PDA

View Full Version : Jesus én gesprek staan só weer op



Carel van Heerden
21st July 2009, 18:12
Jesus én gesprek staan só weer op
Jul 20 2009 06:01:00:530PM - (SA


Hy is opreg opgewonde oor die nuwe moontlikhede vir 'n oop gesprek oor Jesus se opstanding, skryf Julian Müller, maar daar sal gewaak moet word teen drie faktore wat die gesprek kan strem.

Vir die eerste keer in meer as vier jaar is ons by die punt waar daar ’n oop gesprek oor die opstanding van Christus kan plaasvind. Tot dusver was die gesprek gekenmerk deur óf terughoudendheid óf verdagmaking en beskuldigings.

Die onlangse besluite van die NG Kerk se Algemene Moderatuur waar die meer genuanseerde standpunt oor die “liggaamlike” opstanding geseëvier het, is vir my ’n onteenseglike aanduiding van ’n nuwe fase in die gesprek.

Hoewel daar by hierdie vergadering kritiek uitgespreek is teen die tien moderators se besluite, moet mens aan die moderators erkenning gee dat hulle ’n poging aangewend het om die gesprek op ’n beter basis te kry met hul oproep tot ’n “robuuste gesprek”.

Ek sou graag hul inleidende paragraaf heelhartig onderskryf:

“Verskil van mening in die kerk is ’n goeie ding. Dit help ons om die kaf van die koring te skei. Ons onderskei daarom ook tussen menings veral deur met mekaar in gesprek te tree. Ons doen dit onder meer deur briewe, artikels, boeke en toesprake.

“Sonder so ’n robuuste onderskeidende gesprek kan ’n kerk nie werklik teologie bedryf nie. Dit help ons met oorleg saam aan die Here gehoorsaam te wees.”


Nie mooi broodjies


Hierdie uitspraak vra dit van ons om opnuut oor die saak van die opstanding na te dink, maar ook na te dink oor die wyse waarop die gesprek verloop.

My verstaan van ’n robuuste gesprek is dat dit ’n onverskrokke, intense en ontledende gesprek is. Dit is nie om mooi broodjies te bak nie. Dit is indringend en krities, maar respekvol en daarom sonder persoonlike aanvalle en selfs beledigings.

Die robuustheid moet in die indringendheid van die teologiese argumentvoering na vore kom en nie in die waaghalsigheid van aanvalle op mekaar nie. N.P. van Wyk Louw se Oop gesprek lê in hierdie rigting.

Respekvolle gesprek behels ook ’n nie-voorskriftelike gesprek. Die ander party moet toegelaat word om die gesprek op sy of haar manier te voer en nie volgens enigiemand se voorskrifte nie.

Die bekende regsbeginsel van audi alteram partem moet sekerlik in enige oop gesprek geld.

Daar moet ’n bereidheid wees by al die deelnemers om na al die partye te luister.

Die oproep van die moderators tot so ’n soort gesprek is op sigself waagmoedig en dit verdien ons waardering. As kerkleiers gesprek wil oopmaak en nie smoor nie, is dit sekerlik ’n teken van die teologiese volwassenheid van daardie kerk.

En soos gesê, was dit vir my die duidelike teken dat van amptelike kerklike kant die eerste grond gebreek word na ’n meer volwasse fase in die gesprek.

Sedert 2005, toe ek en twee van my kollegas by die fakulteit van Tukkies van dwaling aangekla is, het ons sekerlik gevorder tot ’n oper en vrymoediger gesprek.

Juis daarom was die daaropvolgende gesprekke in die ASM (Algemene Sinodale Moderatuur) so hoopgewend.

Daardie vergadering het hom daarvan weerhou om weer eens ’n paar stellings te formuleer wat die onbegryplike van die opstanding van Christus en die broosheid van die opstandingsgeloof eerder ondermyn as bevorder.

Ek is opgewonde daaroor dat ons ’n meer volwasse gesprekfase betree, maar ek is tegelyk ook bekommerd oor ’n paar inhiberende faktore wat juis die robuustheid van die diskussie teenwerk en nie oop gesprek bevorder nie.

Ek noem hier onder drie sulke inhiberende faktore.

Onvolwassenheid


1. Die fundamentalistiese onvolwassenheid van ’n groot deel van die Afrikaanse geloofsgemeenskap:


Kyk mens na standpunte van briefskrywers in koerante dan is dit verstommend hoe beangs gelowiges is vir ’n openlike gesprek. Eerlike twyfel en vrae word sommer maklik met ’n teks of twee reggesien. Gangbare interpretasies van die Bybel word eenvoudig onbevraag gehandhaaf en gesprek daaroor is taboe.


Daarmee saam gaan die gebruik om mense wat ander standpunte inneem te etiketteer. So word dit al ’n gemeenplaas om na Tukkies se “liberale teoloë” te verwys. Die blote indeling van die teoloë van die land in twee kategorieë, naamlik “fundamentalisties” en “liberalisties” is reeds ’n vorm van verdagmaking


Verskeie briefskrywers verwys na die klagtes wat deur ’n teologiestudent teen myself en twee kollegas ingedien is, sonder om te meld dat die klagtes behoorlik ondersoek en die betrokkenes van enige dwaling vrygespreek is.

Daar word daarna verwys as ’n “regsgeding” wat “tegnies van aard” is, terwyl ondersoeke oor suiwerheid van leer volledige teologiese ondersoeke behels.


En dan is daar Christelike boekwinkels wat traag of onwillig is om sekere boeke te verkoop. Dit was die geval met my eie boek, Opstanding, en nou onlangs het ek dit weer ervaar met prof. Willie Esterhuyse se boek God en die gode van Egipte.


