PDA

View Full Version : Kerke neem standpunt in teen Gretha se ‘man is vrou se hoof’



Stefanus
2nd August 2009, 18:06
Kerke neem standpunt in teen Gretha se ‘man is vrou se hoof’

Beeld (http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2544303,00.html) 01/08/2009 16:51 - (SA)
Johannes de Villiers,
Johannesburg

Me. Gretha Wiid.Die idee dat die man die hoof van sy vrou is, het die afgelope week sterk teenstand vanuit die Hervormde Kerk gekry.

Die man se oorheersing van sy vrou is eintlik ’n uitvloeisel van die sondeval en is sedertdien deur Jesus ongedaan gemaak, skryf dr. Gerhard Lindique, redakteur van dié kerkverband se amptelike nuusbrief, die e-Hervormer.

In ’n voorbladartikel lewer hy en sy vrou, Karien, sterk kommentaar op die debat oor geslagsrolle wat veral opgevlam het oor me. Gretha Wiid se ?Worthy Women-konferensie volgende week.

“Daar is die laaste tyd heelwat berigte in die openbare media oor die kwessie van die man as die hoof van die huis en dat ’n vrou haar man moet salf as koning.

“Dit lyk eerder asof die Bybelskrywers die boodskap wil oordra dat God die man en vrou voor die sondeval as gelyke partye geskape het om sy beeld te verteenwoordig. God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep (Gen. 1:27).”

Luidens die artikel is daar talle Bybeltekste wat die man en vrou uitdruklik as gelyke skepsels uitbeeld, soos Gen. 2:18 (die vrou is die man se “gelyke”) en Gen. 2:23 (die man verklaar die vrou is “soos ek”).

“Ná die sondeval lyk dinge egter anders. Nou word die verhouding tussen die man en vrou bederf deur sonde. ‘Na jou man sal jy hunker en hy sal oor jou heers.’ (Gen. 3:16)

“Genadiglik het Jesus ook hierdie gebroke verhouding kom herstel … Dan verstaan mens waarom Paulus, as hy in Efe?siërs 5 met die man en vrou praat oor hul onderdanigheid, begin met die oproep: ‘Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.’ Ná Jesus Christus gekom het, is man en vrou weer mekaar se gelykes.”

In ’n Christelike huwelik “is daar nie meer sprake van hoofskap soos in die geval van ’n koning wat met mag en gesag regeer nie … In so ’n geval sterf die eie ek, en gee ek my lewe vir my man of vrou.

“Die onderdanigheid of respek en liefde wat van man en vrou gevra word, geld in ’n verhouding waar Christus die Koning is, vir albei partye.”

Ook die NG Kerk het afskeid geneem van mans se hoofdyskap oor hul vroue, sê dr. ?Nelus Niemandt, assessor van dié kerkverband se algemene sinode.

Die NG Kerk het 20 jaar gelede die kerklike ampte vir vroue oopgestel en bevind vroue en mans is gelykwaardig.

“Vir my is die logiese afleiding dat daar ook binne die huwelik geen Bybelse aanduiding is dat sekere dele van die huwelik kenmerkend van die man of die vrou is nie. Hul rolle is aanvullend en komplementêr. Hulle kan self besluit hoe hulle dié rolle uitleef.”

Stefanus
2nd August 2009, 18:11
Ons ‘vroue-Angus’

Beeld (http://jv.news24.com/Rapport/Hoofartikels/0,,752-800_2542094,00.html) 25/07/2009 19:34 - (SA)

Sedert die evangelis Angus Buchan die eerste keer met sy Mighty Men-saamtrekke op die toneel verskyn het, is hy gereeld van seksisme beskuldig. In die briewekolom van hierdie koerant het menige leser mond uitgespoel daaroor dat geen vroue by dié saamtrekke toegelaat word nie en oor Buchan se standpunt dat die man sy regmatige plek as hoof van die huishouding moet inneem en die vrou haar rol as onderdanige tuisteskepper gelate moet aanvaar.

