PDA

View Full Version : God en die gode van Egipte



Stefanus
15th March 2009, 10:40
Die moeisame reis van ’n filosoof op soek na God

Dit was ’n lang en moeisame geloofsreis van die ou klipkerk in Laingsburg waar hy grootgeword het tot by die berg Sinai in Egipte.

Baie gode sou tydens dié reis die pad van die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse kruis. Die volksgod van die Afrikaner en die Mosaïese stamgod van Israel is maar twee van die vele wat hy sou raakloop op ’n reis wat die godsbeeld van sy kinderdae onherroeplik sou verander.

Nou vertel Esterhuyse dié ongewone reisverhaal in sy opspraakwekkende nuwe boek, God en die gode van Egipte, waarin hy onverskrokke en eerlik vertel hoe die God van sy kinderdae plek moes maak vir ’n totaal ander godsbeeld. Dit is ’n godsbeeld wat dramaties verskil van die tradisionele God wat die kerk aan mense voorhou. Ná jare se worsteling oor wie en wat God is, lyk die Afrikaanse filosoof en denker ongestoord oor die beroering wat sy boek – waarskynlik een van die opspraakwekkendste boeke oor geloof tot nog toe in Afrikaans – by sommige Christengelowiges gaan veroorsaak.

Hy sê sedert die laat 1970’s het dit vir hom al hoe moeiliker geword om na die “ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal” te luister.

In die storm-en-drangjare van die apartheidstyd het die “kritieke besluit” gekom dat dit nie so kan aangaan nie. Hy het uit die kerkraad en die Broederbond bedank.

En êrens langs dié pad het die man wat Stellenbosch toe gekom het om sendeling te word heeltemal opgehou om kerk toe gaan. Volgens NG kerkrekords is hy sedert 2004 ook nie meer gelegitimeer as predikant nie.

“Enigeen wat vir my sê ek het my geloof prysgegee, doen dit vanuit hul eie perspektief. Ek het egter ’n baie sterker affiniteit oor my verstaan van die rol wat Jesus van Nasaret in die hele verhaal gespeel het as wat ek in Laingsburg of in die kweekskool gehad het. Ek het absolute vrede.”

Die vraag “wie” God is, is glad nie so ’n eenvoudige vraag as wat mense dink wat in Hom glo nie, sê Esterhuyse.

’n Vreemde kombinasie van die filosoof Nietzsche en Jesus het sy geykte idees só heen en weer geskommel dat baie min daarvan oorgebly het. Nietzsche se stelling dat die enigste Christen wat ooit geleef het aan die kruis gesterf het, was vir hom ’n juweel. Soos ook sy mening: Die kerk is presies dit waarteen Jesus gepreek het!

Geïnspireer deur Genesis en Nietzsche het hy Egipte agt keer besoek om te probeer verstaan hoe mag, politiek en etiek in antieke Egipte in die praktyk gewerk het. Dit was die primêre inspirasie vir sy boek.

Dit was daar op die bergspits van Sinai waar Esterhuyse teenoor homself erken het daar bestaan nie ’n onhistoriese, permanente of tydlose verstaan van God nie. God het met verloop van tyd dramaties verander en ontwikkel.

Daar is nie net een begrip van God in die Bybel teenwoordig nie. Daar is sommer baie! Abraham het God byvoorbeeld anders verstaan en belewe as Moses.

Ook die verhaal van erfsonde het hom gekwel.

“Dit is ’n verhaal wat ingebring is om mense baie skuldig te laat voel. Jesus, wat ’n revolusionêr was, se verhaal vee dit egter alles van die tafel af.”

Hy bieg dat hy self skuldig was daaraan om mense met die hel bang te praat “sodat hulle in die hemel in kan spring”.

“Die erfsonde was ’n wonderlike geloofsartikel om mense rêrig te help skrikmaak. Mense moet in God kan glo omdat hy God is en nie omdat daar ’n hemel of ’n hel is nie.”

Die invloed wat sommige antieke Egiptiese verhale op die Bybel gehad het, loop soos ’n goue draad deur Esterhuyse se geloofsreis.

