PDA

View Full Version : Spangenberg se Jesus sal sommige lesers skok



Die Ou Man
4th October 2009, 11:52
Spangenberg se Jesus sal sommige lesers skok


Johannes de Villiers

Jare voordat hy een die vernaamste Afrikaanse gesigte van die liberale teologie geword het, was Sakkie Spangenberg ’n katkisant in ’n NG gemeente in Germiston.

Tot op daardie stadium, vertel hy, het hy ’n Jesus leer ken wat hy die “Sondagskool-Jesus” noem – ’n wit geklede Figuur wat wonderwerke gedoen, gelykenisse vertel en die Spangenberg-gesin beskerm het.

Maar in die katkisasieklas het hy ’n nuwe, meer teologies komplekse Jesus van die Heidelbergse Kategismus teëgekom. “Hy móés geoffer word om die Vader se woede oor die sonde tot bedaring te bring. God se weerligwoede sou die ganse mensdom verpletter, maar Jesus se kruis het die weerligafleier geword.”

In teenstelling met die eenvoudige Jesus van sy Kinderbybel het hy in die boerematriek geleer van ’n Jesus wat deel van die Drie-eenheid was, twee nature gehad en die erfsonde ongedaan kom maak het.


En toe hy boonop ná skool in die Bybelse wetenskappe gestudeer het, het hy nóg ’n nuwe Jesus ontdek, die historiese figuur wat in die oë van baie moderne argeoloë en filoloë ’n politieke boodskap teen die Romeinse owerheid verkondig het, viervoet binne die Judaïsme gestaan het en volgens kritiese Bybelkenners in elke Bybelboek effens anders geskets word.

Spangenberg het ontdek daar is ’n verskeidenheid Jesusse. Een word jou geleer as jy ’n kind is, een word in die belydenisskrifte beskryf, en ander (die wysheidsleraar wat in Markus beskryf word, die misterieuse figuur in Johannes, die hemel*kryger van Openbaring, en nog) word in teologiese fakulteite gedekonstrueer sonder dat gewone kerklidmate ooit veel daarvan vertel word.

Mettertyd het Spangenberg begin om in die openbaar van laasgenoemde akademiese onderskeid tussen die teologiese en historiese Jesus te praat, sodanig dat hy vir baie Afrikaanse Christene die versinnebeelding van ’n gevaarlike dwaalleer geword het. Ses jaar terug het die NG Kerk se ring van Lyttelton bevind sy sienings rym nie met die Christendom nie, en in die daaropvolgende jare het hy selfs verder van die gereformeerde hoofstroom beweeg.


Die kulminasie van dié loopbaan het pas op boekrakke verskyn as Jesus van Nasaret, ’n lywige boek waaraan Spangenberg die laaste tien jaar geswoeg het en waarskynlik die mees omvattende populêre inleiding tot die kritiese Bybelwetenskappe van die laaste twee of drie dekades wat al in Afrikaans verskyn het. Vir die eerste keer publiseer Spangenberg in die taal van die Gereformeerde susterkerke ’n boek wat dieselfde doen as wat Karen Armstrong en Bart Ehrman al in Engels gedoen het – die popularisering van ’n gesprek wat dekades lank onder Bybelwetenskaplikes en progressiewe teoloë gevoer word, maar nie juis aan kerklidmate bekend gestel is nie.

“Daar is natuurlik voorlopers op akademiese terrein,” het Spangenberg onlangs vertel. “Ek het nie net van Ferdinand Deist geleer nie, maar ook van Jimmie Loader, Willem Vorster, Andries van Aarde, Jurie le Roux, Willem Prinsloo en verskeie ander oorsese akademici soos Geza Vermes en Cees den Heyer.”