Moddergooiery


2. Stereotipering en persoonlike aanvalle:

In plaas van ’n saaklike teologiese debat vind ons ongelukkig soms tekens van ’n moddergooiery. Die moderators verwys na die “uitrafeling” van die gesprek en betreur dit met reg.

Maar die gesprek rafel uit en raak persoonlik wanneer mense in magteloosheid hulself probeer beskerm teen verdagmaking.

Met stereotipering en etikettering word karikature van ander opgebou en so word die tafel gedek vir sterk emosionele teenreaksies.


Twee paradigmas


3. Die feit dat die uiteenlopende teologiese uitgangspunte nie onderskei en verwoord word nie:

Die “gesprek” het tot dusver bitter min vordering getoon omdat dit vanuit twee verskillende paradigmas gevoer word.

Die een groep bedryf skynbaar teologie op ’n epistemiese (kennis) en proposisionalistiese (stellings formuleer) vlak, terwyl ’n groeiende groep gemakliker daarmee is om hul teologie vanuit ’n hermeneutiese (verstaan), of kultuur-linguistiese paradigma te verwoord.

Ek word byvoorbeeld verwyt dat ek op vrae wat aan my gestel is nie pertinente antwoorde gegee het nie. My weiering om op daardie manier in die debat ingetrek te word spruit uit die tweede manier van teologiebeoefening.

Ek is ongemaklik met ’n teologie wat gebaseer is op waarheidsaansprake en -uitsprake. Ek kan nie saampraat wanneer komplekse konsepte soos die opstanding op ’n oorvereenvoudige, slagspreukagtige manier aangebied word nie.

Die skool van denke en teologiebeoefening waarby ek myself tuis voel, werk eerder hermeneuties (met die oog op verstaan) of postfundamenteel, waar die paradoksale en misterieuse beklemtoon word. Teenoor die prosaïese en byna regstegniese stellings, word in hierdie geledere die taal van poësie en kuns omhels om die onsêbare gesê te kry.

Dit lyk asof die twee groepe mekaar nie goed hoor en verstaan nie omdat hulle verskillende teologiese tale gebruik. Die gesprek sal eintlik eers werklik robuust kan word indien ons daarin kan slaag om oor hierdie uitgangspunte, paradigmas en teologiese tale met mekaar in gesprek te tree.

As ons dit nie doen nie, sal die gesprek negatief robuust bly in die sin dat elke kant die ander probeer uitoorlê met heftige stellings en nog heftiger teenstellings.

Ons as teoloë is dit nie alleen aan mekaar nie, maar aan die breë geloofsgemeenskap verskuldig om ons gesprek oor heilige en sensitiewe geloofskonsepte op ’n volwasse vlak te voer.


Prof. Julian Müller is ’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Uit: Beeld

Carel van Heerden
25th July 2009, 11:28
By: Niks meer, niks minder

Jul 24 2009 06:27:51:060PM - (SA)


Die teologiese gesprek oor die opstanding van Jesus het op gevaarlike rotse beland, skryf Johann Ernst.

Terwyl Julian Müller met sy boek Opstanding (2006) verkies het om eerder stomstreke te speel, wens ’n mens nou Adrio König het in sy boek Die Evangelie is op die spel (2009) liewer ’n wag voor sy mond geplaas.

Müller het kritiese opmerkings gemaak wat ’n groot deel van die kerklike publiek nie graag wou hoor nie. Wat hulle wíl hoor, wil Müller nie sê nie – dat Jesus liggaamlik, fisiek en histories opgestaan het. Müller se weiering word as ’n swye vertolk oor die werklikheid van die opstanding en die leë graf. ’n Storm het die NG Kerk en die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit daaroor getref.

Wanneer daar in ’n storm uitgevaar word, is die gevaar op sy grootste om self nie die diep water te bereik nie. Dit het nie net in König se nuutste boek gebeur nie. Teruggedryf deur dit wat die kerkvolk nou wil hoor, het die moderators van die NG Kerk met hul verklaring oor die opstanding ook in die vlak water tussen die rotse gaan lê.

In ’n tyd waarin die sekerheid van ons geloof veel dieper lê, is die vlak, vreemde en valse vastighede wat maklik gegee word, gevaarliker as wat ons dink.

König doen sy bes om met ’n stortvloed woorde vir Müller uit te wys as teologies liberaal. König maak nie net golwe nie; hy stuur brander op brander. In sy hart moet Müller oortuig wees König het teologies fundamentalisties geword. In die teologiese oseaan is dié twee professore vastelande van mekaar verwyder.

Hulle kan mekaar nie hoor nie. König staan voor die skare. Müller sit by die randfigure. König rinkink met die nuwerwetse charismatiese verbruikersteologie. Müller dans met die ouderwetse filosofiese teologie.

König wil hê die “stomme” Müller moet hom verbaal en verbatim uitspreek ten gunste daarvan dat Jesus liggaamlik, fisiek en histories uit die dood opgestaan het. Müller reageer darem daarop en sê die breedsprakige König kom met “slimstreke” en voeg woordjies by ten einde ander te veroordeel of vry te spreek.

Die “stom” Müller sê vir die kerkvolk te min oor die opstanding van Jesus en skep baie onbeantwoorde vrae; die “spraaksame” König sê vir die kerkvolk te veel en skep ’n paar verkeerde antwoorde.

Nou het die moderators ook die water kom vertroebel deur met stelligheid te verklaar dat Jesus “liggaamlik uit die dood opgestaan het” en dat sy “fisieke liggaam opgeneem is in die opstandingsliggaam”!