Die neerslag van die drie-eenheid in die Egiptiese legende van Osiris, Isis en Horus het hom bevry van die dogmatisme van die Christelike godsdiens, veral die “geloofsartikel” dat “óns geloof” die alleensaligmakende geloof is.

“So asof ons geloof netjies verpak van Bo beskikbaar gestel is en daar geen ander tussengangers soos menslike woorde, voorkeure, vooroordele, tradisies en die noodlot van interpretasie was nie.”

Die begrip van God moet gedemokratiseer word, sê hy nadenkend, maar met ernstige oortuiging.

“Hierdie idee dat óns geloof die alleensaligmakende geloof is, het te make met ’n verskriklike outokratiese, eintlik diktatoriale opvatting van God wat ongelukkig wel ook in die Bybel teenwoordig is.

“Dit is vir my ’n groot bevryding om te kan sê daar bestaan nie iets soos ’n alleensaligmakende geloof nie omdat ek dit voorheen nooit kon of wou sê nie.”

Een ding waarvan Esterhuyse tydens al die jare van worsteling oor geloof nooit kon wegkom nie, is die voorbeeld van Jesus as rolmodel vir sy lewe.

Die aanhoudende debatte oor Jesus se godheid is egter vir hom van nul en gener waarde.

“Om Jesus in ’n geboortelike en byna biologiese verhouding as God se Seun te interpreteer is die grootste onsin wat ek in my lewe teengekom het. As jy dit egter sien as metafories omdat Hy vir jou ’n rolspeler in jou lewe is dan sê ek ja. Maar dit is waardeloos om diskussies te voer oor Jesus se biologiese verbintenis met God. Mense wat debatte voer oor Jesus se fisieke, liggaamlike opstanding, hemelvaart ensovoorts dink nog in tydruimtelike terme. Ek dink aan metaforiese terme en in terme van simbole en metafore. Dit is hoe die Bybel ook dink.”

Vir Esterhuyse móét sy geloof ’n morele impak hê. “As my verstaan van God nie ’n verskil kan maak nie, wil ek nie so ’n God aanbid nie en Jesus se lewe hét ’n verskil gemaak.”

Ten spyte van sy worsteling met God kon Esterhuyse nooit die ateïsme omhels nie. Hy het begrip daarvoor dat mense agnosties is en verstaan ook as ander verkies om glad nie te glo nie. Maar vir hom lê daar nog altyd die voetspore van die onsienlike in die verhale wat oor duisende jare ontstaan het.

Hy sê God, soos hy Hom verstaan, laat ons toe om deur baie vensters te kyk. Die venster wat Jesus oopgemaak het, is vir hom persoonlik die mees betekenisvolle. Maar dit sluit nie die vensters wat ander gelowe oopmaak per definisie uit nie.

Gode kom en gaan en dieselfde sal ook die een of ander tyd met die Christelike godsdiens gebeur, voorspel Esterhuyse.

“Eendag sal ons nog van die moederkerk ’n baie mooi museum maak, maar dit hoef niks weg te neem van die onsienlike nie. Al wat saak maak, is dat jy en “God” mekaar ken en raaksien. En iets daadwerkliks met dié kennis en sien doen, want uiteindelik moet “geloof” ook deur “werke” beliggaam word."


God en die gode van Egipte deur Willie Esterhuyse word uitgegee deur Lux Verbi en kos R120.



14/03/2009 14:58 - (SA) (http://jv.news24.com/Rapport/Weekliks/0,,752-2496_2485507,00.html)
Die moeisame reis van ’n filosoof op soek na God
Jean Oosthuizen

Die Ou Man
13th May 2009, 18:50
Nietzsche, van wie baie sê dat hy moet help pa staan vir die postmodernisme, die omwoel van waardesisteme, die relativering van absoluuthede en die ondergrawing van die Westers-metafisiese manier van dink, het my verstom met die oneerbiedige en soms onbeskofte wyse waarop hy oor die Christendom, die God van die Christendom, die filosowe en die sogenaamde intellektuele geskryf het.

Sy verwysing na Immanuel Kant as die grootste intellektuele “voëlverskrikker” van die Weste het vir my dieselfde bevrydende krag gekry as Jesus se verwysing na die intellektuele van sy tyd as “witgepleisterde grafte”, wat van buite wel mooi mag lyk, maar van binne “vol doodsbeendere” is.

