Aartappelboer wat koolkoppe kweek
Jean Oosthuizen
In ’n tyd waarin aartappel-teologie en geestelike kitskosresepte soos die afgelope naweek buite Greytown teen R150 per kampeerplek verkoop, wonder mens onwillekeurig wat die “mighty men” soos ’n magneet na sulke byeenkomste aantrek?
Is dit toevallig dat die populistiese politieke retoriek van Jacob Zuma op die oomblik dieselfde trefkrag het onder ’n bepaalde groep Suid-Afrikaners as Angus Buchan se ewe retoriese teologiese boodskap onder ’n ander groep Suid-Afrikaners?
Die twee mag dalk niks met mekaar te doen hê nie, want die een is teologies en die ander polities. Tog is daar bepaalde parallelle waarvan kennis geneem behoort te word. In die onseker tye waarin ons leef is mense naarstiglik op soek na eenvoudige antwoorde wat maklik op die oor val.
Dieselfde mense wat met die afgelope verkiesing saans kopskuddend voor die TV sit en staar het hoe Zuma die massas al singend en dansend hipnotiseer met sy politieke retoriek het skyn?baar geen probleme met die teologiese retoriek van ’n Angus Buchan nie.
Van heinde en ver ruk mense in hul duisende op na stadions regoor die land om meegesleur te word deur óf politieke óf godsdienstige clichés in ’n wêreld vol onsekerheid. Dieselfde mense wat onthuts is wanneer Zuma verklaar die ANC sal regeer tot Jesus weer kom, vind dit skynbaar nie vreemd as daar beweer word mense staan op uit die dood wanneer Buchan daarvoor bid nie. Of dat God wolkies soos harte stuur om oor Buchan se saamtrekke te hang nie.
Zuma en Buchan se ondersteuners is op soek na ’n De la Rey om hulle te lei. Albei groepe glo hul vorige leiers het hulle in die steek gelaat en smag na iemand om hulle in ’n nuwe beloofde land in te lei.
Zuma se volgelinge is vies vir Mbeki. Hulle blameer hom omdat hulle byna 15 jaar ná demokrasie steeds arm en werkloos is. Vir hulle is Zuma die profeet wat hulle die beloofde land moet binnelei. Baie van Buchan se mighty men is óók in sak en as. Talle meen hul leiers het hulle óf uitverkoop óf belieg óf albei. Mbeki het die wêreld vol gerits terwyl sy mense honger ly, kla die Zuma-kamp. FW de Klerk lê in die arms van sy Griekse vrou terwyl “sy mense” krepeer op straat en alleen die prys betaal vir regstellende aksie en die flaters van apartheid. So murmureer baie wittes onder mekaar.
Albei groepe voel die ekonomiese druk en word geteister deur misdaad en geweld. Die mighty men en die 100% Zulu boys is met vaste tred op mars met die vaste geloof in hul harte dat hulle deur een of ander nuwe messias na die beloofde land gelei moet word.
Net so min as wat ’n swart Suid-Afrikaner dit vandag kan waag om Zuma te kritiseer sonder om as dislojaal gebrandmerk te word, net so min kan ’n gelowige dit waag om die aartappelboer te kritiseer sonder om as kleingelowig of selfs ongelowig gebrandmerk te word.
Verlede jaar skryf ’n dominee in die Kerkbode opgewonde oor Angus as ’n man van God met ’n visie. Hy was self op Loftus en sê die mense kon nie wag dat Angus praat nie. En hét hy nie gepraat nie! ’n Vrou wat hom deur ’n verkyker dopgehou het sê die man het gepraat dat die spoeg so spat! Die dominee reken Buchan móés so praat want hy moes 70 000 honger mense kos gee.
Wee diegene wat nie daardie opgewondenheid deel nie.
Mens kan maar net wonder hoe lank daardie honger mense uit Buchan se hand sal eet voordat hulle agterkom aartappels groei nie oral so maklik nie, selfs al bid jy hóé hard.
Mense wat praat dat die spoeg so spat se boodskap is ook nie altyd volhoubaar nie. Hulle is dikwels net daardie klein bietjie té seker van hulself en dit wat hulle verkondig.
Dit is egter nie soseer Angus Buchan se boodskap wat pla nie. Hy sê nie juis iets nuuts nie. Dit is die hele kultus-ding wat mens bekommer. Zuma se mense sien hom reeds as onaantasbaar. Ek vrees baie van Buchan se mense is op dieselfde koers.
Op die program Praat Saam op RSG met Freek Robinson waaraan Buchan ’n tyd gelede deelgeneem het, meen ’n inbeller Buchan is ’n hoëpriester van die Almagtige God. Dit lyk my solank jy saamsing op Greytown of Loftus en jou hande omhoog hou is jy ge-bless en word jy deel van die awesome klomp mense wat hierdie amazing experience deel. Jy word behoorlik uit jou sokkies uit ge-bless. Maar wee die een wat skepties staan teenoor die nuwe aartappel-teologie wat ons land getref het.
Dit is byna of jy een of ander melaatsheid het as jy nie in dieselfde mate opgewonde raak nie. Kyk maar net na die kommentare op van die kritiese artikels van mense wat hom kritiseer. Dit is of daar iets met jou geloof verkeerd is as jy vrae begin vra oor Angus se lekepreke. Diegene wat nie saamstem met sy patriargale uitsprake, aansprake van dooies wat weer lewend word en anti-gay-stellings nie, swyg maar liewer in duisend tale ter wille van die vrede.
Net soos diegene in die ANC wat nie deel van Zuma se Polokwane-kliek is nie as onpatrioties en dislojaal gebrandmerk word deur die Zuma-kamp, kan jy dit deesdae ook nie waag om iets oor Angus te sê sonder om skeef aangekyk te word nie.
’n Teoloog-kennis van my sê hy voel skoon skuldig as hy saam met sy neef, ’n tandarts, om die braaivleisvuur staan en nie dieselfde opgewondenheid oor Buchan se preke ervaar nie. “Is daar dalk iets verkeerd met my geloof?” vra hy.
My probleem is nie net Buchan en sy oorvereenvoudigde aartappel-teologie nie. As dit vir ’n bepaalde groep mense in die land iets beteken en ’n bydrae lewer om mense meer positief te laat voel oor Suid-Afrika, is ek saam met oom Angus bly daaroor.
Maar hoe standhoudend is hierdie eenmanvertoning en waar gaan dit eindig? Wie gaan die geloofswrakke ná ’n jaar of twee langs die pad optel as mense besef God het toe nie wolkies soos harte oor oom Angus en sy volgelinge laat vorm nie en dooies word nie sommer weer lewend nie selfs al bid jy dat dit moet gebeur?
Wat mens bekommer is die intellektuele verdonkering wat gewoonlik gepaard gaan met sulke massasaamtrekke wat kitsantwoorde vir moeilike vrae bied.
Rede wyk alte dikwels voor emosie wanneer mense kritiekloos in hul duisende agter ’n profeet aanloop.
Dit beteken nie daar kan nie ook iets goed hieruit gebore word nie. Die probleem met geloof soos aartappels is egter dat dit baie maklik ’n teelaarde word vir die kweek van koolkoppe.
En ons land makeer op die oomblik juis oop koppe – nie koolkoppe nie.
Rapport 25-04-2009






Reply With Quote








Bookmarks