PDA

View Full Version : Die hele Skrif is deur God geïnspireer



Stefanus
16th December 2010, 23:43
Die hele Skrif is deur God geïnspireer...
Deur Gerda de Villiers

Inleiding

Verlede keer het ek nagedink oor die bril van tradisie waardeur ons die Bybel lees en verstaan. Vandag wil ek die klem laat val op die Bybel self – dié Skrif wat ons as geïnspireerde Woord van God aanvaar wat groot waarde het om ons ‘in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek’ … (2 Tim 3:16). Wat bedoel die outeur van die Timoteus-brief met ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer’ …? Is dit die Bybel, soos wat ons vandag die Bybel ken?


Die Ou Testament

Die hele Skrif wat aan Timoteus voorgehou word, het betrekking op die religieuse geskrif van sy tyd: die Ou Testament. Maar watter Ou Testament? Dit was beslis nie die Ou Testament soos wat ons dit vandag ken nie. Die sogenaamde Tanakh - Torah, Nevi’im en Ketuvim, oftewel die Wet, die Profete en die Geskrifte het baie laat tot ‘n eenheid gegroei. Voor-Christelik, en selfs in die eerste eeu na Christus, was dit ‘n aantal los boeke wat afsonderlik naas mekaar bestaan het. Die boeke wat betrekking op die Torah gehad het, die wetsboeke of die boeke van Moses, het die hoogste gesag gehad. Vir praktiese doeleiendes en ook omdat die meeste mense ongeletterd was, moes hulle hierdie boeke van kindsbeen af uit die kop leer. Die Profete was net onder die Wet, maar die Geskrifte was tot diep in die eerste eeu na Christus omstrede. ‘n Boek soos byvoorbeeld Hooglied se kanoniese waarde is nie slegs in die geskiedenis van die Christendom in twyfel getrek nie, maar ook in Joodse kringe was dit van die laaste boeke wat in die Eerste Testament ‘n plekkie gegun is.

Boonop was daar sedert die laaste eeue voor Christus twee stelle Joodse Heilige Geskrifte in omloop: die Hebreeus-Aramese tekste, en die Septuaginta oftewel die LXX. Die LXX is veronderstel om ‘n woordelikse vertaling van die Hebreeus te wees, maar dit is nie orals die geval nie. Boonop duik daar tekste in die LXX op wat nie in die Hebreeuse Skrif voorkom nie, soos byvoorbeeld die byvoegings by Ester, Jeremia, Daniël en ‘n boek soos 1 Esdras. En verder verskil die volgorde van die boeke in die twee weergawes: albei begin by Genesis, maar die Hebreeuse Skrif eindig by Kronieke en die LXX by Maleagi. [Ons Afrikaanse Bybel aanvaar die boeke in die Hebreeuse teks as gesaghebbend, maar ons volg die orde van die LXX.]


Die Nuwe Testament

Toe Jesus op die toneel verskyn, is nóg die Ou – nóg die Nuwe Testament gekanoniseer. Die gesaghebbende boeke van die tyd is Moses en die Profete, en na alle waarskynlikheid bevat die LXX die bekende en vertroude dokumente. Dít is die Heilige Skrif vir Jesus en sy eerste volgelinge. Hulle ken nie ‘n Nuwe Testament nie en het ook nie een nodig nie: Moses en die Profete is genoegsaam om hulle te leer en te onderrig. En hierop word die teologie van die Nuwe Testament gebou.

Ná Jesus se dood het die behoefte by sy latere volgelinge ontstaan om die Skrifte nuut te lees. Die ou Skrifte het hulle nuut interpreteer en alles op Jesus van toepassing gemaak. Hulle wou veral beklemtoon dat die Jode nie die ‘ware’ betekenis van hul eie Skrifte verstaan het nie. En met verloop van tyd, in die tweede helfte van die eerste eeu en ‘n bietjie later, het die geskrifte wat ons vandag die Nuwe Testament noem, begin gestalte kry. Paulus se briewe is van die vroegste Nuwe Testamentiese geskrifte. Die Evangelie-skrywers het die mondelinge oorlewering van die Jesus-woorde en die narratiewe, veral die lydensgeskiedenis, as bronne gebruik. Vroeg in die tweede eeu (nC) maak Justinianus die Martelaar melding van die apomnēmoneúmata (herinneringe van die apostels) wat deur die Christene Evangelies genoem word en wat hulle op gelyke vlak met die Heilige Skrif (op daardie stadium nog die Ou Testament) beskou. Maar dit was nie die enigste geskrifte nie. Daar was baie meer dokumente in omloop, en spoedig moes daar besluit word watter hiervan betroubaar was, en watter nie?

Die Muratori-fragment (ca 170 nC) bevat die oudste lys van Nuwe Testamentiese geskrifte: die aanvaarbare sowel as die nie-aanvaarbare boeke. Nogtans is hier geen sprake van ‘n vaste en onomstrede kanon nie, inteendeel, hierdie dokument dui aan watter ingewikkelde en moeisame proses kanonvorming is.

