PDA

View Full Version : Instinkte



Stefanus
20th April 2014, 10:21
DIE VROULIKE INSTINK

Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_Waldor.htm)


Die grootste onreg teenoor instink was toe ons toegelaat het dat dogmas die vrou se instinkte inperk. Die inperk van die vroulike instink het subtiel-slinks een van ons sterkste geestelike lewensare vasgeketting – dit in die donker verlede aan die brandstapel vasgeketting. Die priesters het die mens se beste instinkte letterlik in rook laat opgaan...

Die geestelike vlerke van die vrou is tot ‘n besem reduseer. Haar vroulike skoonheid verkrimp en verbuig en die bekoorlikheid in haar stem, is tot ‘n kekkel-lag verander. Die instink-konneksie wat ons uit die skepping ontvang het is tot “heks” reduseer.

Ons het almal instinkte. Sommiges gebruik dit net meer as ander. Sommige mense is dieper daarop ingeskakel. Andere het dit ontwikkel deur herhaalde blootstelling aan ‘n sekere faset van persepsies. Soos byvoorbeeld die polisieman wat ‘n sesde sintuig ontwikkel vir misdaad en die potensiële misdadiger. Maar, die vrou het ‘n instink wat haar van die begin af gegee is. Ons kan onsself maar net die vraag afvra waarom die wêreld se wiggelaars, waarsêers en mediums amper uitsluitlik vroue is...

Die vrou se natuurlike aansluiting met die metafisiese, was natuurlik vir die priesterlike hiërargie ‘n ernstige bedreiging. Die vrou kon deur al die eeue wat die kerk voorafgegaan het, onverhinderd inskakel met die boodskappe in die atmosfeer. Maar toe die kerk daardie magte in dogmas kom vas skryf, om dit te beheer, het die Godheid ons ‘n Curriculum Vitae begin vra. Die brandstapel was die siftingsproses. Toe daardie rook gaan lê toe is die vrou amptelik vervreem van die konvensionele instinkte wat sy in die baarmoeder reeds vir ‘n rede gegee is...

Ons weet dat die wetenskap by die dag verbeter en dat al meer ontdekkings gemaak word. Die vroeëre aannames oor die werkinge van die menslike brein was baseer op disseksies van hoofsaaklik manlike breins, omdat die mediese navorsers aanvanklik van kadawers uit die laaste oorlog afhanklik was. Sedertdien, met die liberalisering van voorskrifte, het die wetenskap al meer vroue breins dissekteer en verbasende ontdekkings is gemaak.

Die vroulike brein is anders as die manlike brein. Mens kan inderdaad sê dat die vroulike brein anders as die van die man sin ‘bedraad’ is. Daardie ‘vroulike intuïsie’ waarvan almal so ruimskoots praat en inderdaad van weet, word nou deur die biologiese samestelling van die brein bevestig. Die voorsienigheid van die skepping het bepaal dat die vrou se brein beter as die van die man, by die metafisiese moet inskakel. Met nuutste navorsing is daar gevind dat dogtertjies enkele ure na geboorte meer sensitief is vir aanraking. Babadogtertjies is ook aansienlik meer ingestel op vertroostende woorde, sang en geluide. Hulle blyk uit die navorsing, baie beter as seuntjie ingestel te wees wanneer dit kom by die identifisering van die emosionele spraak. Vandat hulle hul oë in die lewe oopmaak, is daar duidelik waarneembare belangstelling om met ander mense te kommunikeer. Een van die toetse wat uitgevoer is, het babas van twee tot vier dae oud behels – daar is gevind dat dogtertjies uit die groep, twee keer soveel tyd spandeer het om oogkontak te behou met volwassenes wat geen geluide gemaak het nie. Hulle het ook baie langer konsentreer wanneer iemand gepraat het.

Daar is gevind dat babaseuntjies wel vir dieselfde tydperk kon konsentreer, maar dat hulle ‘n voorkeur gehad het vir wat hulle kon sien, eerder as geluide. Van die wieg af, verkies babadogtertjies om geluide te maak in reaksie op menslike aandag, waar seuntjies netso gelukkig is om geluide te maak vir wiegie-speelgoed en abstrakte geometriese ontwerpe. Die vroulike interpersoonlike ‘bedrading’ kom baie duidelik na vore waar dit gevind is dat dogtertjies op vier maande oud, foto’s van mense wat hulle ken kan identifiseer en kan onderskei van onbekende persone. Seuntjies kan dit oor die algemeen gladnie doen nie.

Daarom moet ons probeer verstaan waarom ‘n vrou byvoorbeeld – meermale tot die man se verwondering en frustrasie – in ‘n stryery verwys na “daardie stemtoon” van die man. Die vrou se voorkeure en persepsies gaan deur ‘n sif wat anders ontwerp is, as die van die man. Die vrou het ‘n superieure sensitiwiteit vir dinge soos “daardie stemtoon...” Die man sien in die verband, in ‘n tonnel af en konsentreer eerder op die diepte, waar die vrou die wyer prentjie inneem. Die wetenskap bewys dit. Die vrou het ‘n wyer periferiese visie en beeld omdat die reseptor stafies en kegels in die retina, by hulle, aan die agterkant van die oogbal is. Vroue is doodeenvoudig beter toegerus om dinge te sien en hoor waarvoor mans blind en doof staan.

Is die vrou dan verniet so ontwerp? Kan, of mag ons dit dan polities en religieus misken?

