Was hulle nie ook Trekkers nie?
Sarel Cilliers en die mense in die wa-laer het op die voorraand van die geveg met die Zoeloes het alles tot hul beskikking gereed gemaak om tydens die komende geveg oorwinning te verseker. Ons wat aanspraak maak op Boermanskap, gebruik ons alles tot ons beskikking om ons huidige situasie om te keer? Is die uitoefening van ons stemreg een?
Die Nasionale party het, vandat hulle ‘n volstrekte meerderheid in die parlement verkry het (1953) vir 40 jaar regeer. Die onderhandelinge by Kempton Park het die verkiesing wat in1993 moes plaasvind, na 1994 verskuif waartydens die Blanke sy “beheer” verloor het. Wanneer in ag geneem word dat die volk Israel vir 400 jaar in knegskap onder die Egiptenare gedien het, dat hulle daarna vir 40 jaar in die woestyn moes rondswerf vanweë hul ongehoorsaamheid, hoe lank gaan dit duur voordat die Boerevolk weer vry is – ook 40 jaar? Slaan gerus die getal 40 jaar na in die Bybel. Ook die Egiptenare is uit hul land vir veertig jaar verdryf.
Groetnis
Carel
Last edited by Carel van Heerden; 15th March 2009 at 19:28.
-
-
15th March 2009 16:39
#17
Dagsê Carel.
Baie dankie vir jou gesprek oor bloedrivier, ek vind dit indrukwekkend. Ek dink ons as Boervolk het baie om te leer ook daaruit en baie vrae om onself te vra. Die getal 40 speel inderdaad n groot rol, nog n voorbeeld is reën wat 40 dae en 40 nagte aangehou het in Noag se tyd. Nog iets is dat daar volgens my beslis n verskil is tussen n Boer en n Afrikaner, ek het onlangs n baie goeie boek gelees wat onder meer daaroor handel genaamd "Visies van Vryheid" deur Tobias J.G. Louw. Ek weet nie of jy bekend is met die boek nie. Maar in elk geval, dankie weereens.
ƒx
We are not human beings on a spiritual journey, We are spiritual beings on a human journey.
-
-
15th March 2009 19:17
#18
Carel van Heerden.
Jou insette getuig van 'n eerlike, diepgaande studie en 'n liefde vir ons Volk.
Dankie dat jy hierdie studie met ons gedeel het. Ek kyk uit vir jou volgende onderwerp.
Liefde groete.
Die Ou Man
-
-
16th March 2009 19:31
#19

Originally Posted by
Fulcrum X
...Nog iets is dat daar volgens my beslis n verskil is tussen n Boer en n Afrikaner....
Fulcrum X, hiermee gaan ons beslis akkoord, dalk moet ons 'n draad hieroor oopmaak, en dit dalkies uitpluis, of wat praat ek?
groetnis
knipmes
Ns. Carel, ek kom nog by jou... puik werk!!
-
-
17th December 2009 16:47
#20
Pragtig uiteengesit sodat selfs n eenvoudige soos ek kan sin maak daaruit.
Wens ek het die stuk al lankal ontdek.
Die slot paragraaf is egter vir my onduidelik of nie klaar geskryf nie.
Vir Wie en die “dan” gedeelte??? Is die vraag beantwoord of mis ek iets?
subie
-
Similar Threads
-
By Die Ou Man in forum Volksake:
Replies: 0
Last Post: 18th May 2009, 08:54
-
By Die Ou Man in forum Boervolk Teologie:
Replies: 4
Last Post: 10th February 2009, 21:57
-
By Die Ou Man in forum Videos
Replies: 0
Last Post: 14th June 2008, 20:19
Posting Permissions
- You may not post new threads
- You may not post replies
- You may not post attachments
- You may not edit your posts
Forum Rules
Bookmarks