Die kerkklok tel die ure af. Dit herinner my aan die deeltydse koster wat in Middelstraat 17 gewoon het. Die trotse lenige Tobie wat al om die halfuur oorgestap het om die klok te lui. Hy het van Oudtshoorn na Kirkwood verhuis om daar af te tree. Tydens huisbesoek het hy en dokter Weich, die predikant van Calitzdorp, die Bybel op die voorstoep bestudeer. Dit het hom ontstel dat die Bybel teenstrydighede bevat, maar tog was hy ‘n onverbiddelike protestant. Hy het sy kinders uit die geselskap gestuur wanneer sy Hollandse skoonmoeder oor geestelike sake praat. Sy kon in die fynste besonderhede vertel van haar vorige lewe. Sy het selfs haar begrafnis as jong meisie beskryf. Tobie het hierdie praatjies as heksery beskou. Sy het haar egter nie laat koudsit nie en dan aan die etenstafel verder vertel, wetende dat Tobie nie die kinders sal uitstuur nie.
Die Hollandse ouma se getuienis is nie ‘n al te vreemde verskynsel nie. Baie van ons mense dra kennis van die sensasie van: "Ek was al hier,” of “dit het reeds gebeur”. Deja vous gebeur veral in die kinderjare. Dit dui op die aanwesigheid van ‘n geheue buite die huidige bestaan. In die geval van die Hollandse ouma, was daardie geheue baie sterk aanwesig. Dit herinner my aan die Christus wat gesê het dat Elia wat weer gebore is as Johannes die Doper.
Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
In die tyd van Jesus se wandel op aarde was dit algemeen aanvaar dat persone uit die geskiedenis weer gebore kon word.
En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.
Miskien was ou Tobie te haastig om die Hollandse ouma se herinnering uit haar vorige lewe as heksery af te maak.
Ek draai terug na die Hoofstraat en wonder of Johannes die Doper enigiets kon onthou van Elía se lewe. Hy sou seker in die geskrifte gelees het van Elía se onderonsie met Isébel. Elía het gevlug nadat hy ‘n boodskap van Isébel ontvang het dat sy hom om die lewe gaan bring. Dit was pas nadat Elía nie bang was om vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl met ‘n swaard om die lewe te bring nie. Isébel het nou wel nie daarin kon slaag om Elía te vermoor nie, maar ek wonder of sy hom nie na sy volgende lewe gevolg het nie. Dit was Heródias, die vrou van koning Herodes, wat die kop van Johannes die Doper ge-eis het.
Bookmarks