Maandag, 16 Augustus 2010 08:43
J.H. du Toit
Dit is teleurstellend dat Christo Landman nog nie op Thys Human se navrae gereageer het rakende of Landman en die teokratiese beweging die Kenmekaarkonferensie gekelder het nie. Immers het Human hom (Landman) die kans gegee om te bevestig of Landman, en die teokratiese beweging, van die Kenmekaarkonferensie ontrek het omdat ‘n hulle nie aan gesprekke sal deelneem tensy dit nie vooraf aanvaar word dat ‘n volkstaat ‘n teokrasie sal wees nie. Wat is die doel van gesprekke dan vra ek? Die teokratici en hul mede-fundamentaliste sal ons ondergang beteken. Laat ek verduidelik.
Vele Afrikaner-emigrante wat na die Anglo-Boereoorlog nie onder Britse bewind wou leef nie, het Argentinië toe getrek. Hulle is deur die Argentynse owerhede in Patagonie gevestig. Die Argentyne se idee was dat die Afrikaners hierdie ylbevolkte deel van Argentinië sou bevolk. Ons kan alleen vermoed dat as dit ‘n suksesvolle kultuuroorplanting was, Afrikaans vandag in Patagonië sou gedy. Wie weet, miskien sou selfs meer Afrikaners dan soontoe trek, ook diegene wat in latere jare van die ANC-regime sou vlug. Patagonië sou dalk selfs ‘n soort Afrikaner-Quebec, binne Argentinië, kon word. Dalk sou dit die volkstaat kon word, maar helaas nie.
Die rede is eenvoudig en bekend aan Afrikaners. Kort ná die vestiging van die Afrikaners in Patagonië het kerklike tweespalt uitgebreek. Die gevolg van hierdie godsdienstige onmin was dat daar nooit eenheid in die Argentynse Afrikanergemeenskap ontwikkel het nie. Die onenigheid het daartoe gelei dat hulle as kultuurgemeenskap verbrokkel het. Ironies vir die puriteinse hardkoppiges van ouds is hul verspaansde afstammelinge vandag uitgelewer aan die druk van verkatolisering. Hierdie is ‘n klassieke voorbeeld van hoe Afrikaners se godsdienstige fundamentalisme en gepaardgaande hardkoppigheid tot hul eie ondergang gelei het.
Die probleem met godsdienstige fundamentalisme is dat dit in ‘n stel absolute idees glo. Daar is geen ruimte vir kompromie of buigsaamheid nie, want afwyking van hierdie absolute "waarhede" sal lei daartoe dat die siel in die ewige foltering beland. Dis dus beter om die prys van onwrikbaarheid te betaal as om van die absolute godsdienstige "waarhede" af te sien. Nodeloos om te verklaar bestaan hierdie "waarhede" slegs in die gelowige se gedagtegang, want volgens die rasionele vereistes van enige wetenskap, is geloof geen vorm van kennis nie, in elk geval nie in die empiriese sin van die woord nie. Geloof is en bly net dít, nl geloof, onwetenskaplike kennis of idees waarvoor daar geen bewyse bestaan nie, gepaardgaande met die vaste oortuiging dat dit die waarheid is. As die gelowige dus sê dat “Ek weet God bestaan, want ek sien Sy hand in my lewe” dan moet die aanhoorder dit maar met ‘n knippie sout neem, want eintlik pas die word "weet" glad nie in daardie sin nie. Die gelowige se woorde sou meer akkuraat wees as hy sou sê “Ek glo dat God bestaan, want sekere dinge in my lewe lyk vir my na Sy werk.”
Eintlik is die gelowige en die ateïs ewe irrasioneel en dikwels ook ewe hardkoppig. Immers is dit net so onwetenskaplik en onbuigsaam om te sê “Ek weet daar is geen god nie.” Hoe kan enigiemand so iets sê as jy dit nie kan bewys nie, dis immers nie Kersvader of die Paashaas waarvan ons praat nie, maar ‘n baie meer abstrakte konsep? Wanneer die agnostikus dus sê “Ek weet nie of daar ‘n god is nie, dalk is daar, dalk is daar nie” dan is dit die mees rasionele verklaring. Tog, die vrees wat reeds tydens die kinderjare ingeprent word, maak dit ontmoontlik vir die meeste gelowiges om ooit die rasionele standpunt in te neem. Deels om daardie rede, asook die hoop dat daar iets beter as hierdie lewe moet wees, is baie, ook die uwe, gelowig. Geloof het dikwels bittermin met liefde vir God te make en baie meer met vrees.
