Wendag - Debating Christianity and Religion Forum
-
Jesus se volgelinge het anders oor liggaam gedink – teoloog
Jul 12 2009
Neels Jackson
Hedendaagse debatte oor die opstanding van Jesus Christus mis die punt, onder meer omdat mense nie verstaan hoe daar in Bybelse tye oor ’n liggaam gedink is nie.
Dit was gister die boodskap van prof. Pieter Craffert, Nuwe Testamentikus van Unisa, op ’n byeenkoms van die Nuwe Hervorming Netwerk in Midrand.
Hy het gesê ingevolge die fisika van die tyd het Jesus se eerste volgelinge gedink ’n liggaam, soos alles anders, is uit ’n kombinasie van aarde, water, lug en vuur saamgestel.
’n Liggaam kon uit verskillende kombinasies daarvan bestaan, ook uit lug.
Liggame kon deur geeste beset word, voorouers kon in ’n liggaam intrek en lewe ná die dood is algemeen aanvaar.
“Dus: Jesus het in ’n liggaam opgestaan wat volgens hul begrip gekonstrueer was.”
Craffert het ook daarop gewys dat drome en visioene algemene ervarings was waardeur mense (op die manier wat hulle die wêreld begryp het) gesaghebbende inligting oor die wêreld kon kry.
As ’n mens die Bybelse tekste teen dié agtergrond lees, is dit volgens Craffert duidelik Jesus het in ’n eerste-eeuse liggaam opgestaan op grond van die visioenêre ervaringe wat sy volgelinge gehad het en in ooreenstemming met hul nadoodse sieninge.
Craffert het gesê hoewel ’n mens hul sieninge uit ’n kultuur-sensitiewe oogpunt kan verstaan, hoef ’n mens nie daardie sieninge te deel nie. Dis byvoorbeeld baie moeilik om vandag met hul siening van ’n liggaam saam te stem.
Die kerk het deur die eeue die getuienis oor die opstanding geglo en verkondig, maar dit nooit probeer bewys nie, het Craffert gesê.
In die agttiende eeu, toe dit belangrik geword het om dinge logies te deurdink, het die fokus na ’n moderne, letterlike begrip van die tekste verskuif.
Dit is teen dié agtergrond dat mense nou debatteer oor of Jesus werklik liggaamlik uit die dood opgestaan het.
Konserwatiewe teoloë wil bewys Jesus het wel uit die dood opgestaan terwyl kritiese teoloë die teendeel wil bewys, sê Craffert. Albei dié groepe mis volgens hom die punt omdat hulle nie begrip toon vir die manier waarop Jesus se eerste volgelinge die boodskap van die opstanding verstaan het nie.
Uit Beeld
-
Similar Threads
-
By Carel van Heerden in forum Artikels uit die media
Replies: 0
Last Post: 18th June 2009, 11:44
-
By Jaco Slabbert in forum Besprekings
Replies: 15
Last Post: 4th March 2008, 21:06
Posting Permissions
- You may not post new threads
- You may not post replies
- You may not post attachments
- You may not edit your posts
Forum Rules
Bookmarks