PDA

View Full Version : God Lewe in die Water



Stefanus
21st April 2010, 22:54
God Lewe in die Water - Deel I
Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_Waldor.htm)

Hierdie artikel sal in twee gedeeltes aangebied word weens die hoeveelheid van die inhoud daarvan. Omdat afbreek aan die begrip en impak gemaak sal word indien dit verkort, of sekere inligting uitgelaat word, het ek dit nodig gevind om dit so aan te bied. Dit is ‘n verwoording van ‘n dokumentêre DVD wat ek uit Amerika bestel het en pas gekyk het.

Water is na dese vir my ‘n duidelike versinnebeelding van hoe die algemene geloof beskouing die gelowiges met ‘n ‘dogma teelepel’ voer, aanhoudend met babakos, sodat ons tog net nie tot die volle krag en waarheid kom nie. Maar, waarmee daar nie rekening gehou is nie, is dat ons uit die Godheid was nog voor die geskrewe riglyne daar was en dat ons daarom die Godheid begin vrystel langs ander weë as wat die priesters se ‘besigheidsplan’ dit vir ons so eenvormig voorhou.

Water is seker die mees algemene ding op die aarde. Vir bykans elke oomblik van ons lewe is daar water by ons. Maar waar kom water oorspronklik vandaan? Hoe en wanneer is dit op hierdie planeet geplaas? Kyk ons ooit dieper as drink, kook, was en swem – wat weet ons van water se geheime? Het water geheime? Gaan vra jou dominee of Pastoor. Sal hy met ‘leiding’ tussen die lyne vind wat die mikroskoop onomwonde uitspel? Nee, want onder die mikroskoop en met die vrystelling van God deur elektroniese impulse in water word die openings lyne van die Bybel vasgelê waar dit andersins misgekyk word. In die heilige geskrifte is water meer as net ‘n bestanddeel – dit is ‘n konsep, en daardie konsep is op ‘n spesiale manier gekoppel aan die lewe.

Water praat met ons maar ons luister nie, water smeek by ons maar ons ignoreer dit, water ween by ons maar ons vertrap dit.
Min dinge is sagter en meer toegeeflik as water, tog verweer dit die hardste voorwerp en onderwerp die sterkere. Niemand kan dit oorkom nie, maar elkeen kan dit verower. Geen wetenskaplike kan verduidelik waarom water se densiteit onder vriespunt uitsit en bokant vriespunt minder word nie. Enige voorwerp trek saam wanneer dit afkoel, maar water doen die teenoorgestelde. In die koue noordelike gedeeltes van die wêreld het die mense van die vroegste tye af water in die krake van rotse gegooi kort voordat die vries temperature gekom het en sodoende rotse opgebreek om dit te verwerk. In die warmer suide het die mense houtpenne in die krake ingeslaan en dit dan met water deurweek sodat die uitsetting die rotse oopgebreek het. Wetenskaplikes het bevind dat water in porieë en in buisvormige gaatjies enorme druk kan ontwikkel. Die oomblik wat ‘n saad ontkiem oefen dit ‘n druk van tot vierhonderd stemming uit. Dit is hoe ‘n sagte saadspruit deur asfalt kan breek. Daar is bevind dat die bestanddele in ‘n water molekule sekere onverklaarbare wetenskaplike onreëlmatighede in het, en dat lewe nie daarsonder kan bestaan nie. Elkeen van die bestanddele in water is uniek en hulle pas nie in by die algemene wette van die wetenskap in nie. Die wetenskap kan ook tot nou toe nog nie bepaal waarom water die enigste middel op aarde is wat in drie verskillende vorms voorkom nie – vloeibaar, solied en gas.

Waarom het water die hoogste oppervlak spanning van alle vloeistowwe? Waarom is dit die kragtigste oplosmiddel op die aarde en hoe is dit dat water in teenstelling met die aantrekkingskrag van die aarde in die stamme van reusagtige bome op kan beweeg teen atmosferiese druk tot die mag tien? Vladimir Voeikov, ‘n Doktor in die wetenskap en professor in die biologie by die Fakulteit van die Moskou Staatsuniversiteit, verklaar dat die mensdom en die wetenskap veral nou, intense navorsing met water doen omdat daar progressief ontdek word dat baie meer agter water steek as wat die blote oog kan sien of wat mens kan droom.

In 1956 in het ‘n groep oosterse wetenskaplikes in die geheim in ‘n spesiale laboratorium in Suidoos Asië bymekaargekom. Geheime navorsing wat hulle gedoen het met betrekking tot ‘n chemiese wapen wat bakterieë op ‘n vernietigende skaal kon versprei het ‘n finale punt bereik, en hulle wou beraadslaag watse bestanddele hulle in die wapen moes bybring. Op ‘n kritieke stadium van die vergadering het al die teenwoordiges baie ernstige simptome van voedselvergiftiging ontwikkel en is almal in die hospitaal opgeneem vir noodbehandeling. Die ondersoek wat dadelik na die geval gedoen is kon absoluut niks na vore bring nie en het tot ‘n doodloopstraat gekom. Die enigste wat die mense ingeneem het was drinkwater wat by die byeenkoms op die tafels beskikbaar was. Die water is getoets en dit was suiwer – H2O. Die uiteindelike bevinding: ‘Voedselvergiftiging as gevolg van water’ Twintig jaar later is daar as gevolg van navorsing wat gedoen is met ‘n teorie vorendag gekom met betrekking tot wat daardie tyd by die geheime konferensie gebeur het. Water het ‘n geheue! Eksperimente wat dwarsoor die wêreld gedoen is het bewys dat water invloede en effekte wat naby dit plaasvind stoor en wederkerige afdrukke maak. Die water onthou alles wat in die atmosfeer om dit gebeur. Enige bestanddeel middel of wese wat met water in aanraking kom los ‘n spoor. Soos wat die water nuwe inligting bekom kry dit nuwe eienskappe, maar die chemiese samestelling bly dieselfde. Die water pas dus aan in reaksie op die geestelike insette waaraan dit blootgestel word.

Daar is aanvanklik gedink dat die krag van water in die samestelling gevind kan word, maar later is vasgestel dat die struktuur daarvan baie, baie meer kan vertel. Die groepering van die molekules vertel ‘n ongelooflike storie. Die molekules groepeer in, noem dit dan nou maar, klompe of groepe. Die wetenskaplikes wat navorsing met die water doen bevind dat die klompe, soos ‘gedagte selle’ saam vorm, amper soos ‘n magnetiese band. Wanneer water deur ‘n lig bekyk word, het dit ‘n spesifieke voorkoms en wanneer elektriese velde daardeur gestuur word verander die voorkoms. Die water bly water soos ons dit ken, maar die struktuur reageer soos ‘n senuweestelsel op enige irritasie.