Hoe ironies dat me. Gretha Wiid, die sogenaamde huweliksberader en seksopvoeder wat eersdaags die Worthy Women-konferensie gaan aanbied en reeds begin bekend staan as die vroue-Buchan, haar skuldig maak aan presies dieselfde voorskrifte en opdragte. Slegs vroue sal dié konferensie mag bywoon en sommige van Wiid se uitsprake laat Buchan s’n klink soos dié van ’n verligte Renaissance-man!

Dis “vroue se plig om hul mans se gesag te erken sodat hulle gerespekteer kan voel”, is een van Wiid se kernboodskappe. Ook raai sy vroue onder meer aan om na hul mans as hul “konings” te verwys.

’n Mens kan nie anders nie as om te wonder of Wiid ooit stop om te dink wat die gevolge kan wees van sulke uitsprake in die konteks van ’n land waarin die mishandeling en verkragting van vroue een van die grootste sosiale euwels is. Wat is die boodskap wat sy uitstuur aan ’n vrou wat fisiek of emosioneel deur ’n man afgetakel word? Dat sy haar “plig” moet uitvoer en haar man, haar “koning”, se “gesag moet erken”?

Ag nee wat. Hoewel ons nog ’n lang pad moet stap voordat geïnstitusionaliseerde seksisme in ons land geheel en al uitgeroei is, het ons die laaste klompie jare goeie vordering gemaak. Wiid se seksistiese boodskap – en dít onder ’n Christelike dekmantel én met ’n goeie skoot seksuele ondertone – is allermins die soort boodskap wat ons nader aan ’n nie-seksistiese samelewing gaan bring.

Stefanus
2nd August 2009, 18:13
Gretha Wiid gooi die slaapkamerdeur oop!

Beeld (http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2542043,00.html) 25/07/2009 16:59 - (SA)
Johannes de Villiers
Johannesburg

‘Gaan na jou binnekamer. Sluit die deur,” lui Matteus 6:6.

Maar Gretha Wiid het die slaapkamerdeur wyd oopgegooi. Sy wil práát.

Sy kry soms briewe van mense wat kla dat sy te reguit oor intieme sake gesels, vertel dié spreker, huweliksberader en seksopvoeder wat eersdaags die Worthy Women-konferensie in die Jakarandastad gaan lei en reeds in sommige kringe die “vroulike Angus” genoem word.

“Maar die oorweldigende meerderheid briewe is van mense wat sê: Dankie Gretha, dat jy oor seks praat op ’n manier wat ons verstaan.”

Wiid het in die laaste jare ’n suksesvolle bediening gebou rondom werksessies waar sy mans en vroue leer om alle aspekte van die huwelikslewe – ook die intiemste dele – op ’n heilige, dog avontuurlustige wyse aan te pak.

Op haar webwerf word verskeie slaapkamerwenke met lesers gedeel in taal wat min aan die verbeelding oorlaat.

“Verras hom in die garage as hy terugkom ná werk,” raai sy vroue aan. “Niks so heerlik soos ’n warm bonnet nie.”

Wanneer vroue tande borsel, skryf sy, “kan jy gerus net jou broekie en jou stiletto’s aanhou – die vooroor gebuk om te spoel, sal hom liries laat!”

En: “Loop kaal onder jou japon rond terwyl jy doelbewus iets doen dat jou man dit moet sien. En as die kinders nog daar rondhang, word jy die spreekwoordelike verbode vrug.”

Sy gee ook reguit wenke hoe vrome vroue die skeermes, on-derklere en telefoongesprekke kan inspan om hul eggenote te verlei.

Boonop wy Wiid ’n groot deel van haar gereelde “Eva se lyf”-lesings daaraan om mans en vroue aan te moedig om meer avontuurlustig in hul liefdeslewe te raak.

Hoewel sy nie op die Worthy Women-saamtrek dié tipe onderwerpe gaan aanroer nie, is reguit praat deel van haar styl, het Wiid die afgelope week gesê.

’n Kernaspek van haar boodskap is dat mans die plig het om hul vroue mooi en gelief te laat voel terwyl dit vroue se plig is om hul mans se gesag te erken sodat hulle gerespekteer kan voel. ’n Smeulende intieme lewe is deel van só ’n gesonde huwelik.

“Ek en my man praat reguit oor seks, maar eintlik is ons baie konserwatief.”