Daar is heelwat in die boek wat vir party mense skokkend sal wees. Hy skets uit ’n historiese oogpunt hoe die geloof van Israel gaandeweg uit ’n politeïstiese voorganger ontwikkel het, ’n geskiedenis wat erg van die Bybelse vertelling van die aartsvaders en die eksodus afwyk. In Spangenberg se boek lees mens daar was nie ’n grootskaalse uittog uit Egipte nie, die Wet is nie eensklaps aan die mens bekend gestel nie en die God van die Bybel was maar een van verskeies wat deur die antieke Hebreërs aanbid is.


Hy ontleed elke “Jesus” aan die hand van die jongste tekskritiese en argeologiese getuienis. Uiteindelik het dit hom gebring tot op ’n punt waar hy van die verskillende weergawes van Jesus as “karakters” praat, ’n woordkeuse wat hom al baie omstredenheid op die hals gehaal het.

“Vir my was Jesus van Nasaret in die eerste plek ’n Joodse man wat die Joodse godsdiens van sy dag beoefen het. Hy het nie in ’n Drie-eenheid geglo nie en ook nie die siening gehuldig dat Hy oor twee nature beskik, naamlik ’n goddelike en ’n menslike een nie. Die hele idee van die erfsonde maak geen deel uit van sy prediking nie. Hy verkondig net mooi nêrens dat Hy gekom het om Adam en Eva se oortreding in die Tuin van Eden om te keer nie. Vir Hom sou al hierdie goed vreemde idees gewees het. Dis sienings van teoloë uit die vierde en vyfde eeu.”

In Jesus van Nasaret is dit duidelik dat Spangenberg al verskeie van die debatte agtergelaat het waarmee die kerk nog worstel. Oor die letterlike opstanding van Jesus en die maagdelike geboorte word daar nie eens gedebatteer nie, die feilbaarheid van die Skrif word as ’n gegewe aanvaar en Spangenberg verduidelik uit ’n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en Jesus gelewe het.


Is dit dan ’n volledige sekularisering van die Bybel? En kry hy nog enigiets geestelik uit die teks?

“Vandat ek besef het dat Jesus se prediking nie oor ’n sogenaamde ‘hiernamaals’ gaan nie en dat Hy ’n Joodse man was wat tuis was in die vroeë Judaïsme, het die lewe hier en nou vir my al hoe belangriker geword. Ek leef net maar een keer en ek moet nou so leef dat ander daarby baat kan vind en sodat my kinders ook ’n aarde sal hê waaroor hulle opgewonde kan raak. ’n Aarde met skoon riviere en oseane, plante, diere, visse, voëls en noem maar op.”

Uit: Rapport (http://www.rapport.co.za/Content/Boeke/Nuus/2296/addff96b6061418cbd87931a673cd5d3/03-10-2009-02-47/Spangenberg_se_Jesus_sal_sommige_lesers_skok) dd 2009-10-03

Stefanus
18th June 2011, 09:08
Om beter kerk te wees

Beeld: Henk Gous. (http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Om-beter-kerk-te-wees-20110613)


As iemand die kerk verlaat het omdat hy nie glo dat Jesus Christus die Seun van God is nie, dan moet hy dit as die ware rede noem, skryf Henk Gous. Dié NG leraar reageer op Sakkie Spangenberg se redes waarom hy buite die kerk staan en Neels Jackson s’n waarom hy binne die kerk bly.

As ek lees en luister na baie mense wat die kerk kritiseer, dan dink ek aan ’n gesprek met iemand wat sy vrou verlaat het. Dit het omtrent so verloop: “Jy moet hoor hoe lelik was my eks. Dis die redes hoekom ek weg is van haar. O ja, ek het ook ’n skelmpie gehad.”

Iemand wat sy vrou/haar man verlaat het, teken soms daardie persoon ekstra lelik, want dit maak my optrede meer aanvaarbaar, ook vir myself. As ek kritiek teen kerk en geloof hoor, raai ek dat sulke mense soms dieselfde tegniek gebruik. Teken die kerk ekstra lelik. Beklemtoon die werklike plooie en grimeer dit opvallend. Trek lelike strepe op sy/haar foto.