Het Jesus “liggaamlik” uit die dood opgestaan?

Slegs die Bybel kan gebruik word om in die teologie en kerklike lewe die strome te toets en die seile te span. In die Bybel skryf Paulus met gesag dat die opgestane Jesus persoonlik aan hom verskyn het. Nêrens bied hy hierdie verskyning aan as ’n visioen nie.

Jesus het ook nie net in Paulus se gedagte of hart opgestaan nie. Sy liggaam is ook nie ná sy dood gesteel of êrens herbegrawe nie. Wie dit beweer, doen dit op eie gesag. Maar Jesus het ook nie “liggaamlik” (na sy aardse, menslike natuur) uit die dood opgestaan nie. In I Korintiërs 15 skryf Paulus nie ongekwalifiseerd oor Jesus se “liggaamlike” opstanding nie.

Hy maak spesifiek van Jesus se opstandingsliggaam as ’n “geestelike liggaam” (soma pneumatikon) melding en onderskei hierdie liggaam duidelik van Jesus se “natuurlike liggaam” (soma psuchikon). “Vlees en bloed” (natuurlike liggaam) kan nie die koninkryk van God beërwe nie! Hy wys ook daarop dat ’n gedierte en ’n planeet ook ’n liggaam het.

Terwyl fundamentaliste die liberale beskuldig dat hulle in ’n ruim “geestelike” opstanding glo, vereng die fundamentaliste hul siening tot ’n “liggaamlike” opstanding. Hulle verstaan daaronder dat minstens iets van die “natuurlike liggaam” van Jesus wat in die graf weggelê is, nou opgestaan het.

Vir die dualistiese Grieke is “geestelik” en “natuurlik” teenoorgesteldes, maar vir die Hebreër Paulus is dit twee verskillende maniere van lewe. Die “natuurlike liggaam” leef van asem of gees wat deur die keel kom (nèfesj/psuchon) en word by die dood uitgeblaas. Daarna vergaan die liggaam.

Die “geestelike liggaam” leef van die Gees, kom wel misterieus uit die liggaam van die gestorwene op, soos ’n halm uit die gestorwe graankorrel, maar as ’n nuwe liggaam. Die Gees verlaat hierdie liggaam nie en dié liggaam vergaan ook nie.

Die gesaaide “liggaam” wat in die grond weggelê is om te sterwe om die nuwe lewe voort te bring, is nie die halm se toekomstige “liggaam” nie. Die toekomstige “liggaam” is wel die gesaaide as sodanig (daar is identiteit), maar dit is volkome anders (daar is diskontinuïteit). Dit is Jesus wat sterf én opstaan. Hy – nie sy liggaam nie – het opgestaan tot ’n nuwe lewe. Diegene aan wie Hy verskyn, sien Hom!

Die fokus van die kerk se belydenis oor die opgestane Jesus is nie op die vorm (liggaamlik) of die aard (Geestelik) van sy nuwe lewe gerig nie, maar op die opgestane, lewende Here self.


Het Jesus “fisiek” uit die dood opgestaan?

Paulus voer aan Jesus het juis nie fisiek uit die dood opgestaan nie. Hy bring die woord fisiek (psuchon) spesifiek in verband met wat Jesus ná sy opstanding nié meer is nie.

Fisiek beteken “wat op die natuur of die natuurlike betrekking het”. Paulus skryf in 1 Korintiërs 15 dat Jesus ná sy opstanding nie meer ’n “natuurlike” liggaam het nie.

Fisiek het betrekking op die lewe duskant die graf, waar met die tydelike asem van die verganklike lewe geleef word. Geestelik het betrekking op die onverganklike lewe by God wat met die Ewige Asem van God geleef word. Laasgenoemde is nóg natuurlik nóg fisiek, maar in alle opsigte werklik.

Het Jesus fisiek opgestaan? Nee! Het Jesus regtig opgestaan? Ja! Met sy opstanding het Jesus juis kom wys dat die opstandingswerklikheid buite die grense van ons eie natuurlike, fisieke bestaan uitgaan. Die werklikheid waarin Jesus Hom nou bevind, is vir ons ’n geloofswerklikheid. Hy kan Hom vanuit hierdie werklikheid sigbaar en tasbaar aan ons openbaar.

Maar dit is nie hoe Hy nou is en leef nie. Want Hy is God en laat Hom nie in die fisieke vorm van ons bestaan vasvat nie.

In 2 Korintiërs 5 vers 16 geniet Paulus die deining van die diep blou see as hy skryf: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.”

Vir die ongelowige Tomas sê Jesus: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”


Het Jesus “histories” uit die dood opgestaan?

“Histories” beteken ’n gebeurtenis het betrekking op die mens en sy geskiedenis. Net gebeure in die geskape werklikheid kan gedateer word. Die ewigheid ken geen tyd nie. Daarom is die gebruik van die term “histories” vir die opstandingsgebeure ’n contradictio in terminis.

Vanuit ons geslote werklikheid het die deur na die ewigheid oopgegaan en het Jesus as verrese Heer die oneindige ewigheid ingestap. Tegelyk het Hy op ons geskiedenis uitgestap.

Geen mens kon die opstandingsgebeure sien plaasvind nie en daarom is daar geen historiese optekening daarvan nie. Slegs die leë graf is die histories aanwysbare getuienis dat iets ewigs met Jesus gebeur het.

