PDA

View Full Version : Die Openbare Gebed wat ek die Graagste sou wou Gehoor het.



Die Ou Man
24th January 2010, 09:40
Die Openbare Gebed wat ek die Graagste sou wou Gehoor het.

Deur: Waldor (http://woes.co.za/happies/vertoon/57661_Die_Openbare_Gebed_wat_ek_die_Graagste_sou_w ou_Gehoor_het.htm)

Ek sê nog altyd, en ek staan by my standpunt, dat enige goed bedoelde en opregte gebed direk tot die Godheid deurdring. Meermale is hierdie, eenvoudige gebede wat mens probleme of mens behoeftes direk en opreg aanspreek, en nie ekshibisionistiese en emosionele vertoon wat charismatiese dividende najaag nie. Die televisienetwerk en die openbare media is oorlaai met geestelike ekshibisioniste wat met mens populêre gebede persoonlike munt probeer slaan. Hierdie gebede, wat ten aanskoue en aanhore van miljoene ‘soekendes’ gebeeldsaai word hoort eerder tuis by die staatsteater waar mens kan betaal om met ‘n dieper kyk te kan lag vir die tussen die lyne kaperjolle van die akteurs met hul geestelike mimiek. Indien baie eenvoudige mense deur hierdie drama kan sien en hoor, hoeveel te meer dan nie die alwyse, alomteenwoordige, alwetende Skepper God nie.

Daar is egter gebede wat uit die dieper eenvoud van die mens se praktiese behoeftes inslag by God gevind het. Gebede wat - uit die praktiese voorbeeld wat dit uitspel en uitstippel – dien as voorbeelde van wat God behaag en die mense aanraak of aanspreek.

Ek dink hier aan ‘n skrifstuk uit die kortkuns van Chris Barnard, een van ons mees bekroonde Afrikaanse skrywers. Ek wil nie plagiaat pleeg nie en allermins nie ploeg met die woorde en gedagtes van hierdie baie respekvolle literêre reus nie, maar een van sy stukkies werk illustreer die gebed punt wat ek onder andere met hierdie skrywe wil maak so pragtig en eg duidelik. Ek het vanoggend gaan krap in die bokse ou boeke, maar kon nie die boek waarin die skrywer spesifieke stukkie werk vervat is vind nie. Nou kan ek nie aanhaal nie, maar sal ek self verwoord oor en my eie klem plaas op die gedagte wat ek baie jare gelede gelees het. Alle eer egter aan die werk gebore uit die pen en gedagte van Chris Barnard:

Iewers op die platteland baie jare gelede, was daar ‘n sekere boere gemeenskap wat soos baie ander van die tyd eenmaal ‘n week op een van die betrokke plase bymekaargekom het om biduur te hou. Die spesifieke gebeure was gedurende ‘n versengende droogte wat besig was om verrykende gevolge vir die mense in te hou. Daar was ‘n moedeloosheid by die mense. Die bidure het maande lank reeds hoofsaaklik bestaan uit smeekgebede wat oor die droogte toestande ten hemele gestuur is. Onder hierdie groepie was daar ‘n sekere omie wat bekend daarvoor was dat hy lang uitgerekte gebede met hoogdrawende lofuitinge, pleidooie en retoriek gelewer het; selfs in die tyd toe alles geil gegroei het en die reent gereeld geval het. Hy het, kom ons noem hom maar, oom Albert, altyd gesorg dat hy laaste bid. Sy gebed was die uitmergelende afsluit gebed wanneer almal reeds moeg was en amper elke bestaande onderwerp en versoek reeds tot God gerig was. Die droogte onderwerp is uiteraard ook dus maande lank al met hoogdrawende en uitgerekte beredenering voor deur oom Albert elke Woensdagaand ter afsluiting voor God neergelê.

Dinge het by die dag vererger en die droogte situasie was kritiek. Dit was weer biduur, en toe almal kniel om te begin bid vra oom Albert of hy kon open:

“Almagtige Vader. Ek is moeg gebid. Vanaand wil ek met U praat, as boer teenoor God. Wanneer laas het U ‘n draai hier op die plase gemaak, bietjie gekyk hoe dit gaan? Het U gesien hoe maer is die beeste en die skape. Ek sal U sê vader, ek voel al skuldig wanneer die diere my so behoeftig en vermaer aankyk...dit lyk of hulle my verwyt en ek kan niks vir hulle doen nie. Ek het in my ganse lewe nog nooit so hulpeloos gevoel nie. Daar waar daar nog al die jare deur al die winters wat ek kan onthou, gras was, dwarrel nou net stof. Die grond in die leivoor kraak, nee Here, dit bars uitmekaar want wanneer laas was daar water om daarin te loop? Water Here, water, ons kan nie sonder water nie en U het ons en die diere en die plante so gemaak. Ek weet nie of U my nou die middag daar agter die damwal gesien het nie Here, toe ek alleen daar gesit en huil het. Ek het diep gehuil hier van binnekant af Here, opreg gehuil, sommer vir almal wat ook vanaand hier saam my kniel. Ons kan nie meer nie, ons kan nie meer nie. Die diere kan nie meer nie, die plante en die veld kan nie meer nie, niks kan meer nie. Hierdie stuk Aarde, die Aarde wat U gemaak het, het water nodig, dringend nodig, dit het reent nodig, maar nie een van ons hier of elders kan reent maak of aanbring nie. So, ek laat dit vanaand in U hande. Ek het nie meer om te sê nie. Ek groet U met respek en met diepe afhanklikheid. Amen”

In die vroeë oggend ure van daardie biduur se aand het dit kom reent, die reent was baie, die reent was goed, die reent was genoeg...