Toe ek die artikel van prof. Sakkie Spangenberg (“Ses redes hoekom ek nie deel van die kerk wil bly nie”) lees, het ek weer dieselfde gevoel gekry: Hy maak kerke onbillik lelik. Kerke benodig kritiek, maar dan billike kritiek. Ek verwag billikheid. Daarom staan ek meer gemaklik saam met Neels Jackson met sy redes hoekom hy wel in die kerk wil bly: eerlik oor foute, maar gee billike erkenning oor geloof en goeie dade.

Ek wil graag die billike én onbillike redes vat, en soek na regstellings om beter kerk te wees. Dalk kan dit vir sommige buitestanders tog makliker maak om tuis te wees in die kerk.

Ek skryf wel met een groot beperking: Wat bedoel ek met “kerk”? Kerke is so uiteenlopend soos die kleure van die reënboog.

Ek kan dus hoofsaaklik skryf oor my eie NG Kerk en lidmate wat ek oor jare heen as predikant baie persoonlik leer ken het. Ek hoop dis ’n betroubare steekproef.

Kerke is families, nie magstrukture nie. As ek dit sê, sal mense my dadelik wys op die enorme mag wat binne families en kerke uitgeoefen word, en veral die skandelike magsmisbruik somtyds steeds. Dis egter juis in ’n kerk waar die boodskap van liefde magsgebruik probeer omswaai na iets gesonder as elders in die samelewing. In my gemeente is die enigste toelaatbare mag die oortuiging van liefde waar mense vrywillig deelneem. Gelukkig het predikante en spesifiek NG kerkstrukture die (soms baie ongesonde) mag van die verlede verloor. Ons kan slegs magteloos probeer oortuig.

Kerke speel oop kaarte. Spangenberg gebruik die sameswering-tegniek (conspiracy theory). Hy beweer dat kerke (lees: ongenoemde magsgroepe) mense gevange hou en onwaarhede verkondig. Hy noem dan sy eie standpunte (dat Jesus eintlik Joods en
staatsterroris was) as die betroubare standpunt. Die sameswering is dan dat alle dominees hierdie “feite” eintlik weet, maar verkies om ’n verdraaide, legendariese Jesus te verkondig.

Hierteenoor: Ek het elke standpunt wat Spangenberg neerskryf, gehoor tydens my teologiese studies, dit deurdink, maar tot ’n ander gevolgtrekking gekom as hy. Predikante is mense wat uit eie oortuiging glo dat Jesus Seun van God is en dat die Bybel betroubaar is, en dat die Bybel nie legendariese uitbouings oor ’n mensie Jesus van Nasaret is nie.

Maar kom ons speel dan almal oop kaarte. As iemand die kerk verlaat het omdat hy nie glo dat Jesus Christus Seun van God is nie, dan moet hy dit as die ware rede noem. Dan is sy egskeiding as gevolg van sy nuwe liefde, nie sy eksvrou se plooie nie. As iemand die Bybel as antieke boek vol legendes beskou, dan moet so iemand dalk skuif na die departement letterkunde eerder as om teologie te doseer.

Kerke soek deurlopend na God se wil en is hervormbaar. Ek het persoonlik in 1986 beleef hoe die NG Kerk sy foutiewe interpretasie van die Bybel oor apartheid erken en bely het. Ek hoor gereeld hoe uiteenlopende standpunte in kerke genoem en deurdink word. Dit wat Spangenberg as uitgediende leerstellings beskou, is reeds aan die toets van denke deur (hopelik) ewe intelligente persone onderwerp en nie as uitgediend bevind nie. As die toetsproses gebeur het en iemand verskil steeds, dan is die eerbare ding om ’n ander groep te kies om mee te assosieer. Die Nuwe Hervorming, waartoe Spangenberg behoort, is so ’n groep. My waarneming is dat hul getalle nogal baie soos die klein politieke partye is: ’n groot naam met ’n leë stadion.

