PDA

View Full Version : Oproep tot die liefde



Carel van Heerden
28th May 2009, 17:53
Oproep tot die liefde

May 22 2009 05:47:13:333PM - (SA)

Rudolph Meyer

Die krisisdebat wat om teoloë by Tukkies, en veral prof. Adrio König, ontstaan het oor die Evangelie, mis (of ontwyk) belangrike elemente. Dit behoort ook met waardering vir mekaar se oortuigings gevoer te word.

Die jongste skote in die debat is oor König se boek dat die Evangelie op die spel is. Aangesien al UP se teoloë bevestig het dat hulle die opstanding, ensovoorts, bely, lyk dit vir my of die probleem gaan oor die letterlike interpretasie van die Evangelie, al dan nie.

In teologiese debatte glo ek dat daar nie uitsig op die waarheid kan kom as gesprekke nie in Christelike liefde gevoer word nie. Dié liefde ontbreek egter hier in onverbiddelike en onverkwiklike opmerkings – die erns van die onderwerp regverdig nooit liefdeloosheid nie.

1. Die kern van die tweeledige probleem: Die onmisbare beklemtoning van die Gees

My oproep is die volgende: Eerstens is die probleem die weglating (of ignorering) van die werk van die Heilige Gees.

Tweedens is daar die uitsluiting of ontwyking van die verskuiwing van ’n modernistiese Christusbegrip (soos die opstanding, die drie-eenheid, bose geeste en die maagdelike geboorte) na ’n postmoderne benadering, wat op ’n ander wyse die werk van die Gees beklemtoon.

Oor die beklemtoning van die Heilige Gees: Aan albei kante se argumente maak dit geen verskil of jy die “letterlike feite” rakende Jesus beklemtoon en of jy dit as misterie voorstel wanneer dit by persoonlike geloof in Jesus as Redder kom nie.

As die Gees nie die Evangelie in jou lewe verlewendig nie, bly dit ’n “dooie letter”, hoe jy ook al die korrektheid en historiese betroubaarheid daarvan beklemtoon of nie.

Dit beteken egter nie jy kan sommer maar enigiets oor Jesus beweer nie. Daar moet tog ’n “verkondiging” van die narratiewe en interpretatiewe gebeure wees wat Jesus betref.

In sy belangrike boek oor die Bybel en die Evangelie, Biblical theology in outline – The vitality of the Word of God, het dr. Klaus Nürnberger die Evangelie mooi saamgevat: God het ons as sondaars onvoorwaardelik in die gekruisigde en opgestane Christus aangeneem, en ons kan mekaar ook onvoorwaardelik aanvaar.

Dis wat ons verkondig met vertroue op die Gees dat Hy dit vir mense ’n werklikheid sal maak. Dit maak nie verskil of jy die gebeure om Jesus as korrekte objektiewe historiese feite beklemtoon en of jy dit as (historiese) misterie beskou nie.

Die lewe berus in elk geval nie op objektiewe feite wat ek onfeilbaar “ken” en as eksak kan “bewys” nie. Neem maar die liefde tussen man en vrou, waarop jy tog vertrou en wat jou lewe inspireer, maar wat jy nooit objektief kan ken of absoluut kan bewys nie; dis ook nie nodig nie.

Die geestelike lewe berus ook nie op die absolute korrekte verstaan van die diepste betekenis van byvoorbeeld die maagdelike geboorte nie. Leef ons nie maar “buite die paradys”, waar ons God en sy openbarings nooit direk of van “aangesig tot aangesig” kan ken nie? Dit hef egter nie op dat ek met Christus op ’n geestelike wyse (deur die Heilige Gees), in ’n vertrouensverhouding kan leef nie.

2. Die postmoderne maak meer ruimte vir die werking van die Gees in die verstaan van geloof in Jesus, teenoor die modernistiese objektiewe interpretasie van Christus.
Die postmoderne is teologies bevrydend deurdat dit die rasionalisme (verabsolutering van die rede) met betrekking tot Christus afwys. Die postmoderne handhaaf die redelike interpretasie van gebeure.

Ek mis die noodsaaklike onderbou in hierdie debat: die verborge veronderstellings moet ontbloot word. Wat is die epistemologie van die verskillende standpunte (hoe kry jy kennis)? Watter hermeneutiek word gebruik (watter sleutel word aangewend in die interpretasie van gebeure en tekste)?

Die Evangeliese Inisiatief bestempel die debat as hoogstaande (Beeld, 12 Mei), maar solank daar nie ook na veronderstellings en uitgangspunte gekyk word nie, word ’n diepgaande gesprek gemis.

Die modernistiese benadering benadruk die letterlike objektiewe feite oor Jesus asof jy dit direk kan ken en bewys (positivistiese epistemologie). Die kwantumfisika en die dekonstruktiewe interpretasie (om die letterlike veronderstellings as vals te ontbloot) het daaraan ’n einde gemaak. Daar is aangetoon dat die objektiewe nooit sonder die betrokkenheid van die subjektiewe vasgestel kan word nie. Die subjektiewe word altyd in die objektiewe veronderstel.

Dit beteken ek kan nooit ’n “God’s eye view” (objektief, van buite af, en on-kontekstueel) op enige sogenaamde feit kry nie – dit bly ’n persoonlike interpretasie van ’n ervaring vanuit my perspektief.

