PDA

View Full Version : Begrip, ook sónder debat



Stefanus
19th May 2009, 00:03
Godsdiens-aktueel: Begrip, ook sónder debat
May 17 2009 06:42:15:610PM - (SA)

Else Büchner

Verlede week het Neels Jackson berig oor ’n lesing wat prof. Scott McKnight gelewer het oor waarom talle mense die Christen-geloof verlaat.

Die vyf faktore wat McKnight aanvoer waarom baie mense die Christelike geloof verlaat, verdien kerke se aandag.

Kerke kan nie maak asof hierdie faktore nie bestaan of dit hooghartig veroordeel nie.

Dit is egter Jackson se laaste paragraaf waarby ek wil stilstaan: “Die kerk behoort ook veilige ruimtes te skep waar mense wat met sulke vrae worstel nie veroordeel word nie, maar waar hulle die kwessies wat hulle pla openlik kan bespreek.”

As ek na al die kerklike debatte luister wat die laaste paar jaar binne en buite die media gevoer is, dan kan ek verstaan dat mense eerder die Christelike geloof verlaat as wat hulle durf waag om hul twyfelvrae te vra.

Want as jy durf om in die openbaar te twyfel, dan is ons terug by die brandstapels van ouds.

Christene en kerkleiers looi mekaar ongenaakbaar met warm woorde, vurige briewe, aanklagte en skerp selfoon-teksboodskappe.

Ek verstom my soms oor die geestelike meerderwaardigheid van briefskrywers en wonder waar hulle dié styl van geestelike hoogmoed aangeleer het en hoe dit mense wat twyfel gaan help om te glo?

John Burke skryf in sy boek No perfect people allowed. Creating a come as you are culture in the church dat daar ’n kultuur van dialoog in die kerk geskep moet word waarin mense toegelaat word om hul skanse af te gooi en waarlik te ondersoek en te soek.

Eerlike dialoog is moontlik onder die volgende omstandighede:

As gelowiges begin besef dat ons eie rituele, gebruike en reëls ons veilig en geborge laat voel. Dink net hoe dit vir iemand moet voel wat dit nie ken nie en dit moet probeer verstaan. In plaas van verdedig, nooi net eers in en verduidelik hoekom sekere dinge in jou kerk op ’n bepaalde manier gebeur.

As ons besef dat twyfel nie die antitese van geloof is nie. Deur juis eerlik te wees oor jou onvermoë om alles te verstaan, kan jy groei. Dit is juis die beginpunt van groei.

Burke is reg as hy sê dat ons in die Bybel nie net oor diegene lees wat absoluut seker oor alles was nie. Ons lees oor hulle wat getwyfel het, geworstel het, wat Jesus selfs verloën het en geworstel het.

Die geloofshelde was nie die Fariseërs en skrifgeleerdes wat vaste en klinkklare antwoorde op alles gehad nie.

Deur eerlik te luister, sonder om vinnig antwoorde te gee, sal ons meer begin verstaan. McKnight het die moeite gedoen om na jong mense se verhale te gaan luister. Ek wonder wat sou gebeur as ons dominees ’n bietjie meer moeite sou doen om meer te luister en minder te preek? Dalk sal ons meer verstaan en dalk beter weet waaroor om te preek!

Gee mekaar ruimte om oor nie-kernsake van mekaar te verskil sonder om die eenheid tussen gelowiges te verbreek. As iemand nie presies soos jy oor ’n randsaak glo nie, is dit nie nodig dat ons mekaar tot-in-die-hel daaroor veroordeel nie. Ek kan dink dat dít juis eerlike dialoog stop en iemand wat twyfel net eenvoudig in sy of haar spore laat stol.

Eerlike dialoog beteken nie dat die kerk in die proses stom raak oor die waarheid nie. Dit beteken ook nie dat die kerk stil hoef te raak oor verkeerdhede in die samelewing nie. Ons het immers nog altyd ’n profetiese stem.

Maar dit vra van ons respek vir ander opinies, eerlike luister en ’n ware soeke na begrip vir die ander persoon se worsteling.

As ons ander se worstelings oneerbiedig gaan begin hanteer, gaan mense doodeenvoudig begin stilbly en wegdraai.

’n Rou-eerlike gesprek met ’n ouerige oom een Sondagaand oor sý twyfelvrae in die lewe het my weer laat besef hoe sinvol eerlike gesprek oor twyfel kan wees.

Om net langs iemand te sit en saam te sit en wonder en huil, sonder kits-antwoorde, bring op sy eie manier ’n soort rustigheid dat ons nie alles weet nie en nie alles hoef te verstaan nie. Sonder dat daar debat was, was daar groter begrip.

Dit is vir my so mooi hoe Jesus sy eie dissipels se twyfel ná sy opstanding hanteer het.

Hy laat hulle toe om aan Hom te voel en na die wonde op sy hande en voete te kyk, terwyl Hy rustig met hulle praat.

Daar was dus nabyheid, vertroue en gesprek. Daarná het hulle verstaan.


http://www.wendag.com/forum/attachment.php?attachmentid=226