PDA

View Full Version : Jesus se opstanding



Silencio
14th October 2010, 20:54
(Ek is angstig om te leer en die kennis en waarheid te bekom so ek stel hiermee dan my tweede vraag aan jul vanaand in terme van akkuraatheid rakende die onderstaande artikel)


Ons kan met vrymoedigheid oor Jesus se opstanding as historiese gebeurtenis praat

Jy doen iemand ’n onguns aan as jy vertel dit is nie so belangrik dat Jesus liggaamlik opgestaan het nie, skryf Francois Wessels. ’n Dominee uit Namakwaland vertel dat hy in die verlede vir mense met Paasfees vertel het ...
hoe die doeke in Jesus se graf netjies opgevou was – alles tekens dat sy liggaam nie meer daar was nie.
Daaruit (en ander argumente) kon hy die mense van Namakwaland troos dat Jesus werklik en liggaamlik opgestaan het. Dit was nie sy gees wat later aan dissipels verskyn het nie.
Maar as hy na die debatte oor die opstanding luister, wonder hy of hy sy kudde die volle waarheid vertel het.
Was hy verkeerd om so daarop te staan dat Jesus ligaamlik opgestaan het?
Nee, want volgens die Bybel het Jesus liggaamlik opgestaan. Volgens die evangelies breek Jesus na sy opstanding brood met die Emmausgangers. Hy nooi vir Tomas, wat so moeilik geglo het, om sy vingers in Jesus se wonde te steek, en die dissipels om saam ontbyt te eet. Dit alles beklemtoon sy liggaamlikheid. Teoloë sê graag dat hiermee die kontinuïteit tussen Jesus se aardse en opgestane liggaam uitgedruk word.
Terselfdertyd word ons ook herinner daaraan dat Jesus se opgestane liggaam anders was – dit het deur toe deure beweeg. Hierdeur word die diskontinuïteit tussen Jesus se aardse en opgestane liggaam uitgedruk.
Paulus stem saam – en gaan ’n stap verder: Die gelowiges se opstanding sal die patroon van Jesus se opstanding volg. Met ander woorde, anders as die Griekse denkwêreld, waar mense in die onsterflikheid van die siel geglo het, beklemtoon hy dat gelowiges liggaamlik opgewek sal word. Verder sê Paulus ons opstandingsliggaam sal verskil van ons aardse liggaam – net soos met Jesus se opstandingsliggaam die geval was. In 1 Korintiërs 15 gebruik Paulus die terme soma psuchikon vir ons aardse liggaam (in die 1953- en 1983-vertalings vertaal as “natuurlike liggaam”) en soma pneumatikon (“geestelike liggaam”) vir ons opstandingsliggaam.
Dit is moeilik om die twee terme te vertaal. Ongelukkig help dié vertalings ons nie om die onderskeiding reg te verstaan nie. Die meeste lesers lees verkeerdelik die onderskeiding as een tussen ’n materiële liggaam (soma psuchikon, “natuurlike liggaam”) en ’n nie-materiële liggaam (soma pneumatikon, “geestelike liggaam”).
Op grond daarvan word dan die gevolgtrekking gemaak dat gelowiges eendag as nie-materiële wesens (as “siele”) uit die dood opgewek sal word – en op grond daarvan dink mens ewe maklik aan die opgestane Jesus as ’n nie-materiële, swewende siel. Op grond daarvan word soma psuchikon, die “natuurlike liggaam” dikwels gelyk gestel met die “fisieke liggaam” – en dan volg die gevolgtrekking: Jesus het nie met ’n soma psuchikon opgestaan nie, dus het hy nie “fisies” opgestaan nie.
Na my mening is dit glad nie wat Paulus bedoel met sy teenstelling tussen die soma psuchikon (“natuurlike liggaam” – waarmee gelowiges nou leef) en die soma pneumatikon (“geestelike liggaam” – waarmee ons uit die dood opgewek sal word) nie. Paulus se teenstelling is nie tussen fisiek en nie-fisiek, tussen materieel en nie-materieel, tussen liggaam en siel/gees nie.
