PDA

View Full Version : Wat het werklik met Andries Pretorius se arm Gebeur?



Die Ou Man
24th January 2010, 09:03
Wat het werklik met Andries Pretorius se arm Gebeur?

Deur: Waldor (http://woes.co.za/artikels/vertoon/55298_Wat_het_werklik_met_Andries_Pretorius_se_arm _Gebeur.htm)

Etlike jare gelede moes ek vir iemand iets voorberei vir die viering van Geloftedag. Daar in Unisa se biblioteek het ek op ou Afrikana afgekom waar daar meer uitgebrei is aangaande die gebeure rondom die slag van Bloedrivier as wat ons normaalweg in meeste van die skole geleer is. Ek was aangedaan, maar ook half die donder in omdat daar nooit op skool meer uitgebrei is aangaande die werklike gebeure op en rondom daardie dag nie. ‘n Onderwyser wat sy sous werd is en wie se onderwys ‘n roeping was sou uit sy pad gegaan het om sy vak so bietjie aan te vul.

Daar is ‘n romantiek verweef in sekere gebeure. Die impak wat hierdie onvermelde aspekte op ons wese en karakter kan uitoefen gaan verlore weens die apatie van diegene wat verantwoordelik is om daarna om te sien dat ons van ons kinderdae af hieraan gekoppel word. Die heldedade van diegene wat ons voorafgegaan het moet dien as rigtingwyser en moet ons inspireer. Die versuim om dit ordentlik aan ons tuis te bring is ‘n nasionale onreg . Ongelukkig besef diegene wat hulself geroepe sien om onderrig te gee, gladnie dat die ‘akkurate’ verering van ‘n heldedom, die aanhoorder inspireer om die goeie en sterk voorbeelde te volg nie. ‘n Onderwyser wat ‘n passie vir sy vak het en werklik geroepe is, sou vir my en andere in ons vorming jare, versterk en verinnig het met die ‘storie agter die storie’

Ons kan almal die portret van Andries Pretorius onthou. Die netjiese hoë hoed, die langerige donker baadjie, die voorlaaier in die regterhand, maar dan, die linkerarm wat in ‘n armslinger opgebind is met die duidelike verband wat daaronder uitsteek... het my as kind altyd gefassineer. Min wetende dat daar rondom die verbinde hand, ‘n hele verhaal gedraai het. ‘n Stukkie geskiedenis wat baie meer lig gewerp het rondom die gebeure op daardie dag van 16 Desember 1838.

Net gou dit ook... Ek weet nie hoeveel mense dit weet nie, maar die gelofte is veertien keer afgelê, veertien dae na mekaar omdat die manne die geveg letterlik elke dag verwag het – hulle het rondgetrek opsoek na die Zoeloes en dit was eintlik ‘n hele maneuver en skaak speletjie. Sarel Celliers het ook nie op ‘n wakis gestaan toe hy die gelofte gelei het nie, daar is elke keer spesiaal ‘n tafel uitgesit waaragter Pretorius en Celliers gaan stelling inneem het. Paul Kruger was ook daar, hy was ‘n jong seun en het na die perde omgesien. ‘n Stamvader van my was ook daar en hy was die enigste een wat geweier het om die gelofte af te lê. Hy het sy eie gelofte elke keer apart afgelê omdat hy God nie wou belowe dat sy nakomelinge dit sou handhaaf nie. hy het God belowe dat hy en sy bestaande gesin dit wel sou doen. Nou weet ek hoekom ‘n ding vir my moet reg of weg.

Volgens die beskrywings wat Andries Pretorius se tydgenote gee, moes hy ‘n heel charismatiese man met ‘n treffende voorkoms en persoonlikheid gewees het – groot en fors gebou. ‘n Vroulike bewonderaar het hom as volg beskryf: “Aantreklik, ‘n lang figuur van tussen ses en sewe voet, regop, vriendelik en innemend. Maak sin, want ‘n Engelse dagblad van Pretoria het etlike jare gelede ‘n artikel geplaas waarin hulle beweer, oftewel onthul het, dat Pretorius kwansuis ‘n verhouding met ‘n bywoner op sy plaas se vrou sou gehad het. Dit was hoeka gedurende die geloftetyd. Natuurlik ‘n tipies Engelse steek na dit wat vir die Afrikaner van waarde is. Mnr Jaap Marais, die destydse leier van die Herstigte Nasionale Party het ‘n teen artikel geskryf waarin hy doodeenvoudig uitgelig het dat Pretorius vereer word vir sy leierskap by die slag van Bloedrivier, en dat beweringe rondom sy privaat lewe niks aan die geskiedenis wat in die gees van die volk gekerf is, kan verander nie.

