PDA

View Full Version : Die moeisame pad van skrif



Stefanus
16th December 2010, 23:51
Die moeisame pad van skrif
Deur Gerda de Villiers


Inleiding

Vandag het alle Christene Bybels – anders gestel, dis ondenkbaar dat iemand ‘n Christen kan wees sonder dat hy of sy ‘n Bybel het om te lees. Sendingaksies doen moeite met ‘Bybelverspreiding’ na lande wat nie tradisioneel Christelik is nie, in die hoop dat iemand ‘n Bybel in die hande sal kry, lees en tot bekering sal kom. Maar, so belangrik soos die Bybel vir Christene is, so belangrik is die Koran vir Moslems, die Tenach vir die Jode – kortom heilige geskrifte is vir mense van alle gelowe belangrik, want dit bewaar die tradisies van geloof. Maar skrif het ‘n lang pad gekom voordat dit in heilige boeke beland het!


3000 vC – Mesopotamië en Egipte

Lees en skryf in die Ou Nabye Ooste en Ou Egipte was glad nie vanselfsprekend nie. Die meeste mense was ongeletterd, slegs enkeles was in staat om tekste hanteer – om hulle te skryf en om hulle te lees. ‘n Paar redes kan hiervoor aangevoer word.

Laat ons by ‘n baie basiese vraag begin: hoekom het mense begin skryf? Die heel oudste tekste wat ons het, is nie religieuse tekste of geskiedenis nie, maar ‘kwitansies’! Die spreekwoordelike ‘money makes the world go round’ was waar, selfs 3000 jaar gelede. Dít hang saam met die verstedelikingsprosesse in Mesopotamië en Egipte. Mense het in stede begin woon, huise, paleise en tempels gebou. Die administrasie van koop en verkoop, veral by die tempels en paleise het skielik baie ingewikkeld geraak, want transaksies is nie meer op ‘n een-tot-een basis beklink nie, maar etlike tientalle, selfs honderdtalle items wat geruil is. Hiermee moes tred gehou word.

Tesame met verstedeliking, het ‘n burokratiese sisteem ontwikkel wat streng hiërargies gestruktureer was. Duidelike klasse kon in die samelewing onderskei word, waarvan die ‘adel’ en die priesters/priesteresse die heel belangrikste was. As ‘n mens nou in gedagte hou dat skrif eintlik ontstaan het as ‘n komponent van ‘n burokratiese aktiwiteit, is dit vanselfsprekend dat skrif hoofsaaklik in die hoër kringe van die samelewing beoefen is. En so tree nog ‘n belangrike en hooggeagte klas na vore: die skrywers, of skrifgeleerdes. Hulle was eintlik diegene wat tekste geskep het en dit vir ‘n bepaalde doel gebruik het.

Daar was veral twee soorte tekste. Die eerste soort was tydelik van aard en slegs bedoel vir die tyd waarin hulle geskryf is. Dit was die dokumentęre tekste, soos byvoorbeeld kwitansies, kontrakte, korrespondensie oor aktuele sake. Die tweede soort was die ‘durende’ tekste, letterlik ewigdurend bedoel. Hierdie tekste is van geslag tot geslag oorgedra en was die hoekstene vir kuns en kultuur. Maar hulle was nie gemik op elke Jan Rap en sy maat nie! ‘n Heilige teks soos Enuma Elisj is deur die hoëpriester op die vierde dag van die Babiloniese Nuwejaarsfees (Akitu) gelees. Dit het gebeur in die binneste heiligdom van die tempel in die teenwoordigheid van die standbeeld van Marduk. Die doel van die voorlesing was om Marduk aan sy verantwoordelikheid teenoor die węreld te herinner naamlik, om vanuit sy Esagila heiligdom die chaosmagte van Tiamat in bedwang te hou en ‘n ordelike węreld te verseker. Ander heilige tekste is hoofsaaklik in tempels gevind, soms in hulle in die pilare, mure, fondasies of ander ontoeganklike plekke ingelę. Dit is baie duidelik dat hierdie tekste nie bedoel is om deur ‘n menslike oog gesien te word nie.

