Wat Bybel-kritici nooit sê
2011-02-20 21:47
Isak Burger
Enigeen wat die Bybel al gelees het, sou agtergekom het watter belangrike rol die Hei*lige Gees vervul.
Sy bediening word in die Nuwe Testament prominent met die verrese Christus verbind.
Dit is ongelukkig so dat die Heilige Gees ná die eerste eeu of twee ná Christus geleidelik al hoe minder prominensie gekry het.
Oor die redes daarvoor wil ek nie nou bespiegel nie.
Sedert die begin van die 20ste eeu het die verloop van die geskiedenis in hierdie opsig dramaties verander.
’n Herlewing het wêreldwyd ontstaan waarin die persoon en werk van die Heilige Gees weer Sy regmatige plek ingeneem het.
Die eerste vrugte van hierdie herlewing was die Pinksterbeweging.
Intussen – veral die afgelope 40 jaar – het hierdie Geesgeleide of Geesgedrewe beweging wêreldwyd tot ongeveer 640 miljoen mense gegroei.
Dié mense is nie almal lidmate van Pinksterkerke nie. Baie is trouens nie eens lede van die tradisionele kerke nie.
Hierdie “Geesbeweging” is tans naas die Roomse Kerk die grootste Christengroepering op aarde.
Op feitlik elke vasteland en plek op aarde waar die kerk van Christus dramatiese groei toon, is die Heilige Gees en Sy werking prominent – in China en die res van Asië, Afrika en Suid-Amerika.
Selfs in Europa, in ’n andersins ontkerklike beskawing, is feitlik elke groeiende kerk een wat soos die kerk in Handelinge ruimte maak vir die werk van die Heilige Gees.
Daar is die laaste jare heelwat onafhanklike navorsing gedoen oor die invloed van die Geeswerking op verskillende aspekte van menswees.
Dit wissel van die bewese bo-gemiddelde finansiële vooruitgang in hierdie groep Christene tot by die neurologiese voordele wat die spreek in ander tale op die werking van die brein het.
Uit eie waarneming kon ek nie anders nie as om op te let hoeveel akademiese presteerders en wenners van verskillende sang- en kunskompetisies in Suid-Afrika jongmense is wat die werk van die Heilige Gees in hul lewe erken.
Ek is persoonlike oneindig dankbaar oor die egte verskil wat die Heilige Gees in my en soveel ander mense se lewe maak.
Hierdie beweging van die Heilige Gees is kontemporêr en strek oor alle kerkgrense heen.
Dit word nie ontwrig of versteur deur armoede of rykdom of deur toestande in ontwikkelende of ontwikkelde lande nie.
Dit floreer te midde van globalisering en grootskaalse migrasie – wettig of onwettig.
Dit word nie beïnvloed deur die invloed van neo-ateïsme of -liberalisme nie.
Dit bring by mense ’n dieper re*spek en waardering vir die Bybel se integriteit.
Mense ervaar dat die Een wat die Bybelskrywers geïnspireer het ook die Een is wat die Skrif vir hulle oopmaak en verlig.
Trouens, in dié verband is daar iets waaroor ek die laaste tyd al hoe meer wonder terwyl ek in die koerante in briewe en artikels lees van sinici oor en kritici van die Bybel.
Om maar net ’n tipiese voorbeeld uit ’n brief in ’n onlangse uitgawe van Beeld aan te haal:
“Ek glo egter die Bybel is slegs ’n samestelling van mense se sienings en ondervindings en hul eie denke, hul kultuur en die godsbesef van die tydvak waarin hulle geskryf het ... Die Bybelboeke is deur die eeue aangepas en aangevul om die teologie van die kerk van die oomblik te staaf.”
Wanneer ek mense en selfs sommige teoloë in dié trant hoor skryf en praat, vra ek myself die vraag af: Waar pas die Heilige Gees in diesulkes se lewe en menings in?
Het die Heilige Gees dan nie ’n beherende aandeel gehad in die daarstelling van die Skrif soos wat 2 Tim. 3:16 sê nie?
Of is so ’n geringskatting van die Skrif dalk tekenend van iemand wat weinig van die Heilige Gees weet of ervaar het?
Ek het immers nog nooit ’n Bybel-kritikus hoor sê: “Die Heilige Gees het my gelei nie!”
Bron






Reply With Quote







Bookmarks