Hy en Jesus het my geykte idees oor en begrip van die etiek só heen en weer geskommel dat daar baie min daarvan oorgebly het. Nietzsche se stelling dat die enigste Christen wat ooit geleef het, aan die kruis gesterf het, was vir my ’n juweel. Soos ook sy punt: Die kerk is presies dit waarteen Jesus gepreek het!

Sy storie oor die dood van God in sy boek Die vrolike wetenskap het my iets laat verstaan van die dood wat daar in godsbegrippe skuil. Dit is ook hy wat my ’n belangstelling in Egipte laat ontwikkel het – daar waar Abraham, Jakob, Josef, Maria, haar man Josef en hulle seuntjie Jesus volgens hulle storie ook gewoon het.

Nietzsche se vlymskerp sarkasme oor die “Egiptologiese” karakter van die “Platonisme” waaruit ook die Christendom gespruit het, en oor die “begripsmummies” van dié tipe denkwyse, het my verder laat lees oor godsbegrippe en godsdienste binne die klassieke Egiptiese, Griekse en ander kulture. Nietzsche, ’n filosoof én filoloog, het die Griekse kultuur en filosofie buitengewoon skerp en revolusionêr geïnterpreteer. Só skerp en revolusionêr dat hy, as ’n baie jong professor by die Universiteit van Basel (Switserland), moes ervaar dat baie van sy studente nie sy klasse wou bywoon nie! Alhoewel hy dit nooit vollediger uitgewerk het nie, was hy van mening dat die klassieke Egiptenaars ’n meer literêre volk as die klassieke Grieke was. Hulle was ook volgens hom die “eintlike wetenskaplike volk” van die Antieke. Wat in die 19de eeu aanvaar is as die grondbeginsels van die wetenskap, soos dit by die Grieke na vore gebring is, was volgens Nietzsche niks anders nie as Egiptiese erfgoed. Daarom dat die Grieke so baie van Aleksandrië gemaak het. Volgens Nietzsche lê die wortels van die Westerse kultuur dus in Egipte. Dit het my laat besef: Die Westerse kultuur is intellektueel eensydig vanuit Griekeland gemotiveer. Die “klassieke” Grieke kry al die eer vir die grondlegging van die sogenaamde Westerse beskawing. Maar hulle staan op die skouers van die Egiptiese kultuur waarmee hulle in noue kontak was. In die gesprek oor die “Westerse denke” moet ons nie by Griekeland (Atene) begin nie. Ons moet in Noord-Afrika begin. By plekke soos byvoorbeeld On, een van die vroegste sentra van geleerdheid. Dit is waar Josef en Maria waarskynlik met die Jesuskind skuiling gevind het teen Herodes, die kindermoordenaar. Dit is waar baie Griekse filosowe en skrywers, soos Herodotos, gaan kers opsteek het. En dit is waar Aleksander die Grote deur ’n seremoniële ritueel gegaan het sodat hy hom, soos ’n farao, kon voorhou as ’n koning met ’n goddelike afkoms.

In ’n belangrike mate was 1979 vir my ’n politieke en godsdienstig-morele keerpunt, oftewel die bymekaarkom-jaar van oortuigings, gedagte-motiewe, invloede en ervarings binne ’n verwysingsraamwerk wat meer sin gemaak het as vorige pogings.

Dit is voorafgegaan deur ’n besluit van die kommissie oor rasse-aangeleenthede van die NG Kerk Sinode (Wes-Kaap) – waarvan ek toe ’n lid was – om iets vir die Sinodesitting van 1979 oor die morele en skriftuurlike probleem van rassediskriminasie in Suid-Afrika voor te berei. Dit was ’n paar jaar na die jeug van Soweto (1976) met gebalde vuiste en klippe die apartheidstelsel uitgedaag het. My ander groot mentor, die teoloog PA Verhoef, was voorsitter van dié kommissie. By die sinodesitting in Kaapstad, ’n klipgooi van die parlement af, waar ons beskrywingspunt gedien het en wat ek moes motiveer, het die “kerkman”, Koot Vorster (broer van die latere president John Vorster), eerste opgespring om teen die beskrywingspunt te praat. Tot groot vermaak van baie, insluitende myself, het hy “die broertjie” met die toring van Pisa vergelyk – sigbaar oorhellend na links! Met bepaalde afwaterings en kwalifikasies is die beskrywingspunt darem in gewysigde vorm aanvaar. Ernst Lombard, die skriba van die kommissie en ’n goeie vriend wat teen die einde van die tagtigs by geleentheid saam met my, ’n paar ander en die Thabo Mbeki-groep in Brittanje vergader het, het my moreel en intellektueel ondersteun. Sy vroeë dood was ’n ramp.

