PDA

View Full Version : Pous Francis verklaar evolusie en die oerknal-teorie is werklik.



Stefanus
3rd November 2014, 07:29
Pous Francis verklaar evolusie en die oerknal-teorie is werklik en God is nie
" 'n towenaar met 'n towerstaffie nie ".



Pous Francis sê hy glo in die oerknal-teorie en in evolusie wat deur die wetenskaplike weergawe die vorming van die heelal en dus God se bestaan bevestig. Die Pous het op 'n vergadering van die Vatikaan se Pouslike Akademie vir Wetenskappe gesê evolusie is versoenbaar met God se plan. Wat 'n einde maak aan die "pseudo- teorieë" van kreasionisme en intelligente ontwerp argumenteer wat aangemoedig was deur sy voorganger , Benedictus XVI .

Die Bybelboek Genesis kan dalk suggereer dat God 'n "towenaar met 'n towerstaf is wat alles kan doen" - maar "dit is nie so nie". Volgens hom het God menslike wesens geskep en hulle laat ontwikkel in ooreenstemming met die interne wette wat hy aan elkeen gegee het sodat hulle (hul menswees) kan verwesenlik," berig die Religious News Service.

"Evolusie in die natuur is nie onversoenbaar met die idee van die skepping nie, aangesien evolusie die skepping vereis van wesens wat ontwikkel."



http://www.youtube.com/watch?v=7KVupdK_pBU


Giovanni Bignami, 'n professor en president van Italië se Nasionale Instituut vir Astrofisika, het aan die Italiaanse nuusagentskap Adnkronos gese: "Die pous se verklaring is betekenisvol. Ons is die direkte afstammelinge van die Oerknal wat die heelal geskep het. Evolusie is afkomstig van die skepping. "


Benedictus XVI en sy noue adviseurs het onlangs reeds die idee dat intelligente ontwerp evolusie bevestig onderskryf - die idee dat natuurlike seleksie op sy eie onvoldoende is om die kompleksiteit van die wêreld te verduidelik. In 2005, het sy kollega kardinaal Schoenborn 'n artikel geskryf en gesê: " Evolution in die sin van die gemeenskaplike afkoms kan waar wees, maar evolusie in die neo- Darwinistiese sin - 'n onbegeleide , onbeplande proses - is nie . "

Stefanus
5th November 2014, 06:11
God en Evolusie




1006 deur Avery Kardinaal Dulles S. J.
(Afrikaanse vertaling van ‘n artikel wat verskyn het in Communio: Internationaal Katholiek Tijdschrift, 2009, nr 2. )



In die tweede helfte van die negentiende eeu het dit gebruiklik begin word om te praat van ‘n oorlog tussen wetenskap en godsdiens/geloof. In die loop van die twintigste eeu het dié vyandigheid egter langsamerhand begin verminder. In die voetspore van die Tweede Vatikaanse Konsilie, stel pous Johannes Paulus II aan die begin van sy pontifikaat ‘n kommissie aan om die proses van 1633, waartydens Galileo veroordeel is, te ondersoek en waar nodig regstellings te maak. In 1983 het hy ‘n konferensie gehou om die 350-jarige herdenking te vier van die publikasie van Galileo se beroemde “Dialoog oor Twee Nuwe Wetenskappe”. Tydens dié konferensie het die pous opgemerk dat die ervaring wat die Kerk in die geval van Galileo opgedoen het daartoe gelei het dat die Kerk “tot ‘n ryper houding en meer noukeurige greep op dié gesag wat haar eie is” gekom het. Op dié wyse het die Kerk tot die insig gekom waardeur sy onderskeid kon maak tussen dit “wat wesenlik tot die geloof behoort” en die “wetenskaplike sisteme van ‘n gegewe tydperk”.

Van 21 tot 26 September 1987 het die pous ‘n studieweek oor wetenskap en godsdiens in Castel Gandolfo georganiseer. Die resultate van dié konferensie is opgesom in ‘n positiewe en aanmoedigende brief wat hy op 1 Junie 1988 aan die direkteur van die Vatikaanse Observatorium gestuur het en waarin hy ‘n middelkoers inslaan - tussen ‘n totale skeiding en ‘n totale samesmelting van dié twee dissiplines. Hy beveel ‘n program van dialoog en interaksie aan, waarby wetenskap en godsdiens nie daarop uit sou wees om mekaar te vervang of te negeer nie. Saam kan die wetenskap en godsdiens soek na ‘n dieper begrip van mekaar se bevoegdhede en beperkings. In die besonder behoort dié dissiplines te soek na dit wat hulle in gemeen het. Wetenskap moet nie probeer om godsdiens te word nie en godsdiens moet nie daarna strewe om wetenskap se plek in te neem nie. Wetenskap kan godsdiens suiwer van dwaling en bygeloof, terwyl godsdiens op sy beurt wetenskap kan suiwer van afgodediens en foutiewe absolute uitsprake. Daarom moet elke dissipline sy integriteit bewaar en terselfdertyd oop wees vir die insigte en ontdekkings van die ander.