Bogenoemde epistemologie lei tot modernistiese hermeneutiek, wat veronderstel dat ek as subjek teenoor die objektiewe Christus-gebeure te staan kom en dit objektief kan beoordeel.

Dit veronderstel ’n modernistiese Cartesiaanse (Descartes se siening) subjek-objek-verdeling, waar ek in my onafhanklike gedagtes kan besluit wat van die sogenaamde objektiewe waar is en wat nie. Die klem val op die “ek” die subjektiewe.

Ek aanvaar dan net wat deur sintuiglike waarneming of objektiewe gebeure “bewys” kan word. Die Evangelie moet histories objektief “bewys” kan word voor daar in Christus geglo word. Dit is egter ’n vervalsing van die lewe, aangesien die lewe op vertroue berus en nie op absolutistiese feite nie.

In die modernisme moet die Evangelie blykbaar objektief letterlik verstaan word om dit te eer – en dié wat dit nie doen nie, word verketter. Dít, terwyl daar geen moontlikheid is om oor die “buite-aardse” in aardse taal te praat nie – daar kan net oor die buite-aardse in simboliese en analogiese taal gepraat word.

Wat weet ons per slot van rekening van die opstanding van Christus, waarvan daar geen menslike ervaring of aardse kennis is of kan wees nie?

Prof. Northrop Frye, wat as een van die bekwaamste literêre kenners van die 20ste eeu beskou word (hy is ook ’n teoloog), het gesê ’n mite druk ’n groter waarheid as ’n letterlike feit uit; dit (probeer) ’n buite-aardse werklikheid beskryf.

Dis so dat alle taal analogies is, of dit nou letterlik of mitologies is. Taal is egter ook altyd beskrywend en interpreterend omdat daar geen direkte (kennis-) kontak met die sogenaamde objektiewe werklikheid gemaak kan word nie.

As ek ander afmaak dat hulle die Evangelie verwerp of “die Evangelie op die spel plaas”, terwyl dit ’n interpretasie-verskil is, fouteer ek – ek verwar een saak met ’n ander.

Wat kan ek dan nou van die Evangelie van Christus glo? Alles, inderdaad! In ons verduideliking en verklaring moet ons mekaar in groot liefde verdra en mekaar se interpretasies nie as sinloos afmaak nie.

Ek glo elke gelowige is ’n teoloog, omdat hy/sy die Evangelie glo en verstaan soos die Heilige Gees dit in sy/haar lewe inwerk. Ons moet net ons interpretasies met regverdigende redes verantwoord, want daar bestaan nie ’n objektiewe kontekslose “waarheid” nie.

Dis nie die rede, rasionaliteit, wat verwerp word nie, maar rasionalisme, die verabsolutering daarvan.

Natuurlik is die een groot gevaar dat (sommige) “teoloë” nooit dapper genoeg sal wees om hul posisies prys te gee en te erken dat hulle nie (meer) gelowiges is nie. Hier het ek ’n aanvoeling vir König se besorgdheid, maar dit help nie om vuur met vuur te probeer beveg nie, want ongeloof is beslis nie dieselfde as ’n ander interpretasie van die Evangelie nie. Daarvoor het ons ook dringend die onderskeiding van die Heilige Gees nodig.

Ten slotte bly die vraag: Wat in die postmoderne maak dat die Gees die Evangelie duideliker na vore laat kom? Hier dink ek dat ons dringend ’n pneumatologiese, ’n Heilge Gees-teologie benodig; die vroeë kerk het byvoorbeeld lank sonder ’n “objektiewe” Bybel vanuit die Gees gelewe. Ons kan in elk geval “Christus as Heer” slegs deur die Gees ken.

Dit lyk my as ek nie ’n letterlike objektiewe teks of feit nahou waarop my modernistiese geloof berus nie, is die postmodernistiese benadering meer van die Gees afhanklik om Christus, die Woord van God, ’n werklikheid in my lewe te maak.

Daar was nooit (voor modernisme, objektiewe empirisme en positivisme) enige finale objektiewe kennis of buite-kontekstuele “waarheid” nie – dit is en bly altyd geloofsvertroue en, natuurlik, geloofsekerheid dat die gekruisigde en opgestane Heiland my persoonlike Verlosser is.

Hierdie geloofsekerheid is sterker en hoër as enige sogenaamde feitlike, empiriese of objektiewe sekerheid.

• Dr. Rudolph Meyer werk deeltyds aan ’n buitemuurse teologiese projek by Unisa.

Carel van Heerden
6th June 2009, 15:29
Ja, die waarheid word afgewater

Jun 02 2009 12:27:37:390AM - (SA)


Die kommentaar van Neels Jackson in “Is evangelie op die spel?” (Beeld, 28 Mei) waarin hy verwys na die debat oor onder meer prof. Adrio König se boek Die evangelie is op die spel, vereis verdere kommentaar.

Jackson reken dit gaan oor ’n geval van swak kommunikasie en gebrekkige luister na mekaar, eerder as oor werklike teologiese verskille.

Ek sou graag met hom wou saamstem, ter wille van die kerk waarvan ons albei lede is en waarvan die meeste teoloë waaroor dit gaan ook lede is.

Om te erken dat daar tans bykans onoorbrugbare verskille is, is om te erken dat daar ’n gebrek aan eensgesindheid onder ons geestelike leiers is – iets waarteen die Skrif herhaaldelik waarsku.