My nalees en baie gesprekke oor die destydse “kleurgrens” heen, en die debat in die kommissie oor rasse-aangeleenthede, het my gemotiveer om die boekie Afskeid van Apartheid 1979 (Tafelberg) te publiseer. Danie van Niekerk, toe by Tafelberg-Uitgewers betrokke, het die finale oortuigingswerk gedoen. Dit was, in sekere sin, my alternatiewe Credo van ’n Afrikaner soos deur AP Treurnicht vertolk in 1975 (Tafelberg).

In 1979 word ek ook gevra om die negende NP van Wyk Louw-gedenklesing op 1 Oktober by die destydse RAU te lewer. Die tema waarop ek besluit het, was “NP van Wyk Louw se geding met God”. Dit het my eie geding met God – vanuit ’n geloofs- en morele hoek – duideliker in perspektief gebring. Ek het toe verstaan dat mense se geding met God, hulle tastende soeke na afdoende antwoorde op die vraag na die uiteindelike sin van ons bestaan, en mense se opstandige onrus oor die uitbly van finale antwoorde hierop, ’n baie tipiese menslike motief is – selfs vanuit ’n Christelike hoek gesien. Dit word immers in die Bybel met baie aangrypende stories onder woorde gebring. Soos ek dit reeds toe verstaan het: Die verhale oor God en mens beklemtoon dat die geskiedenis van die mens ’n spanningsvolle onrus, ’n opstandige vertwyfeling en ’n rustelose soeke is na antwoorde op primêre lewensvrae, vrae soos wie God is, hoe die mens Hom kan ken, die vraag na kennis van goed en kwaad, en so meer.

Veral sedert 1979 het dit vir my al moeiliker geword om na die ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal (staat, kultuur en kerk) te luister. Ek is baiekeer gevra om “te preek” – ’n paar keer in Nederland en dikwels in Suid-Afrika. Selfs op ’n “deeltydse” wyse in Durban waar van my ervarings in die sogenaamde “Spoorwegkamp” hulle weg gevind het in die bekende boek Roepman. Die pa van die skrywer van hierdie boek – ’n regte egte spoorwegman – het ’n buitengewoon belangrike invloed in my lewe gehad. Hy het my laat verstaan dat daar ’n groot verskil tussen boeke (“teorie”/”filosofie”) en “die lewe” is. Sy Godsbegrip was dié van dominee Alheit en my pa en ma. “Oom Van Tonder” het die spanning tussen “teorie” en “praktyk”, tussen “leer” en “lewe” onder my aandag gebring, soos géén boek kon doen nie.

Dié spanning het ’n lewenslange opgawe geword en my mettertyd na die etiek geforseer. Daar was geen oplossing vir dié spanning nie, het ek besluit. Hoe jy moreel kan lewe, was nie die vraag nie. Die vraag was eerder hoe jy stap vir stap, geveg na geveg, dálk moreel kan lewe. God en geloof kan jou nie help om volstrek moreel te lewe nie. Dit bly ’n tastende soeke. Relatiwiteit – en, om Nietzsche se woord te gebruik: intellektuele regskapenheid – is al wat oorbly.

Godsdienstige en morele stories het my meer en meer geïnteresseer. Dié tipe stories is ’n universeel-menslike tendens. Ek het probeer om meer van die bedoelings en die boodskappe van die stories te verstaan. Daar was ook ander stories wat my beetgepak het: politieke stories, stories wat vertel het van die dialektiek van politiek en etiek, staat en kerk, politikus en priester. Almal stories, so het ek later besef, wat gaan oor die verskynsel van mag en die mens se worsteling om dit te beteuel.