In ‘n boodskap oor evolusie aan die Pouslike Akademie vir Wetenskappe (22 Oktober 1996) merk pous Johannes Paulus II op dat, terwyl daar verskillende teorieë oor die evolusie bestaan, die feit van die evolusie van die menslike liggaam uit laer vorme van lewe “meer as ‘n hipotese” is. Die menslike lewe, het hy egter onderstreep, word deur ‘n “ontologiese verskil” geskei van alles wat minder as menslik is. Die geestelike siel het nie eenvoudig ontstaan uit die somtotaal van lewende materie nie en is ook glad nie ‘n suiwer epifenomeen van materie nie. Geloof stel ons in staat om te bevestig dat die menslike direk deur God geskape is. Dié boodskap van die pous het nogal opslae gemaak.

In sekere kringe is die pous se woorde vertolk as ‘n aanvaarding van die Neo-darwinistiese visie dat evolusie voldoende verklaar word deur toevallige mutasies en natuurlike seleksie (die oorlewing van die geskikste oftewel Darwin se oorlewingsteorie) sonder enige beginsel of doel. In ‘n poging om dié foutiewe interpretasie reg te stel publiseer kardinaal Christoph Schönborn, aartsbiskop van Wenen, op 7 Julie 2005 ‘n artikel in die New York Times, waarin hy ‘n reeks uitsprake van Johannes Paulus II aanhaal as bewys dat die pous volstrek geen voorstaander van Neo-darwinisme is nie. Pous Johannes Paulus II het byvoorbeeld tydens ‘n algemene oudiënsie op 19 Julie 1985 die volgende gesê: “Die evolusie van menslike wesens, waarvan die wetenskap probeer om die fases waarvolgens dit geskied het en die meganisme hoe dit gebeur het vas te stel, het ‘n inwendige doel wat bewonderenswaardig is. Dié doel, wat wesens in ‘n rigting lei waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie, verplig ons om ‘n Intelligensie te veronderstel wat die uitvinder, die skepper hiervan is.” Verder het die pous in dié verband gesê dat die toeskrywing van menslike evolusie aan suiwer toeval ‘n belediging vir die menslike verstand sou wees. Kardinaal Schönborn kon ook pous Benedictus XVI aanhaal wat by sy intreemis as pous op 24 April verklaar het: “Ons is geen toevallige en betekenislose produkte van evolusie nie. Elkeen van ons is die resultaat van ‘n gedagte van God. Elkeen van ons is hier omdat God dit so gewil het, elkeen van ons is geliefd, elkeen van ons is noodsaaklik.”

Dié artikel van kardinaal Schönborn is deur talle lesers geïnterpreteer as ‘n verwerping van evolusie. Die redakteur het selfs briewe ontvang wat hom daarvan beskuldig het dat hy Kreasionisme verkondig en teen die opvattinge van pous Johannes Paulus II probeer ingaan. Hulle was blykbaar nie in staat om te begryp dat die skrywer van dié artikel gewoon die taal van die klassieke filosofie gebruik het en geeneen van die verskillende wetenskaplike posisies probeer voortrek het nie. Kardinaal Schönborn se kritiek was gerig teen die Neo-darwiniste wat met behulp van natuurwetenskaplike metodes uitsprake maak oor filosofiese en teologiese vraagstukke.

