Vol vrou, halwe mens - Maria Magdalena deur kerk swartgesmeer
Skrywer:
Elsabé Brits
Bron:
Beeld - Jan 21 2005 11:05:34:103PM - (SA)
Hoekom is mense so gou om Dan Brown se roman The Da Vinci Code as snert af te maak? Is dit die eeue oue vrees dat paternalisme se greep op die mensdom besig is om te verslap? Elsabé Brits doen verslag.
Sy sit in die ereplek, aan die regterhand van Jesus, op Die laaste avondmaal van Leonardo da Vinci.
'n Duidelike vrouefiguur - of dan 'n baie verfynde man, vir diegene wat glo dié figuur met die rooi hare móét 'n man wees.
Die een wat 'n dissipel van Jesus was, maar nooit histories die erkenning gekry het nie omdat die Christelike kerk, soos baie ander gelowe, die vrou onderdruk het. Die vrou wat deur die vroeë kerk as 'n hoer gebrandmerk is omdat haar rol dalk te groot na sy sin was.
Haar naam: Maria Magdalena.
Die een wat Jesus liewer gehad het as die ander dissipels, die een wat Hy gereeld op die mond gesoen het, volgens die evangelie van Maria Magdalena. Dié redelik onbekende evangelie is óf deur haar óf deur 'n ander vrou geskryf. (Boonop is daar al hoe meer bewyse dat die evangelie van Johannes ook die werk van 'n vrou is.)
Wêreldwyd is 'n bitsige debat aan die gang omdat Brown in sy The Da Vinci code dit durf waag om die status quo oor die mens se siening van Christus en vroue aan te raak. Midde-in dié debat is interessante stof tot nadenke oor die rol van Maria Magdalena.
Sewe demone - en 'n hoer
Is bewerings van "godslasterlike fiksie" en die woedende reaksie dalk omdat Brown durf sê die gemeenskap was voorheen matriargaal, maar die kerk het die patriargale stelsel opgedwing en 5 miljoen vroue het in die proses gesterf? (In die paganisme word vroueregte nie misken nie.)
Of is daar woede omdat Jesus dalk liewer vir 'n vrou was as vir sy manlike dissipels en miskien aan haar die opdrag gelaat het om sy evangelie te verkondig, maar dat daar al die jare daaroor gelieg is? Of is die verheerliking van die vroulike onaanvaarbaar?
Maar sy was dan besete van demone, sewe om presies te wees. En boonop 'n hoer - ja, 'n hoer - dít is wat in die Bybel gestaan het waarmee ek grootgeword het, nie "prostituut" soos vandag die gebruik is nie.
Dié woord is eeue gelede deur die Christelike kerk uit die duim gesuig om Maria Magdalena se beeld swart te smeer, sodat die verheerliking van die vroulike, of dan die paganisme, uitgeroei moet word.
Prof. Hansie Wolmarans, teoloog en hoof van Griekse en Latynse studie aan die Johannesburgse Universiteit, sê: "Ja, die vroeë kerk het van Maria Magdalena 'n prostituut gemaak. Dit is een van die grootste onregte tot nog toe om haar rol uit die geskiedenis uit te skryf."
Volgens hom het keiser Konstantyn in 'n poging om die kerk om militêre redes te verenig, die versplinterde Christelike bewegings gedwing om 'n verenigde leerstelling saam te stel.
Dit is hier waar 'n groot deel van die werklike, histories korrekte leerstellings verlore gegaan het en geskrifte verbrand is.
Die ortodokse uitkyk het gewen en die gnostiese deel is verwerp. Die gnostiese benadering, soos dit in The Da Vinci code ook geskryf word, erken Maria se evangelie.
Daar was beslis 'n gnostiese groepering wat vroue gelyk behandel het. Bewyse hiervan is in Paulus se vroeëre briewe, hoewel sy siening later verander het, sê Wolmarans.
Dit was diegene wat teen die gnostici was wat hulle valslik van seksuele losbandigheid en dies meer beskuldig het - vandaar al die verwysings in die Bybel.
Draer van die heilige bloed?
Die gesaghebbende National Geographic sê in 'n spesiale verslag die meeste kenners gee toe dat vroeë Christelike geskrifte verskil van die weergawe wat uiteindelik in die Bybel opgeneem is. Hulle is oortuig dat Maria Magdalena, hoewel sy nie met Jesus getroud was nie, baie na aan Hom was en dat sy wel een van sy intieme dissipels was.
Hoewel sy in die Bybel as 'n prostituut uitgebeeld word, is daar geen bewys daarvan nie.
Dat daar onenigheid in die Christelike kerk bestaan het oor die rol van vroue is 'n feit. Dit was die Rooms-Katolieke Kerk wat in die vyfde eeu na Maria Magdalena as 'n prostituut begin verwys het, miskien omdat hy vroue se vermoë om haar as voorbeeld te gebruik as iemand wat mag kon gehad het, wou ondermyn, skryf National Geographic.
Volgens The Da Vinci code is die Heilige Graal nie 'n objek nie, maar Maria Magdalena, die heilige vrou wat die goddelike vroulikheid verteenwoordig en wat die "heilige bloedlyn" saam met haar gedra het toe sy ná die kruisiging na die destydse Gallië gevlug het.