In Oos-Berlyn (1963) het ek ’n besluit geneem wat ingrypend was vir my soeke na lewensin. Op besoek saam met Afrikanervriende het die bekende stelling van Karl Marx teen ’n universiteitsmuur my lewenslank, soos ’n teks uit die Bybel, vasgeknoop: “Die filosowe het altyd die wêreld geïnterpreteer. Waarop dit egter aankom, is om die wêreld te verander.” Ek het Jesus en Nietzsche hierna beter verstaan. Dit het ook ’n ritueel geword om gereeld die biblioteek in die Britse Museum te besoek en daar oor alles en nog wat te lees en te skryf, soos die grootste gedeelte van hierdie inspirasie.

Jesus, Nietzsche en Marx, met Freddie Kirsten die instigator, het my nie bloot die probleem van “teorie/praksis” laat probeer verstaan nie, maar my ook geïnspireer om te besluit: Om te interpreteer, te teoretiseer, te filosofeer, om as “filosowe”, “intellektuele” en selfs as “dissidente” bekend te staan, en om “gesaghebbende boeke” te skryf is noodsaaklik en belangrik. Maar dis nie vir my nie. Ek wil magsverhoudings verstaan ten einde betrokke te raak by strategieë en projekte om dit daadwerklik te probeer verander. Ek wou nóg bloot ’n intellektueel, nóg bloot ’n filosoof, nóg bloot ’n sogenaamde dissident in die geykte sin van dié woorde wees. My droom was om ’n verantwoordelike agent van verandering te wees. Niks anders en niks meer nie.

Genesis, Nietzsche en ’n paar ander faktore het my geïnspireer om na baie godsdienstige en filosofiese omswerwinge Egipte agt keer te besoek om te probeer verstaan hoe mag, politiek en etiek in Antieke Egipte in die praktyk gewerk het. Dit was die primêre inspirasie vir hierdie boek. Daarvoor is stories én feite, mites en waarneembare werklikhede, lewensbeskouings en geskiedenis gebruik. Alle volke en kulture het stories, mites en lewensbeskouings, sommige mondelings oorgedra en ander neergeskryf. Dié stories kan van ’n politieke, kulturele, godsdienstige, opvoedkundige of bloot verheffende (morele) aard wees. Dis nie eens belangrik dat hulle feitelik korrek moet wees en daarom op hulle waarheidstatus of empiriese geldigheid getoets moet word nie. Die vraag is eerder: Wat is die boodskappe van dié stories? Wat is die lewensin, bewussyn van waardes en gedragskode wat hulle oordra?

My primêre inspirasie het onvermydelik kinders gekry. Een daarvan, so het ek by my eerste besoek aan die berg Sinai in die vroeë oggendure ontdek, het reeds baie lank by my geworstel en gespartel om gebore te word. Saam met baie goeie vriende, Mof en Reinette, het ek en my vrou Annemarie dié magistrale simbool van die Joodse, Christelike en Islamitiese tradisies besoek.

Vervolg (http://www.wendag.com/forum/showpost.php?p=2172&postcount=3)

Die Ou Man
13th May 2009, 18:51
Ons is eers teen die verkeerde berg uit, gruwelik mislei deur ’n jong Arabiertjie wat ’n hele paar dollar daarmee verdien het. Baie vroeg die volgende oggend is ons teen die regte bergpiek uit. Die son was besig om op te kom. Dit was ’n wonderbaarlike gesig. Reinette het op die spits ’n gedeelte uit Moses se storie aan ons voorgelees uit die Afrikaanse Bybel. Afrikaans het nog nooit so gevoelvol mooi geklink nie. Ek het gewonder of Moses kon hoor. En God. Ek het aan Middelplaas, my pa en ma, en Klaas Mentoor gedink. Selfs op ’n verbeeldingsvlug gegaan en my voorgestel hoe hulle êrens gehurk sit en opgewonde na Reinette se stem vanaf Sinai se spits luister. Hulle sou ten minste Afrikaans kon verstaan.