Moderne instrumente bepaal dat daar in elk van water se geheue selle, 440,000 ‘informasie panele’ is en elkeen is verantwoordelik vir sy eie tipe interaksie met die wêreld om dit. Indien die groepe elk as enkele entiteite sou bestaan, sou dit gou uitgeleef raak en vergaan, maar selle in elke groep kan die groepering verlaat en oorgaan na ‘n ander groep en daar opgeneem word. Dit verleng die bestaan tyd van die selle en hierdie verskynsel rugsteun die hipotese van die stoor van inligting ...”Die molekulêre samestelling van water is in effek die alfabet van water. Deur die letters te groepeer kan data en inligting bekom word...” Professor Rustom Roy van die Universiteit van Pennsylvania, en ook lid van die Internasionale Akademie vir Wetenskap, gaan verder en verklaar dat ...”water waarskynlik die wêreld se enigste, en mees vloeibare rekenaar is...”

In die winter van 1818 het die skip ‘Lara’ op ‘n tog tussen Liverpool en San Francisco aan die brand geslaan en moes die bemanning en passasiers die skip verlaat. Kaptein Niel Carrie was een van die oorlewendes wat in die reddingsbootjies op die see gedryf het. Die bietjie vars water wat hulle by hul gehad het, het opgeraak en baie gou was dit duidelik dat hulle van die dors sou omkom. Hulle het eers na drie weke op die see land bereik, maar nie een van die mense het gesterf nie. Hulle oorlewing was merkwaardig. Kaptein Carrie wat ‘n nugter denkende mens was, het vertel dat hulle op ‘n stadium gedagtes verwissel het, saam gedroom het en hulle verbeel het dat die water om hulle vars water was. Op ‘n ingewing het hy oor gebuk, ‘n hand vol water opgeneem en dit in sy mond geplaas – die water was vars en hulle kon dit drink. Dit het hulle aan die lewe gehou.

Professor Konstantin Karotkov, ‘n wetenskaplike en Akademikus by die Russiese Akademie vir Wetenskappe, verduidelik dat navorsing duidelik aandui dat diverse faktore elk verskillende effekte op water uitoefen. Hulle het water monsters met magnetiese velde, elektriese en verskeie velde getoets. Die interessantste is egter eksperimente wat hulle uitgevoer het ten opsigte van die effek wat menslike teenwoordigheid en veral menslike emosies op water het. Daar is gevind dat negatiewe emosies die grootste impak op water het. Professor Karotkov het mense gekry wat goeie en gesonde emosies soos liefde, teerheid en ontferming op ‘n fles water in sy laboratorium projekteer het en toe is daar op ‘n ander fles van dieselfde waterbron negatiewe emosies soos vrees, aggressie en haat projekteer. Elektroniese afmetings is toe van die water in beide flesse geneem en daar was ‘n duidelike beweging in verskillende rigtings by die flesse. Die bevinding volgens die afmetings was dat liefde die energie vlak van die water verhoog en dit stabiliseer, terwyl die aggressiewe emosies, die energie vlak van die water drasties verlaag het en ook drastieser veranderings aan die water teweeggebring het.

Doktor Emoto Masaru, is ‘n leidende Japannese navorser en hy verrig baanbrekers werk met die ‘emosies van water’ “Water has a memory of its own...” sê hy onomwonde. In sy laboratorium neem hy verskeie water monsters wat aan verskillende effekte blootgestel word, en vries dit dan teen ‘n baie vinnig sodat die afdruk wat die emosie op die water gemaak het vasgelê word. Hierdie bevrore skywe water word dan onder ‘n baie sterk mikroskoop geplaas. Mense, dit is verstommend om die verskillende patrone in die water monsters te sien. Die water wat die woord ‘dankie’ opgeneem het, het ‘n ses puntige perfek gebalanseerde ster agtige vorm met ‘n pragtige sirkel in die middel, en dit het ‘n ligte blou kleur. ‘Verskoon tog’ se vorm is minder kompleks en die buitenste vorm is meer afgeplat met ‘n ovaal in die middel, dit is steeds deurskynend en effe ligblou. ‘Jy walg my’ is ‘n deurmekaar blerts, bruinerig soos koffie, met ongelyke kolle in.
Hulle het water geneem, positiewe effekte daarop laat inwerk en toe saad daarin laat ontkiem. Daar is gevind dat die pante uit die saad wat in die ‘gelukkige’ water ontkiem het baie beter gegroei het en die minerale in die vrug van die plant was baie meer gekonsentreerd. Die plante het deurgaans ook minder water nodig gehad en geen kunsmis nie. Die water wat gebruik is het nie sy komposisie verander nie, dit het H2O gebly, maar die struktuur het verander. Insiggewend van hierdie verskynsel, en dit dra volgens my waarneming by tot die metafisiese agter die storie; is dat die wetenskaplikes kan bepaal ‘hoe’ die struktuur verander, maar gladnie ‘waarom’ nie. Die ‘waarom’ is vir my soos ‘hoe’ ‘n by weet welke blom die beste nektar bevat... sien my artikel: ‘Die God van die By (http://www.wendag.com/forum/showthread.php/311-God-van-die-By)’

Ons weet almal dat die mens, afhangende van sy of haar ouderdom uit 70 -75 % water bestaan, die gemiddelde volwasse mens drink ongeveer twee liter water om aan die gang te bly, ‘n ander 1.5 liter water word deur die vel opgeneem wanneer mens bad of stort. Dit is algemene kennis dat ‘n nedersetting in die ou dae ontstaan het waar daar natuurlike water was. Vandag maak dit nie saak of daar natuurlike water is nie, want ons vervoer nou water vir duisende myle teen ontsettende hoë druk en spoed. In die natuur vloei riviere en strome altyd teen ‘n gladde, kronkelende natuurlike roete. Maar die watervoorsiening van vandag laat die water deur pype gaan waar daar verskillende druk, kleppe menigvuldige negentig grade hoeke in die pype, en draaie is. Die natuurlike struktuur van die water word progressief afgebreek soos wat dit aan hierdie toestande onderwerp word. Die kristalle van die water wat so aan ons voorsien word, is deur die mikroskoop gesien, verwronge en misvormd. Daar is geen simmetrie of skoonheid soos by natuurlike water nie. Water wat deur al die afvoer en aanvoerstelsels gaan is van alle die energie en krag ontneem. Iemand wat met hierdie water in aanraking kom, word van krag getap, want die water trek al die energie uit die mens uit. Meeste van die groot stede het ‘n geslote sirkel sisteem. Dit beteken dat die water nadat dit gebruik is weer gesuiwer word en dan her sirkuleer word. Dink vir ‘n oomblik aan die ‘informasie besoedeling’ waaraan hierdie water blootgestel word soos wat dit deur duisende en duisende huishoudings en pype gaan. Ons besoedel die water geestelik. Die water neem al die haat en aggressie wat ons uitstraal en openbaar op, al die kwaadwilligheid en die spanning – die water is amper dood wanneer dit ons liggaam binnegaan.

