PDA

View Full Version : Afrikaans My Afrikaans



Stefanus
30th September 2012, 07:12
Afrikaans My Afrikaans
Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_waldor.htm)



Uit die mond van die suigeling hoor jy die waarheid”, en die suigeling praat mooi, praat raak, praat met klanke wat vloei en rol. Met klinkers wat klap, en medeklinkers wat beelde verklik, wat nasale geluide in nuanses plaas met verbale betekenisse. Dit is die klanke van ‘n taalkind, die kleutertaal van die Aarde. Dit is die gees geluide van die heelal se suigeling...

Die jongste taal in die geskiedenis, hierdie Afrikaans waarmee en waardeur die Afrikaner homself onder al die ander nasies uitdruk en laat geld. Ons het self besluit hoe hy gaan klink – die kleuter wat gelouter en getemper is uit die karakter van ‘n mensdom wat uit die nuut kom skep en lewe het. Klank samestellings wat uit die kors van ‘n ongerepte vasteland voortgebring is deur siele wat uitdrukking wou gee aan hul groeiende verbintenis met die grondgebied waarheen hulle uit weerstand gekom het. ‘n Taal, op sigself geanker aan ‘n spesifieke aardkors en geskiedenis. ‘n Aanmekaar gebore Afrika-Siamees van grond en uitdrukking...

Hierdie ‘wiegetaal’ wat aan ons gees vrye klankteuels gegee het, wat ons hartstog en passies verwoord het. Dit vasgevang het met sêgoed en idiome in erns en humor. Die sweepslag wat die waens noordwaarts gedryf het, het ewige karakterwoorde voortgebring wat vandag nog so betekenisvol indruis op ons lewe: Ons het ‘noustrop’ getrek, dit ‘hotagter’ gehad. Ons kan ‘n ‘lunsriem’ wees of ‘n ‘remskoen’, ‘n ‘Kruintjie roer my nie”, ‘n ‘touleier’ of ‘n ‘vyfde wiel aan die wa’. So het ons pioniers geskiedenis, karakter etikette in ons mond verewig.

Ons eienaardighede wat gebore is uit die vurige liefdesdriehoek tussen Frans, Nederlands en Duits en die verdere letterkundige verhoudings met Engels en ander insypel tale, het geword ‘n spraak op eie werf. Dit is asof die oer siel uit die noorde van Europa kom klank dolosse gooi het op die braak vasteland wat soos ‘n vrugbare maagd gewag het om ‘letterbevrug’ te word. ‘n Nasionale karaktertaal het uit die baarmoeder van die grond wat ons kom oopbreek het te voorskyn gekom.

Wie sou ooit kon dink dat hierdie spraakbaba reeds in sy kleuterfase sou kon gradueer. Dat werklike letterkunde en poësie so vroeg op die ‘curriculum’ van uitspraak sou kon geld. Die taal talente uit Europa is nie onder die maatemmer verberg nie, daar is mooi en eg daarmee gewoeker. Dit is opgebreek, omvorm, omskep, en gespoel tot net die suiwer goud uit die spraaksif in die mond geval het. Uit die smeltkroes is ‘n juweeltaal gegiet.

Hierdie taal het sy bestaansreg gekoop en duur betaal met bloedgeld. Dit is ‘n vegtaal, ‘n smeektaal en ‘n weentaal. Die hartstogtelike versoek tot ewige reg kom uit die hoëveld wanneer die winterwinde derduisende verkluimde Afrikaner stemmetjies na ons aanwaai...

Praat hom, sing hom, skryf hom, dig hom en basuin hom uit. Laat die passie en die liefde vir ons klanke en betekenisse heen en weer tussen ons lewe. Maak dit aansteeklik, ‘n taal pandemie in eie geledere. Praat hom skoon, praat hom vry van vreemde klanke, spreek hom uit as ‘n volbloed taal, suiwer, rond, duidelik en getrou aan sy aard en afkoms. Plaas ‘n taalwag voor jou mond. Afrikaans is ‘n taal wat uiteindelik totale suiwerheid van klank en uitdrukking deur en deur verdien en moet geniet.

Praat dit trots, praat dit met arrogansie, praat dit met ‘n houding, praat dit neus in die lug – Afrikaans verdien dit!

Ek is Afrikaans gebore, het Afrikaans gegroei, is in Afrikaans geskool en het Afrikaans gevry en getrou. Asseblief, begrawe my in Afrikaans en kap dit uit op my grafsteen as my laaste soetklinkende verklaring...

knipmes
6th October 2012, 19:29
Afrikaans My Afrikaans
Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_waldor.htm)
Praat dit trots, praat dit met arrogansie, praat dit met ‘n houding, praat dit neus in die lug – Afrikaans verdien dit!...

Hiermee gaan ek met Waldor uitbundiglik akkoord!!!


groetnis
knipmes