Dit sou dus ook ’n erkenning impliseer dat hierdie kerk haar in diep waters bevind. En nie een van ons sou dit graag só wou hê nie.

Ontkenning is egter ’n probleem wat ellendige gevolge voortbring. Dít weet ons uit die alledaagse lewe sowel as uit die openbare lewe.

G’n misverstand nie

Ten spyte daarvan dat Jackson duidelik probeer om ’n versoenende rol te speel, wat op sigself lofwaardig is, mis sy kommentaar ongelukkig die punt in meer as een opsig.

• Eerstens gaan dit nie oor die vraag oor wát die titel van König se boek moes gewees het nie. In ag genome die inhoud van die boek is die titel wat König aanvanklik gekies het (Is die evangelie op die spel?), niks anders as ’n retoriese vraag nie.

Dit is uit die inhoud van die boek se meer as 300 bladsye duidelik dat König met groot dringendheid aan die betrok- ke teoloë en aan die kerk in die geheel vra of die evangelie nie op die spel is nie. Die gang van die boek nooi die hele kerk uit om saam te dink en saam te debatteer om tot helderheid daaroor te kom.

Uit die feit dat hy bereid is om al die redenasies en besware duidelik te formuleer en te motiveer, is dit duidelik dat hy, hoewel hy sommige teoloë die voordeel van die twyfel gee, inderdaad self oortuig is dat die stellings van die teoloë met wie hy in gesprek is, die evangelie op die spel plaas.

Of ’n ander formulering van die titel vriendeliker sou oorgekom het as wat die geval met die huidige titel is, is ’n ope vraag.

• Tweedens is die implikasie van Jackson se betoog dat König, ondanks sy “verstommende insigte en vermoë om verbande te lê” (Jackson) deur die boek heen nie daarin geslaag het om die teoloë wat hy kritiseer goed te verstaan nie.

Dit is onbegryplik dat iemand met bogenoemde vermoë so swak kan luister en homself by implikasie so kan mislei dat dit uiteindelik blyk ’n hele boek met voortreflike teologiese insigte en argumente is klaarblyklik op ’n verkeerde verstaan van ander se standpunte gegrond.

Indien dit wel die geval sou wees, sal dit werklik nie moontlik wees om die beoordeling van König se ontledende vermoëns so hoog aan te slaan as wat Jackson doen nie.
Geen ernstige en onbevange leser van die boek kan maklik tot die gevolgtrekking van so ’n kolossale misverstand kom nie.

• Derdens wys König in sy boek daarop dat hy en ander, tydens en na afloop van die teoloë se stellings, telkens gewys het op onaanvaarbare gevolge en teenstrydighede in hul stellings, en dat hy hulle om opheldering gevra het.

Hiermee het hy as’t ware tevore reeds, sonder om dit uit te spel of arrogant voor te kom, voorsiening daarvoor probeer maak dat hulle as nie-sistematiese teoloë dalk nie altyd die verbande en die gevolge van hul stellings raakgesien het nie. Hy het hulle dus ’n geleentheid gebied om moontlike misverstande op te klaar.

Alle teoloë is deur die bank hoogs intelligente mense wat goed weet dat hulle die implikasies van hul stellings goed moet deurdink, selfs al is hulle nie sistematiese teoloë nie.

As hulle dus teologiese uitsprake in die openbaar maak, is die veronderstelling tog dat hulle in staat is om opheldering te gee indien dit wel gevra word.

Dit vorm tog deel van ’n teoloog en ’n bediener van die Woord se ingesteldheid om ten alle tye bereid te wees om “verantwoording te doen van die hoop wat in ons is”.

Die betrokke teoloë het egter mees-tal met stilswye gereageer of, soos in die geval van twee professore, die eeue oue taktiek gebruik om die persoon te verkleineer eerder as om op sy substansiële maar ongemaklike argumente te antwoord.

Selfs nou nog is daar geleentheid vir die teoloë met wie König in die strydgesprek getree het om as’t ware met vers en kapittel daarop te antwoord en die moontlike beskouing dat hul stellings nie Skrifgetrou is nie te weerlê.

Ook lidmate het vrae

• Vierdens is dit wel lofwaardig van Jackson om erkenning daaraan te gee dat sowel König as prof. Julian Müller al baie vir hom (Jackson) beteken het. Ek sou dieselfde van albei hierdie teoloë kon sê.

Dit beteken egter nie dat ek met enigeen van hulle saamstem oor die kwessie van byvoorbeeld homoseksua-ltiteit nie. En dit beteken ook nie dat ek met Müller se standpunt oor die panenteïsme kan saamstem nie.

In die eerste geval (oor homoseksualiteit) sou daar nog geargumenteer kan word dat die evangelie nie op die spel is nie, maar in die tweede geval (oor panenteïsme) is die evangelie myns insiens beslis op die spel.

Dit raak die leer oor God, oor die mens, oor die sonde en oor verlossing. Dit raak met ander woorde die totale kerugma (verkondiging) van die kerk.

Die punt in hierdie debat is ongelukkig nie watter pastorale waarde enigeen van hierdie teoloë vir enigiemand gehad het nie, hoe belangrik dit ook al is dat ons almal (as teoloë en pastors) geroep is om mense se geloof te ondersteun en verryk.