Die getuienis van dié aan wie Jesus verskyn het, kan as histories betroubaar geag word. Maar sigself was die opstanding geen historiese gebeurtenis nie. Slegs dit wat tussen konsepsie en dood met Jesus in ons wêreld gebeur het, kan op die historiese tydlyn aangeteken word.

Deur juis nie die term histories met Jesus se opstanding in verband te bring nie, erken ons daar is ’n bestaan wat groter en heerliker is as die werklikheid wat ons ken.

In die filosofiese teologie kan lank geredekawel word oor wat met Jesus gebeur het sonder om iets geloofwaardig te sê – solank dit net die teologie lewend hou!

In die verbruikersteologie is dit belangrik om seker te maak dat Jesus “suksesvol” (liggaamlik, fisiek én histories) opgestaan het, sodat Hy in ons gemeentelike suksesverhale geëksploiteer kan word.

Daar is goeie Bybelse gronde vir die kerk se eeue oue standpunt “dat Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het volgens die Skrifte” – ja, niks meer en niks minder nie!

Dr. Johann Ernst is aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode.

Bron: Die Beeld

Die Ou Man
7th October 2009, 12:07
Verskillende maniere van glo

Neels Jackson

Ek het te veel respek vir prof. Adrio König om te sê hy lieg.

Dis min of meer wat ek verlede week op Aardklop in ander woorde gesê het tydens ’n bespreking van sy boek Die evangelie is op die spel.

Ek glo König tree uit oortuiging op, met goeie bedoelings ook.

Maar – en dit het ek op Aardklop probeer aantoon – hy maak foute wat daartoe lei dat hy ander teoloë se standpunte so verkeerd weergee dat ek dink sy boek is vol onwaarhede.

Hoekom sê ek so?

In die eerste plek ontken die teoloë oor wie hy skryf self dat dit regtig hul standpunte is wat hy aan sy lesers voorhou.

Hulle is bitter ontsteld oor hoe König hulle skets.

In die tweede plek het kerklike liggame – ringe en die kuratorium wat toesig hou oor die dosente – ondersoeke gedoen en nié tot die gevolgtrekking gekom dat die betrokke teoloë die evangelie op die spel plaas nie.

Derdens het ek self die debatte gevolg en die tekste gelees en dis vir my duidelik dat König die bedoelings van die teoloë wat hy kritiseer, dikwels verkeerd lees.

Wil juis geloof behou

God? Geloof in ’n postmoderne tyd, die boek deur dr. Ben du Toit, parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk, is byvoorbeeld allermins ’n poging om die evangelie af te skryf.

Dis juis ’n worsteling om die geloof te behou te midde van allerlei twyfelvrae wat wetenskaplike insigte by hom en baie ander mense oproep.

König voer aan dat Du Toit leerstukke soos die maagdelike geboorte van Jesus, die twee nature van Jesus en die Drie-eenheid van God eenvoudig afskryf.

Inderwaarheid voer Du Toit slegs aan dat dit in ’n postmoderne raamwerk nie nodig is om presies te verstaan “hoe dit werk” nie – of om dit, by implikasie, op modernistiese manier te glo nie.

Naby die einde van sy boek skryf Du Toit: “En dit is waarby ek in hierdie boek gekom het, naamlik om voorlopig aan te toon dat ons wel met behoud van ons intellektuele integriteit redes kan aangee hoekom ons in die kernwaarheid van die Christelike boodskap kan glo, naamlik dat Jesus vir ons sonde (en in ons plek) aan die kruis opgeoffer is, die dood soos ons dit ken oorwin het en weer opgestaan het om vir dié wat in Hom glo die hoop van die ewige lewe te gee.”

Dié paragraaf en die prentjie wat
König van Du Toit skets, verskil hemelsbreed van mekaar.

Ek dink dis deels omdat König Du Toit se boek lees asof Du Toit daarin dogmatiese uitsprake maak, terwyl Du Toit juis in sy voorwoord sê hy doen dit nie.

Nuwe Testamentici

In ’n ander geval kritiseer König prof. Danie Veldsman van Tukkies oor ’n akademiese artikel wat Veldsman in 1993 gepubliseer het.

Daarin tree Veldsman in gesprek met Nuwe Testamentici wat by die soeke na die historiese Jesus betrokke is.

Dit is ’n navorsingveld wat baie tradisionele geloofsoortuigings bevraag*teken en die geloofsprentjie van Jesus inderdaad soms so reduseer dat sommige mense hul geloof na aanleiding daarvan verloor.

Veldsman neem as sy “eksperimentele” vertrekpunt die siening dat Jesus se graf leeg was omdat die dissipels sy lyk in die geheim daaruit verwyder het.

Hy ontwikkel dan ’n teorie, op die patroon wat sy gespreksgenote sou doen, waarvolgens Jesus se liggaam volgens ’n ou gebruik herbegrawe is.

Hy voer egter aan dat Jesus se verskyning later aan sy geskokte dissipels toon dat Hy wel opgestaan het.

König lees dit asof dit ’n afwykende siening van Veldsman verteenwoordig.

Inderwaarheid is dit asof Veldsman aan die Jesus-historici sê: “Selfs al sou ek hierdie uitgangspunt van julle aanvaar en op jul manier redeneer, kom ek steeds by die opstanding van Jesus uit.”

Hy bied sy teorie nie aan as ’n weerlegging van tradisionele oortuigings nie, al behandel König dit so.

Veldsman skryf self: “Hierdie poging is nie gerig op die selfsugtige plesier van die kapotslaan?.?.?.?van ander meer tradisionele voorstellinge nie, maar is daarop gerig om die dieptedimensie van die geloof in die opstandingsgebeure as God se daad te bevestig!”