“Alles dui daarop dat die eerste lewende organismes in water voorgekom het, en dat lewe buite die water ‘n latere gevolg was...” aldus Dr. Kurt Wurtlich, Nobel Pryswenner van Switserland. Dit is dan ook seker nie toevallig dat die openings lyne van die Bybel van water praat nie...”En die aarde was woes en leeg en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters...” Net soos wat die beelde wat ons gaan skep in die stukke klei is wat ons brei, net so was die beelde van die toekomstige lewendige organismes in die water teenwoordig. Die water het doodeenvoudig ‘n vooraf bepaalde konsep en ‘wil’ voortgebring. Enige proses wat ontstaan het ‘n impuls nodig. Al die wyse manne uit die antieke verlede het geglo dat die lewe uit ‘n Goddelike impuls ontstaan het. Hierdie impuls in die water het ‘n gevolg gehad. Dit word duidelik daarin weerspieël dat elke lewende spesie, van die eenvoudigste bakterieë tot by die mens, na sy eie perfeksie strewe. Die Koran sê dat water deur die wil van God, ‘n rol met die skepping van Adam gespeel het. Miskien voeg Professor Martin Chaplin, die laboratorium Hoof van die Londense Universiteit wetenskaplik sterk hierby aan: ...”Scientists should look more closely at how water interacts with it’s molecules. At molecular level it constructs the structure of DNA, we would not have the DNA helix without water. It creates the structure of proteins. Our bodys would not exist without water...”

Die vernietigende waterstofbom wat die mensdom vervaardig het, is nie net uit water vervaardig nie, maar het ‘doods rimpelinge’ op die water in die atmosfeer en op die aarde gelaat. Die golwe van die ontploffing het baie gou in die grond weggesterf, maar dit het vir dertig dae in die water gefluktueer. Soos ‘n pendulum wat heen en weer swaai het dit ‘n nuwe patologiese orde in die water meegebring. Daar is gemerk dat die getal selfmoorde drasties toegeneem het elke keer wat daar sulke toets ontploffings uitgevoer is. Hierdie toename het met ‘n faktor van tot drie toegeneem en die medici kon dit nie verklaar nie, maar die ‘water kundiges’ meen dat dit baie maklik verduidelik kan word:

Professor Doktor Victor Inyushin, Hoof van die Biofisiese departement van die Kazhakstan Universiteit verduidelik, die feit dat die brein uit 85% water bestaan, maak dat hierdie veranderinge in die brein ‘n effek neem. ‘n Konflik ontstaan tussen die water strukture in die brein. Die Bioplasma in die brein word ontwrig en die mens word van die mees basiese impulse ontneem, selfs die wil om te lewe. Indien mens water goed sou behandel en dit blootstel aan positiewe impulse, dit seën, jou dank daaraan betuig, jou dank daarvoor uitspreek, soos met ‘n tafelgebed, sal die water positief reageer en die kwaliteit daarvan sal verhoog en die kompliment uitstraal meen Allois Gruber, ‘n navorser van Oostenryk.

Ek sien dit as volg:

Die wil van die mens, hetsy deur ‘n geestelike handeling soos ‘n opregte en rein gebed straal ‘n energie impuls uit wat deur die water opgeneem word en in daardie ‘onverklaarbare’ dog teenwoordige databasis of ‘ontvanklikheid’ wat die wetenskap wel bevestig, opgeneem word wat dan ‘n dien ooreenkomstige komplimenterende reaksie bewerkstellig.

Daar staan in die kronieke opgeteken dat Kloostervader Carl Gistensis, in 1472 valslik daarvan beskuldig is dat hy die siekte van ‘n prominente ryk vrou veroorsaak het. Hy is in ‘n kerker opgesluit en het vir ‘n tydperk van veertig dae lank elke dag net ‘n stukkie droë brood en ‘n bakkie vrot water gekry. Teen die einde van die tydperk het die wag gemerk dat Carl Gistensis nie net oorleef het nie, maar dat hy inderdaad gesonder daar uitgesien het. Hierdie situasie het daartoe bygedra dat hy verder gemartel is omdat sy ongewone toestand aan bose magte toegeskryf is. Onder wrede marteling het Gistensis erken dat hy elke dag ernstig oor die water gebid het en seëninge daaroor uitgespreek het, waarop die water skoon en vars geword het.

Voormelde Professor Konstantin Karotkov het ‘n eksperiment uitgevoer met geëmulgeerde ruolie, wat ‘n byproduk van olie produksie is. Dit bestaan uit ‘n stabiele kombinasie van water en olie. Hy het die olie in twee verskillende glas flesse gegooi en die een met elektroniese impulse bestraal. Die elektromagnetiese impulse waarmee Karotkov die ruolie bestraal het was gelykstaande aan die elektromagnetiese impulse van die menslike hart. Na sewe dae was die water heeltemal van die olie geskei, waar dit andersins vir ewig gemeng sou bly.

In die volgende gedeelte sal ons kyk na toetse wat gedoen is met natuurlike water wat nooit met mense in aanraking gekom het nie en word die tema opgebou tot die krag in die boodskap.

Stefanus
21st April 2010, 22:58
346 347


Mr. Emoto’s research has been conducted all over the world but perhaps the most inspiring work was done at Fujiwara Dam, in Japan. Photographs were taken of water samples from the lake before Reverend Kato Hoki, chief priest of Jyuhouin Temple, made a one-hour prayer practice beside the dam. The original photos show the water samples to be dark, ugly and unable to crystallize. After the prayers, photos were taken of new water samples. The results are staggering. We’ve put 2 examples up so you can see them. The first photo shows the water sample before the prayers. It's dark and mottled, without brightness or organization. The second photo is taken after the prayers. It's become a hexagon within a hexagon, a clear, bright, fully developed crystal.

Stefanus
21st April 2010, 23:05
God Lewe in die Water - Deel II
Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_Waldor.htm)

Nadat die wetenskaplikes verskeie eksperimente met water uitgevoer het en aangedui het dat die mens ‘n negatiewe invloed op die struktuur van water het, was hulle gretig om vas te stel hoe water, wat nog nooit met die mens in aanraking gekom het nie, daar sou uitsien – hoe dit sou reageer op die toetse wat hulle uitvoer. Hulle wou die natuurlikste, noem dit nou maar, ‘maagdelike’ water toets...