Verskeie gesaghebbende persone – soos Kenneth R. Miller en Stephen M. Barr – beklemtoon in hul antwoord aan kardinaal Schönborn dat dit moontlik is om op die gebied van die wetenskap ‘n Neo-darwinis te wees en wat geloof betref ‘n ortodokse Christengelowige. Hulle tref ‘n onderskeid tussen verskillende vlakke van kennis en beweer dat dit wat vanuit ‘n wetenskaplike oogpunt toevallig is, deel kan uitmaak van God se ewige plan. God werp as’t ware die dobbelstene, maar is deur sy alomvattende kennis in staat om die resultaat van alle ewigheid af vooruit te sien. Dié kombinasie van Darwinisme in wetenskap en Teïsme in teologie kan miskien volhoudbaar wees, maar dit is nie die possie wat kardinaal Schönborn probeer aanval nie. Soos hy verduidelik het in ‘n opvolgende artikel in die tydskrif First Things (Januarie 2006), maak hy slegs beswaar teen die Neo-darwiniste – en daar is baie van hulle – wat daarby staan dat die enigste geldige ondersoek van die natuur reduktief van aard kan wees. Volgens dié meganisme word alles verklaar op grond van kwantiteit, materie en beweging. Dit sluit spesifieke verskille asook enige doel wat daar in die natuur te vinde is uit. Hy haal een van die neo-darwiniste aan wat dit so gestel het: “Die moderne wetenskap impliseer regstreeks dat die wêreld streng georganiseerd is volgens deterministiese beginsels of toeval. In die natuur is daar geen doelgerigte beginsels nie. Daar is geen gode en geen ontwerpende kragte wat rasioneel raakgesien kan word nie.”

Heel skerpsinnig merk kardinaal Schönborn op dat positivistiese wetenskaplikes deur die metodes waartoe hulle hulself beperk alle vorme van doel of oorsaak uitsluit. Nadat hulle die natuurlike prosesse op grond van materiële of funksionele oorsake beskryf het, hou hulle hul oë gesluit vir enige ander verklaring. Die vrae waarom iets in die eerste plek bestaan (insluitend die menslike lewe), hoe ons natuur verskil van diere s’n en hoe ons behoort te lewe, laat hulle gewoon heeltemal buite berekening.

Tydens die afgelope jare was daar ‘n nuwe uitbarsting van ateïstiese literatuur wat beweer dat die gesag van die wetenskap, en in die besonder die darwinistiese evolusieteorieë, bewys dat dit irrasioneel is om in God te glo. Die titels van enkele van die boeke is al klaar veelseggend: The End of Faith deur Sam Harris, Breaking the Spell: Religion as a Natural Phenomenon deur Daniel Dennett, The God Delusion deur Richard Dawkins en God: The Failed Hypothesis deur Victor J. Stenger. Die nuwe ateïste skryf met die geesdrif van evangeliste wat die evangelie van die ateïsme verkondig.

Oor die algemeen stem dié skrywers ooreen met die stelling dat feite in die wetenskaplike sin van die woord die enigste geldige basis is vir geloof. Deur middel van die oog (dit wat gesien kan word) en instrumente maak die wetenskap objektiewe waarnemings en bou daarvolgens modelle of hipotese op om die fenomene wat waargeneem is te verklaar. Vervolgens word die hipotese getoets deur die resultate van die ondersoek met allerhande eksperimente te verifieer. Daar word uitgegaan van die veronderstelling dat alle fenomene in die wêreld aan die hand van liggame en kragte wat deel uitmaak van dieselfde wêreld verklaar kan word. Tensy God tot ‘n verifieerbare hipotese gereduseer kan word en as sulks deur middel van eksperimente getoets kan word, is daar volgens dié geleerdes geen rede vir religieuse geloof nie. Richard Dawkins, een van die leiers en woordvoerders van dié nuwe antireligie, kan as verteenwoordigend beskou word vir die hele groep. Hy voer aan dat alle bewyse vir die bestaan van God ongeldig is omdat hulle onder meer nie die vraag “wie het vir God geskep?” kan beantwoord nie. Hy skryf: “Geloof is niks meer as ‘n ekskuus om die noodsaaklikheid van navorsing en die evaluering van feite te probeer ontduik… Geloof, dit wil sê dié dinge wat nie bewys kan word nie, is die belangrikste onding in elke religie”. Meegevoer deur sy eie ideologie praat hy van die “lawwigheid van die gees wat religieus geïndoktrineer” is. Grootpraterig beweer hy dat, in die soektog na die verklaring van die menslike lewe en die heelal waarin ons onsself bevind, godsdiens/geloof “nou volledig vervang is deur die wetenskap”. Dawkins se begrip van religieuse geloof as ‘n irrasionele oortuiging of opvatting kom vir Katolieke heel vreemd voor. Die Eerste Vatikaanse Konsilie het juis fideïsme veroordeel, die stelling dat geloof irrasioneel is. Dit het beklemtoon dat geloof in harmonie met die menslike rede is en moet wees. Johannes Paulus II het dié gedagte verder ontwikkel in sy ensikliek Fides et ratio (1998) en Benedictus XVI het in sy lesing in Regensburg (12 September 2006) die noodsaaklike harmonie tussen geloof en rede onderstreep. Hy het ‘n oproep gemaak dat daar ‘n herontdekking van die rede in die volledige betekenis en omvang van die woord moet plaasvind sodat daar ‘n teengewig kan wees teen die moderne neiging om die rede te beperk tot dit wat empiries verifieerbaar is.