Die kritieke vraag in hierdie geval is: Wat is die waarheid van die evangelie? En: Is diegene wat hierdie evangelie deur teologiese besinning en studie moet ondersteun en verhelder getrou aan die Skrifgetuienis en die bedoeling van die Heilige Gees?

• Vyfdens is dit nie net König wat vrae vra oor die Skrifgetrouheid van die genoemde toeloë se uitsprake en hul regsinnigheid nie.

Talle denkende lidmate van die kerk, sowel as Christene van ander kerke wat op die hoogte met die Christelike leer en die regte verstaan van die Skrifboodskap is, het lankal tot die gevolgtrekking gekom dat “die evangelie inderdaad op die spel is”.

Selfs onder predikante is daar ’n diepe verontrusting oor die uitsprake van sommige teoloë.

Nie ál opdrag nie

• Sesdens is die slot-uitspraak in Jackson se rubriek die mees misleidende stelling oor die Christelike geloof wat enige teoloog, ingeligte lidmaat, Christen-joernalis of belydende Christen kan pleeg

(Jackson het geskryf: “Die vraag is egter of dit, die dogmas, die hart van die evangelie is. Jesus het immers nie aan sy dissipels gesê: ‘Julle moet die leer presies reg verwoord’ nie. Hy het aan hulle gesê: ‘Julle moet mekaar liefhê.’ My gevoel is dit is dié evangelie wat nou in die NG Kerk se teologiese gesprek op die spel is.”)

Dit is tans hoogmode, ook in sommige kerklike kringe, om die belydenis-karakter van die kerk te onderspeel of selfs geheel en al te ontken, en die evangelie as’t ware tot die liefdesgebod te beperk.

Dit is nie verniet nie dat Michael Horton onlangs ’n boek in die VSA uitgegee het met die titel Christless Christianity: The Alternative Gospel of the American Church.

Jesus het nie net aan sy dissipels die opdrag gegee om mekaar lief te hê nie; Hy het ook aan sy dissipels die opdrag gegee om die evangelie wêreldwyd te verkondig.

En hierdie evangelie word vandag steeds deur belydende Christene, soos die kerk deur die eeue, verstaan as die bevrydende boodskap dat Jesus mens geword het, gekruisig is en opgestaan het om sondaars met God te versoen.

Indien ons hierdie kerninhoud van die evangelie ontken of selfs net onderspeel, is ons nie getrou aan die Jesus, die Kurios, die Koning van die kerk nie.

Ek meen dat König hom juis uitnemend vir hierdie waarheid beywer, al noem (sommige van) die teologiese geleerdes van hierdie eeu hom ook ’n Bosveldboer.

Of selfs al dink (sommige) welsprekende Christen-joernaliste dat die strydgesprek alles op ’n misverstand berus of dat dit nie-essensieel en dus onnodig is.

• Ds. Andries Louw is amptenaar van die sinodale getuienisforum, ’n gesamentlike struktuuur van die NG Kerk se noordelike en oostelike sinodes en die VGK se Noord-Transvaalse sinode.

Die Ou Man
10th June 2009, 14:54
Wie se Evangelie is op die spel?

Leon Atterbury, 2009-05-31

Adrio König is reg in sy jongste boek Die Evangelie is op die Spel as hy voel die huidige strominge tas die hart van die evangelie aan, en dat die evangelie inderdaad op die spel is. Hy voer egter nie sy eie argumente konsekwent deur nie omdat hy vooraf besluit het dat die evangelie (soos hoofstroom Christendom dit verstaan) behoue moet bly.

König vra of dit “verkeerd is om die Bybel die Woord van God te noem? Nee, dis reg. Waar kry ons dit? By die vroeë Christene.” (p22) Die feit dat die vroeë Christene op hierdie manier na die OT verwys het, is egter geen gesag daarvoor om aan te voer dat ons vandag nog so daarna kan verwys nie.


König verwys op die vorige bladsy na iemand wat sy eie manier van Bybelvertolking as die enigste korrekte manier sien en daardeur enige debat uitsluit. Maar die vroeë Christene waarna hy verwys het juis dit met die OT gedoen met die idée dat alles wat in die OT staan deur God self gespreek is en gevolglik is geen teenspraak of debat daaroor toelaatbaar nie.

Op dieselfde trant kan mens ook sê dat die son om die aarde draai. Waar kry ons dit? By die vroeë wetenskaplikes!

Dat die vroeë Christene die Bybel gesien het as die Woord van God is geen gesag daarvoor om vandag nog so ʼn siening te handhaaf nie.

Op p29 bespreek König die vraag ‘wat maak die Bybel die Bybel?’ Hy skryf: “Omdat die Bybel van Jesus vertel, is dit gekonspireer. Of andersom: Omdat die Bybel geïnspireer is, vertel dit van Jesus. Hy is die grondslag van ons geloof. En die Bybel is onontbeerlik omdat dit ons enigste betroubare toegang tot die evangelie van Jesus Christus is.” Wat ʼn sirkelredenasie! Hy aanvaar duidelik dat Jesus die enigste verlosser van die wêreld is, en omdat die Bybel van Jesus vertel, is die Bybel betroubaar. En waar het hy die idee gekry dat Jesus die verlosser is? In die Bybel natuurlik! Mens kan tog onmoontlik oorredingskrag aan so ʼn sirkelredenasie heg.