In die taal van die Suid Amerikaanse Peman stam in Venezuela beteken die woord ‘uraima’ – “die moeder van alle waters”. In Venezuela is daar ‘n afgeleë gebied waar ‘n reeks opheffings soos majestueuse pilare uit die aarde opstaan. Hierdie pilare vorm ‘n reeks alleenstaande plato’s. Uraima is die grootste van hierdie plato’s. Dit is dáár waar die navorsers beweer mense nie kom nie en waar die ‘maagdelike’ water gevind kan word. In Januarie 2005, het vyf Russiese wetenskaplikes ‘n tog na Uraina onderneem. Hul doel – om water monsters van Uraina af terug te vat na die laboratoriums en dit aan toetse en eksperimente te onderwerp. Hulle moes drie dae lank deur die savanna reis en toe deur die woude. Toe moes hulle die 800 meter loodregte rots wande van Uraima aandurf om by die paradys op die plato te kom. Hulle was verstom met wat hulle gevind en aanskou het. Die DVD self is iets om te aanskou. Uraima word permanent deur ‘n wolkkolom oordek. Wanneer dit aand word en die maanlig oor die plek begin skyn, vind die wonderlikste verskynsel plaas. Die permanente mistigheid het die mooiste egalige blou glans, en in die skynsel sweef daar klein glinsterende druppeltjies water. Die ligste asem of briesie laat hierdie swewende druppeltjies sag soos reent op die aarde neerdaal.

Op 30 Januarie 2005 het hulle die sestiende water monster geneem en dit soos al die ander in foelie verseël sodat die lug en water daarin vir sewe dae in die selfde staat kon bly totdat hulle daarmee by die laboratorium kon kom, waar hulle ‘n instrument het wat die energie in water kan meet. Alles wat ‘n elektromagnetiese veld ingaan gee ‘n lig skynsel af waarvolgens hulle die graad van die energie dan kan meet en bepaal. Hoe groter die energie wat die voorwerp afgee hoe helderder skyn die lig. Die water monsters wat van die ‘maagd Uraina’ afkomstig was is getoets en vergelyk met gewone drinkwater. Wat hulle bevind het, het al hulle verwagtings oorskry, hulle was om die minste te sê, selfs as wetenskaplikes, verstom.

Die water van Uraima was nie dubbel of trippel nie, maar 40,000 maal meer elektronies aktief as gewone water. Die Uraima water het oor die kapasiteit beskik om die menslike liggaam onmiddellik te aktiveer - die water aktiveer de hele menslke sisteem. Dit is waarom die mense van Uraima verkies om in afsondering te bly. Hoewel hulle baie vriendelik en gasvry is verwelkom hulle dit gladnie wanneer mense daar wil kom bly nie. Hulle is baie gelukkig, gesond en word ook almal baie oud.

In die laat herfs van 1682 het ‘n arm veewagter met die naam Genz van ‘n klein dorpie in die gebied van Hessen in Duitsland, besluit om na Suid Italië te gaan om vir hom ‘n ander heenkome te soek. Hy was ‘n weeskind wat nie sy ouers geken het nie. Sy roete het deur die dorpie Waltschut am Rhein gegaan. Toe hy deur die woud naby die dorp loop het hy skierlik ‘n baie sterk gevoel gekry dat hy aan die plek gekoppel is. Asof in ‘n waas het sy bene hom gely tot by ‘n plek waar hy op ‘n helder fontein afgekom het. Hy het dadelik van die water gedrink. Baie jare later toe hy ‘n ou man was het hy sy kleinkinders vertel wat gebeur het. Toe hy die water gedrink het, het hy dadelik sy ouers en die huis waar hy gebore is gesien. Hy het die plek toe ook gekry.... Die moderne wetenskap wys dat die water in ‘n mens presies dieselfde eienskappe besit as die water waar mens gebore is. Daarom is ons interne verbintenis met die plek waar ons vandaan kom in ons gekodifiseer en word dit so in ons bewaar. So het jou tuisland nie net ‘n diep politieke betekenis nie maar ook daarby, nog ‘n fisies biologiese konnotasie. Nêrens in die wêreld is water dieselfde nie. Dit breek die weg na die oppervlak deur erts en minerale en assimileer die vibrasies van die grond en die informasie van die spesifieke biologiese kenmerke en energie vlakke wat daarin voorkom.

Die wetenskaplikes wys daarop dat die gesuiwerde water wat ons gebottel koop, wel skoon en nie noodwendig sleg vir ‘n mens is nie, maar hulle lê klem daarop dat dit ‘dood’ is. Dit het geen energie nie. ‘n Dier sal altyd die water kies wat van ‘n fontein af kom. In die DVD plaas hulle twee bakke voor ‘n hond en gooi dan gelyktydig ‘suiwer water’ uit ‘n gekoopte bottel en fonteinwater uit ‘n glas beker in die bakke voor die hond. Die hond ruik vlugtig aan die bottel se straal en wend hom dan sonder om te huiwer na die bak met fonteinwater en drink lustig daarvan.

Daar is onlangs ‘n verdere unieke eienskap van water deur middel van hierdie navorsing ontdek. Daar is gevind dat natuurlike water ontvlambaar is. Natuurlike water is so gestruktureer dat dit brand. Die gewone brand proses is ‘n oksidasie proses waar hitte en lig afgegee word, maar in die geval van water brand dit baie stadig teen die hitte van die direkte omgewing. Die lig wat die ‘brandende water’ afgee kan met super sensitiewe instrumente gemeet en gefotografeer word. Wanneer iets brand word daar aanhoudend suurstof afgegee en daar moet organiese materie wees om te brand, maar soos reeds vermeld, brand water oor ‘n baie uitgestrekte tydperk. Indien mens brandstof heeltemal sou laat opdroog sal mens vind dat daar ‘n persentasie water in is, en sou mens die water uit brandstof neem, sal dit gladnie brand nie. Vir enige iets om te kan brand moet daar ten minste ‘n teenwoordigheid van water daarin wees vertel die wetenskaplikes.