Dit is, soos in die geval met Du Toit, ironies dat ’n teoloog wat die evangelie in ’n spesifieke konteks probeer verdedig, nou daarvan beskuldig word dat hy die evangelie op die spel plaas.

Liggaamlike opstanding

Die teoloog wat seker die meeste in König se spervuur is, is prof. Julian Müller van die Universiteit van Pretoria.

Müller word daarvoor verwyt dat hy nie wil bely dat Jesus “liggaamlik” uit die dood opgestaan het nie.

König meen dis duidelik dat Müller glo dat Jesus nié liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Dit was duidelik uit opmerkings wat hy tydens ons Aardklop-gesprek gemaak het.

Ek het Müller dít egter nog nooit hoor sê nie, al loop ek as joernalis met gespitste ore rond.

Dit lyk my ook nie na ’n korrekte afleiding dat Müller deur sy weiering om woorde soos “liggaamlik” by die opstanding van Jesus te gebruik, die liggaamlike opstanding verwerp nie.

Die kloof tussen Müller en König loop langs ander lyne. Waar König as sistematiese teoloog elke faset van die opstanding goed ontleed het en dit verstaan, aanvaar Müller wat daar gebeur het as ’n misterie.

Vir König is hierdie benadering van Müller ’n groot probleem, maar dit hoef nie te wees nie.

In my jare as verslaggewer oor kerke was dit een ding wat ’n baie groot indruk op my gemaak het: Opregte Christene beleef hul geloof op uiteenlopende maniere.

In die praktiese teologie is daar verskillende modelle wat die verskillende spiritualiteite onder Christene beskryf. Só word daarop gewys dat sommige mense hul geloof hoofsaaklik met hul verstand beleef, terwyl ander dit meer emosioneel doen.

Verskillende maniere om te glo

’n Ander onderskeid is juis dié tussen König en Müller. Die een soek na duidelike sekerhede en die ander vind God in die misterie.

Sulke verskille is nie kwessies van reg of verkeerd, of van beter of slegter maniere van glo nie. Dis bloot verskillende maniere om te glo.

Dit hang saam met verskille tussen mense se persoonlikhede en hul denkraamwerke, met groot filosofiese strominge soos die modernisme en postmodernisme wat oor ons samelewing spoel.

Wat Müller se siening oor Jesus se opstanding uit die dood betref, is dit vir my duidelik:

* dat hy die opstanding bely;

* dat dit vir hom belangrik is dat Jesus se opstanding anders was as dié van Lasarus en dat woorde soos “liggaamlik” vir hom te veel klink na beskrywings van Lasarus se opstanding;

* dat hy as praktiese teoloog geweldige implikasies van die opstanding vir gelowiges se daaglikse lewe sien.

As hy huiwerig is om presies te verklaar hoe die opstanding gebeur het, dink ek die kerk behoort hom ruimte te gee daarvoor, net soos daar ruimte moet wees vir mense wat seker wil wees hulle weet hoe dit gebeur het.

Dit lyk my König se boek wemel van verkeerde afleidings en verkeerde vertolkings. Ek het ’n paar daarvan probeer aantoon.

Die groot ding is egter dat die prentjie wat König van bogenoemde en ander teoloë skets, die kol mis. Sy weergawes van hul standpunte is eenvoudig onwaar.

Op Aardklop het ek gesê ek dink dat König hulle op ’n baie onbillike wyse in ’n vreeslike slegte lig stel.

Ek wil byvoeg: Ek dink hy skuld hulle ’n verskoning.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Content/In-Diepte/1978/6a656b322c6e4795a7ba5617bf9f213c/06-10-2009-11-49/Verskillende_maniere_van_glo_) dd 2009-10-06

Die Ou Man
8th October 2009, 08:18
Gaan daar ’n skeuring wees in NG Kerk?

deur Dr. Henrietta Klaasing

Wag dieselfde krisis op die NG Kerk as die Anglikane? Neels Jackson se artikel “Net verskillende maniere van glo” eergister het betrekking.

Die geskiedenis van die krisis in die Anglikaanse Kerk kom al oor ’n paar jaar. Bolangs lyk dit anders, maar as ’n mens dieper kyk, gaan dit oor fundamentele beginsels en kernleerstukke van die Christelike geloof soos Skrifgesag en Skrifgebruik, die oorsprong van die sonde, versoening in Christus en die ewige bestemming van die mens – kortom, die hart van die evangelie.

Basies is dit dieselfde brandpunte as wat daar tans in die NG Kerk is, soos aangetoon in König se boek en nou in Jackson se artikel.

Om sake rakende die debat wat ter sake is in König se boek bloot af te maak as “verskillende maniere van glo”, is om die erns van die situasie totaal te ignoreer. Die verloop van sake in die Anglikaanse Kerk het daartoe gelei dat ’n behoudende groep op 29 Junie in Jerusalem ’n verklaring uitgereik het waarin hulle hul weer tot die basiese leer van die Anglikaanse Kerk verbind. Die saak het selfs verder gegaan en op 3 September vanjaar het die “Fellowship of Confessing Anglicans of SA” tot stand gekom.

Die vraag wat ’n mens kan vra, is: Gaan daar weer ’n skeuring in die NG Kerk wees en gaan die NG Kerk dieselfde paadjie as die Anglikane loop?

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/637a9e01dc7d41ea840ebe6e3de6000a/07-10-2009-11-26/Gaan_daar_%E2%80%99n_skeuring_wees_in_NG_Kerk) dd 2009-10-07

Die Ou Man
10th October 2009, 09:45
Jesus se leë graf is die toetssteen


Adrio König

Ongelukkig het Neels Jackson nie gereageer op my twee spesifieke vrae nie:


* Watter leuens het ek vertel?