König meld op p29 dat “ons gesien het die boodskap van die Bybel is betroubaar”. Ek het noukeurig gelees, maar ek kan werklik nie sê waar König goeie gronde aangevoer het vir daardie stelling nie.

Terwyl König ʼn hele hoofstuk wy aan die betroubaarheid al dan nie van die Bybel, sou ek graag wou sien dat hy ook kommentaar lewer op die behoorlik gemotiveerde werke van Karen Armstrong en Bart Ehrman, en andere. Hulle argumente kan nie so maklik van die tafel gevee word soos hy met die Jesus seminaar doen nie. König kan nie aanspraak daarop maak dat hy die Bybel as betroubaar aangetoon het as hy nie eens ʼn poging aanwend om die talle geldige punte van daardie skrywers te behandel nie.

Alhoewel dit nie die punt van bespreking daar is nie, verwys König ook op p29 na Jesus wat ʼn Goddelike sowel as menslike natuur gehad het. Daardie idee het my nog altyd onbevredig gelaat. Hy was menslik, maar sonder sonde. Maar my liewe aarde, dis dan juis wat ons menslik maak, nl dat ons vol foute, sonde en tekortkominge is. Hoeveel Christene weet dat daar vir ongeveer 300 jaar na Christus groot meningsverskil geheers het oor Jesus se Goddelikheid al dan nie? Diegene wat beweer het dat Jesus Goddelik is, het uiteindelik geseëvier (soms ook maar geweld en agterbaksheid gebruik) en die destydse kerkvaders het hierdie twee nature dogma uitgedink. Geen wonder dat daardie dogma tot vandag toe nie sin maak nie, ten spyte van al die pakhuise papier wat al volgeskryf om dit te verduidelik en te regverdig.

Op p33 kry ek die indruk dat König ʼn probleem het met navorsing wat ʼn resultaat oplewer waarvan hy nie hou nie. Gevolglik verwerp hy dit. Telkens maak hy die punt dat ‘as ons sus en so na sake kyk, wat bly dan oor van die evangelie?’ Hy het duidelik vooraf standpunt ingeneem dat die ‘evangelie’ behoue moet bly, ongeag wat. Die kleinere verskille wat nie die kern vd evangelie in gedrang bring nie, kan hy aanvaar. Maar as daar aan die kern getorring word, dan skop hy vas. Dis tog nie die ingesteldheid van ʼn wetenskaplike wat objektief soek nie – hy is duidelik ʼn subjektiewe dogmatikus wat vooraf alles verwerp wat dalk die kern van sy siening in gedrang kan bring.

Daardie siening kom ook na vore op p220 waar König verskillende maniere van Bybellees bespreek en dan die volgende sê oor fundamentaliste se letterlike lees: “Fundamentalisme probeer, weliswaar op onhandig en dikwels regtig onaanvaarbare maniere, die hart van ons geloof verdedig.” König is minder krities met hulle al gebruik hulle bedenklike metodes, want hy (König) wil ten alle koste die hart van die geloof behou. Duidelik dat König vooraf ʼn standpunt inneem en nie bereid is om daarvan afstand te doen nie, ongeag enige nuwe ‘bewyse’ of insigte.

König wys daarop dat Paulus se interpretasie van Jesus se dood en opstanding geskryf is voor die evangelies. (p43) Die evangelieskrywers het dus reeds geweet wat Paulus oor daardie gebeure gedink het teen die tyd wat hulle hul verhale opgeteken het. Die feit dat hulle net die feitelike gebeure beskryf en geen interpretasie gee nie, sien König as bewys dat hulle net geskryf het wat werklik gebeur het. Maar wat daarvan dat hulle hul verhale kon aangepas het juis sodat dit inpas in Paulus se vertolking?

König verwys na ander verhale van maagdelike verwekking en wys daarop dat een van die belangrikste verskille is dat in Jesus se geval die Gees nie seksuele gemeenskap met Maria gehad nie. (p56) Sonder dat hy dit sê, is dit duidelik hy bedoel dat al die ander soortgelyke verhale nie kan kers vashou by Jesus se verhaal nie. Ek sou graag hier wou sien dat König hier verwys na die talle verhale van ‘n god-mens wat maagdelik gebore is, wonderwerke gedoen het soos water in wyn verander, onverdiend tereggestel is, weer lewendig geword het en opgevaar het na die hemel. Timothy Freke en Peter Gandy skryf in The Jesus Mysteries (2001:5) dat hierdie figuur in Egipte bekend was as Osiris, in Griekeland as Dionysus, in Asia Minor as Attis, in Syrië as Adonis, in Italië as Bacchus, en in Persië as Mithras. Daardie verhale dateer tot 2000 jr vóór Jesus se tyd, en 25 Desember is ‘n prominente datum in sommige daarvan. Daar is baie meer ooreenstemmings as verskille as mens daardie verhale vergeyk met Jesus s’n. As König reg wou laat geskied aan daardie punt, kon hy al die ander verhale genoem het, en dan aantoon waarom hy meen dat al die ander verhale mites was, maar net die christen weergawe het letterlik plaasgevind. Versamelname soos “buitebybelse verhale” of “mites uit daardie tyd” beteken vir die meeste gewone christene niks – baie van hulle het nog nie eens gehoor dat daar sulke ooreenstemmende verhale bestaan nie.