Water het ‘n direkte uitwerking op ons brein. Omdat ons brein hoofsaaklik uit water bestaan – die water wat ons struktuur bevat – sal die werking van ‘jou spesifieke brein’ in ‘n mate funksioneer volgens die patroon van die water samestelling wat daarin voorkom volgens die patroon waarmee die informasie in jou brein verwerk word as te ware. Mens is in effek ‘n lopende massa water. Emoto Masaru, die Japannese navorser verduidelik dit baie eenvoudig: “Kom ons veronderstel daar staan ‘n mens, en langs die mens is daar ‘n bak met water en die water wat in die bak is bevat ‘n hoeveelheid informasie. Indien mens dan die water in die liggaam van die mens oorplaas moet daardie mens se liggaam daardie informasie assimileer. Dit kan die persoon se optrede verander of beïnvloed...” Hulle neem ‘n vrou in die DVD na ‘n laboratorium, prik haar vinger en plaas die bloed onder ‘n sterk mikroskoop. Die rooibloedliggaampies is saamgepak en klou duidelik aan mekaar vas omdat hulle hul elektriese lading verloor het. Die samepakking is in die vorm van ‘n ‘simplas’ wat aanduidend is van hartprobleme, longprobleme en verskeie ander siektes wat vir toekoms voorspelbaar is. Hulle laat die vrou dan ‘n glas van die gestruktureerde water drink, en wag twaalf minute en prik haar vinger weer en plaas dit onder die mikroskoop. ‘n Aanskouingsles ontvou onder die mikroskoop – die selle is beweeglik, glad, en kom los van mekaar as gevolg van die elektriese lading wat ook duidelik sigbaar is en wat hulle van mekaar af wegdruk soos ‘n omgekeerde magneet. Dit bring dan mee dat hulle meer suurstof kan inneem en ronddra, en die PH van die bloed, word van ‘n anaërobiese na ‘n aërobiese toestand verander. En dit, net as gevolg van ‘n glas ‘ordentlike’ water!
Tradisionele oosterse medisyne word nou al vir eeue baseer op die vibrasies en resonansie van die liggaam se waterinhoud. Hulle bepaal volgens jou polsslag of die resonansie reg of ‘gesond’ is. Hulle bepaal of die pols sterk, swak, warm of koud is. Gebaseer op hierdie waarnemings voer ‘n ervare en opgeleide geneesheer ‘n tipe energie skandering van die liggaam uit en bepaal daardeur die toestand waarin die liggaam is. “Ons genees nie mét water nie, want die mens ís water, die persoon resiteer dus die mantras en positiewe gebede wat die ‘sleg’ in die water korrigeer”, verduidelik Ogun Bolson ‘n Tibettaanse geneesheer. In bykans al die gelowe van die wêreld is dit gebruiklik om ‘n gebed op te sê voordat mens kos inneem. Veral by die Christendom, Islam en Judaïsme word die voedsel tradisioneel by groot religieuse feeste met water geheilig. Het ons al ooit gaan stilstaan en wonder hoedat hierdie dinge so eenders plaasvind in gelowe wat so wyd uiteenlopend is? Waarom het dit wat die wetenskap nou eers begin verstaan, daardie tyd al as vanselfsprekend vir ons antieke voorouers deurgegaan?

Daar is bepaal dat die frekwensie van die gebede in enige geloof wat in enige taal gebesig word agt Herz is, wat ooreenstem met die ossillasie van die Aarde se magnetiese velde. Daarom sal ‘n gebed wat met liefde geuiter word ‘n harmoniese struktuur in water skep, en water is ‘n bestanddeel in alle kos. Professor Konstantin Korotkov sê omdat ons min of meer weet hoe hierdie dinge werk, ons seker moet maak dat wanneer ons aansit om te eet, ons dit doen met mense wat in liefde en harmonie saam is, nie met mense wat aggressief, kwaadwillig en negatief is nie want dit kan ‘n direkte en destruktiewe effek op ons gesondheid hê.

Kyk, ek hou baie van my klassieke musiek en ek het dit lankal reeds op woes bevestig met my ‘Op Blanke Vleuels’ happie, en daar is ‘n paar rock stukke waarby ek nogal byval vind, maar soos ek op hierdie DVD agterkom stem water nie heeltemal met my saam nie. Dr Emoto Masaro was in 1995 die eerste wetenskaplike wat die afdrukke van musiek op water vasgelê en onder die mikroskoop bestudeer het. Die uitbeeldings wat stukke van Mozart, Beethoven en Bach se musiek op die vinnig gevriesde water skywe gelaat het was uiteraard verskillend, maar elk in ‘n pragtig gestruktureerde en gebalanseerde patroon, maar die ‘heavy rock’ stuk het letterlik ‘n verwronge blaps met geen struktuur op die water ingewerk. Kan ons na dese met water stry. Hulle wys dan beelde van ernstige geweld wat by verskeie rock konserte uitgebreek het en vra die vraag of so iets al ooit by ‘n opera of klassieke musiek konsert gebeur het. Die probleem is dat bose dinge baie makliker en meer effektief by mense posvat omdat mense meer sensitief daarvoor ingestel is. Dr Emoto het ‘n verdere baanbreker eksperiment uitgevoer. Hy het drie glas bekers, elk met rys daarin geneem en dieselfde water oor elk gegooi. Daarna het hy elke dag vir ‘n maand lank vir die een beker “dankie” gesê, vir die tweede “jy is ‘n idioot” en die derde een het hy heeltemal ignoreer. Aan die einde van die maand het die beker wat bedank is natuurlik begin gis en het dit ‘n sterk aangename aroma afgegee, die rys in die beker wat ‘n “idioot” genoem is het swart geword, en die in die beker wat ignoreer is het vrot geword. Dr. Emoto voeg so terloops by dat ons hierdie eksperiment ter harte moet neem veral met betrekking tot hoe ons kinders behandel. Mense wat dus negatiewe en onnodig handelinge en uitlatings maak het ‘n negatiewe inwerking op die struktuur van die water in hulle liggaam. Hulle laai as te ware hul liggaam met ‘n negatiewe lading.

Water wat uit dieselfde beker afkomstig was is geskei en slegs een van die skeidings is vir ‘n tydperk aan sekere invloede onderwerp. Hoewel die ander beker ‘n hele distansie van die beker was wat onderwerp is het dit later die struktuur van die onderworpe beker aangeneem. Professor Rustom Roy verduidelik dat water ‘n fotografiese geheue het en dat dit deur subtiele energie verplasings affekteer kan word. Selfs oor duisende kilometers. Kan mense wat 75% uit water bestaan dan op hierdie manier telepaties kommunikeer?

Stefanus
21st April 2010, 23:06
God Lewe in die Water - Deel III
Deur: Waldor (http://www.woes.co.za/skrywers/5410_Waldor.htm)

Ons het in die twee vorige artikels gelees dat water ‘n merkwaardige stof is. Dat dit léwe en dat Goddelikheid daarin te vinde is. Ek het die tweede aflewering afgesluit met verwysing na ‘n sekere eksperiment wat Professor Rustom Roy uitgevoer wat daarop dui dat water die kapasiteit tot ‘n fotografiese geheue het en dat dit deur subtiele energie verplasings affekteer kan word.

