Sarah Raal beskryf dit soos volg in haar boek: Met die Boere in die Veld.
Die môre van 31 Mei sal ek nooit vergeet nie, toe ou Richards, die kommandant van die kamp waar ek en my ouers was, kennis gegee het dat al die mense van die kamp om nege-uur voor sy kantoor moes wees. Toe ons daar kom, staan hy op ’n kar, waarvoor twee muile gespan was. Hy staan regop op die bankie van die kar, met ’n siprestak in sy hand. Toe nege-uur klaar geslaan het, sê hy net die woorde: “ Dit is vrede, dit is vrede, die Boere het hul land verloor.” Toe spring hy van die bankie af en gaan sit, trek die muile op en jaag weg.
Seker vyf minute lank was daar ’n doodse stilte. Toe hoor jy hier en daar een snik. Dit was asof die snikke die waarheid deurgedryf het tot aan almal se verstand en dit was asof hulle toe eers besef wat die kommandant gesê het. Party vrouens kruip op die grond rond en ween, in elke hut is daar ’n gekerm en geween. Ander weer roep hard uit: “Hy lieg, hy lieg!” Ou moeders stap met geboë hoofde en ween in stilte. Ander weer skeur hul Bybels stukkend en skree: “Ek glo aan niks meer nie. Hierdie slag is te onregverdig .”
Die “joiners” gooi hul hoede in die lug op en skree “Hoera!” Dit was ’n treurige skouspel. Ek het net gehaal om ons huisie te bereik en my gesig diep in die kussings gedruk. Ek kon en wou niemand sien nie, my hart was deurboor. Tyd, net tyd kon die smart heel.






Reply With Quote





Bookmarks