Hulle maan mense teen buitehuwelikse seks, pornografie, owerspel en ’n magdom ander vergrype waarmee hulle self voor hul bekering lank geworstel het.

En hulle praat met mense in ’n taal wat hulle kan verstaan. Reguit en in die geval van tieners, loslit. “Jy kan nie in stywe taal oor seks praat nie,” sê Wiid.

Gevolglik sluit sy een van die artikels op haar webwerf af met die boodskap: “Is dit nie glorious om te weet dat ál hierdie idees in lyn is met God se wil nie! Mag jy vergeet van die bytjies en die blommetjies … en verander in ’n perdeby met ’n venus-fly-trap!”

Stefanus
2nd August 2009, 18:18
Smeulend, maar sedelik

Beeld (http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2542040,00.html) 25/07/2009 16:57 - (SA)
Johannes de Villiers
Johannesburg

“Ek dink dit was God se bedoeling dat mans en vroue in vreugde liefde kan deel,” meen Gretha Wiid. “Nie dat ons dit moet vrees en in die donker moet wegsteek nie.”

Al hoe meer Afrikaanse Christenvroue deel haar sentiment. Waar gelowige vroue vyf jaar gelede nog beskeie was, is daar die laaste jare ’n stortvloed glanstydskrifte, seminare en charismatiese sprekers wat smeulende seksadvies met Bybelse sedelike norme kombineer, sê kenners van die Christelike vrouemark.

Intiem, ’n Christelike tydskrif waarvan die jongste uitgawe opskrifte soos “Bobaas bedpret vir die winter” en “Seks met ’n boepie” bevat, is twee jaar gelede van stapel gestuur en is só ’n sukses dat ’n Engelse ekwivalent ook onlangs die lig gesien het. Boonop word die tydskrif, wat aanvanklik net vier keer per jaar sou verskyn, nou al ses keer per jaar gepubliseer.

Suid-Afrikaners is selfs meer gretig vir dié soort leesstof as buitelanders. Jody Boshoff, waarnemende redakteur van Intiem, sê sy is nie bewus van soortgelyke religieuse sekstydskrifte in die buiteland nie.

“Seks is die gom wat die huwelik aanmekaar hou.” Intiem pak sy onderwerp so smaakvol aan, meen sy, dat mense dit op hul koffietafels kan uitstal. Maar dit word in ’n klein formaat gedruk sodat die vroue wat nog nie hul belangstellings aan die groot klok wil hang nie, dit in hul handsak kan bêre.

blue
Kommentaar:
Smeulend, maar sedelik, 26/07/2009, Gretha Wiid

Vir almal wat wil weet waarvoor ek en my man regtig staan: Ek het vanaand lank gewroeg oor die skrywe van hierdie kommentaar. maar helaas?..Ek het die afgelope week eers werklik kennis gemaak met die (impak en) wreedheid van media. Ek IS nie oom Angus nie, en het gedink om 'n doodgewone konferensie te hou oor die waarde van die vrou. Maar sjoe? Kyk waar trek ons nou!

Omdat ek iemand is wat met my hart op my mou loop, en opreg sê wat in my binneste aangaan, het ek die fout gemaak om te glo dat die berigte ons harte sal reflekteer. Maggies! Was ek verkeerd! So deeglik as wat ek nog altyd bewus was dat koerante en tydskifte meer sensasie publiseer as konteks, het ek nou eers besef hoe maklik publiek 'n verkeerde prentjie kan kry met sinne buite konteks.

Die feit dat enkele sinne geselekteer is en onmoontlik binne konteks geplaas kon word, laat ons bediening op plekke soos 'n seksistiese, seksbehepte, opsoek-na-oom-angus-status lyk. Enige iemand wat ons ken, sal weet dat dit bitter ver van die waarheid is. Ons glo dat ons in die laaste dae voor Jesus kom al meer mense sal kry wat God se Woord wil afwater tot iets wat uitgedien is. God was, is en sal vir altyd wees. So ook Sy Woord!
Seks is een van die onderwerpe waar so baie mense al seergekry het. So baie kinders van die Here het basiese vrae oor God se grense. Ons is deeglik bewus van die Satan se aanslag op huwelike - veral rakende hierdie seksuele dinge.