Kan mense, wat uit 75% water bestaan dan op hierdie manier telepaties kommunikeer? Was die vraag waarmee ek afgesluit het:

In Februarie 2005 het Professor Vyacheslav Zvonnikov en van sy kollegas ‘n eksperiment gedoen om te bepaal of lang afstand telepatiese kommunikasie tussen mense moontlik is al dan nie. Hy het twee persone geneem tien duisend kilometer van mekaar, die een was in Moskou en die ander op ‘n berg naby die stad Santa Elena in Suid Amerika. Beide persone was gekoppel aan monitors wat virtuele beelde van hul breins op ‘n skerm reflekteer het – baie soos die beelde wat mens met ‘n skandering kan aanskou... Gedurende die vyftien minute voordat die eksperiment begin het, was daar geen sigbare korrelasie tussen die twee op die afsonderlike skerms gewees nie. Die kleinste en subtielste verskuiwing in die postuur, polsslag asemhalings frekwensies is opgeneem. EKG en EEG toetse is ook geneem. Na ‘n ruk van intense konsentrasie het daar duidelike veranderings in die refleksies op die skerms wat tien duisend kilometer uitmekaar was plaasgevind. Dit was duidelik dat die twee persone op een of ander manier met mekaar ingeskakel het. Duidelik sigbare veranderings het op die beelde van die twee persone se breins begin wys. Dit het geblyk dat die twee persone op dieselfde golflengte ingeskakel het. Die instrumente het duidelik opsigtelik getoon dat sekere gedeeltes van hul breins sinkroniseer het, dat hul polsslag en asemhaling patrone begin ooreenstem het. Die wetenskaplikes bevestig die ooreenkomste in die brein en ander genoemde patrone baie verseker, maar kan die verskynsel gladnie wetenskaplik verklaar nie. Hulle is van mening dat daar iewers in die menslike vloeistowwe ‘n magiese of bonatuurlike krag is wat nog nie op hierdie stadium vasgelê of gemeet kan word nie. Wat hulle wel volgens die data wat hulle met die eksperiment vasgelê het kan verklaar, sê Professor Zvonnikov, is dat die vloeistof in die mens een of ander informasie transmissie laat plaasvind.

“Ons aksies het ‘n invloed op die kosmos want ons aksies is verwant en gekoppel aan die natuur... en dit wat ons doen affekteer nie net onsself nie, maar die mensdom om ons, omdat dit in die kosmos opgeneem en reflekteer word...” verklaar Professor Effe Chow, ‘n ere lid van die uitvoerende raad vir alternatiewe medisyne van die VSA. Vlail Kaznacheev, lid van die Russiese mediese akademie in Novosibirsk Rusland, gaan verder ...”Ons het water bestudeer gedurende sonsverduisterings en in die tyd toe die komeet ‘Scumacher Levi’ op pad was het die weefselkultuur in die water ‘n week voor die tyd reaksies getoon wat verwant was aan die koms van die komeet en die verduistering wat sou plaasvind...”

Die hele sisteem van die universum is aanmekaar en inmekaar verweef en bestaan uit groter en kleiner strome van informasie on op ons planeet speel water die sleutel rol in hoe en teen welke graad of persentasie die informasie oorgedra en waargeneem word. In affek is dit die medium waardeur die natuur beheer word.

Die Chinese Kronieke vertel van die Taoïstiese kluisenaar, Chang Chung wat gereeld met Ghensis Kahn in uitgerekte gesprekke betrokke was. Op ‘n stadium het die leier van Bejing vir Chung gevra om ‘n ernstige epidemie wat die sy koninkryk geteister het aan te spreek. Die kluisenaar het gebid en die epidemie het weggegaan. Na vele pogings van Ghensis Kahn om die ou kluisenaar geskenke te gee, het hy dit geweier en aan die Kahn porbeer beklemtoon dat “...gebed nie ‘n ding is nie, al wat dit benodig is geloof...” professor Rustom Roy reageer hierop ...”presies, presies, die aanduidings is ook duidelik dat ons intensies en gedagtes ‘n inwerking het op die water om ons...” Die skrif se dat niks onmoontlik is nie en dat ‘n mens vir ‘n berg kan se skuif en dat dit sal skuif wanneer mens die geloof het – die toepaslike Afrikaanse gesegde “geloof kan berge versit” kom hier dan ook hier ter gedagte. Hou in gedagte dat die “berg” hier ‘n metafoor is... Amper al die heilige geskrifte van die antieke wêreld vertel ons van persone wat wonderwerke verrig het as gevolg van hulle diepsinnige kennis. Daar is in die geskiedenis en ook meer onlangs gevalle waar opregte en diep gelowige gebede genesing van die mens bewerkstellig het en ook gevalle waar heilig geseënde water wat op wonde wat ernstig infekteer was, merkwaardige herstel meegebring het. Ek praat nie nou hier van die ekshibisionistiese kaperjolle van die egoïstiese akteurs by die charismatiese sirkusse op ons televisie nie.
Elke jaar op die 18de Januarie hou die Russies Ortodokse kerk, ‘Die Fees van die Verskyning’, waar die mense na die kerk kan kom, en ná die diens in aanraking kan kom met die water wat in die houers in die diens was. Die navorsers het twee flesse met kraanwater gevul, en een langs die water houer in die kerk geplaas voordat die diens begin het. Na die diens is die fles na die laboratorium geneem. Beide flesse is toe dadelik teen ‘n hoe spoed gevries en die bevrore skywe uit die flesse is onder ‘n baie sterk mikroskoop bestudeer. Die skyf uit die fles wat in die laboratorium agtergebly het ‘n verwronge, onordelike en vormlose kristallisering vertoon, terwyl die skyf uit die fles wat in die kerk was tydens die diens ‘n suiwer perfek gebalanseerde ses puntige patroon vertoon het. Daar is ook verder gevind dat indien slegs 10 gram van die ‘heilige‘ water in 60 liter gewone water gegooi word die samestelling van die heilige water deur die res van die water versprei.
Hopelik sal die wetenskap in die nabye toekoms vir ons binnekort die krag in ‘n heilige en opregte gebed kan vaslê of bevestig, selfs die krag agter genade uitlig...ons beter kan laat verstaan met welke aard van goddelike inwerking of geestelike nuanse met water dit so ferm gelaat is, dat daarop geloop kan word... professor Rustom Roy sê dat dit radiasie kragte kan wees, maar dat dit ook inderdaad by diep en subtiele oordraging van ‘bedoelende invloede’ kan wees...dat subtiele invloede of bedoelings deur sekere materiële voorwerpe waargeneem kan word.