Teïstiese Darwinisme

Katolieke wat deskundiges is op die gebied van die biologiese wetenskappe neem verskillende posisies in oor evolusie. Soos ek reeds genoem het, is daar ‘n groep wat evolusie verklaar deur middel van toevallige mutasies en die oorlewing van die geskikste en op wetenskaplike vlak aanvaar hulle die Darwinistiese verklaring hiervoor. Terselfdertyd verwerp dié groep egter die Darwinisme as ‘n filosofiese sisteem. Dié groep voer aan dat God, Hy wat die ewige uitkoms van evolusie voorsien het, die natuurlike evolusieproses gebruik om sy skeppende plan uit te werk. In navolging van Fred Hoyle praat sommige lede van hierdie groep oor die “antropiese beginsel”, waarmee hulle bedoel dat die heelal “fyn ingestel is” (fine-tuned) vanaf die eerste oomblik van die skepping om die ontstaan van menslike lewe toe te laat.

‘n Voorbeeld hiervan vind ‘n mens in die boek van Francis S. Collins The Language of God (2006). Collins is ‘n wêreldberoemde deskundige op die gebied van genetika en mikrobiologie. Hy het sonder enige vorm van godsdienstige geloof grootgeword. Nadat hy sy opleiding in chemie, biologie en geneeskunde voltooi het, word hy Christen. Sy kennis as professioneel op dié gebiede oortuig hom daarvan dat die skoonheid en simmetrie van die menslike genetika op kragtige wyse getuig van ‘n wyse en liefhebbende Skepper. Volgens hom is dit egter nie nodig dat God intree in die proses van die evolusie van die liggaam nie. Collins hou vas aan ‘n teorie van Teïstiese Evolusionisme wat hy die “BioLogos posisie” noem. Hoewel Collins nie ‘n Katoliek is nie, stem hy saam met die insigte van wat Johannes Paulus II oor die evolusie verkry het. Veral soos die pous dit verwoord het in sy boodskap aan die Pouslike Akademie vir Wetenskappe in 1996. Verder bou Collins op die werk van die Anglikaanse priester Arthur Peacock wat ‘n boek geskryf het met die titel: “Evolution: The Disguised Friend of Faith”. Collins haal ook Bill Clinton se woorde by die viering van die Human Genome Project in 2000 in die Wit Huis aan: “Vandag leer ons die taal waarin God die lewe skep. Ons groei steeds meer in ontsag vir die kompleksiteit, die skoonheid en die wonder van God se mees goddelike en heilige gawe”.

Net soos met die klassieke Darwinisme weerhou aanhangers van Teïstiese Evolusie hulle van enige stelling dat daar goddelike intervensie is in die evolusieproses. Hulle meen dat die ontstaan van lewende liggame, insluitend die menslike liggaam, op ‘n empiriese vlak verklaar kan word deur toevallige mutasies en die oorlewing van die geskikste. Die Teïstiese Evolusionisme verwerp egter die ateïstiese gevolgtrekkings van Dawkins en sy aanhangers. Volgens hulle is die natuurwetenskappe nie die enigste aanvaarbare bron van waarheid en sekerheid nie. Die wetenskap het ‘n werklike maar beperkte bevoegdheid. Die wetenskap kan ons veel vertel oor die prosesse wat ons deur ons sintuie en deur instrumente kan waarneem of kontroleer. Die wetenskap beskik egter oor geen manier om die dieper vrae oor die werklikheid as geheel te beantwoord nie. Daar kan geen sprake daarvan wees dat die wetenskap ooit godsdiens kan vervang nie. Die wetenskap bied geen antwoorde op die volgende basiese lewensvrae nie: hoekom bestaan die wêreld en die lewe hoegenaamd, wat is die uiteindelike doel daarvan en hoe ons moet optree om die soort persone te wees wat ons moet wees?

As wetenskaplike sisteem vertoon die darwinisme ‘n aantal aantreklike kenmerke. Die groot voordeel daarvan lê in sy eenvoud. Deur die spesifieke verskille tussen die diverse maniere van lewe (bestaan) en die doel van dié lewe te negeer (hoe en hoekom daar geleef word), reduseer dié soort darwinisme die hele verloop van die evolusie tot ‘n proses van materie en beweging van materie. Op dié vlak lewer dit wel geloofwaardige verklarings op wat vir baie wetenskaplikes blykbaar voldoende genoeg is.