Op p85 wys König op die uiteenlopende sienings wat mense het van wie Jesus regtig was en noem dan: “’n Wysheidsleraar en ‘n sjamaan en ‘n radikale profeet het regtig min gemeen.” Hoe so? Ek sien nie die onoorbrugbare verskille, of teenstrydighede, tussen daardie begrippe nie. König aanvaar sonder verduideliking skynbaar dat lesers met ‘n stok die verskil sal aanvoel tussen daardie beskrywings en daarom is dit nie nodig om dit uit te spel nie.

König noem (p141) dat “God se toorn en oordeel is die gepaste reaksie van die liefde van die heilige God wat ons as sy beeld geskep het, en wat verwag dat iets van sy waardes in ons lewe na vore sal kom. Sy toorn is verwerpte liefde. Daarom kan dit ook so sterk wees. Dit wys hoe sterk sy liefde is. As God flegmaties, kalm en onverstoord op ons sonde (dit is nie net ons gebrek aan liefde nie, maar ons verwerping van sy liefde) gereageer het, sou dit beteken het Hy het ons nie regtig lief nie, en ons is nie vir Hom belangrik nie. In hierdie sin sou ons Hom selfs vir sy toorn en sy oordeel kon dank!” En op p143: “Dus kan sy toorn beskryf word as die uiting van sy verwerpte liefde.”

Ek vind dit ‘n erg verwronge redenasie. As ‘n méns so sou reageer in reaksie op verwerpte liefde, sou ons dit onaanvaarbaar vind. Maar God mag maar so optree – en dan moet ons hom nog boonop bedank vir sy toorn!

Waaruit bestaan God se toorn, aldus Koning? Natuurrampe, siektes, oorlog. Omdat die mense nie na God wil luister nie, straf hy hulle op hierdie maniere. Hoe verskil dit van ‘n vroueslaner wat ook kan aanvoer: ek slaan haar, want sy wil nie maak soos ek sê nie? En dan bewonder en regverdig König so ‘n eienskap as Goddelik?

Met verwysing na Jesus se woorde ‘ek is die opstanding’ voer König aan: “Dit beteken tog dat Hy opgestaan het, die opstanding plaasgevind het.” (p170) Vir my beteken dit nie noodwendig dat hy fisies opgestaan het nie. Ek wil nie hier in die debat oor die opstanding ingaan nie, behalwe net om te meld dat daardie woorde van Jesus nie noodwendig beteken wat König daaraan toedig nie. Dit is König se interpretasie van daardie woorde – dis nie die enigste (of noodwendig korrekte) interpretasie nie.

Op p226 : “Die gedagte van ‘n wrede God wat eers bloed wil sien, [voordat hy vergewe – my invoeging] is vreemd aan die Bybel. Die teendeel is waar.” Maar vir my is dit König se stelling wat vreemd is! Hoe kan hy so sê? Die Bybel is dan vol voorskrifte oor hoe die volk onskuldige diere moet offer vir hul sondes? En dis wat die dominees en pastore met luide keel vir jare vanaf die kansels verkondig het!

Daar is ‘n interessante woordkeuse op p226: “Aan die kruis het God dus self voldoen aan die onmoontlike eis (my kursivering) wat Hy aan die mens gestel het.” As König self erken God se eis aan die mense was onmoontlik, hoe kan God dan mense blameer en straf as hulle nie daaraan voldoen nie? Hy het boonop vooraf geweet dit sal onmoontlik wees.

Dit het my opgeval hoe kras en neerhalend König met sy opponente werk. Hy verwys na “die beperktheid van sy (dr Ben du Toit se) kerklike en teologiese agtergrond” (p232) en noem ook Du Toit se sienings “’n klomp sinlose slimmighede” (p235). Hy noem dat Julian Muller nie gesprek wil voer nie, maar sy teenstanders wil verneder (p237). Maar is dit nie juis wat König doen nie met sy neerhalende verwysings nie?

Ek sukkel om König se redenasie te volg waar hy op p266 vertel dat vroue nie as betroubare getuies geag is nie, en as die evangelieskrywers die opstandingverhaal wou versin sou hulle nie geskryf het dat vroue die eerste persone was wat die leë graf gesien het nie. As dit ‘n gefabriseerde verhaal was, sou hulle meer betroubare getuies gebruik het. Goed, dit maak sin. Maar in die laaste bullet op p266 skryf hy dis ‘n refleksie op die dissipels dat hulle nie die vroue se verhaal dat Jesus opgewek is, wou glo nie. Hoe strook dit met feit dat vroue getuienis as onbetroubaar beskou is? Dan is dit tog geen wonder dat die dissipels nie sommer met die intrapslag die vroue se verhaal wou glo nie. Hoe kan dit ‘n refleksie op die dissipels wees as hulle maar net opgetree het soos wat die gemeenskap in daardie tyd gedoen het, nl om vroue-getuienis met omsigtigheid te hanteer?

Ook sy beredenering dat Matteus en Lukas nie afgeskryf het by Markus nie, want hulle het kleiner besonderhede ook aangeteken, is onoortuigend. Hy reken as hulle wou afskryf sou hulle dit presies net so oorgeneem het. Die feit dat hulle nog besonderhede bygevoeg het, toon dat hulle persoonlik kennis daarvan gedra het. Maar wat daarvan dat as hulle slegs Markus woord vir woord oorgeskryf het sonder enige byvoegings van hulle kant af, dan sou dit tog baie duidelik gewees het dat hulle afgeskryf het – gevolglik pas hulle die verhaal ‘n bietjie aan sodat die oorskrywery nie te opvallend is nie. Dit is tog seker ook ‘n moontlikheid.

