Ons het toe opgetrek na Brakspruit. Daar het ons ons vasgeloop in ‘n groot Englese mag. Hulle het ons vir twee dae en nagte agtervolg. Sonder om ons die kans te gee om van ons perde af te klim. Dit was die tweede dag die middag dat ons effens kans gekry het. Oom Nicolaas van Rensburg die Siener soos ons hom genoem het, was ook by ons. Hy het sy kombers onder ‘n groot katbos oopgegooi en daar gelê. Toe hy opstaan kon ek sien dat hy diep dink. Ek vra hom toe, "Oom Nicolaas, wat sien oom?" en hy sê, "ek sien ons trek deur in die rigting van Schweizer Reneke sonder om ‘n skoot te skiet." Ek kon dit nie glo nie want in daardie rigting het dit gewemel van Engelse. Ons het egter soos gewoonlik sy raad gevolg en deur getrek sonder dat daar een skoot geskiet was.
Ons is toe weer terug na die Morakaniese rante. Ons het ‘n paar dae daar vertoef om ons perde te laat rus. Tom en Bêrend Terblanche was die dag aangesê om te gaan spioen in die rigting van Pudimoe. Op Bormanspoort in die rante het hulle twee kaffers gevang wat onder wapen was. Net soos met alle ander kaffers wat onder wapen was, was daar vir hulle ook geen genade nie. Hulle is egter nie doodgeskiet nie maar keelafgesny soos ‘n skaap. Hulle het niks daarvan gepraat nie. Die volgende dag is ons weer op verkenningswerk uitgestuur, met een van hulle weer by. Toe ons naby die plek kom het my perd wat maar vol grille was begin rondstaan. Ek kon hom nie verder kry nie. Terblanche het gelag en gesê ons moet kom kyk hoekom die perd nie wil loop nie. Toe ons daa(r) kom sien ons dat hulle die twee kaffers so regop laat sit en styf word het.
Vandaar is ons toe na Hartbeesfontein. Daar het ons ‘n kolon Engelse ontmoet met wie ons twee dae geveg het. Komdt. Tollie de Beer en sy manne het ons daar bygestaan. Daar het ek gesien hoe ‘n onverskrokke man hy was. Hy het gedurig gedurende die geveg tussen sy manne deurgeloop en met hulle gepraat. Die kanon koeëls bars om hom dat hy toe is onder die stof maar dit skrik hom nie af nie. ‘n Paar van sy manne en een van ons is daar gewond. Ons moet toe maar weer die wyk neem. Terloops, daar was ‘n bobbejaan aan ‘n paal vas by die dorp nie ver daarvandaan nie. Met die tweede kanonskoot het hy morsdood langs die paal gelê, van skrik.
Genl. Van Zyl en Komdt. Groenewald het toe opdrag gekry van ons hoof Genl. De la Rey om hom op La Rey'skraal te ontmoet. Vandaar het ons saam afgetrek na Taungs om weer ons beeste en skape wat die kaffers gesteel het terug te vat. Ons het die dag tussen ses en seweduisend skape en bokke en omtrent tweeduisend beeste daar gekry. Daar was nogal heelwat skietery want baie van die kaffers was gewapen. Een man het by ‘n struis ingeloer en ‘n kaffer het hom in sy kuiltjie geskiet. Koos Uys was by hom, en het hom net terug geruk en toe die struis aan die brand gesteek. Ta het besluit om maar liewer te braai as om uit te kom. Hy het onder die as bly lê. Genl. Van Zyl het bevel gegee om te storm. Hy het vyf seuns van elf jaar onder hom gehad wie se ouers gevange geneem is en wat toe geen herberg gehad het nie. Toe daar gestorm word was daar aan hulle geen keer nie. Hulle het voor die voet doodgeskiet, kaffer of meid. Die kaffers het in die randjies in gevlug. So by tienuur het die gepantserde trein van die Englese daar regoor die randjie kom stilhou en die randjie begin bombardeer, menende natuurlik dat dit die boere is wat in die randjies is. Toe het die aangehou tot die aand donker toe. Ons is toe weer terug na de la Rey'skraal. Daar het ons die buit gedeel. Genl. De la Rey sy deel, Genl. Van Zyl sy deel en broer Hendrik sy deel. Hulle het dit weer onder die burgers verdeel.
Genl. De la Rey het die kommandos van Genl. Van Zyl, Genl. De Beer en Komdt. Groenewald kennis gegee om by Brakspruit bymekaar te kom. Die Siener het gesê hy sien ‘n groot Afrikaner bul uit Vryburg kom, maar as hy by klein Hartsrivier kom dan hang sy een horing. Die offisiere het toe saam besluit om Methuen aan te val wat uit Vryburg gekom het. Genl. Kemp se kommando het toe ook by ons aangesluit. Lord Methuen het die aand oorkant die Hartsrivier kamp opgslaan. Ek het die aand toe die offisiere saam raad gehou het luistervink gespeel. Die ander klomp het my gestuur om te gaan afluister wat besluit word. Ek het gehoor Genl. De la Rey gee opdrag dat Genl. Van Zyl, Komdt. De Beer en Komdt. Groenewald die Engelse van agter moes aanval sodra hulle begin trek en Genl. Kemp sal dan van vooraf aanval. Ons het die nag afgetrek tot in die spruit. Teen vier uur die oggend het die Engelse begin klaarmaak om te trek. Ek was toe adj. van Veldk. Erasmus, ‘n baie dapper man. My bynaam wat ek gekry het was Rosie. Hy sê toe vir my, "Rosie vandag gaan hulle my doodskiet ek voel dit kom." Ek het hom teegegaan en maar probeer wegpraat. Maar hy het die voorgevoel gehad. Hy sê toe aan my dat ek sy handsambok moes neem, maar sy perd, saal en toom moet ek sorg dat sy vrou kry.
Ons het begin optrek nader aan die Engelse laer. Toe ons die wal van die spruit uitklim was dit net lig en daar tref ons ‘n Engelse wag aan. Ek spring dadelik van my perd af en gaan sit. Ek het net gesit toe die skoot klap en hy my perd deur die nek skiet. Die perd het bo-oor my gespring en neergeslaan. Die wag het bly lê nadat my vinger die sneller getrek het, maar sy perd het weggehardloop. Ek moes toe sommer ‘n handperd van iemand anders annekseer.
Ons het nou die laer gestorm. Ons was maar omtrent driehondered burgers teenoor omtrent tussen twee en drieduisend Engelse en dit op ‘n kaal vlakte met net hier en daar ‘n miershoop. Die son was al uit en Genl. Kemp was nog nie daar om van voor af aan te val nie. Die kanonne het op ons geboer maar gelukkig was hulle geneig om bietjie oor ons te skiet. Die Artillerië van die Engelse wou eenvoudig nie ingee nie. Veldk. Erasmus, Piet Bekker en nog drie het deur die voetgangers gejaag en die kanoniers agter die kanonne gaan doodskiet. Toe eers het Genl. Kemp en sy kommandos opgedaag.
Volg
Bookmarks