Sulke eksistensiële vrese is meer waarskynlik by mense wat reeds in ‘n omgewing leef waar ‘n eksistensiële krisis beleef word, soos tans met die Afrikaner die geval is. Wanneer ons voorgeslagte ook sulke krisisse beleef het, soos die Bosoorlog, die 1976-onluste, die twee Vryheidsoorloë, Bloukrans, Bloedrivier, Dingaanskraal, die Oos-Grensoorloë en nog vele ander konflikte, kan godsdiens die kulturele verstekpunt raak om krississe op die geestelike vlak te hanteer. Binne ‘n groter gebalanseerde benadering is dit nie verkeerd nie. Die vrees vir die goddelikheid, vrees vir eie mortaliteit ens. kom by meeste gelowiges voor, en dis normaal, maar by sommiges raak dit oorheersend. By diegene waar die gesonde dosis vrees deur ‘n oormaat daarvan vervang word, word hul geloof, opsigself, daardeur omvorm. Hulle raak obsessief oor die letter van die Woord en wil alles om hulle daarby maak inpas. Soos met enige obsessie verloor hulle kontak met die werklikheid. In ekstreme gevalle word ‘n hele land deur so ‘n bestel oorgeneem, dus ‘n teokrasie. Iran is ‘n voorbeeld van so ‘n rampspoedige implementering van godsdienstige obsessie.
Geloof opsigself is nie die probleem nie. Dít, tesame met gesonde verstand, kan selfs die oplossing wees. Bloedrivier is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe gesonde verstand en geloof ons tot redding gebring het. Die probleem is wanneer gelowiges se absolutisme oorheersend raak, waanneer daar geen buigsaamheid rondom enige konsepte meer bestaan nie. Laasgenoemde is die obsessie waarna in die vorige paragraaf verwys is. Die godsdienstige absolutisme begin dan elke aspek van hul gedagtewêreld oorneem, tot die punt dat selfs die politiek daarvolgens in die vorm van ‘n teokrasie bestuur moet word. Dikwels hou dit ook verband met persoonlikheidstipes. Hierdie persoonlikheidstipe gedy veral in regse politiek, en soos reeds met die Argentynse ervaring bewys is, kan dit tot ‘n volk se ondergang lei as hulle die oorhand verkry. Afrikaners het deur hul geskiedenis ‘n oormaat aan hierdie tipes. Immers stam ons tot groot maat uit sulke mense, die Hollanders wat vir dekades lank teen die Spanjaarde geveg het, die Hugenote, ens. Die voordeel van hierdie persoonlikheidstipes is dat hulle meer geredelik teen ‘n onderdrukkende regime sal rebelleer. Die nadeel is dat hulle onder ekstreme druk moet verkeer voordat hulle as ‘n eenheid saamwerk, dikwels te laat. Hulle onenigheid met hul volksgenote kan handeling in die wiele ry met ‘n gevolglike oorwinning vir die vyand.
Hul harkoppigheid, soos met die Argentynse Afrikanersetlaars, en dus hulle onvermoë om aanpassings terwille van eenheid te maak, ruïneer die kanse op oorlewing as ‘n kultuur. Hulle is soos die Amerikaanse spreekwoordelike floo floo bird, wat gepas deur WA de Klerk as die "vlie-vlie-voël" vertaal is. Die vlie-vlie-voël wat alewig agteruit vlieg is ‘n metafoor vir die een wat so ingekeer op sy eie idees is, dat hy geensins kan uitreik na diesulkes wat anders as hy dink nie. Aan die einde het die vlie-vlie-voël se agteruitvlieëry so erg geraak dat hy met sy kop deur sy agterent gevlieg het. Dit is ‘n gedagtegang wat tot selfvernietiging lei. Is dit waarmee die Afrikaner- teokratiese beweging besig is? Is mense soos Christo Landman se fundamentalisme en hardkoppigheid besig om Afrikanereenheid en dus kultuuroorlewing in die wiele te ry? Dink die teokratiese beweging werklik dat Afrikaners bereid sal wees om in ‘n godsdienstige diktatuur te leef? Sê daarvan wat jy wil, maar niemand kan ontken dat Afrikaners sekere menseregtelike vryhede in die NSA gesmaak het wat hulle nie onder die NP-bewind gehad het nie. Of, is Christo Landman en die res van die teokratiese beweging deel van die ekstremistiese Israelvisietipes wat glo dat mense nie regte het nie, maar net verantwoordelikhede teenoor God? Glo my, Afrikaners sal eerder in die haglike NSA bly, of na Australië emigreer, voordat hulle by sulke sektariese malligheid sal inkoop.
Die teokratiese beweging moet nou aan Afrikaners verklaar of hulle te onbuigsaam is om met Afrikaners van verskillende geloofs- en filosofiese sieninge saam te werk. Wil hulle ons volk in ‘n Calvinistiese weegawe van Iran indwing? Indien dit die geval is, is hulle deel van die probleem en nie deel van die oplossing nie. Sulke verkramptheid sal ons volk se ondergang kos. In ons krisis is onbuigsaamheid ‘n vorm van selfmoord. Uiteindelik sal ons nes die Afrikaners in Argentinië in die volksvreemde massa verdwyn, maar ek glo dat dit vir die teokratiese fundamentaliste ‘n beter opsie is, as om buigsaam teenoor volksgenote te wees.
Uit PRAAG






Reply With Quote



Bookmarks