Kerke geniet die natuurwetenskappe as fassinerende studie oor God se handewerk. Al glo sekere subgroepe in die Christendom dat die aarde 6 000 jaar oud is, is die hoofstroom Christene in Suid-Afrika nie anti-natuurwetenskap nie. Die NG Kerk vra nie mense om in ’n antieke drieverdieping-heelal te glo nie. Ek as predikant gebruik die beeldspraak van die “hemel daar bo” as presies dit: beeldspraak.

Kerkfamilies sluit mense van alle geloofsfases in. Mense met ’n naïewe geloof dink baie swart-wit en verkies onveranderlike sekerhede. Mense met ’n kritiese geloof kan saamleef met onsekerheid en voortgaande soektogte. Kerkmense stry ongelukkig met mekaar oor inhoudelike sake sonder om te besef dat ’n denkstyl en geloofsfases onderliggend aan hul verskille is. ’n Familie probeer ruimte maak vir verskillende geloofsfases, maar ons sukkel daarmee. Dis waarvoor leierskap nodig is, om die uiteenlopende familielede te help om in liefde mekaar te verstaan en te aanvaar.

Intussen probeer hierdie kerk maar soveel as moontlik praktiese liefde uitleef. Wanneer ons doelgerig saam werk, verskil ons min.


661

Stefanus
18th June 2011, 09:12
Kerk dalk weer relevant as laertrek ophou

deur Dr. Abel Pienaar van Moreletapark skryf (http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Kerk-dalk-weer-relevant-as-laertrek-ophou-20110616)


Ek wil dankie sê vir dr. Henk Gous. Nie omdat ek dink sy artikel, “Om beter kerk te wees” (Beeld, 14 Junie), dra veel by tot die oop religieuse gesprek nie, maar omdat Gous met dié artikel net weer illustreer hoekom die kerk in sy wese onhervormbaar is.

Hy begin deur te sê dat hy gegrief voel omdat mense soos prof. Sakkie Spangenberg die kerk “onbillik lelik” kritiseer. Hy sê hy dring aan op billikheid. Nou wonder ek: Is dit billik om ’n onkritiese stelling te maak en dan van postmoderne mense te verwag om jou ernstig op te neem?’

Sy stelling is: “Predikante is mense wat uit eie oortuiging glo dat Jesus die Seun van God is en dat die Bybel betroubaar is, en dat die Bybel nie legendariese uitbouings oor ’n mensie Jesus van Nasaret is nie.”

Dit beteken predikante en die kerk glo wat hulle glo bloot op grond van hul oortuiging. Geen kritiese denke, geen eietydse verstaan, geen wetenskaplike model en geen begrip vir die verskille tussen logos (empiriese) en mythos (metaforiese) nie. Dit is eenvoudig waar, Jesus is die Seun van God en die Bybel is waar.

Op grond waarvan is Gous en sy medepredikante so oortuig dat hul verstaan van God die regte een is? Is dit nie onbillik van Gous om sy geloofsaannames as universele waarheid te verkondig nie? Hy kan tog nie een van sy geloofsaannames bewys nie.

Dié onkritiese selfinsig van hom bring mee dat hy nie eens besef dat hy biljoene mense van ander gelowe uitsluit met ’n stelling soos “. . . die kerke soek deurlopend na God se wil en is hervormbaar”. Sy aanname is dat sy prentjie van God die enigste korrekte een is, en daarom kan die kerk nou net konsentreer om Sy wil te vind. Regtig?

Dít terwyl elke vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese terrein ons verstaan van ons wêreld, onsself en natuurlik ons verstaan van God daagliks uitdaag. Dis eenvoudig net nie meer so maklik om mense vanuit ’n magsposisie te vertel wie God is nie.

Dalk sal die kerk weer relevant word in die soeke na ’n eietydse spiritualiteit as dit ophou laer trek.