Intelligente Ontwerp (Intelligent Design)

Ondanks al die voordele het darwinisme egter nog nie heeltemal die oorwinning behaal nie, selfs in wetenskaplike kringe. ‘n Belangrike groep wetenskaplikes steun ‘n teorie wat bekend staan as Intelligente Ontwerp oftewel Intelligent Design. Michael Behe, professor aan Lehigh Universiteit, betoog dat sommige organe van lewende wesens “onherleibaar kompleks” is. Die vorming van hierdie organe kon nie deur klein willekeurige mutasies plaasvind nie. Dit is tog so dat iets wat slegs bepaalde maar nie al die kenmerke van die nuwe orgaan gehad het, geen rede tot voortbestaan en oorlewing sou hê nie. Dit sou byvoorbeeld net nie sin maak vir die pupil van die oog om te evolueer indien daar geen netvlies was om die pupil te vergesel nie, en dit sou onsinnig vir ‘n netvlies wees om sonder ‘n pupil te bestaan. As ‘n tipiese voorbeeld van ‘n komplekse orgaan waarvan al die dele van mekaar afhanklik is, stel Behe die “bakteriële flagellum” voor, die sweepstert van ‘n bakterie, ‘n wonderlike sweminstrument waarvan sommige bakterieë gebruik maak.

Hier het ‘n mens dus te doen met ‘n tegniese diskussie onder mikrobioloë waarop ek nie wil ingaan nie. In die guns van Michael Behe en sy denkskool kan ons sê dat die moontlikheid van skielike groot veranderinge wat deur ‘n hoër intelligensie teweeggebring word, nie a priori uitgesluit mag word nie. Maar ons kan dit ook as ‘n gesonde beginsel neem dat God nie in die geskape orde inmeng tensy dit noodsaaklik is nie. Indien die ontstaan van organe soos die “bakteriële flagellum” verklaar kan word deur die geleidelike akkumulasie van kleinere toevallige variasies, dan behoort die Darwinistiese verklaring voorkeur te geniet. Dit sou egter onverstandig wees om die saak vir die geloof te bou op dit wat die wetenskap nog nie duidelik kon verklaar nie, aangesien die wetenskap miskien wel in die toekoms in staat sal wees om dinge te verklaar wat huidiglik onverklaarbaar voorkom. Die geskiedenis leer ons dat God nie gereduseer kan word tot dit wat die menslike verstand kan verklaar word nie.


Teleologie

Die Darwinisme word ook vanuit ‘n derde rigting gekritiseer. Filosowe soos Michael Polanyi, wat die werk van Henri Bergson en Teilhard de Chardin voortsit, bevraagteken baie van die aansprake van die moderne Darwinisme. Filosowe van dié groep is dit eens, ondanks onderlinge verskille, dat biologiese organismes nie net deur die wette van die meganika begryp kan word nie. Die wette van die biologie, hoewel hierdie nie die wette van die fisika en die chemie teenspreek nie, is veel komplekser. Die gedrag van lewende organismes kan slegs verklaar word deur rekening te hou met hul strewe na lewe en groei. Deur hul gerigtheid op sonlig en voeding, toon plante ‘n intrinsieke strewe na lewe en groei. Hierdie interne doelgerigtheid maak dat lewende organismes sukses en mislukking op ‘n heel ander manier ervaar as stene en minerale. Op grond van dié ontologiese kloof wat die lewende van die nie-lewende skei, kan die ontstaan van die lewe nie deur middel van suiwer meganistiese beginsels verklaar word nie.

In lyn met hierdie denkrigting beweer die Engelse wiskundige en fisikus John Polkinghorne dat die darwinisme nie in staat is om te verklaar waarom meersellige plante en diere ontstaan het omdat eensellige organisme heel suksesvolle opgewasse is teen hul omgewing. Daar moet ‘n stuwing na hoëre en meer komplekse lewensvorme in die heelal aanwesig wees. Professor John F. Haught van Georgetown Universiteit (New York) stel in ‘n onlangse verdediging van dié idee wat die natuurwetenskappe eksakte resultate behaal deur hulself te beperk tot meetbare fenomene en dieperliggende vrae oor die sin en doel van dinge te negeer. Hierdie metode laat subjektiwiteit, gevoelens en asoirasies tersyde, en dit terwyl dit juis hierdie dinge is onontbeerlik is vir ‘n volledige teorie van kennis oor die lewe. Materialistiese Darwinisme is nie staat om te verklaar waarom die heelal lewend is van subjektiwiteit, gevoelens en aspirasies nie.