Dis toe, op die bergspits van Sinai en met die strale van die helder son wat oor die ruwe granietrotse streel, dat ek vir myself erken het: God het ’n lang geskiedenis, vasgevang in sovele begrippe oor God; sovele interpretasies; sovele duidings; sovele gesnede beelde en teorieë; sovele verwagtings wat van ver af kom. Almal gesigspunte wat oor baie eeue deur mense binne hulle spirituele verwysingsraamwerk as sinvol ervaar is. Hoe ’n mens ook al daarna kyk, mense se begrip van God het oor tyd heen dramaties verander en ontwikkel. Daar is nie so iets as ’n onhistoriese, permanente of tydlose verstaan van God nie. Ook mense se begrip van God word deur die tande van die tyd geknaag.

Dié relatiwiteit hou onder andere met iets baie fundamenteels verband. As mense, soos ek dink, nie bloot “politieke”, “sosiale” of “rasionele diere” is nie, maar veral rustelose soekers na die sin van die lewe is, dan is dit 'n soeke in ’n skemerwêreld. Ons vertolk immers ons soeke en ons vondste in taal. Ons wil nie net verstaan waaroor die sin van die lewe gaan nie. Ons wil ook vertel. Ons doen dit alles deur die taal en sy begrippe.

Maar taal beteken onvolledigheid en voorlopigheid. Dit laat ons nooit die volle waarheid of die volle werklikheid vertolk nie. Daar is altyd en noodwendig iets wat ongesê bly. Daarom praat ons nou nog oor “Die Woord van God” (soos deur die woorde van die Bybel vertolk), kan ons nie daaroor uitgepraat raak nie, en besin ons nou al eeue lank oor wat al die woorde vir ons kan beteken.

In ons soeke na die sin van die lewe, en in ons beroep op “heilige tekste” om vir ons antwoorde te verskaf, maak ons van taal gebruik. Of dié taal nou in ’n teks met die naam “Bybel” of “Koran” of “Tora” verskyn, daar is géén manier dat dit “die volle en enigste waarheid” kan deurgee as ’n “openbaring” wat volledig verstaanbaar en deursigtig is nie. Ons is tot interpretasie gedoem. Ons pad om van “God” in ons lewe te probeer sin maak, loop deur die skemerte van die taal. As “Hy”, soos gesê word, “Lig” is, is dit wat ons en ons geskrifte van “God en sy dade” sê, nóóit volledig deursigtig nie. Ons is bevoorreg om te soek.

Ek was van vroeg af gefassineer deur wat ek, aanvanklik, as “ooreenstemmings en verskille” tussen heilige tekste gesien het. Dié idee is later vervang deur ’n meer fundamentele vraag: Waarom vertoon so baie heilige tekste en hulle stories ’n fokus op sekere oertipiese of grondliggende temas, temas soos skepping, opgang en ondergang, goed en kwaad, dood en onsterflikheid? En waarom is daar sekere oersimbole en -metafore wat in al hierdie stories opduik? Metafore soos “son”, “vuur”, “lig”, “slang”, “boom”, “tuin”, “seun van god”, “geregtigheid”, “verlossing”, “opstanding”, “hergeboorte” en baie ander?

Hoe ek dit alles vir myself moes uitwerk, in die lig van die invloed van die antieke Egiptenaars op die godsbeelde en geloofsoortuigings van die Christelike tradisie, was deel van my inspirasie – versinnebeeld in die klip wat ek vanaf Sinai tot in my huis gebring het.

Die stories en mites waarvan in hierdie boek gebruik sal word, sal nie op hulle geldigheid in terme van histories vasstelbare feite getoets word nie. Wat eerder ondersoek sal word, is die betekenis en funksie van dié stories as boodskapdraers van lewensin. Of Moses byvoorbeeld rêrig bestaan het, is ’n interessante vraag. Baie meer interessant is egter: Wat sê sy boodskap? Waarom is dit vertel? Wat was die uitwerking daarvan? En natuurlik: Was daar ook ʼn migrasie van stories, ʼn sirkulasie van idees? Wat is die betekenis daarvan vir ons verstaan van spiritualiteit en ons antwoorde op die vraag na die sin van die lewe?