Paulus se teenstelling is tussen natuurgedrewe en natuurgerig aan die een kant (psuchikon), en Geesgedrewe en Geesgerig aan die ander kant (pneumatikon). Met “natuurlike liggaam” (soma psuchikon) bedoel hy ’n bestaanswyse beperk deur ons menslike natuur; met “geestelike liggaam” (soma pneumatikon) ’n bestaanswyse gegee en gedryf deur die Gees van God.
Dat Paulus se teenstelling nie tussen materieel en nie-materieel is nie, behoort alreeds duidelik te wees uit die terme: Beide soma psuchikon en soma pneumatikon is, logies gesproke, teenstellings op sigself: letterlik ’n sielagtige liggaam en ’n geestelike liggaam.
Waar moet die klem val?
Indien beide die evangelies en Paulus duidelik maak dat daar ’n kontinuïteit en ’n diskontinuïteit tussen Jesus en gelowiges se aardse en opstandingsliggaam is, wat moet ons beklemtoon?
Dit hang af van die gesprek waaraan jy deelneem. As jy met iemand praat wat onseker is of ons opstandingsliggaam deur aardse swakhede beperk sal word, is dit belangrik om duidelik oor die diskontinuïteit te praat en te beklemtoon dat ons opstandingsliggame (soos Jesus s’n) eenders maar ook anders – onverganklik – sal wees.
As jy egter met iemand praat wat nie glo dat Jesus uit die liggaamlike uit die dood opgestaan het nie omdat dit – volgens haar – eenvoudig net nie moontlik is nie, is ’n gans ander saak op die tafel. Dan gaan dit nie oor die aard van die opgestane liggaam van Jesus nie – maar oor die vraag of ons in ’n moderne eeu, met ons radio’s en elektriese lig, nog kan glo dat ’n liggaam wat dood was, uit die dood opgewek kon word.
’n Mens doen iemand wat sukkel om te glo dat die liggaamlike opstanding van Jesus moontlik was, ’n onguns aan as jy haar sou vertel dat dit nie so belangrik is dat Jesus liggaamlik opgestaan het nie, solank sy net glo Jesus het opgestaan in die sin dat sy invloed op sy volgelinge voortgeduur het, of solank sy net Jesus se invloed in haar lewe ervaar.
In gesprek met iemand wat nie glo dat Jesus liggaamlik opgestaan het nie, is dit van die uiterste belang dat ’n mens, in navolging van die evangelieverhale en Paulus, sal beklemtoon dat Jesus se opstanding wel ’n liggaamlike, werklike opstanding was – al is dit hoe moeilik vir ons om dit vandag te glo.
Om uit so ’n gesprek te probeer vlug met verduidelikings dat Jesus se opstanding eintlik maar net ’n metaforiese opstanding was, of dat ons net daaroor kan praat in terme van hoe die opstandingsverhaal ons inspireer om ’n opstandingslewe te leef, sal nie deug nie.
Net so min sal slimmighede help soos die antwoord dat ons nie kan sê of die opstanding ’n historiese gebeurtenis was nie “omdat ons nie toegang het tot die opstanding as ’n historiese feit nie”. Daarmee word waarskynlik bedoel dat ons oor geen ooggetuienis van opstandingsgebeure beskik nie, of dat dit so ’n wonderbaarlike gebeure was dat dit nie in terme van ons daaglikse ervaring beskryf kan word nie.
Ons kan met groot vrymoedigheid van die opstanding van Jesus as ’n historiese gebeure praat, as iets wat op ’n sekere tyd en plek gebeur het.
Dit is belangrik om hier te onthou dat die historiese ondersoek ’n ander metode as die natuurwetenskappe gebruik. Anders as by natuurwetenskappe, kan ons in die geskiedkundige ondersoek nie eksperimente in ’n laboratorium herhaal nie. In die historiese ondersoek, soos in die regspraak, werk ons met ’n oorwig van waarskynlikheid dat die getuienisse oor dié gebeure waar is.
My eie ervaring is dat die kwessie van Jesus se liggaamlike opstanding die een is waaroor mense binne en buite die kerk die meeste vrae het. Gevolglik is dit daardie kwessie wat seer sekerlik verdien om duidelik aangespreek te word.

