PDA

View Full Version : Die Ou Man se Swerwer Stories: Torrabaai



Die Ou Man
7th March 2007, 21:35
Torrabaai.

Die soutpad van Henties na Torrabaai. Aan die linkerkant die golwende branders van die koue Atlanties en aan die regterkant die golwende duine van die barre, ongenaakbare Namib. Elke duin het 'n ander kleur. So verbeel ek my. Aan die een kant die bruisende blou en aan die ander kant die stille skakerings van bruin.

So ry ek en verwonder my aan die oorlewingsvermoë van elke insek en dier wat sy tuiste hier vind. Die robkolonie by Kaap Kruis is derduisende sterk. 'n Magdom robbe krioel in die ysige water, hul lewensbron, terwyl die res op land mekaar letterlik vertrap vir 'n lęplek in die son. Dit is nou lamtyd. Die stank van verottende nageboorte en dooie kleintjies dreig om te versmoor, maar na mate raak dit houdbaar. Hierdie is jakkals en strandjut paradys. Vleis is nou volop. By die stilhouplek staan die kruis van Dias. Mense wat van beter weet, sę dat dit 'n templiere kruis is. Daar is ook 'n replika, wat staan gemaak is, nadat die Duitsers die oorspronklike huis toe geneem het. Intussen het die Duitsers die kruis van Dias weer op sy regmatige plek kom plant.

Ek vat die pad verder, verby die ou marine myn aanleg. Die malgasse sit oopbek op die ou watertoring en hyg in die versengende hitte. Neste van verdroogde seebamboes hang onnet teen die traliewerke. Die ou olie boortoring lę regs van die pad, soos 'n kameelperd wat gaan omval en net so bly lę het.

Die hek na die skedelkus vertel alles. Die kopbeen en doodsbeendere is grotesk en die boodskap is duidelik. Hier vrek jy as die woestyn jou alleen kry. Renoster, olifant en ander kopbene is mooi uitgestal by die toegangskantoor. Eerste wat hulle wil weet, is of ons nog nie die blou lorrie gesien het nie. "Nee, ons het nie." Die lorrie moes al twee dae gelede gekom het met water en kosvoorraad. Hier draai die lewe om die blou lorrie. Die lorrie is die lewe.

Ek betaal en ry verder noord. Aan my regterkant is daar niks. Net woestyn. Dit is Desember en vrek warm. Torrabaai is net gedurende Desember en Januarie oop vir besoekers.

Ek ry tussen twee duine deur en daar lę Torrabaai. Ek hou eers stil om die plek te betrag. Op 'n stuk vlak tussen die see en die woestyn is 'n klomp staanplekke met witgekalkte klippe afgebaken. Een hele vierkant, die grote van 'n rugbyveld. Daar is geen natuurlike skaduwee nie. Die kampeer area is so te sę vol. Net 'n paar staanplekke is nog oop. Eenkant staan die watertorings en drup kosbare water op die sand. Ek ry deur 'n woonwa park, waarvan sy gelyke nergens op aarde sal wees nie. Boere van Duitswes het gekom om vis te vang. Ek tel sewe Lister enjins, op sleepwaens gemonteer wat doef, doef, doef om die yskaste aan die gang te hou. Gebring al die pad van die plaas af. Die park self het geen krag nie. Groot vrieskaste soos ek laas in die sewentigs op plase teëgekom het staan in die son. Die kamp lyk soos 'n weermagbasis uit 'n vorige era. Ou weermag en Untag tente is die norm. 'n Paar Mercedes beestrokke met seil oor, is netjies ingerig met meubels en vrieskaste. Die manne wuif, elkeen met 'n ietsie in die hand.

Ek gaan meld by die kantoor aan en vra of ek maar daar teen die see kan gaan staan. Die lang skraal man gee my toestemming. Hy vertel my dat hy die "chief" is. As ek wil stort moet ek betaal en die tydperk is beperk. Die water word van Henties af aangery. Daar staan reeds 'n tou mense voor die stort langs die longdrop. Ek besluit om te gaan lyn natmaak en ry teen die see op, meer noord en probeer vir twee uur om 'n vis te vang. Die Boere ry met hul grend viertrek bakkies heen en weer om die vis te soek. Na die soveelste ingooi, trek ek op en ry suid. Die hele wereld lę vol rob en walvis beendere. Die visvang het ek laat vaar en pak vir my 'n laer van walvisbeendere. Dryfhout is volop en gou brand 'n groot vuur. Die son sak met die rooiste gloed en toe die laaste straal verdwyn, is dit skielik yskoud. Die kar help darem om die wind van die see af te keer.

Toe ek die vuur oopkrap, weet ek dat hier fout is. Die kole het so 'n dowwe, dooie gloed en ek weet dat die vleis dadelik sal moet op. Die hout is deurtrek van die sout en sout is 'n natuurlike neutraliseerder van hitte energie. Blaas-blaas het ek my kole aan die gang gehou en later my stuk halfrou Swakop skaapvleis by die Seekus van die Dood met 'n goeie bottel roode afgesluk. In die nag ry ek terug na die kamp en verstar my aan die ligte van die manne wat visvang in die mis al langs die kus op.

Die volgende oggend word ek wakker geklop. Eers dog ek dat dit die listers is wat nog in my kop raas. Ek antwoord half deur die slaap. Die man sę dat ek onwettig staan. Ek moet daar tussen die ander kampeerders gaan staan. "Maar ek het toestemming by die chief gekry," protesteer ek. "Watter chief?" "Die lang een met die slap hand." Die stem dra terug, "Ek is die chief." "Goed" sę ek: "Jy is die chief. Ek gaan in elk geval nou aanhak en ry." En so verlaat ek Torrabaai, sonder om te stort en sonder om 'n vis te vang. Dit laat my dink. Ek het die vorige dag net twee vroue in die kamp gesien.

Torrabaai is vir die hardebaard Boere van Duitswes.

Liefde groete.

Die Ou Man

Stefanus
10th March 2007, 22:07
:D Pragtig oorgedra, dit laat mens verlang na soortgelyke ondervindings in die verlede en uitsien na wat weer mag voordoen.

Groete,
Stefanus

knipmes
30th April 2007, 20:45
Die ou Man,

Ja nee jong, my se ma seg oek soe...

Ongelooflike wedervaringe is altyd pitkos vir die Siel...

Bring nog, man, ons wag.

groetnis
knipmes

Die Ou Man
10th June 2007, 18:05
http://img266.imageshack.us/img266/3361/oppadnatorrabaaiiy1.jpg

Ek het hierdie foto geneem tussen Henties en Torrabaai. So lyk die landskap regs van die pad.

Liefde groete.

Die Ou Man

Die Ou Man
10th June 2007, 18:10
http://img386.imageshack.us/img386/3396/seekusvandiedoodbu1.jpg

Die ingang na die Seekus van die Dood.

Die Ou Man
10th June 2007, 18:19
http://img232.imageshack.us/img232/3994/torrabaaixo4.jpg (http://imageshack.us)

Torrabaai in die mis van die koue Atlanties.

Die Ou Man
10th June 2007, 18:27
http://img508.imageshack.us/img508/9458/swakoptotpalmwag180xd0.jpg

Eenkant staan 'n sleurkoetz om vroeg die anderdagmore aangepraat te word.

Die Ou Man
10th June 2007, 18:36
http://img482.imageshack.us/img482/552/bakenindiewoestynmy1.jpg http://img46.imageshack.us/img46/6741/watertoringfd6.jpg


Eensame bakens in die woestyn tussen Kaapkruis en Torrabaai. Getuienis van 'n vergange era se aktiwiteite.