Die Thomistiese filosoof Etienne Gilson benadruk dit in sy boek From Aristotle to Darwin and Back Again (1971) dat Francis Bacon en ander ‘n wysgerige fout begaan het toe hulle twee van die vier oorsake van Aristoteles uit hul opvatting oor wat wetenskap is geëlimineer het. Daardeur het hulle alles op meganistiese wyse probeer verklaar deur slegs die materiële en werk/nut oorsake van dinge in ag te neem en alle vorm en doel oorsake te verwerp. Sonder die vorm of vorm oorsaaklikheid s dit onmoontlik om rekenskap te gee van die eenheid en die spesifieke identiteit van die substansie wat ondersoek word. In die mens is die vorm die geestelike siel wat van die menslike organisme één enkele, tipies menslike entiteit maak. Wanneer die vorm verloor word val die stoflike/materiële elemente uitmekaar en hou die liggaam op om ‘n menslike liggaam te wees. Daarom is dit so nutteloos om mense net op grond van hul liggaamlike dele te probeer definieer.

Doeloorsaaklikheid is van besondere belang in die ryk van lewende organismes. Die organe van ‘n dierlike of menslike liggaam kan nie begryp word tensy daar in terme van hul doel gedink word nie. Die brein kan nie begryp word sonder om na die denkvermoë te verwys wat die doel van die brein is nie. Net so min kan ‘n mens sinvol oor die oog praat sonder om na die oog se funksie om te sien te verwys nie.

Bogenoemde drie denkrigtings kan aldrie binne ‘n Christelike filosofie van die natuur inpas. Hoewel ekself neig na die derde rigting, herken ek dat sommige goed onderlegde deskundiges ‘n Teïstiese Darwinisme aanhang, terwyl ander weer Intelligent Design steun. Die drie Christelike perspektiewe bevestig almal dat God ‘n wesenlike rol speel in die proses, maar onderling verskil hulle oor die presiese aard van God se rol. Volgens die Teïstiese Darwinisme sit God die proses aan die gang deur vanaf die eerste oomblik van die skepping (die Oerknal/Big Bang) materie en energie te produseer wat geleidelik ontwikkel in plantaardige, dierlike uiteindelik menslike lewe op hierdie aarde en miskien ook elders. Volgens Intelligent Design vind die ontwikkeling nie plaas sonder goddelike intervensie in bepaalde stadia van die ontwikkeling deur die voortbring van onherleibaar komplekse organe. Volgens die teleologiese visie is die voortwaartse stuwing van die evolusie en die deurbreek daarvan na hoëre grade van syn (bestaan) afhanklik van die dinamiese aanwesigheid van God in sy skepping. Talle aanhangers van hierdie denkwyse sou sê dat die oorgang van ’n fisies-chemies bestaan na biologiese lewe en die verdere oorgange na dierlike en menslike lewe die bykomende inbring van goddelike, skeppende energie vereis.

In wetenskaplike kringe wil dit voorkom asof baie gekant is teen enige teorie wat aan God ‘n aktiewe rol in die evolusieproses toeskryf (soos die bogenoemde tweede en derde teorie dit wel doen). Christelike Darwiniste is geneig om baie toe te gee aan hul ateïstiese kollegas en dit wil voorkom asof hulle aanneem dat die hele proses plaasvind sonder die betrokkenheid van enige hoëre instansie. Teoloë sal hulleself moet afvra of dit aanvaar is om God op so ‘n manier uit sy skepping te verban.

‘n Paar eeue gelede het ‘n groep filosowe, bekend as die Deïste, beweer dat God die heelal geskape het en op daardie moment opgehou het om enige verdere invloed uit te oefen. Die meeste Christene het destyds glad nie hiermee saamgestem het en bly glo dat God aktief bly in die geskiedenis. Deur die eeue heen het Hy Homself aan sy profete openbaar, Hy het wonders verrig, Hy het sy eie Seun gestuur om mens te word, Hy het Jesus uit die dood laat opstaan. Indien God op so ‘n wyse aktief is in die bonatuurlike orde en effekte teweegbring wat deur almal waargeneem kan word, dan is dit uiteraard moeilik enige goddelike intervensie in die evolusieproses uit te skakel. Hoekom sou God in staat wees om die wêreld uit niks te skep, maar nie in staat wees om binne dié wêreld wat Hy gemaak op te tree nie? Vandag bestaan daar ‘n neiging om te sê dat die skepping aan die begin nie volledig/voltooi was nie, maar voortduur namate die heelal in kompleksiteit toeneem.