Die Ou Man
14th October 2010, 21:49
Om tegnies te raak oor die opstanding beteken bloot dat die doel van Jesus se geboorte, lewe en opstanding nie verstaan word nie.

Ek haal aan uit "Die Onbekende God", wat ek geskryf het en seker nooit gaan publiseer nie, omdat ek nooit daarmee gaan klaarkom nie.


Hoofstuk 5

Oorwinning oor die Dood

Die pad kronkel deur die ranteveld na Wolwefontein. ‘n Koedoebul spring langs ʼn karooboerboon op en klief deur die digte valleibos. Sy sierlike horings, platgetrek teen sy rug, met sy stert wat die wit vlag bedek. Die jonger bulle is lief daarvoor om windmaker, stert in die lug, die wit gedeelte onder hul stert te vertoon. Die ouer bul weet van beter. Om te oorleef, moet hy so onopsigtelik moontlik wees. Trofeejag is hier ʼn belangrike bron van inkomste. Die grootste bulle is die teiken en hulle weet dit.

Waarom die vrees vir die dood? Dit is tog ʼn eeu-oue verskynsel en teen híérdie tyd behoort ons al gewoond daaraan te wees. Die koedoe moet tog verstaan dat hy bloot ʼn skakel in die voedselketting is. Ons het ʼn rakleeftyd. Waarom verset ons onsself daarteen en waarom rou ons wanneer ons vriende en naasbestaandes aan die dood afstaan? Lewe en dood is tog die siklus wat ons bestaan reguleer. Is dit die natuurlike drang om oorlewing, wat hierdie vrees vir die dood by die mens verwek? Miskien in die koedoe se geval, ja. Maar in die mens se geval, is dit meer as die drang om te oorleef, want ons vrees vir die dood geld ook vir die dood van ander mense. Dalk is dit die vrees vir die onbekende.

Was Jesus bang vir die dood? In Mathtéüs 26:37 staan geskryf dat Jesus begin bedroef en benoud word. In vers 38 sê Jesus: “My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met my.” Lukas 22 vertel dat die sweet van Jesus, soos bloeddruppels op die grond geval het.
Ek bevraagteken nie meer die koedoe se vrees vir die dood nie. Die Bybel leer dat Abel die eerste mens was, wat gesterf het. Die vleeslike dood is deur Abel ingelui. In ‘n sekere sin, kan ons seker aanvaar dat Abel die eerste slagoffer van Satan was. Daarom tref Hebreërs 12:24 die volgende vergelyking: “ en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.”

Maar uiteindelik word Adam, wat volgens Lukas 3:38 die seun van God is, deur Paulus verantwoordelik gehou vir die vleeslike dood. “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.”

Die opstanding van Jesus uit die dood is naas die skepping, die mees belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom. Die godsdienstige leiers en Satan behaal die oënskynlike oorwinning. Hulle vermoor die Messias soos beplan. Die moord word voltrek op die instrument van Satan, die kruis van Golgota.

Op die derde dag behaal Jesus die oorwinning oor Satan en die dood. Jesus word deur God uit die dood opgewek en verskyn aan Maria Magdalena. Deur die opstanding, het ek deel aan die oorwinning en daarom is ek bevry van Satan en dit waaroor hy mag gehad het, naamlik die dood. Hebreërs 2 verduidelik soos volg:

“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het, dit is die duiwel en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” Ons is nie van ons sondige natuur of anders gestel, ons ongehoorsaamheid bevry nie, maar wel van die dood.

