Wendag - Debating Christianity and Religion Forum
-
19th February 2011 22:45
#1
Navorsers kan mammoet uit graf bring
2011-02-12 16:00
Japanse navorsers gaan vanjaar ’n projek begin om die eerste keer ’n mammoet te teel.
Hulle wil dié harige olifantspesie, millennia gelede reeds uitgestorwe, binne die volgende vyf jaar uit die graf terugbring.
Met ’n tegniek wat baie aan die rolprent Jurassic Park herinner, wil hulle weefsel uit die karkas van ’n mammoet wat in ’n Russiese laboratorium bewaar word, haal en dit dan kloon.
“Ons is klaar besig met die voorbereidings,” het prof. Akira Iritani, hoofnavorser en professor aan die Universiteit van Kioto, aan die dagblad Jomioeri Sjimboen gesê.
Volgens dié plan sal die mammoet-selkern geplaas word in ’n olifant se eiersel waarvan die kern verwyder is om só ’n embrio met mammoetgene te skep.
Die embrio sal dan in die baarmoeder van ’n olifant geplaas word in die hoop dat dié dier uiteindelik ’n mammoet in die lewe sal bring.
Die olifant is die naaste moderne familielid van die mammoet, ’n enorme wollerige soogdier wat vermoedelik in die vorige Ystydperk uitgesterf het.
Sommige mammoet oorblyfsels het nog behoue weefsel, wat dit moontlik maak om selle daaruit te haal (anders as dinosourusse, wat 65miljoen jaar gelede uitgesterf het en waarvan slegs fossiele agtergelaat is).
Benewens die Japanse navorsers is ook ’n Russiese mammoet-kenner en twee Amerikaanse olifantkenners deel van die projek.
Hulle het reeds ’n metode gevind om DNS uit bevrore selle te verkry, iets wat voorheen onmoontlik was weens die skade wat selle opdoen wanneer weefsel vries.
’n Ander Japanse navorser, dr. Teroehiko Wakajama van die Riken-sentrum vir ontwikkelingsbiologie, het in 2008 daarin geslaag om ’n muis te kloon met selle van ’n ander muis wat 16 jaar lank in toestande soortgelyk aan bevrore grond gehou is.
Iritani se span gaan nou dié tegniek inspan.
“Voordat ons dit kloon, moet ons egter net besluit wat ons met die mammoet gaan doen en of ons dit in die openbaar gaan ten toon stel,” sê Iritani.
Meer as 80% van die mammoet-oorblyfsels wat al gevind is, is in die Sakha-republiek in die ooste van Siberië opgegrawe.
Daar word wyd gedebatteer oor presies hoekom dié enorme diere, wat in die vorige Ystydperk in groot troppe oor die vlaktes van Eurasië en Noord-Amerika geswerf het, uitgesterf het.
Sommige kenners meen hulle is deur mense tot uitwissing gejag. Ander meen hulle was slagoffers van klimaatsverandering en dat hulle nie by ’n wêreld kon aanpas wat vinnig besig was om warm te word nie. – AFP
Uit Rapport
-
Posting Permissions
- You may not post new threads
- You may not post replies
- You may not post attachments
- You may not edit your posts
Forum Rules
Bookmarks