Eintlik moes die held van Bloedrivier ‘Andries Scout’ geheet het, want soos dit die geval met verskeie van ons voorvaders was, het baie faktore gewoonlik meegebring dat ons vanne verander is. Andries se oupa grootjie was ene ds. Wessel Scout van Nederland en het as student aan die universiteit van Leiden, sy name na die Latynse vorm verander. Hy het dus ‘Wesselius Preatorius’ (later Pretorius) geword. Net soos wat die Bybelse Saulus van Tarsus, ‘n eg Joodse naam, na die Romeinse Paulus verander is sodat hy Romeinse burgerskap kon kry om hom in Jerusalem omgewing te kon vestig... Andries moes inderdaad ‘n merkwaardige man gewees het want hy is spesiaal versoek om die Voortrekkers te kom lei na die moord op Retief en die ander.

Tussen die 64 waens wat by Bloedrivier laer getrek het was daar 470 man wat die bykans 10,000 Zoeloes aangedurf het. Daar was egter ook etlike ‘vreemdelinge’ wat vrywilligers was omdat hulle die Voortrekkers se saak gesteun het en deel wou hê aan die geveg. Dit is juis as gevolg van een van hierdie ‘vreemdelinge’ wat Pretorius so gewond is... Toe die Impi uiteindelik op vlug slaan, het Pretorius ‘n bevel geskree dat hulle agtervolg en gedood moet word. In die haastigheid het een van die ‘vreemdelinge’ Pretorius se perd gevat. Die gevolg was dat Andries ‘n ander perd moes bestyg en toe hy die laer uitjaag was die perd steeks en het dit hom probleme gegee. Twee afsonderlike ooggetuies het wat daarop gevolg het, duidelik beskryf:

‘n Groot vors Zoeloe het gemerk dat Andries probleme met die perd ondervind, en het van die kant af met sy kort steek spies op die Voortrekker leier afgestorm. Andries kon die perd nie betyds gedraai kry om ‘n skoot in te kry nie en het van die perd gespring om die aanstormende Zoeloe aan te vat. Toe sy voete op die grond land was die Zoeloe op hom. Hy was net betyds om ‘n steek van die Zoeloe se kort spies met sy linkerhand te keer, die spies het dwarsdeur sy hand gegaan. Andries het die Zoeloe grond toe forseer en het probeer om sy jagmes uit te haal, maar die spies wat nog deur sy hand was het dit vir hom bemoeilik. Die twee getuies het hom te hulp gesnel waar hy op die Zoeloe gesit het en hom met sy regter voorarm vasgedruk het. Hulle het hom toe gehelp om die Zoeloe “keelaf te sny” soos wat die skriftelike getuienis beskryf.

Die volgende oggend het Andries ‘n opvolg geselskap gelei en die vlugtende Zoeloes se spoor gevat. Volgens die geskiedkundige beskrywings het Andries na ongeveer “dertien myl” omgedraai omdat sy hand hom te veel las gegee het. Hy het na die laer teruggekeer terwyl die res van die Voortrekkers met die opvolg voortgegaan het. Toe gebeur daar ‘n verdere interessante stukkie ‘man en perd’ geskiedenis...

Toe die groepie Voortrekkers deur ‘n rivier gedeelte gaan en hulle almal op hul perde, halflyf diep in water was, het ‘n groep Zoeloes hulle in ‘n goed beplande hinderlaag van alle kante bestorm. Die Voortrekkers het van hul perde gespring. Die situasie was verwarrend en daar was ‘n verdere verassings element. Die Zoeloes was op perde en met gewere bewapen. Die Voortrekkers was in ‘n uiters benarde situasie. Hulle het aan mekaar bevele geskree en toe begin die perde waarop die Zoeloes was bokspring en te kere gaan. Meeste van die Zoeloes is van die perde gegooi en die Voortrekkers kon toe as gevolg van die perde se optrede, daarin slaag om die oorhand te kry en die Zoeloes te verslaan.
Waarom het die perde so opgetree?

Dit was toe al die tyd die perde en gewere van die vermoorde Piet Retief en sy geselskap en toe die getroue diere die Boere aan hul stemme herken het, het hulle instinktief hul keuse gemaak...
O, amper vergeet ek van Sarel Celliers, die predikant wat die Gelofte voorgelees het. Hy is ook met ‘n steek spies gewond – in die boud! ‘n Groep Zoeloes het tydens die geveg by die waens, deur die rivier gekom en was besig om teen ‘n sandwal uit te klim. Sarel Celliers het dit opgemerk waarop hy en ‘n paar manne met hul jagmesse teen die wal afgespring het en handgemeen geraak met die ‘steek spies kundiges’. Hulle het die Zoeloes gedood, maar Sarel Celliers het in die geveg ‘n steek in die boud gekry. Chaka het nie te goed afgerig nie!

Dit was in die dae toe die predikante God vir wind gebid het en toe self saam die manne die seile gespan het. Dit was die dae van ‘n Andries Pretorius en ‘n Sarel Celliers. Dit was nie die dae van ‘n FW De Klerk en ‘n Angus nie!