My logika sê vir my dat, indien Jesus ons van die dood bevry het, ons vir ewig behoort te lewe. Tóg gaan ons steeds dood. Dit rym nie. Miskien is dit beter om Jesus self te raadpleeg. “Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik. soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.” Jesus bevestig dat hy gekom het om aan ons die ewige lewe te gee. Dan verduidelik hy wat die ewige lewe behels. “ En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Is dit dan waaroor die werklike boodskap van Jesus gaan? Ja, dit was sy opdrag. En daardie opdrag het hy afgehandel voor die moord. “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Die feit dat Jesus sy opdrag voor die moord afgehandel het, bevestig dat daar nie ‘n sondofferbok-opdrag bestaan het.

Ek het nou ʼn beter begrip van Jesus se opdrag. Hy was getaak om aan ons die weg na die ewige lewe te wys. Die ewige lewe behels dat ons vir Jesus ken en die God deur wie hy gestuur is. Maar was daardie God dan nie reeds vir duisende jare bekend nie? Dit maak nog nie heeltemal sin nie. Ek sal maar weer moet gaan dink.

Die wildekastaiings vertoon soos pienk blertse teen die koeltehange van die Kleinwinterhoekberg. Hulle is oortrek met groot helderpienk blomme. Die wildekastaiing is ʼn gasheerplant vir die lemoenvlinder. Hierdie vlinders lê ook hul eiers op die blare van die witysterhout, kleinperdepram en perdepis. Hierdie bome is almal inheems, sitrus-verwant en kom voor in die berge wat die Sondagsriviervallei begrens. Nodeloos om te sê, dat die sitrusboorde in die vallei, deel geword het van die lemoenvlinder se habitat. Die lemoenvlinder heg haar eiertjies aan die onderkant van die blaar. Wanneer die larwes uitbroei, begin hulle onmiddelik om die blaar te verorber. Wanneer hulle groter is, kan hulle groot skade aan ʼn lemoenboord aanrig. Die larwes word gewoonlik met die hand verwyder. In die natuur het die larwes min natuurlike vyande.

Ek sien die rusper in my geestesoog. Hy is lomp, stadig en sy lewenstaak is om te vreet. Sy hele bestaan is beperk tot die tak waarop hy sit. In teenstelling met die rusper is die vlinders vry en vlieg die wêreld vol. Daar is so ʼn drastiese kontras tussen die twee. Weet die vlinder dat hy voorheen ʼn rusper, met al sy beperkinge, was? Weet die larwe dat hy in ‘n vlinder gaan verander, of is hy te vasgevang in sy huidige bestaan? Ek glo nie dat die rusper weet nie. En al sou die vlinder teruggaan om hom te vertel, sal hy dit nie verstaan nie.

Nou verstaan ek meer aangaande Jesus se boodskap. Hier in ons aardse bestaan, voer ons die bestaan van ʼn rusper. Ons lewe wentel om ons huidige rusper status. Ons dink en redeneer in terme van ons vleeslike beperkinge. Daarom het Jesus die vlinder, weer die kleding van ʼn rusper aangetrek, om vir ons te kom sê dat daar binne ons, ʼn vlinder wag om te ontsnap. Daarom lees ons in Lukas 17:20: En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

Wanneer ek dus tot die besef kom, dat die vleeslike dood nie die einde is nie, maar wel die begin van die werklike lewe, verstaan ek die boodskap van Jesus. Tydens die dood trek ek my vleeslike kleding uit en vertrek op ʼn nuwe reis, soos wat die vlinder van die beperkinge van die rusper ontsnap. Daarom skryf die apostel Johannes in sy eerste brief :

“Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.”

My gedagtes keer terug na Hebreërs 2. “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het, dit is die duiwel en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” Ek hoef nie meer die dood te vrees nie.

Dit wat ek sien wanneer ek in die spieël kyk, is my vleeslike bederfbare liggaam. Dit is nie wie ek is nie. Binne hierdie aardse tentwoning, waarin ek nou my bestaan voer, is ek in die gees gebore, kind van God. “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af.”

Liefde groete.

Die Ou Man