PDA

View Full Version : Besoek aan Orania



Carel van Heerden
23rd July 2014, 10:44
Die noem van die naam “Orania” bring by verskillende persone verskillende beelde na vore. Somtyds is dit negatief, ander kere weer positief. Dit is asof die plekkie aan iets magies verknoop is. Hoe dit ook al sy, ek en my vrou het besluit om met ons terugkeer van ons besoek aan die Noord-Kaap en Weskus, op Orania oor te bly en self ondersoek in te stel. Ook om te probeer vasstel of daar iets magies by Orania aan te tref is. Ons het besluit om met ‘n oop gemoed die plek te besoek en het ‘n goeie aantal vrae geformuleer wat onder andere die kwesie van diefstal en veiligheid insluit.

Met die beplanning van ons rit en besoeke wat ons beoog het, is die nodige navrae gerig en waar van toepassing, is die nodige besprekings gedoen.

Met ons navraag vir verblyf by die Oewerhotel was daar ‘n spoedige reaksie gepaard met ‘n aantal aanbevelings soos dié van ‘n restaurant, ‘n gratis besigtigingstoer asook heelwat inligting rakende die hotel en besienswaardighede. Die bespreking is gemaak en die verloop van proses het my beïndruk.

By ons aankoms op Orania het ons gemerk dat die hoofpad vanaf Hopetown na Petrusville, Orania in twee verdeel. Kan dit van Orania ‘n waarskynlike en maklike teiken vir roof en kapings maak?

Tydens ons aanmelding by die hotel was ons deur ‘n baie aanvallige jong dame (naam word verswyg) verwelkom. Alle gegewens was in plek rakende ons bespreking en daar was geen “formaliteite” verder nodig nie. Toe ons merk dat die kamer ‘n ent weg was van die parkeerplek het ek my kommer daaroor uitgespreek aangesien daar heelwat toerusting en ander aankope op die bakkie was wat nie afgelaai sou kon word nie. Sy het geglimlag, ons gevra om ‘n wyle te wag en ‘n kamer aan ons toegeken waarvan die stoep op die parkeerplek uitkyk. Ons moes net bietjie wag sodat die kamer klaar skoongemaak kon word. Ons het intussen omgery na die parkeerarea. Ons kamersleutel was beskikbaar en ons het afgestap om die nodige bagasie af te laai. Toe ek die eerste tas afhaal, staan die ontvangsdame by my. Met die gedagte dat ek dalk iets vergeet het, vra ek haar daarna waaop sy antwoord dat sy gekom het om ons te help met die bagasie. Uitaard kon ek dit nie toelaat nie en haar vriendelik verseker dat ons sal regkom.

Op hierdie noot het ons besoek in aanvang geneem. Deurgaans was die mense behulpsaam, vriendelik en het maklik gesêls. Hieroor kan ek boekdele skryf. Om blanke arbeid te ervaar was vreemd en het mens somtyds ongemaklik laat voel.

Die besigtigingstoer was ‘n belewenis. Wat op Orania bereik is – ongelooflik. My navraag oor diefstal is beantwoord met ‘n “geen”. “Wat doen hulle om ‘n nul misdaadsyfer te hê met die grootpad wat die dorpie in twee verdeel?” Dit blyk dat hulle net deurlopend die gebied kontroleer, op soorgelyke basis as die van ander dorpe se polisieforums. Hulle naaste polisiekantoor is Hopetown ongeveer 50 km van Orania af. Die inwoners is ontspanne en gemaklik. Soos een dame aan my gesê het: “Ons hoef nie kort-kort oor ons skouer te loer nie.”

Ons besigtigingstoer het met ure die aanvanklike beplanning oorskry. Met ons terugreis het ek besluit om aan Carel Boshoff ‘n e-pos te stuur. Dié het ek by ons aankoms by die huis gedoen. Daarin het ek onder ander vermeld (by name) die persone wat meegehelp het om ons besoek aldaar die moeite werd te maak. Onder andere dat die gids tydens die besigtingstoer – wat geskeduleer was vir 2 ure – eers na 4 ½ uur huis toe gegaan het.

Met die e-pos afgehandel het dinge soos dit gewoonlik die geval is, weer genormaliseer. Toe kom die wending. Op ‘n dag lui my selfoon. Die nommer is onbekend. Aan die ander kant “van die lyn” is daar ‘n vriendelike stem van ‘n dame wat wil weet of ek so-en-so is. Ek bevestig, menende dat dit dalk weer ‘n telebemarker is. Was my verbasing groot toe die dame aandui dat dit sy is wat by ontvangs gewerk het tydens ons besoek by die Oewerhotel. Sy bedank my vir die e-pos wat ek aan Carel Boshoff gestuur het. Die e-pos het verseker dat sy tydens haar evaluasie ‘n permanente pos by die hotel kon kry aangesien sy slegs tydelik aangestel was. Sy is baie bly oor die aanstelling, onder andere omdat sy so lekker daar werk.

Die dankbaarheid in my hart was groot. Die bietjie moeite om erkentlik te te wees oor goeie dienslewering het wyer uitgekring en ‘n groter impak gehad as wat ’n mens ooit sou besef.

Of daar iets magies by Orania aan te tref is, dit weet ek nog nie. Wat ek wel weet is dat die Liewe Vader ons gebruik soos Hy ons nodig kry!

Groetnis

Carel