Die vraag wat ek hier baie pertinent wil stel is: Met welke gesag het die kerkleiers – die priesterdom – besluit om die krag wat die vrou deur die skepping gegee is van haar te stroop, en dit boos te verklaar. Daardie intuïtiewe bron wat die skepping ons gegee het is vasgeketting, en misken deur ‘n dogma.

Sal die skepper teen sy eie ontwerp gaan?

Ons Germaanse voorouers het die instink van die vrou erken en respekteer totdat die kerk dit vernietig het. Gedurende die vroeë eeue is die vroue profetesse ‘n heilige gesag gegee. Hulle het mag en invloed gehad. Dit was ‘n verskynsel wat baie pertinent uitgelig word deur die antieke geskiedkundiges wat eietyds op die grond was. ‘n Nadere studie van die geskrifte van die Griekse en Romeinse geskiedkundiges openbaar ‘n verbasende waarheid: Die vrou staan sentraal wanneer dit kom by die sosiale en religieuse lewe van die Germaanse stamme waarmee die Grieke en Romeine te doen gekry het. Bykans al die Magtige profete en sjamane waarna daar in die antieke tekste verwys word is vroue. Hulle praat van ‘n gemeenskap waar die vrou gesien is as die een wat nader aan die Godheid is. Vroue het voorgesit en het toesig gehou by al die groot stam vergaderings. Hulle was by elke geboorte teenwoordig en het die rites voorgehou en bepalings gemaak oor die lot van die pasgeborene. By die groot religieuse feeste was dit vroue wat die orakels voorgelees het, wat die komende seisoen aangekondig het. Hulle het die manne na die slagveld begelei en met die werp van runetekens en meditasie bepaal wat die beste tyd sou wees om tot die stryd oor te gaan. Hieroor skryf Julius Ceasar:

“...It was the custom among Germans that their matrones should decide by lots and devinations whether or not it was expedient to go to battle...”

Ander geskrifte wys daarop dat die vroulike sieners die lot van oorlog-gevangenes bepaal het. Tacitus, die Romeinse geskiedkundige, wys in sy werkstuk The Histories, daarop dat die vroue as ambassadeurs opgetree het, en dat hulle die volk verteenwoordig het uit die stamme wat teen die grense gevestig was. Hierdie vroue het die samesprekings tussen die Romeine en Germane gelei. In sy ander werk The Germania, skryf Tacitus oor ‘n stam wat as die Naharvali bekend was. Hy noem dat dié stam ‘n heilige gedeelte in hulle bos gehad het, en dat die priester wat vir die gedeelte verantwoordelik was, soos ‘n vrou aangetrek het. Meeste antropoloë stem ooreen dat hierdie verskynsel en ander kontemporêre waarnemings daarop dui dat die geestelike vlak ‘n gebied vir die vrou was, en dat die man hom soos ‘n vrou moes klee om toegang te kon verkry.

Tacitus praat in ‘The Histories’ van die baie berugte en magtige Germaanse profetes Veleda. Sy was van die Bructeres stam. Hy skryf dat sy die status van “halfgodin” gehad het, en dat ‘n hout toring vir haar in die Lippe rivier, ‘n sytak van die Ryn, opgerig is; vanwaar sy haar uitsprake gemaak het. Die Germane het die toring juis in die water opgerig omdat hulle geglo het dat indien haar heilige kragte met die aarde in aanraking kom, dit die natuur omver sou werp. Die naam ‘Veleda’, is afkomstig vak die Galliese werkwoord wat ‘om te sien’ beteken. ‘n Duisend jaar later, het die Viking ( ‘n ander vertakking van ons voorouers, en neefs van die Germane), profetesse steeds voorspellings van hoë platforms af gemaak. Veleda het soveel ontsag by die Germane genereer, dat Romeinse gevangenes aan haar geoffer is. Tydens die samesprekings tussen die Romeine en die mense van Cologne, was Veleda die arbitrêr. Sy het soveel mag oor die hele Germaanse bevolking gehad, dat die Romeinse Keiser Vespasian in 78 NC twee legioene na die gebied van die Lippe gestuur het met die uitsluitlike doel om haar gyselaar te neem. Die Romeinse geskiedskrywers het nie net van Veleda gepraat nie, maar verskeie word genoem. Ganna en Aurinia is nog twee, en na vele andere word verwys as “wyse vroue onder die Germaanse stamme”

‘n Germaanse leier of bevelvoerder wat sy moeder of susters geraadpleeg het is gerespekteer en as wys beskou. Die Romeine het die Germane hoog aangeskryf en as formidabele mense beskou.

Hierdie gemeenskappe waaruit ons afstam, sou die vrou se instinkte nie verniet so hoog aangeskryf het nie. Kyk dan in welke lig is Siener van Rensburg beskou, en hy klink vir my soos ‘n vulletjie teenoor sy oer ouma grootjie, Veleda!

Ons het onsself van ‘n Godgegewe metafisiese werklikheid vervreem. Ons het toegelaat dat goeie en gesonde gebruike stelselmatig deur ‘n magsbehepte priesterdom versmoor word. Die vrou se instinkte is op die brandstapel verbrand en later geestelik vervreem en verpolitiseer. Vandag moet die vrou daardie instink, daardie erfdeel, daardie reg najaag, deur gebruik te maak van aktivistiese metodes en aksies.

Vandag moet daardie instinkte erkenning soek lang die weë van vrouebevryding organisasies. Vandag opponeer die man en die vrou mekaar, opponeer die vrou en die sisteem mekaar omdat die vrou se waardevolle instinkte uitgesluit word van die bestuur van die mens.

Wat ‘n tragedie.