Aan die begin van Maart 1900, was die Afrikaner Volk benard en desperaat. Die Boere krygers was moedeloos, hulle was moeg en hul moraal was baie laag. Die gebeure by Paardeberg op 27 Februarie 1900 was die rede waarom die Boere op moedverloor se vlakte was en waarom daar nie meer veg in hul pype was nie. Generaal Cronje het op die datum, met 4019 man en 50 vroue aan Lord Roberts van die Engelse oorgegee. Dit het daarop neergekom dat 10% van die totale Boeremag op een slag in Engelse aanhouding geplaas is. Van alle Boere was Generaal de Wet waarskynlik die meeste teleurgestel want hy het vir Generaal Cronje gewaarsku en het talle pogings aangewend om Cronje uit die aanvanklike penarie te kry, maar Cronje se hardkoppigheid het uiteindelik daartoe gelei dat hierdie slag teen die Boere geslaan is.

Die Boere het in hulle hordes hul komberse begin oprol, hul saalsakke gepak en het aanstaltes gemaak om huis toe te gaan. Hul wou nie meer veg nie. Generaal de Wet, verbete kryger en uitmuntende leier wat hy was, het ook die hart en siel van die Boer geken, en het hulle toe aangepreek en die wat wou gaan, verlof gegee tot 25 Maart 1900. Toe Generaal Joubert dit hoor was hy nie geneë daarmee nie waarop De Wet geantwoord het: “Mens kan ook nie ‘n haas met onwillige honde vang nie” Hierdie praktiese mensekennis van Generaal De Wet het die nodige dividende afgewerp en op 25 Maart 1900 het die oorgrote meerderheid van die Boere teruggekeer, gereed om te veg...

Op 28 Maart 1900 moes Generaal De Wet ‘n uiters noodsaaklike operasie uitvoer en die samewerking van al die betrokke kommando’s was van uiterste belang. Hulle moes die Engelse Generaal Broadway wat besig was om voor Generaal Olivier uit te vlug vaskeer. Dit sou vir die Boere van uiters strategiese waarde gewees het. De Wet het reeds 1100 man onder Generaals A.P. Cronjé Piet de Wet, Froneman, en Wessels in ‘n rigting met ‘n spesifieke taktiese opdrag gestuur en het op daardie stadium die hulp van die Kommandant van Winburg onder wie die Burgers van Senekal was bitter nodig gehad. Die kommandant was baie opstandig en het sy manne so beïnvloed dat almal geweier het om hulle samewerking te gee. Hulle het die inligting van Generaal De Wet se spioene nie vertrou nie en wou eerder hul eie ding doen. Generaal De Wet het reguit soontoe gery en die opstandige burgers voorgekeer en bymekaar geroep. Hy het so op Fleur bly sit en het hulle aangespreek.

Na ‘n geredekawel het hy nog so op Fleur se rug sy hoed van sy hoof gehaal en gesê “Kom ons bid” ...Dominee J.D. Kestell skryf in sy boek ‘Christiaan de Wet – ‘n Lewensbeskrywing’ verder:

“Wat ‘n gebed was dit uit die mond van dié man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese. Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys. Kort is die gebed... Generaal de Wet sit sy hoed op sy hoof, en hy ry weg sonder om ‘n woord verder te sê” Die opstandige burgers het dwarsdeur daardie nag gery om aan te sluit by die ander kommando’s en het die volgende dag onder die dapperste getel by die slag van Sannaspos!
Soos ‘n William Wallace vir die twyfelende Skotte voor die slag van Stirling Bridge gesê het : “I see a whole army of my countrymen here in defiance of tyrrany. You have come to fight as free men, and free men you are. What will you do without freedom, will you fight?” en hulle inspireer het om Edward se Engelse teen alle verwagtinge in te verslaan; het de Wet se gebed tot God deurgedring en tot die hart en siel van die manne gespreek.

Hierdie openbare gebed van de Wet sou ek die graagste wou hoor. Ek sal dwarsdeur die nag in die koue kaalvoet loop, net om daardie woorde te kan hoor eerder as om vyftien minute in ‘n Mercedes met lugreëling net oor die bult te ry waar daar in ‘n stadion gebid word dat ek moet wange skuur met die moordenaars van ons ou mense...en dat ek die verkragters, rowers en kapers moet vergewe...vir reent.