* Waarom het hy in die gesprek juis tot die einde gewag om te sê ek lieg, toe daar nie meer tyd was om sinvol daarop te reageer nie?

Hy meen dat ek sekere teoloë verkeerd interpreteer en noem dit nou “onwaarhede”. Maar verkeerde interpretasies is nie onwaarhede of leuens nie, dis verkeerde interpretasies.

Te meer nog omdat hy aanvaar dat ek met goeie bedoelings optree.

Watter leuens het ek vertel?

Dr. Ben du Toit

Jackson sal onthou dat ek nie die enigste een is wat destyds beswaar gemaak het teen Du Toit se boek nie.

Nuwe Testamentiese geleerdes wat hewig beswaar gemaak het, is onder andere Andrie du Toit en Jan du Rand.

Maar daar was letterlik ’n vloedgolf briewe van protes.

Volgens Jackson verwerp Du Toit glad nie die lys kernoortuigings nie (drie-eenheid, twee nature, maagdelike geboorte, wonderwerke, bose magte); Du Toit sou slegs aanvoer dat dit in ’n postmoderne raamwerk nie nodig is om presies te verstaan “hoe dit werk” nie. Maar is dit so? Noem Du Toit dit nie selfs “futiel” om hierdie fasette van ons geloof te verdedig nie? En as ek dink aan die maagdelike geboorte, waarom dan die vreemde vrae soos: Het Maria ooit geweet hoe konsepsie (bevrugting) werk en beteken “maagd” nie dalk net ’n ongetroude jong meisie nie? Interpreteer ek hom nou verkeerd as ek aflei dat hy impliseer Jesus was waarskynlik ’n buite-egtelike kind? Is dit nodig om so rof met geloofsake om te gaan?

Waarna Jackson nie verwys nie, maar wat destyds sterk kritiek uitgelok het, was die totale afwesigheid van enige positiewe uitsprake oor die gesag van die Bybel. Du Toit kom nooit verder nie as om die Bybel te noem die vertrekpunt van die Christelike geloof, of die oorsprongdokumente. Wat die gesag die Bybel is, kom nie ter sprake nie, wel die teendeel: dat ons nie die Bybel “outoritêr, absoluut en finaal” mag lees nie. Dis dan ook nie vreemd dat hy wesenlike aspekte van die evangelie kan afskryf nie.

Ek verstaan Du Toit so dat hy vyf sentrale geloofsoortuigings nie meer aanvaar nie, selfs onsensitiewe uitsprake oor sommige soos die maagdelike geboorte maak en geen aandag gee aan die gesag van die Bybel nie. Is die evangelie nie op die spel nie?

Prof. Danie Veldsman

Oor my interpretasie van Veldsman se artikel oor die leë graf voel Jackson ook erg beswaard. Hy meen Veldsman probeer juis die evangelie verdedig.

Dit gaan oor die sogenaamde herbegrafnis van Jesus. Drie persone sou Jesus die Vrydagaand herbegrawe het: Petrus, Tomas en Josef van Arimatea.

Hulle sou dit gedoen het sodat hulle dan sou kon vertel dat Hy opgestaan het. Op dié wyse wou hulle hul teleurstelling oor sy kruisdood oorwin.

Hy meen daar is heelwat steun in die Evangelies vir hierdie teorie. Ons lees in Johannes 20:4 dat Petrus stadiger as Johannes graf toe gehardloop het. Hy meen dis omdat hy natuurlik geweet het die graf is leeg. Verder meen hy die jong man wat die vroue aansê om aan die dissipels te gaan vertel dat Jesus opgestaan het, het doelbewus Petrus se naam genoem omdat hy een van die drie was wat Jesus se liggaam verwyder het. En dan die storie van die Joodse leiers dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Veldsman vra: Is Matteus besig om (sy eie) spore (en dié van Josef, Tomas en Petrus) dood te vee deur hierdie “komplot” aan die priesterhoofde toe te skryf?

Die implikasie is tog seker dat Matteus hierdie storie self uitgedink het.

Is dit hoe ’n mens omgaan met die Bybel? Stel hy nie die dissipels as bedrieërs voor nie?

Verder is Veldsman se volgende vraag opvallend: “Waarom sou die skrywer (d.i. Johannes) opnuut vroue as getuies van die verskyning kies?” Hierdie vraag impliseer tog dat die evangeliste willekeurig gekies het wie hulle as getuies van die verskynings in hul Evangelies sou inskryf.

Wat gaan ons nou glo en wat nie? Is die evangelie nie op die spel nie?

Prof. Julian Müller

Jackson gee ’n goeie samevatting van Müller se siening van die opstanding.


* Müller glo Jesus het opgestaan,

* maar dit was anders as Lasarus, wat net weer lewend geword het,

* en Jesus se opstanding het “geweldige implikasies vir gelowiges se daaglikse lewe”.

Maar omtrent ’n dekade lank vra die kerkvolk aan Müller wat hy bedoel met Jesus se opstanding. En hy wil nie sê nie. Maar ons weet daar is altyd onaanvaarbare interpretasies van die opstanding. In 2Timoteus 2:16-17 lees ons van twee mense wat wel die opstanding bely het, maar hul interpretasie daarvan word ’n “kanker” genoem wat “voortvreet aan die geloof”.

Paulus put hom uit (1Korintiërs 15) om ’n verduideliking van die opstanding te gee. Dit word die langste hoofstuk wat hy in hierdie boek skryf. Dit gaan dus nie net daaroor dat ’n mens die opstanding glo nie, maar oor die interpretasie van die opstanding.