Miskien het alles by Marcion (140-150) begin wat op ‘n aweregse manier baanbrekerswerk gedoen het. Hy het slegs die Lukas-evangelie en die tien Paulus-briewe as gesaghebbend beskou (ook die pastorale briewe het hy afgewys). Die God van die Jode en die Joodse Heilige Skrifte was volgens hom minderwaardig en ondergeskik, en nie eers dieselfde God as waarvan Lukas en Paulus getuig nie. Sy reduksionistiese houding het, sonder dat hy dit so beplan het, die jong Christelike kerk gedwing om na te dink oor die geskrifte wat in omloop was, en ook om te besin oor wat hulle as gesaghebbend beskou, of nie. En dit het uiteraard ook die status van die ou Testament geraak. Maar, onwetend het hy die besluitnemingsproses oor ons hedendaagse ‘kanon’ ‘n hupstoot gegee.

Die eerste verteenwoordiger van ‘n anti-gnostiese en anti-Marcion bewussyn, is Biskop Ireneaus van Lyon (175-185). Sy bekendste werk is Adversus Haereses (Teen die Kettery) waarin hy die dwaalleer van die gnostici bestry. Terselfdertyd neem hy direk standpunt in teenoor Marcion. Hy handhaaf dat die Heilige Skrif van die Jode ook gesaghebbend vir die Christendom is, en dat al vier die evangelies gelyke waarde het. Dit is egter eers by Tertullianus, biskop van Noord Afrika (ca 160-220) nC), wat die begrippe ‘Ou -’ en ‘Nuwe Testament’ vir die eerste keer opduik. Maar Tertullianus gebruik nog nie die woorde ‘testamentum’ nie – hy verwys na die twee dele as vetus en novum instrumentum. So word die grondslag gelê vir wat later as die Ou en Nuwe Testament bekend sou staan.

Origenes van Aleksandrië (ca 185-254 nC), ‘n tydgenoot van Tertullianus, lewer ook ‘n belangrike bydrae. Hy neem die bestaande geskrifte in oënskou en onderskei drie kategorieë: (i) homolegómena – dié geskrifte wat eenparig deur almal as gesaghebbend aanvaar word; (ii) amfiballómena – omstrede geskrifte; en (iii) pseudē – geskrifte wat as leuens of kettery beoordeel word. Eusebius van Sesarea (263-339) maak ‘n soortgelyke onderskeiding, ofskoon die indeling van boeke in die verskillende kategorieë nie heeltemal met Origenes s’n ooreenstem nie. Dit is tog interessant dat ‘n geskrif soos die Pastor van Hermes wat deur Ireneaus en Origenes as gesaghebbend beskou is, en later by Eusebius as omstrede gereken word, uiteindelik heeltemal uit die kanon van die Nuwe Testament val.

Daar word algemeen aanvaar dat die Nuwe Testamentiese kanon met die sogenaamde nege en dertigste Paasbrief van Atenasius van Aleksandrië (369) beklink word. Atenasius is dan ook die eerste wat van melding maak van tá kanoniká tá bibíia, en kanoniese teenoor apokriewe boeke stel. Die Westerse Kerk het hierdie omskrywing met groot presiesheid nagevolg en ten spyte van geringe verskille, het Atenasius se kanon ook in die Oosterse Kerk inslag gevind. Hiermee is die vernaamste epog van kanonisering afgesluit, en dit is die Bybel wat tot in die Middeleeue deur die Kerk oorgeneem is.


Slotopmerking

Die woord kanon beteken bloot reël of maatstaf. As ons na die Bybel as kanon verwys, moet ons besef dat dit gesaghebbend is spesifiek binne die Christelike geloofsgemeenskap. Verder moet ons onthou dat hierdie boek wat ons vandag die Bybel noem, nie netjies gebonde in ons skoot beland het nie. Dit het na ons toe gekom via ‘n lang en komplekse wordingsgeskiedenis wat oor eeue heen strek. Wat ons vandag onder die hele Skrif verstaan, is iets anders as wat in die Bybel self met Skrif bedoel word. Dit geld nie slegs vir die skrywer van die Timoteus-brief nie, maar ook vir Jesus en waar Hy met die Skrif in verband gebring word (bv Lukas 24:32). Terme soos die Ou en Nuwe Testament het ook eers later in gebruik gekom. Die hele Skrif het gelaagde betekenis, moet versigtig en met groot nederigheid hanteer word.


Bronne:
Dowley, T (red) et al 1988. Die Geskiedenis van die Christendom [vertaal deur Ludwig Visser]. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
Frankemölle, H 2006. Kanon in Berlejung, A & Frevel, C (hrsg), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament, 264-266. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
Roberts, JH & Du Toit, AB 1977. Handleiding by die Nuwe Testament, Band I. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.
Sand, A 2006. Kanon n Baumgarter et al (hrsg), Lexikon für Theologie und Kirche, Fünfter Band, 1179-1180. Freiburg: Herder.
Schindler, A 2001. Kanon in Betz et al (hrsg), Religion in Geschichte und Gegenwart, Band 4, 768-770. Mohr Siebeck.