Bostaande is 'n uittreksel van Willie Esterhuyse se nuwe boek God en die gode van Egipte en is geplaas met toestemming van Lux Verbi aan Kletskerk (http://www.kletskerk.co.za/articles.php?article_id=86&page=default). BM. Die boek kan direk van Lux Verbi se webwerf bestel word of telefonies by 0861 668 368

Bron (http://www.kletskerk.co.za/articles.php?article_id=86&page=default)

Die Ou Man
7th October 2009, 12:29
Die krag van ons godeverhale

Wilhelm Jordaan

Tydens ’n gesprek by Aardklop se Boeke-Oase oor Willie Esterhuyse se boek God en die gode van Egipte het ’n lid van die gehoor gevra: Waarom is ons nie van die begin af eerlik met ons kinders nie?

Waarmee hy, volgens die trant van die gesprek, bedoel kinders moet sodra hulle die bevattingsvermoë het, oor minstens vier dinge ingelig word:

Dat die Bybel ’n versameling mensewoorde is; geïnspireer deur gelowige mense se verstaan van God.

Dat bepaalde Christelike godsdiensbegrippe sterk beïnvloed (én verryk) is deur gelykluidende godestories wat oor eeue heen in die destydse wêreld (ook in Egipte) ontstaan en ontwikkel het. Rondom sake soos God se eienskappe en die herkoms van idees oor die “seun van god”; die “son van geregtigheid”; “opstanding uit die dood” enso(talryk)voorts.

Dat dit steeds sinvol en lewensverrykend is om jou geloof in God te behou; en om byvoorbeeld Jesus se storie*matige leerstellings as rigsnoer vir jou lewe te aanvaar. Om dan, soos Dana Snyman op ’n keer in ’n rubriek geskryf het, met oortuiging te kan sê: “Ek glo aan stories soos ek aan die Here glo.” Juis omdat stories, as lewende mites, soveel rigtinggewende, morele lewenskrag besit.

En vierdens dat die raaksien van ooreenkomste tussen godsdienste tot godsdiensverdraagsaamheid kan lei, eerder as die aanspraak dat “my godsdiens” die enigste ware God aanbid én die enigste saligmakende waarheid is.

Is so ’n vierledige “kategese” in die kerk haalbaar, veral in die Afrikaanse wêreld? Stellig nie op amptelike vlak nie. Die NG Kerk, byvoorbeeld, se standpunt is dat hy “gekies het om die weg van openhartige, kritiese debat oor geloofsake te volg”. Niks meer rigtinggewend as dít nie.

Te midde daarvan skep oënskynlik onversoenbare standpunte groot spanning in die kerklike lewe en dra by tot mense se toenemende kerklosheid, kerkloosheid, geloofsverlies én die soeke na spirituele vervulling in buitekerklike opvattings. In dié verband is ’n stelling van Esterhuyse veelseggend: “Wanneer die pas van verandering buite godsdienste die pas van verandering binne godsdienste oorskry, is die einde van dié godsdienste in sig.”

Tussen gemeentes heers daar vandag geweldige verskille. Enersyds is daar gemeentes waar die Bybel se storiekarakter – soos Esterhuyse dit in sy boek uitspel – al lank erken en ontgin word – sonder om die krag van ander Godsverhale én godeverhale te ontken of minder te maak.

Andersyds is daar gemeentes waar die prediking fundamentalisties tradisiegerig is; waar die Bybel steeds as letterlik waar geag word en as die enigste openbaring oor God.

Juis uit dié geledere kom die verdagmaking van en amptelike klagtes teen sommige NG-teoloë wanneer hulle in alle erns besin, byvoorbeeld oor ’n ruimer verstaan van Jesus se opstanding.

“Eerlikheid” oor godsdiens vra vir gesprek tussen gelowiges oor nuwe vertolkingsmoontlikhede én om langs mekaar, en nie teenoor mekaar nie, voor die misterie van ’n onsienlike, teenwoordige God te buig.


Uit Beeld (http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/WilhelmJordaan/2146/878d3862f6324c518238dadae1e5143e/06-10-2009-11-05/Die_krag_van_ons_godeverhale) dd 2009-10-06