Dit is dus nie onredelik as die kerkvolk aan ’n leier vra hoe hy die opstanding verstaan nie. En dit te meer omdat Müller jare lank nalaat om te antwoord op die vraag of die graf leeg was.

Die leë graf as toetssteen

Waarom is die leë graf die toetssteen vir ons interpretasie van die opstanding? Omdat daar onder die Jode en in die Nuwe Testament van geen ander vorm van opstanding sprake is nie.

Opstanding is in die Nuwe Testament liggaamlike opstanding of dis nie opstanding nie. In Paulus se groot hoofstuk oor die opstanding gebruik hy die woord vir “liggaam” tien keer.

Dit is dus geen wonder dat elke Evangelie eindig met die leë graf nie. En ook nie dat Veldsman dink as die dissipels die volgende dag wou vertel Jesus het opgestaan, sou hulle eers van die liggaam ontslae moes raak nie.

Jesus se opstandingsliggaam was ’n (radikaal!) veranderde liggaam, maar dit was nie ’n ander liggaam nie. Hy is met ’n vernederde liggaam in die graf in en Hy het met ’n verheerlikte liggaam uitgekom. Maar dit was dieselfde liggaam wat verheerlik is. En dít hoor ons Müller nie sê nie. Maar as hy dit nie sê nie, hoe moet ons weet of hy nie aan ’n ander “opstanding” as dié van Jesus dink nie? En dan is die evangelie op die spel.

Jackson is reg dat Müller baie maak van die misterie van die opstanding.

Maar Müller maak heeltemal te min daarvan. Hy het in werklikheid ’n arm opstandingsbeskouing. Jesus staan net hier en daar op – op onverwagse oomblikke in iets soos die glimlag van ’n kind, iets waarvan daar nie sprake is in die Nuwe Testament nie.

Die werklike misterie van die opstanding is:


* dat Jesus deur sy opstanding die eindopstanding ingelui het sodat die apostels geglo het die wêreldeinde is op hande;

* dat Jesus deur sy opstanding die Bose oorwin het;

* en dat Jesus ons deur die doop en die geloof in sy opstandingsliggaam inlyf sodat ons met ons sonde kan ophou en God met oorgawe kan dien.

Het ek die teoloë “verkeerd geïnterpreteer” en “in ’n vreeslike slegte lig gestel”?

*König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Content/In-Diepte/Nuus/1979/40ccfe64b009420b864ecee63f64e442/08-10-2009-10-05/Jesus_se_le%C3%AB_graf_is_die_toetssteen) dd 2009-10-08

Die Ou Man
14th October 2009, 11:43
Lasarus en Jesus is nie dieselfde

Julian Müller

Dat Jesus lewe en in die gelowige opstaan, het weinig te doen met ’n saaklike uitspraak oor ’n graf wat leeg is, skryf prof. Julian Müllerin antwoord op ’n artikel van prof. Adrio König.

Ek moet myself afvra waarom ek aan dié gesprek deelneem, met die wete dat dit vir baie gelowiges weinig sin maak en hulle selfs irriteer.

Ek doen dit met huiwering en net om een rede – en dit is omdat ek ook glo die evangelie is op die spel!

Dat Jesus lewe en in die gelowige opstaan, het weinig te doen met ’n saak*like uitspraak oor ’n graf wat leeg is. Dit het eerder te doen met die misterie van ’n geloofsverbondenheid met God.

God wat groter is as die magte van dood en vernietiging. Reg verstaan, bring die opstandingsboodskap jou tot die nederige, maar blye ontdekking dat jy ook ingesluit is in die lang tou mense aan wie die Opgestane verskyn (het).

Die ja- of nee-antwoord op die sogenaamde toetssteen-vraag verseker nog nie dat die opstanding “nut” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 17) gekry het in jou alledaagse lewe nie.

Dit het met veel meer te doen, soos die verrassende ontdekking dat die Here, op watter vreemde wyse ook al, ook jou lewe betree het.

En as jou geloofs*oog so oopgegaan het, word dit inderdaad moontlik om die lewende Here in selfs die eenvoudigste dinge van die lewe, soos die glimlag van ’n kind of selfs die bleek gelaat van ’n siek pasiënt te ontdek.

Gelaaide vraag

Die vraag oor die leë graf wat gedurig voor my gegooi word, is ’n gelaaide vraag. Gelaai met fundamentalistiese, teologiese uitgangspunte en met misverstande. Dit skep die indruk dat ’n “ja” daarop ’n opregte en onproblematiese belydenis behels.

Terwyl ’n “ja” daarop onafwendbaar ook ’n “ja” op ’n bepaalde teologiese paradigma is. Die vraag skep verder die indruk dat ’n eenvoudige “nee” ’n duidelike verwerping van die opstanding van Christus sou behels.

Terwyl ’n “nee” ook kan beteken dat daar nee gesê word op ’n bepaalde verstaan en interpretasie van die opstanding.

As iemand aan my die verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood (Johannes 11) sou vertel en vra of die graf leeg was, is die antwoord eenvoudig en onomwonde ja, want Lasarus se lyk het in die verhaal lewend geword.

’n Opgewekte lyk kan nie anders nie as om ’n leë graf agter te laat nie.

Is dit hoe ons oor Jesus se opstanding moet dink? Beslis nie. As ons in die Lasarus-kategorieë oor Jesus se opstanding sou praat, neem ons onnoembaar baie weg van die betekenis van sy opstanding. En dit is presies wat gebeur in die teologiese denkskool wat die leë graf die “toetssteen” maak.