Om van die aanslag op ons jeug nie te praat nie! Die artikels van die afgelope tyd laat ons by tye walglik en vulgêr klink. Dit, terwyl ons staan vir reinheid voor God, en nie skroom om ons uit te spreek oor dinge soos seks voor die huwelik, saambly en selfs konserwatief genoeg in ons siening is om selfs tipies aanvaarde seksuele goed soos hulpmiddele (lees seks-speelgoed), ens te verwerp nie! Ek klink in die koerante soos die nuutste seks-tannie van Suid-Afrika!

Ek wil elkeen wat hier lees aanmoedig om ons Eva se Lyf en Adam se Hart DVD's te bekom. As jy dalk dink dat ons daarop uit is om vinnig 'n paar rand te maak met die suckers wat ons goed gaan bestel - laat weet gerus my kantoor. Ek stuur vir jou gratis 'n kopie. Jy sal (glo ek) tot die besef kom dat my tong-in-die-kies aanslag nog nooit walglik was nie. En as jy ooit 'n man opspoor waar ek as spreker aan mans grafiese seksraad gegee het, eet ek my ou tekkies op. Dit is 'n leuen uit die put van die hel!

Dat my man ooit dinge stukkend gegooi en rondgestamp het in ons huis, is 'n verdere leuen. Die waarheid is dat ek van mening is dat ons meer vir God se koninkryk gaan beteken as die wêreld sien dat ons real mense is, wat ook maar sekere vrae het en vlees en bloed huwelike het -nie hoogheilige suurknolle, wat in skynheiligheid rondloop nie! Gewone mense met buitengewone passie vir Jesus en die waarheid van God!

Dankie vir die kinders van die Here wat biddend vir God vra wat die waarheid is rondom ons bediening, en hulle laat lei deur 'n Gees van onderskeiding.

Dankie ook vir die mense wat mure van vuur om ons toebid, en saam met ons staan in die waarheid van God se Woord. Vir die mense wat ons bediening oordeel en 'slander': every curse, for us, will be turned into a blessing.and no weapon formed against us shall prosper! Nie met mag en krag, maar deur Sy Gees sal ons slaag!in die naam van Jesus, die Naam bo allle name! En as oom Angus se span ooit hierdie lees?.ek prys die Here vir iemand soos Oom. You have not only been anointed?you have been appointed!

Stefanus
2nd August 2009, 18:23
Die koning se diensmaagd

Beeld (http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2542041,00.html) 25/07/2009 16:57 - (SA)
Johannes de Villiers
Johannesburg

So rondom halftwee Donderdagmiddag het ?Gretha Wiid, geslagsberader en Worthy ?Women-fasiliteerder, aan die etenstafel in haar huis in ’n keurige woonkompleks noordoos van Pretoria gesit toe sy ’n gepiep van die boonste verdieping af hoor. Haar oë het verhelder soos dié van ’n kind wat die klokkies aan Sinterklaas se slee hoor.

“Dis my man se wekker,” het sy gesê, en toe in die stem van iemand wat oor ’n baba koer: “Hy het gister koors gehad. Hy was só siek.”

Kort daarna het sy geborrel. “Jis, ek het ’n mooi man. Ek het ’n stunning man. En hy is lief vir die Here, hoor.”

En toe haar man, die gespierde Francois, medebestuurder van die Gretha Wiid-bediening en pa van haar vier dogters, in die vertrek verskyn, het sy haar gesprek onderbreek, glimlaggend na hom opgekyk asof na die opkomende son en gesê: “Hah, hier kom my man! En hy is wakker. Sien. Jy het nou-nou nog gedoedoe. My skat. Hallo, my lammie.”

Daar is geweldig baie sigbare liefde in die Wiid-huwelik.

Gretha het ’n ruk tevore in ’n swart BMW daar aangekom, in ’n hemelblou snyersjassie geklee, haar hare, grimering en juwele foutloos soos ’n doelgerigte sakevrou, die selfoon altyd byderhand sodat sy met haar bemarker kan gesels.