Die mensdom wag op ‘n daaglikse basis vir die verskillende siklone en anti siklone om hul vorms aan te neem en luister na die weervoorspellers om te kan bepaal waar en wanneer die weerstoestande ‘n inset tot ons voordeel of nadeel gaan lewer. Eintlik kom dit daarop neer dat ons wag om te hoor waar en wanneer water sy ding gaan doen. Die verdamping wat in die lug met die winde gaan saamwerk, wolkkolomme en donderstorms bymekaar bring – die veranderende argitektuur van die hemele gaan meebring en vertoon. Die kleur skynsels en skakerings in die lug asook die reënboë, is alles die refraksie van lig deur water. Wolke dra hierdie vogtigheid oor lang distansies oor die aarde en dit val as reent na benede. Reent, hael, sneeu, mis, stormwinde – al hierdie verskynsels hang van water se buie af. Ons wonder soms waar water sy gunste of sy wraak op die aarde gaan neervel, waar dit gaan toeslaan. Ons hierdie gemoedere van water uit die lug en met satelliete waarneem en dophou...maar slegs dophou... Die mensdom se grootste begeerte is om die weer te kan beheer en manipuleer en hierdie hoop en strewe word vervat in vele wetenskaplike en grootskaalse tegnologies georkestreerde eksperimente, maar daar word geen noemenswaardige vordering gemaak nie. Die Duitsers het wel by Bergtesgarten in die Oberzaltsburg waar die ampswoning van die leier teen die hange van die Alpe was, ‘n spesiale ‘wolkmaak’ peloton gehad wat wolke gemaak het wanneer lugaanvalle gedreig het, maar dit was maar kunsmatig. Niemand kan reent voortbring nie - of kan mens?

Ons weet ook almal dat daar wel sekere priesterlike groepe is wat baie eng en toegewyde lewens lei, en dat hulle hul afsonder en verinnig met die geestelike dinge. Daarom moet ons baie versigtig wees wanneer ons sulke mense wie se lewenswyse ‘n reinheid en uitsonderlik geestelike vlak openbaar, oordeel omdat hulle nie dieselfde geestelike metodiek of dogma as ons uitoefen nie. Daarom kan mens baie waarde heg aan die dinge wat die Tibettaanse priesters sê oor sekere geestelike dinge. Veral hierdie manne van die Dalai Lama het lankal al tot die besef gekom welke krag daar in die water vasgevang is – sonder mikroskope! Die Tibettaanse monnikke het die verskynsels om die weer en sekere van die natuur elemente deur inwerking te beïnvloed oor die eeue heen verskerp, verbeter en dit ook streng preserveer. Hulle het die rituele wat uitgeoefen word versigtig van geslag tot geslag oorgedra...”As my eerbewyse oortuigend genoeg is, as my versoeke met ‘n rein, suiwer en opregte hart gemaak is, as ek die regte tyd en die regte plek gekies het en ek die mantras korrek resiteer het – dan gee die vader vir ons water” aldus Damba Ayushev, die Pandito Hambai Lama, hoof van die Boeddhistiese Tradisionele Sanga in Rusland.

Kan dit wees, dat nie ‘n laboratorium nie, nie insette wat wetenskaplik manipuleer is, nie effekte wat deur instrumente induseer is nie, maar dat ‘n enkele persoon ‘n natuurlike proses kan beïnvloed suiwer deur die krag van intensies en sy begeertes?

Net soos wat die skreeu van ‘n arend ‘n sneeustorting of rotsstorting aan die gang kan sit, net so kan die mens globale prosesse deur die krag van hul gedagtes aan die gang sit. Professor Gilbert Kuma van die Intstituur vir Kernfisika, Wene Duitsland verduidelik dat wanneer daar ‘n fase van onstabiliteit in die atmosfeer is bestaan die moontlikheid dat ‘n gedagte die nodige mosie in die atmosfeer kan plaas om verandering te laat plaasvind. So bestaan die prinsiep dat ‘n negatiewe of slegte aksie of gedagte wat in die atmosfeer uitgestuur word, met negatiewe inwerking na jou terugkom en jou op die beurt sleg affekteer. Nie as ‘n straf op ‘n sonde nie, maar as ‘n resultaat van jou aksies. Hier praat die wetenskaplikes in sekere gevalle van dit wat die Indiërs ‘n karma noem, en wat die Christen as straf beskou.
Van al die water wat op die aarde beskikbaar is, is minder as een persent vars bruikbare water. Die aarde het ook nog nooit in die totale geskiedenis van die menslike heelal, soveel mense gehad soos wat daar op die oomblik is nie – 6.5 biljoen mense! Daar sou genoeg water vir al die mense op aarde gewees het indien dit nie vir die geweldige ‘beskawings-kraan’ was wat oopgelaat word nie. Vandag het meer as ‘n biljoen mense nie vrylike toegang tot vars bruikbare drinkwater nie. Ongeveer 5 miljoen mense sterf elke jaar weens ‘n tekort aan water en meer as die helfte hiervan is kinders, dit is tien maal meer as die sterftes as gevolg van oorloë elke jaar. Indien hierdie probleem nie aangespreek word nie sa water soos olie, ‘n bron van internasionale konflikte word. Dit het reeds op groot skaal die vorm van ‘n basis bron vir baie lande geword en begin nou ook reeds in die politiese dialoë figureer. Volgens die data van die VVO word daar ongeveer 10 biljoen ton olie jaarliks in die wêreld se oseane gestort. Aan die Atlantiese kus van die VSA lê daar 90,000 houers met radio aktiewe afval onder die see. Die lande wat toegang tot die oseaan het stort hul industriële, konstruksie en toksiese gemors en afval in die see. Van hierdie afval los in die water op en verander die samestelling van die water en nie net die samestelling van die water nie, maar belangriker nog word die ‘geheue’ van die water verander en beïnvloed. Aan die wortel van die probleem is die werklikheid dat daar ‘n delusie effek in die water teweeggebring word! Victor Inyushin, Doktor van Wetenskappe en hoof van die Bio Fisiese Departement van die Kazakhstanse Universiteit verklaar: “ The ocean is also capable of erasing these memories because of its salidity, but none the less, the delusion effect is still there, and it needs to be discussed and studied...”