Phillip E. Johnson, ‘n leier van die Intelligent Design-beweging, het Christelike Darwiniste daarvan beskuldig dat hulle besig is om in die lokval te trap van ‘n opgedateerde Deïsme en God te verban “na die skimmige ryk vóór die Oerknal” waar Hy “niks mag doen wat tot moeilikheid tussen Teïste en wetenskaplike Naturaliste sou lei nie”.

Die Katolieke Kerk hou steeds daarvan vas dat die menslike siel nie die produk van die of ander biologiese oorsaak is nie, maar direk deur God geskape is. Hierdie Kerkleerstelling laat die vraag ook ontstaan of God da ook nie noodsaaklik betrokke is by die vorming van die menslike liggaam nie, aangesien die menslike liggaam ontstaan by die instorting van die siel. Die koms van die menslike siel verbind die liggaam met die siel en maak hulle tot een menslike liggaam. Hoewel dit vir die wetenskaplike moeilik is om die presies oomblik vas te stel waarin die evoluerende liggaam oorgaan van ‘n mensagtige na ‘n menslike liggaam, sou dit tog absurd wees vir ‘n dier – byvoorbeeld ‘n sjimpansee – om ‘n liggaam te besit wat volstrek identies is met die menslike liggaam.

Ateïstiese wetenskaplikes skryf dikwels asof die enigste geldige manier van argumentasie die manier van die moderne wetenskap is: die noukeurige waarneming en opmeting van fenomene, die ontwerp van hipoteses om rekenskap te gee van die feite en die voorgestelde hipotese deur eksperimente te bevestig of as onwaar uit te wys. Vir my lyk dit baie moeilik om te veronderstel dat iemand langs die weg tot in geloof in God kan kom. Dit is natuurlik waar dat skoonheid en die orde wat daar in die natuur te vinde is mense al dikwels daartoe beweeg het om tot geloof in God as Skepper te kom. Sint Paulus het verklaar dat die ewige mag en majesteit van God duidelik sigbaar vir almal is uit die dinge wat God gemaak het. Paulus verkondig aan die mense van Lystra dat God dit tog bekend gemaak het dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: “Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak” (Hand. 14: 17). Christelike filosowe het noukeurige denkstelsels ontwikkel wat gebaseer is op dié spontane insigte. Maar dié deduktiewe bewyse berus nie op die moderne wetenskaplike metode nie. Dit is nogal interessant om te sien hoe ‘n wetenskaplike soos Francis Collins nie tot geloof in God gekom het deur die skoonheid of die orde van die skepping te beskou nie – hoe indrukwekkend dié ookal is – maar as gevolg van ‘n morele en religieuse ervaring. Die boeke van C. S. Lewis het hom daarvan oortuig dat daar ‘n hoër morele wet bestaan waaraan ons mense onvoorwaardelik onderwerp is en dat die enigste moontlike bron van die wet ‘ns persoonlike God is. By Lewis het hy ook geleer om die natuurlike instink te vertrou waardeur die menslike hart onvermoeibaar na die oneindige en goddelike uitreik. Elke ander natuurlike neiging soos dié na voedsel, seks en kennis beskik oor ‘n werklike objek. Waarom sou die verlange na God dan ‘n uitsondering wees?

Vir die mens is dit natuurlik om in God te glo en dié geloof kan bevestig word deur wysgerige/filosofiese bewyse. Oor die algemeen glo Christene egter nie omdat hulle deur dié wysgerige/filosofiese bewyse oortuig is nie, maar omdat hulle die Persoon van Jesus aanbid, Hy wat ons deur sy woorde en dade van God geleer het. Dit is onmoontlik om ‘n volgeling van Jesus en ‘n ateïs te wees.

Dit wil voorkom as of wetenskaplikes soos Darwkins, Harris en Stenger min kennis het oor van die geestelike ervaring van gelowiges. In sy bespreking van Dawkins se The God Delusion skryf Terry Eagleton: “Stel jouself iemand voor wat uitsprake maak oor biologie en al kennis wat hy het is dit wat hy in Die Boek van Britse Voëls gelees het en dan sal jy ‘n goeie idee het hoe dit is om te lees wat Richard Dawkins oor teologie te sê het…”