Sy is tot eie erkentenis ’n go-getter, maar as sy haar man sien, raak sy week.

Hy is haar vors, die hoof van haar huis.

As deel van haar bediening leer sy vroue om na hul mans as hul konings te verwys. Dis ’n wenk wat sy self toepas – “jy kan mos sien hy is koningmateriaal”, grap sy terwyl sy haar Francois se fris bobeen tik.

“En soms speel ons koning-koning,” skerts Francois met ’n vonkel in sy oog, waarna albei lag.

Dit was nie altyd so nie. Die Gretha Wiid-bediening, wat reeds ’n paar boeke en DVD’s oor geslagsvoorligting uitgereik het (die seksvoorligtingboeke het glo ná net ’n maand en ’n half hul tweede druk opgelewer), reik ook binnekort ’n CD uit met die titel Francois se ge tuienis oor owerspel. Dit gaan oor persoonlike ervaring.

“Ek en my man het pornografie in ons huwelik gekyk. Kyk broer, ons was heel goddeloos. Ons was daai anderkant die treinspoor, ver-van-die-kerk mense.”

Francois het haar verneuk. Hy het sy enorme krag (sy boarms is so dik soos renosterpote) gebruik om goed in die huis rond te stamp en Gretha het hom begin vrees.

Nadat sy haar bekeer het, het sy slinks te werk gegaan om hom ook na die Here te lei – sy het skelm sonneblomolie op haar handpalms gesmeer en dan aan sy wange gevat as hy van die werk af kom; só het sy hom vir God gesalf.

Mettertyd het hulle ander paartjies van hul ervaring vertel.

“Ons het agtergekom dat baie paartjies ’n pad met owerspel stap. Maar niemand praat daaroor nie.”

Gretha het gepraat. Kort voor lank het sy vol sale getrek waar sy vroue toegespreek het oor enigiets van hul Bybelse plig om hul man te respekteer tot sensuele onderklere. Vroue se plig om aan hul mans onderdanig te wees was ’n gereelde tema, en dan het Gretha probeer verduidelik dat onderdanigheid bloot die respek beteken wat ’n vrou aan haar eggenoot moet betoon en nie algemene ondergeskiktheid aan die Adamsgeslag nie.

Francois vergesel haar dikwels en sit stil in die agterste bank terwyl sy vrou oor sy stryd met pornografie en owerspel gesels.

Gretha was gedrewe. Soms het sy vrou-alleen voor sale vol volwasse mans gestaan en aan hulle lesings met grafiese seksadvies gegee.

Preek-preek het sy haar opgewerk van ’n kamer waar hulle in Pretoria-Noord van aalmoese geleef het tot die ruim huis vol duur meubels en kuns waaruit hulle nou die Gretha Wiid-bedieninge bedryf. Benewens haar en Francois het die bediening twee heeltydse werkers.

Roem het ’n geruime tyd gedreig om aan die Wiid-deur te klop toe die koerantopskrifte verlede week (“die kernontploffing” noem Gretha dit) aangekondig het daar is ’n vroue-Angus op pad en haar naam is Gretha Wiid.

Maar met die roem het ook kritiek gekom.

Ja, sy vra R175 vir die oggend se diens in die Moreletapark-aanbiddingsentrum (Angus Buchan het weekbesoekers aan die Mighty Men-saamtrek R50 gevra), maar dis nie om ryk te word nie.

“Die vroue kry daai dag kos wat gesupply word deur Woolworths! Ek gee nie vir hulle ’n kospakkie wat iewers in ’n polystyrene-bakkie gegooi is nie.”

Elke vrou kry ’n botteltjie salf (om hul mans te salf) en sy kry ’n gebedsboekie (deur Wiid geskryf).

Die onderwerp maak Wiid kwaad, laat haar met albei hande op die tafelblad hamer.

“Daar het iemand op een van die blogs geskryf ek moet dié dag net genoeg water drink, anders kry ek dalk ook ’n tweedubbele hartaanval. Moenie sulke dood oor my spreek nie!”

Nogtans meen sy haar skouers is breed genoeg vir dié aanvalle en sy glo vas sy sal die strik van hoogmoed vermy.