Ons is nou in ‘n baie moeilike tydvak van die bestaan van ons planeet – ons het omtrent al die moontlike ploegbare grond omgedolwe, 33% van ons groen bedekking is al verlore asook die helfte van die plankton in die oseane. In hierdie sin kan die probleem as vêraf beskou word, maar water daarenteen, is oral... in ons en om ons. Gedurende die afgelope jaar het die temperatuur onder die oppervlak van die koue golfstroom met een graad gedaal, gedurende die afgelope nege jaar het die tempo waarteen die ysberge van Groenland smelt, in die afgelope dertig jaar het die vernietigende kragte van tornados verdubbel en is die getalle natuurlike rampe besig om te styg. In die dekade tussen 1973 tot 1982 was daar 1500 natuurlike rampe, van 1985 tot 1992 was daar 3500 gewees...en 1992 tot 2005 ‘n asemrowende 5000! Twee honderd ses en twintig duisend mense het gedurende die 2006 Tsunami omgekom of verdwyn en ‘n half miljoen is dakloos gelaat. Die vloed van Oktober 2000 het twee honderd duisend mense se huise verwoes. ‘Katrina’ het in Augustus 2005, 1300 laat omkom en een miljoen is dakloos gelaat. Amper vier miljoen mense in die afgelope dertig jaar het aan natuurlike rampe omgekom en 4.5 biljoen mense is daardeur affekteer...

Die verskynsel van strukturele geheue, of gedagte en geheue verplasings in die water, moet een of ander effek op die water om ons hê. Daar moet een of ander kulminasie wees van al die negatiewe inwerking van die mensdom se konflikte. Die water neem al die sisteme op en ons is almal ‘n skakel in ‘n gekoppelde ketting van verweefde informasie. Elke gedagte, geluid of aksie wat uit ons gaan moet een of ander energie effek in die atmosfeer loslaat. Slegte informasie word in die water opgeneem en akkumuleer laag vir laag in die geheue daarvan. Indien hierdie proses oneindigheid aanhou kan die water in effek sy verstand verloor...

Reiniging met en deur water speel ‘n prominente eeu oue rol by die meeste rituele in die verskillende gelowe van die mensdom. Die simboliek in die sakrament van die doop in sy verskillende vorme is verteenwoordigend van die Goddelike genade wat op die mensdom neerdaal en die eksperimente wat die verskillende kristal patrone vir ons vasgelê het toon aan dat daar ‘n duidelike ooreenkomste is in die mensdom se religieuse persepsies. Visuele beelde van die mikroskopiese kristallisering wat plaasvind kan gesien word in die bevrore plate van die Christen, Moslem en Boeddhistiese gebede en daar is ‘n duidelike, amper identiese ooreenkoms in die rangskikking van die kristalle. Met ander woorde die reaksie van die water se geheue, of die Gees, by wyse van spreke, is dieselfde wanneer daar tot God toenadering gesoek word. Nou wonder ek ... Indien water so reageer, wie is ‘n prediker van enige denominasie om te beweer dat sy weg die enigste weg is!

Daar is verskillende eksperimente gemaak met woorde en kombinasies van woorde om te bepaal welke woorde die mees reinigende effek op water gehad het volgens die patrone van die kristallisering wat onder die mikroskoop gesien kon word, en die kombinasie van ‘liefde’ en ‘dankbetuigings’ het by verre die kragtigste effek gehad. Die ‘Absolute’ het die eerste lewe in die heelal geplaas. Al die materiële manifestasies van die orde en die lewegewende is in alles vasgevang en word daarin preserveer en manifesteer, en so dus die Goddelike elemente van die voorwêreldlike en oer oseaan. Ons het elk elemente van daardie ‘oseaan’ in ons liggame, elke druppel is ‘n gedagte, ‘n bron van informasie ‘n medium, ‘n gedagte, ‘n bron van inligting en ons is almal hier om die ‘Absolute’ daardeur terug te betaal met dankbetuiging...

Noudat ons weet dat water nie net lewe gee en bring nie, maar inderdaad self ook ‘lewe’, ‘n geheue met emosies het, telepatiese magte genereer, en oor al vooraf genoemde werkinge wat deur wetenskaplikes bevestig en vertoon word beskik, en natuurlik met God se goedkeuring, Sy hele of gedeelte van Sy alomteenwoordigheid vestig en huisves; het ek ‘n voorstel:

Kom ons oorbrug al die gegradueerde ‘papier gode’, wat ‘Jetskis’en huise by Balito met die winste op hul konsultasie fooie koop, kom ons omseil al die leke beraders wat multi miljoen huise besit en deur dik glas kansel blaaie manewales uithaal wat nie eens eie huwelike kan red nie, kom ons wys vir die ‘verloopte landboukundiges’ wat oor die oseane gaan om ‘kits huwelike’ in vreemde landerye te ‘saai’, kom ons wys vir al hierdie ‘water draende’ wesens dat Goddelike geluk, krag, liefde en werkinge ook elders as in die lettere van pastorale dogmatiek te vinde is.

Kom ons skep en bou ‘liefdes poele’. Dink julle nie dit sal werk as elke stads of dorpsraad ‘n netjiese, skoon, natuurlik ontwerpte paradysagtige onderdak poel bou wat met natuurlike maagdelike water uit die baarmoeder van die aarde gevul is nie. Dat daardie poele dan onderwerp word aan al die wonderlik bydraende Goddelikheid, soos konstante, sagte romantiese en klassieke musiek, die aroma van kalmerende olies, diep filosofiese liefdes leuses en passievolle bewoordings... Dat uitgesoekte paartjies wat opreg intiem en onvoorwaardelik lief vir mekaar is, en wanneer die optimum emosie hulle influister, toegelaat te word om mekaar in daardie poel te omhels en diep, diep intiem te soen sodat daardie poele daardeur belaai word met opregte ‘ladings’ krioelende liefde. Daardie poele moet ‘n natuurlike liefdes ‘blou’ aanneem soos die mistigheid op die plato van Uraima...

Dan moet paartjies wat probleme ondervind, paartjies wie se passie tekens toon dat dit taan, wie se oorspronklike liefde vir mekaar onderwerp word aan druk en negatiewe inwerking, en paartjies wat deur twyfel gaan, toegelaat word om ‘n gesamentlike ‘kikkerdip’, ‘n passieplons te neem, ja in daardie plas te gaan week, sodat die poel van liefde hulle kan omspoel en terug kan ‘shock’ soos geen charismatiese handoplegging ooit sal kan doen nie...

Kom ons gebruik ons verbeelding en ons sit God se wonderlike vloeistof aan die werk!

Die Ou Man
22nd April 2010, 09:44
Hierdie artikel herinner my onwillekeuring aan "Die Christus en die Waterdraer" by hierdie skakel (http://www.wendag.com/forum/showthread.php/32-Die-Christus-en-die-Waterdraer).

Ons moet deurgaans suiwer water in ons kruike hou.

Liefde groete.

Die Ou Man