Sommige hedendaagse ateïste is so behep met die metodologie van hul dissipline dat hulle blykbaar dink dit is die enigste metode om elke probleem op te los. Vrae wat van ‘n totale ander orde is benodig tog seker ander metodes? Wetenskap en tegnologie is tog sekerlik ondergeskik aan moraliteit. Dit is ‘n feit dat die mag waaroor die mens vandag beskik danksy die wetenskap sterk toegeneem het. Terselfdertyd kan dié mag waaroor die mens vandag beskik as ambivalent beskryf word. Die wetenskap het die neiging om, op die oomblik dat hy die oorhand kry, morele grense oor te steek. Die onlangse verlede verskaf ons ‘n hele aantal voorbeelde hiervan. Tegnologie sonder die beheer van ‘n morele standaard het ongekende gruwelikhede in ons wêreld ingebring. Om te kan onderskei tussen die regte en verkeerde gebruik van mag en om die mens sover te kry om die regte ding te doen, selfs al is dit nie vir hom lekker is nie, moet daar ‘n beroep gedoen word op morele en godsdienstige norme. Dit is ons gewetes wat ons daarop attent maak dat ons nie aan ‘n hoër wet kan ontsnap wat vereis dat ons op ‘n sekere wyse moet optree en ons skuldig vind as ons dit nie gehoorsaam nie. Tevergeefs sou ons inligting oor dié hoër wet by wetenskaplikes gaan soek.

Sommige evolusioniste gaan sover om te beweer dat moraliteit en godsdiens volgens Darwisnistiese beginsel ontstaan het en evolueer en bly bestaan, dat godsdiens van waarde is vir die oorlewing van individue en gemeenskappe. Maar dié oorlewingswaarde, selfs al sou dit werklik bestaan, sê ons niks oor die waarheid of die valsheid van ‘n bepaalde moreel en religieuse stelsel nie. Aangesien vrae van dié hoër orde nie deur die wetenskap beantwoord kan word nie, het filosofie en teologie nog altyd ‘n wesenlike rol om te speel.

Justin Barret, ‘n evolusie-sielkundige uit Oxford, is ook ‘n belydende Christen. Hy glo dat ‘n alwetende, almagtige en volmaak goeie God die mens gemaak het om in ‘n verhouding van liefde met Hom en met ander te bestaan. “Waarom,” vra hy, “sou God ons nie so ontwerp het dat ons dit natuurlik vind om in ‘n godheid te glo nie?” Selfs al sou dié verstandelike fenomeen op wetenskaplike wyse verklaar kon word, dan beteken die sielkundige verklaring daarvan nie dat ons moet ophou om te glo nie. “Veronderstel dat die wetenskap dit vir my op ‘n oortuigende manier kan uitlê hoekom my eggenote vir my lief is. Moet ek dan ophou om te glo dat sy werklik vir my lief is?”

‘n Metafisika van kennis kan ons verder bring in die soektog na religieuse waarheid. Dit kan redes gee om te dink dat die natuurlike neiging om in God te glo, ‘n neiging wat onder alle volke gevind word, nie tevergeefs bestaan nie. Biologie en sielkunde kan die fenomene van onder-af bestudeer. Maar teologie kyk van bo-af en sien hierin die werk van God wat ons in die diepste van ons bestaan tot Hom roep. Ons is as’t ware geprogrammeer om die ewige lewe in eenheid met God, die persoonlike bron en die doel van alles wat goed is, te soek. Hierdie natuurlike verlange om Hom te sien kan wel tydelik onderdruk word, maar ons kan dit nooit ontgroei nie.

Die wetenskap kan op skitterende wyse lig werp op die prosesse van die natuur en so die mag wat die mens oor sy omgewing het versterk. Solank as wat hy dié kennis op die regte manier gebruik kan die mens sy lewensomstandighede hier op aarde aansienlik verbeter. Die godsdiens en teologie sal vermoedelik deur toekomstige wetenskaplike diskussies verryk word aangesien God Homself deur middel van sowel die boek van die natuur as die geskiedenis van die verlossing openbaar. Wetenskap lewer egter ‘n slegte diens as hy beweer dat syne die enigste geldige vorm van kennis is en hy daarop uit is om die etiese, interpersoonlike, filosofiese en godsdienstige vorm van kennis te vervang. Die onlangse uitbarsting van ateïstiese sciëntisme is kommerwekkend. Indien dié uitbarsting nie dopgehou word nie, kan dit tot ‘n hervatting van die sinlose oorlogvoering van die negentiende eeu lei en so die harmonie van die verskillende kennisvlakke ondermyn, ‘n harmonie wat van fundamentele waarde is vir ons Westerse beskawing. Daarenteen kan die dialoog tussen die evolusionêre wetenskap en die teologie, soos Johannes Paulus II dit voorstel, dié vervreemding te bowe kom en lei tot ‘n werklike vooruitgang van sowel wetenskap as godsdiens.