Die taalkategorieë van “liggaamlik”, “fisiek” en “leë graf” wat in die Lasarus-situasie volmaak van toepassing is, word op Jesus se opstanding oorgedra, met die gevolg dat dit só versmal in betekenis dat ’n “ja” daarop ’n verloëning van die werklike betekenis van die opstanding sou inhou.

Dit is nie ’n nuwe debat hierdie nie.

Dit het weer en weer in verskillende wêrelddele in die loop van die laaste paar eeue na vore gekom. Die “leë graf” is telkens vanuit evangelies-fundamentalistiese oorde as die toetssteen voorgehou.

Verdeling en veroordeling

Met daardie toetssteen is verdeling en veroordeling gesaai, soos dit nou weer gedoen word. Tog kon dié toetssteen self nog elke keer nie die toets van die tyd en teologie deurstaan nie.

Waar kerke ’n teologiese ondersoek daaroor gedoen het, soos in my eie geval in 2006, en byvoorbeeld in die geval van prof. Lloyd Geering in Nieu-Seeland in 1966, is daar telkens tot die gevolgtrekking gekom dat die geloof in die opstanding van Jesus veel meer inhou as net ’n uitspraak oor ’n leë graf.

Die leë graf speel miskien ’n “toetssteen”-rol vir König en sy volgelinge, maar beslis nie in die Nuwe Testament nie. Al sou die historisiteit van die ontdekking van die vroue dat die graf leeg is bo twyfel vasgestel kon word, sou dit nog nie as bewys kon dien van die opstanding van Jesus nie.

Volgens die evangelies is dit nie die ontdekking van die leë graf wat lei tot die opstandingsgeloof nie.

Verskynings aan volgelinge

Die geloof in die opgestane Here vind sy oorsprong in die verskynings aan sy volgelinge. Volgens al die evangelies was dit nie die leë graf as sodanig wat Paasblydskap en opstandingsgeloof besorg het nie.

En selfs nie eens die vroue se getuienis oor die leë graf kon geloof by die ander bewerkstellig nie (Markus 16:11). Dit het selfs vir hulle na onsin geklink (Lukas 24:11).

Telkens is dit eers die misterieuse verskyning en verdwyning van Jesus self wat sy volgelinge tot geloof laat kom het. In Lukas gaan dit gepaard met die eet van ’n stukkie brood of vis (Luk. 24:31, 45).

In 1 Korintiërs 15, waarna König graag verwys, is daar nie ’n enkele verwysing na die leë graf nie. Daarenteen verwys Paulus na ’n aantal verskynings (vers 4-8).

En wat meer is, Paulus stel die verskyning van Jesus aan homself (Damaskus-pad) op dieselfde vlak as die vroeëre verskynings.
Lees ons Paulus se verhaal in Handelinge 9, is daar ook geen sprake van ’n “liggaamlike” verskyning nie.

Daar was ’n stem (Hand. 9:4) en daar word uitdruklik verklaar dat niemand iets gesien het nie (Hand. 9:7).

Dit strook met Paulus se gebruik van die begrip “geestelike liggaam” verder in 1 Korintiërs 15. König sê in die artikel dat Paulus die woord “liggaam” tien keer gebruik in hierdie hoofstuk, maar hy bly in gebreke om daarop te wys dat die opstandingsliggaam as ’n “geestelike liggaam” beskryf word.

Ons het geen begrip van wat ’n “geestelike liggaam” is nie en die beste wat ons daarvan kan sê, is dat dit ’n misterie is. Dit is definitief iets heeltemal anders as ’n lyk wat lewend geword het. Die beeld wat Paulus self gebruik, is dat dit net so verskil van ’n liggaam as wat ’n koringplant verskil van ’n koringkorrel.

Dit is ook veelseggend dat groot teoloë soos Alfred von Harnack, Karl Barth en Emile Brunner saamgestem het dat die opstanding van Jesus nie afhanklik gemaak moet word van die historisiteit van die leë graf nie.

Dít maak belydenis leeg

Hoe dieper ’n mens nadink oor die misterie van die opstandingsgebeure, hoe minder woorde het jy om dit te beskryf. Om met slagspreuk-belydenisse en toetsstene te werk is heeltemal onvanpas.

Om die belydenis van die opstanding wat, ons gelowig, maar stamelend uitspreek, te vervlak tot ’n ja of nee oor ’n leë graf, is om die belydenis self leeg te maak.

Dit is verbasend dat König Neels Jackson gelyk gee en ook verklaar: “Müller glo Jesus het opgestaan.”

Hoe is dit moontlik as ek nog nie die toets van die leë graf deurgekom het nie? Of werk König dalk met twee soorte gelowiges, dié wat die toets slaag en ’n ander, swakker kategorie wat dit nie slaag nie?

Of is dit dalk ’n aanduiding daarvan dat selfs hy moet erken dat die geloof in die opstanding van Jesus nie gereduseer kan word tot ’n enkele formule of een enkele manier van verstaan nie? En indien dit so is, wat is dan die funksie van die toetssteen, behalwe verdagmaking en veroordeling?

Wat my betref, bely jy die opstanding of jy doen dit nie. Enige kwalifikasies wat bygevoeg word, maak die belydenis nie ryker nie, maar armer.

Prof. Müller is ’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria .

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Content/In-Diepte/1978/d2ecef158f80454ea4415e3e1fb9e70a/14-10-2009-09-00/Lasarus_en_Jesus_is_nie_dieselfde) dd 2009-10-14