PDA

View Full Version : Is Monument so 'n tempel?



Carel van Heerden
28th June 2009, 14:49
Is monument so ’n tempel?

Beeld Jun 26 2009 07:28:18:843PM - (SA)

Daar word al geruime tyd bespiegel oor 'n moontlike verband tussen die Voortrekkermonument en Vrymesselary. Die oortuigdes meen tot dit moet gesloop word. Alet Rademeyer berig.

In 2006 het Denise Woods se boek Oes die stormwind van volksgodsdiens verskyn waarin sy aanvoer die Voortrekkermonument buite Pretoria is deurdrenk van okkultiese simboliek wat veral geassosieer word met antieke praktyke van son- of Baälaanbidding.

Sy voer aan die monument is ’n produk van nasionalisme en dat na-sionalisme ’n produk is van sataniese kennis omdat dit ontwikkel is deur ’n groep mans wat die Woord van God verwerp en okkultiese gebruike aangeneem het.

As gevolg daarvan, meen Woods, is die Afrikaner en sy afstammelinge “vasgevang in ’n gelofte met donker magte en daarom is dit nou hul taak om van dié erfenis van afgodery en godslastering ontslae te raak”.

Vir Woods bevat die feesvieringe wat ter herdenking van die Eeufees van die Groot Trek in 1938 en die inhuldiging van die monument in 1949 gehou is ’n verskeidenheid Vrymesselaar-eienskappe. Dit sluit in aktiwiteite soos die geloftes wat langs die ossewaroetes afgelê is, die fakkelmarathon, die lamp wat met die son se strale aangesteek is en die fondamentsteenlegging.

Sy wys op Vrymesselaar-simbole en -elemente in die ontwerp en op die reliëfpanele, byvoorbeeld die sonstraal, die altaar, die vloerpatroon, die obsessiewe verheerliking van vroue, die moeder-en-kind-uitbeelding, die goewerneur se handsimbool en Piet Retief se waterfles waarop die kompas, tekendriehoek, twee pilare van Boas en Jakin, die alsiende oog van Osiris, die son, die maan, die geruite vloer, ’n hamer en ’n driehoek met ’n straalson daaragter – Vrymesselary se hoofsimbole – uitgekerf is.

Dr. Alta Steenkamp, senior lektor van die skool vir argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad, stem egter glad nie saam dat die monument ’n “Vrymesselaars-tempel” is nie.

Sy het eergisteraand tydens ’n lesing by die Voortrekkermonument gesê ’n Vrymesselaar kan menige gebou en veral monumente maklik op ’n Vrymesselaar-manier lees weens die sterk assosiasie tussen argitektuur en Vrymesselary.

Sy het gewys hoe dít van toepassing is op die Völkerslachtdenkmal (monument) in Leipzig, Duitsland, wat duidelik ’n invloed op die Voortrekkermonument se ontwerp gehad het. “Weens die invloed kan dit voorstellings bevat wat as esoteries bestempel kan word, maar dit maak dit beslis nie ’n Vrymesselaars-tempel nie.”

Steenkamp meen hoewel die Leipzig-monument sterk bande met Vrymesselary het wat nie betwis word nie, is daar geen bewyse dat Gerhard Moerdyk, die argitek, óf die sentrale Voortrekkermonument-komitee, wat moes besluit hoe die monument moet lyk, enigsins daarvan geweet het nie.

Die Vrymesselaars-tempel diep binne die massiewe kelder van die Leipzig-monument is in elk geval eers ná die Tweede Wêreldoorlog gevind, wat daarop dui dat die Voortrekkermonument-komitee nie van die Vrymesselaarsmotiewe bewus was nie.

Moerdyk is in 1936 as boumeester aangestel en dit blyk dat die komitee voordat hy die monument geteken het, klaar ’n idee gehad het hóé (soos die Leipzig-monument) dit moet lyk.

Moerdyk self het in Die Vaderland van 1936 in ’n verduideliking oor hoe die monument moet lyk, gesê dis ’n moeilike vraag aangesien die Voortrekkers geen argitektoniese erfenis nagelaat het nie. Hy het gesê ’n mens moet eerder ’n verwysing in die Bybel vind, want dit is wat die Voortrekkers sou doen.

Soos Abraham sy mense na ’n beloofde land gelei het, het hy verduidelik, só het die Voortrekkers barbare en ’n barbaarse natuur oorkom om ’n wit samelewing in Afrika se donker binneland te vestig.

En soos Abraham gedoen het, moet daar ’n altaar gebou word om die Voortrekkers se opofferinge te huldig.

Moerdyk het voorts gesê daar is baie voorbeelde van sulke heiligdomme wêreldwyd – die Mausoleum van Halicarnassus, die Altaar van Zeus, die Taj Mahal in Indië, die Dôme des Invalides in Parys, die Leipzig-monument en die Shrine of Remembrance in Melbourne.

Volgens hom het nie een van dié monumente egter iets gesê oor die Voortrekkers of die land nie.

Vir Steenkamp is dit duidelik dat geometrie en ruimtelike orde ’n belangrike rol in Moerdyk se ontwerp gespeel het en dat dié ooreenkomste tussen die Voortrekker- en die Leipzig-monument “uitsonderlik en onverwags” is.

Die ooreenkoms tussen die twee monumente se geometriese ordes is so sterk dat dit lyk of die een van die ander afgelei is, meen sy.

Dieselfde geld die ruimtelike orde se simboliek. Die Vrymesselaars- ruimtelike orde, soos in die Leipzig-monument, is ook teenwoordig in die Voortrekkermonument. Iemand wat ’n Vrymesselaar is, kan dit dus op ’n baie spesifieke manier lees.

Steenkamp wys daarop dat Vrymesselary, soos argitektuur, fundamenteel ruimtelik is. Van die punt van die tempel word “buite” herlei tot “onder” – die materiële wêreld wat gelei word deur menslike passie en lotsbestemming. Ruimtelik verwys dit na dit wat “onder” die band sit, daardie deel van ons bestaan wat gelei word deur die dood se onvermydelikheid en spirituele leegheid se donker kant.

Met ander woorde alle menslike dinge.

“Binne” en “bo” word herlei tot die soeke na God se ideale, oorheers deur lig en die bevryding van die gees.

“Ruimtelike orde, waar ruimtes wat onder of donker is, gekenmerk word deur ’n assosiasie met die dood, en ruimtes wat na bo strek, geassosieer word met ’n Hoër Mag, kom algemeen in samelewings se geskiedenisse en hul argitektuur voor,” sê sy.

Steenkamp meen om te sê die Voortrekkermonument se Vrymesselaars-eienskappe is grotendeels die gevolg van die ontwerp se onoorspronklikheid is nie om kleinerend te wees nie, maar dra eerder by tot ’n aspek van sy geskiedenis wat nog nie ondersoek is nie.

“Die Voortrekkermonument is nie ’n Vrymesselaars-tempel nie, maar lyk só omdat mildelik geleen is by ontwerpidees van ’n gebou (Leipzig-monument) met ’n subteks wat doelbewus Vrymesselaar is.

“Elke mens heg ’n bepaalde simboliek aan ’n monument en elkeen sien daarin wat hy wil.

“Die Voortrekkermonument het ’n baie ryk geskiedenis wat nog geskryf en nagevors moet word. Ons kan nie toelaat dat dit as ’n heilige koei gesien word nie,” het Steenkamp gesê.