Daar het Jesus se afstammelinge voortgeplant, tot vandag toe.
Wolmarans sê daar is nie bewyse dat hulle kinders gehad het nie, maar dit is bekend dat Jesus 'n buite-egtelike kind was. Of Hy 'n bloedlyn nagelaat het, is gissings.
Baie gnostici glo die evangelie van Johannes (die vierde evangelie) is eintlik die woorde van Maria Magdalena, of dan dié van 'n vrou.
Jesus het ná sy dood eerste aan haar verskyn en dit is toe dat Hy sy opdrag om die evangelie te verkondig aan haar - nie aan Simon Petrus nie - oorgedra het. Daar word beweer die kerk het geweier om dit te aanvaar omdat sy 'n vrou was en het toe die teks verander.
Die volle verhaal van Jesus en Maria Magdalena is volgens dié kundiges uit die Bybel gelaat omdat dit nie ingepas het by die boodskap wat die kerk gemeen het oorgedra behoort te word nie. Dit sluit besonderhede oor Jesus se eerste 30 jaar op aarde in.
'Net 'n onvoltooide man'
Prof. Sakkie Spangenberg, teoloog aan Unisa, stem saam dat die vroeë kerk versplinter was en dat baie tekste nie in die Bybel opgeneem is nie, veral nie die Nag Hammadi-tekste wat die rol van die vrou erken nie.
"Dit was uiteindelik mense wat besluit het wat in die Bybel opgeneem word en wat nie," sê Spangenberg. En daar is baie kru uitsprake oor vroue in die Bybel.
In vroeër tye is vroue as onvoltooide mans beskou, dus nie volledig mens nie. Een rede daarvoor is dat die mens geen kennis van die anatomie gehad het nie. Dit het diskriminasie teen die vrou aangevuur, sê hy.
Spangenberg meen hoewel The Da Vinci code as fiksie aangebied word, is daar baie waarhede in die boek waaroor mense behoort te dink.
- In sy boek beweer Brown die bewaarders van die geheime oor Jesus en sy bloedlyn is die geheime organisasie Priory of Sion (Prière du Sion), waarvan bekendes soos Da Vinci, Claude Debussy, Isaac Newton, Botticelli en Victor Hugo lid was.
Diegene wat glo nie wil hê die waarheid moet uitlek nie en teenstanders is van die Magdalena-teorie, is volgens die boek lede van Opus Dei (God se werk), 'n organisasie wat deur die Katolieke Kerk onderskryf word.
In reaksie op die debat het die organisasie in 'n verklaring gesê hy is nie 'n geheime organisasie nie. Lidmaatskap is wel slegs per uitnodiging. Opus Dei, wat ook 'n tak in Westcliff, Johannesburg het, sê hy doen net welsynwerk ter ere van die kerk.
In The Da Vinci code skryf Brown dat van die lede hulself erg martel. Opus Dei ontken of erken dit nie, maar sê op sy webtuiste lede vas soms en daar is mense in die geskiedenis wat "groot opofferings gemaak het".
Die evangelie van Maria Magdalena het behoue gebly
Die evangelie van Maria Magdalena bestaan wel.
Dit is in 1945 in Egipte saam met 13 antieke kodekse ontdek en is deel van die Nag Hammadi-biblioteek se versameling. Voorheen is gemeen dié teks is deur ortodokse Katolieke verwoes saam met die evangelie van Thomas en die evangelie van die waarheid, volgens www.gnosis.org. Luidens dié tekste is man en vrou gelyk, maar dit is nooit in die hoofstroom-Christendom se tekste opgeneem nie. Volgens gnostici op die webwerf is dit die omvattendste teks van Maria Magdalena se evangelie wat bewaar gebly het, hoewel van die hoofstukke weg is. Griekse weergawes wat fragmente van dié evangelie bevat, is elders opgegrawe.
Dit stem baie ooreen met Johannes se weergawe van die ontmoeting van die dissipels met Jesus ná sy opstanding. Volgens Maria Magdalena se evangelie vra Petrus waarom God met haar gepraat het (by die graf ná sy opstanding) en nie eerder met een van die mans nie. "Verkies Hy dan haar bo ons?"
Levi wys hom op sy vinnige humeur en sê: "Die Redder het haar waardig gemaak, wie is jy om haar te verwerp? Sekerlik ken die Redder haar baie goed. Dit is hoekom Hy haar liewer gehad het as vir ons."
Wat is paganisme?
Tradisionele godsdiens of paganisme was baie ingestel op die erkenning van die vrou as 'n gelyke, die balans tussen Jin en Jang.
Dit het nie met paternalisme gestrook nie.
Mense verstaan die begrip "paganisme" verkeerd, sê die teoloog prof. Hansie Wolmarans. Selfs woordeboeke vertaal pagan (paganisme) as "heidens".
Wolmarans sê dit is nie "heidens" nie, maar 'n antieke religie waaruit die Christelike geloof geleen het, onder meer oor die maagdelike geboorte van Jesus.
Bron: Beeld






Reply With Quote




Bookmarks