Waar König op p273 skryf oor ons opstandig hou ek daarvan dat hy beskeie is en erken dat dit ‘n misterie is waarvan ons tans eintlik maar min (amper niks) weet nie. Maar tog noem hy dat Jesus nie ‘n ander liggaam gekry het nie, maar dat sy vernederde liggaam verheerlik is. En so, aldus König, sal ons vernederde liggame ook verheerlik word. Gaan al die mense ook beseringsmerke oorhou in hul verheerlikte liggame soos in Jesus se geval? Onthou Jesus se verheerlikte liggaam het nog steeds die kruisigingswonde vertoon. Mense wat met ‘n lelike gesigletsel of geamputeerde ledemaat gesterf het, gaan hulle met daardie sigbare gebreke weer ‘opstaan’?

Op p282 kry ons nog ‘n sirkelredenasie. Omdat dualisme nodig is om die evangelie te verstaan, verwerp König monisme. Maar as daar nie ‘n ‘evangelie’ was nie, of as die evangelie dalk heeltemal anders verstaan moet word as wat hoofstroom christendom tot dusver gedink het, dan verdwyn die rede waarom daar dualisme moet wees ook. König se vertrekpunt is die waarheid, nodigheid en geldigheid van die evangelie (soos hy dit verstaan) en daaruit beoordeel hy dan dualisme. Nog ‘n voorbeeld van vooraf standpunt inname en hy verwerp alles wat daardie standpunt in gedrang bring.

Sê nou net, vir argumentsonthalwe, daar word onomstootlike bewyse gevind dat die evangelieboodskap nie waar is nie, kan König sê dat hy dit sal aanvaar? Nee, stellig nie, hy (en hoofstroom christene) is nie bereid om hulle sienings prys te gee nie. Aan die een kant wonder ek soms wat dit help om met sulke mense te debatteer - hulle het vooraf besluit hulle is nie oorreedbaar nie. Die ander kant van die munt is ook dat mens maar versigtig moet wees met die waarde wat jy aan sulke mense se argumente verleen. Hulle soek nie na objektiewe waarheid nie, al waarin hulle belangstel is om “hulle” waarheid te verdedig en regverdig.

Op p285 bespreek König ‘n wetenskaplike wêreldbeeld en skryf: “Ons het geen ander toegang tot die werklikheid as deur ons sintuiglike waarneming nie...” Hoe kan hy so seker wees hiervan? Wat van intuïtiewe kennis, 6th sense, chanelling, openbaring deur die Heilige Gees? Ontken König die bestaan van al sulke vorms van inligting en kennis?

König bespreek die Bybel se wêreldbeskouing en sê dan op p291: “Hiermee is hoegenaamd nie al die waardes in die Bybel aanvaar of goedgepraat nie. Daar is heelwat waardes wat ons nooit kan aanvaar nie. Daar is waardes wat doelbewus langs die pad van die lang Bybelse geskiedenis verdwyn het. Die waarde om jou vyande te haat en te probeer vernietig is vervang deur die waarde om jou vyande lief te hê.”

Dit moes seker heelwat moed gekos het van König om te erken dat Bybelse waardes oor tyd verander het. Dit open egter ‘n interessante vraag of twee. Was daardie waardes God se waardes, of was dit mense se waardes wat hulle opgeteken en oorgedra het asof God se goedkeuring daaragter staan? Is dit werklik God wat telkens beveel het dat ander nasies aangeval moet word, en selfs die swanger vroue en klein kinders met die swaard doodgesteek moet word? As dit inderdaad God was wat sulke opdragte gegee het, dan het God se waardes oor tyd verander, wat dan weer bots met die idee dat God gister, vandag en môre dieselfde is. My siening is dat God nooit sulke bevele gegee het nie – ménse het dit gegee, en om gesag daaraan te verleen, hulle eie woorde voorafgegaan met “God sê” of “Die woord van die Here na my gekom” ens.

Na albei kante skep dit ‘n interessante dilemma vir hoofstroom christendom. As ons sê dat dit mense se sienings was, wat hulle aan God toegedig het, dan onstaan die vraag hoe kan ons dan so seker wees dat daar nie nog dele in die Bybel is wat ook mank gaan hieraan nie. Hoe kan ons nou seker wees dat wat bv Paulus of Lukas geskryf het, inderdaad God se woorde was, en nie ook dalk net daardie skrywers se persoonlike weergawes en interpretasies nie - wat dan ook aan herbesinning en verandering onderworpe sal wees? En as ons sê dit was God se woorde (en waardes) wat oor tyd verander het, dan kan God se waardes seker voortdurend verander. Hoekom dan stop by net sommige veranderinge? Dan kan die waarde dat ons verlossing nodig het, of dat ons verantwoording aan God verskuldig is, tog ook verander, nie waar nie?

Ongeveer 2 jaar gelede het ‘n brief van my oor Isak se offer in Die Burger verskyn. Daarin het ek vertel hoedat ek nie die storie vir my 6 jarige dogter kon klaar lees nie en gou-gou moes wegblaai van die onstellende skets wat toon hoe Abraham gereed is om sy vasgebinde kind keel-af te sny. En ek het my ontsteltenis verwoord oor die karakter van ‘n God wat sulke dinge van sy volgelinge vra. Interessant dat König (p291) dieselfde ervaring deurgemaak het met sy kleinkind en ook vinnig die angswekkende storie weggepraat het.

Soos König gedoen het tydens die polemiek na die verskyning van sy boek, stel ek vir hom ook ‘n paar eenvoudige reguit vrae. Dink hy God het Abraham beveel om Isak te offer? Vanaf die gee van die opdrag tot by die uitkoms het 3 dae verloop. Was dit deurentyd God se plan om Abraham vir daardie 3 dae te laat wroeg onder die indruk dat hy sy seun moet gaan keel-af sny? Of dink hy Abraham (of die Bybelskrywer) het verkeerdelik hierdie gebeure aan God toegedig? Indien lg, hoe kan hy so seker wees dat bv Paulus se sienings inderdaad God se siening weerspieël? Hy meld hy was geskok toe hy die storie van Isak se offer vir sy kleinkind lees. Ek aanvaar sy geskoktheid het oa te doen gehad met die wreedheid van die storie, en hoe ‘n liefdevolle God daarmee vereenselwig kan word. Dan moet hy tog ook geskok wees oor die hoofstroom christensiening dat God die ongereddes vir altyd en altyd gaan martel in ‘n vuur. Hoekom sou hierdie wrede nimmereindigende straf van God enigsins minder skokkend wees as Isak se storie?

Op p292 gee König sy eie 4 kriteria waaraan mens kan meet of sekere Bybelse waardes vandag nog geld. Dit laat die vraag ontstaan of elke persoon dan sy eie kriteria kan skep waarmee die Bybel beoordeel word? König bedoel tog seker nie dat sy 4 kriteria die enigste geldige maatstaf is nie. My gevoel met die lees hiervan is dat dit König se eie skepping is om die evangelie te red. Hy sê ook: “Maar daar is wesenlike fasette wat ons nie kan prysgee of aanpas nie, anders verloor ons die evangelie self.” Dit is egter nie ‘n goeie rede waarom ons dit nie kan prysgee nie. Dit is duidelik dat König vooraf besluit het dat die kern van die evangelie behoue moet bly, ongeag wat.

Op p293 noem hy dat die opstanding van Jesus, of die bestaan van bose magte, nie deur eksperimente bepaal kan word nie. “Daar is net getuienisse.” Op grond van die ooggetuie verslae van ‘n paar honderd mense is König tevrede om te aanvaar dat Jesus inderdaad fisies opgestaan het. Ek wil nie hier die punt debatteer oor of, en hoe, die opstanding plaasgevind het nie. Wat my wel daarvan opval is dat hoofstroom christene (waarskynlik König ook) nie bereid is om dieselfde toets (nl getuienisse) toe te pas tov ander gebeure nie. Daar bestaan duisende, indien nie miljoene, getuienisse van mense oor onderwerpe soos UFO’s, telepatie, en hipnose. Om konsekwent te wees moet daardie getuienisse ook voldoende gronde wees om sulke verskynsels te aanvaar. Maar nee, as ons by sulke dinge kom, dan is getuienis (vir die meeste hoofstroom christene) nie meer goed genoeg nie.

König reken dat die Nuwe Hervorming “min invloed (het) in die gevestigde kerke en sekulêre wêreld”. Ek wonder of dit regtig so is – dalk is dit eerder Koning se wens dat dit so moet wees. In my ervaring is daar talle mense wat op die oog af lyk of hulle nog die partybeleid aanhang, maar praat met hulle een tot een, dan blyk dit dat hulle hierdie dinge al lankal bevraagteken – ek vermoed dat dit selfs vir sommige predikante geld. Vir baie is daar eksterne faktore wat hulle verhoed om hul denke en vertwyfelinge openlik te deel. Daar is al hoe meer mense uit alle oorde wat na vore kom en ook voel dat hierdie ou paradigma denke uitgedien is. En die meeste van hulle neem nie deel aan openbare podiums soos webwerwe, en koerantdebatte nie.

Ek is dankbaar vir König se erkenning dat die kerk “nie die groot massa van ons lidmate geleer (het) om vrae oor die Bybel te vra nie” (p308)

König is in my opinie reg as hy voel dat huidige strominge die hart van die evangelie aantas, en dat die evangelie inderdaad op die spel is. Hy voer egter nie sy eie argumente konsekwent deur nie omdat hy vooraf besluit het dat die evangelie (soos hoofstroom christendom dit verstaan) behoue moet bly.

Met apologie aan Kletskerk (http://www.kletskerk.co.za/articles.php?article_id=92&page=default).

knipmes
17th June 2009, 20:22
Wie se Evangelie is op die spel?

König is in my opinie reg as hy voel dat huidige strominge die hart van die evangelie aantas, en dat die evangelie inderdaad op die spel is. Hy voer egter nie sy eie argumente konsekwent deur nie omdat hy vooraf besluit het dat die evangelie (soos hoofstroom christendom dit verstaan) behoue moet bly.

Waarmee kan hierdie "evangelisme" of evangelie sindroom mee vervang word, om die derduisende verwarrendes mee te lei?

groetnis
knipmes