Die doel van ‘n teks soos die Gilgamesj-epos was tweërlei van aard. In die eerste plek het dit ‘n pedagogiese doel gedien en kan as ‘n soort wysheidsteks (narű-literatuur) bestempel word: om konings te leer hoe om met wysheid en insig te regeer. In die tweede plek het dit ‘n akademiese doel gedien. Groot gedeeltes van hierdie teks is in ‘skrywerskole’ gevind waar dit heelwaarskynlik deel uitgemaak het van die curriculum vir voornemende skrywers. Dele van die teks is of vir hulle gedikteer, of hulle moes dit memoriseer en dan neerskryf.

Kortom, lees en skryf was die besit van die elite in die samelewing. Die uitsondering op die reël was die reuse monumentale inskripsies soos wat veral in Egipte gesien kan word. Hier het die publiek wel toegang tot skrif gehad. Min van hulle kon dit egter lees. Veel eerder was hierdie inskripsies ‘n koninklike magsvertoon. Dus, die blote eksklusiewe aard van skrifgebruik bevestig die gewone mens se plek binne die hiërargie van die antieke samelewing: min of meer heel onder.

Natuurlik hang die beperkte toegang tot tekste in Mesopotamië en Egipte ook saam met die kompleksiteit van die skrifsisteem van daardie samelewings. Spykerskrif was moeilik! Daar is meer as 600 tekens wat woorde, grammatikale konsepte en sillabes verteenwoordig. Egiptiese skrif word ook genoem ‘hiërogliewe’ – letterlik, ‘heilige gravering’. Ook hier verteenwoordig tekens onder andere ideogramme, groepe van twee of drie konsonante, en dan is daar nog ‘n hele reeks determinatiewe wat help om die implikasie van ‘n woord te klassifiseer of te verhelder. Slegs farao’s priesters en militęre leiers het opleiding in die heilige skrifkuns gekry.

Nóg spykerskrif, nóg hiërogliewe kon egter daarin slaag om spraak in ‘n semiotiese skrifsisteem om te skakel.


2000 vC – Ugarit

Vir etlike eeue was dit dus net die toplaag van die samelewing wat kon lees en skryf. Maar vroeg in die tweede millennium vC neem sake ‘n stadige maar besliste wending: die laer strata neem hierdie medium van kommunikasie oor, en pas dit toe vir hul eie gebruik. Die oudste lineęre alfabetiese inskripsie dateer uit hierdie tydperk en is by die Wadi el-Hol in die Oos-Egiptiese woestyn gevind. Hierdie inskripsie is graffiti, en deur ‘n man-op-die-straat geproduseer. [Dit lees bloot ‘aan baalat’.]

Natuurlik word die ou skrifsisteem nog steeds deur die skrywersklas in stand gehou, maar die gewone mense begin al hoe meer op ‘n manier skryf wat hulle kan bemeester en verstaan. Etlike ander alfabetiese inskripsies dateer uit hierdie tyd, maar omdat die staat dit nog nie oorgeneem het nie, is dit hoogs eksperimenteel van aard en glad nie standaard wat byvoorbeeld rigting betref nie. Die eenvoud en leke-oorsprong daarvan het egter verreikende implikasies gehad: teoreties kom meer tekste vir meer mense toeganklik gemaak word. Spoedig sou dit ook gebeur.

Dit het egter nog ‘n hele rukkie geduur voordat die leek by die eksklusiewe praktyk van lees en skryf ingesluit sou word. In Ugarit het hoër kultuur het alfabetiese skrif eerste vir hul eie doel geannekseer so teen die einde van die 7e eeu vC – die Laat Bronstyd. Die Ugaritiese skrifgeleerdes het ‘n revolusionęre omwenteling in die bestaande skryfkuns teweeg gebring: hulle skep ‘n nuwe sisteem, ‘n manier waarop die plaaslike taal nie slegs gepraat word nie, maar ook geskryf word. Die amptelike Kanaänitiese alfabet bestaan uit slegs 22 spykertekens. Maar skrif, selfs die meer eenvoudige Kanaänitiese alfabet, was staatsbesit en feitlik uitsluitlik bedoel vir die oë van gode en prinse.


Die Hebreeuse Bybel

Die eerste brokstukke van die Hebreeuse Bybel verskyn betreklik laat op die toneel.

Hebreeus is ‘n lineęre, alfabetiese skrif wat impliseer dat dit meer toeganklik as die Mesopotamiese of Egiptiese dokumente was. Nietemin beteken dit nog nie ‘n toename in geletterdheid nie – min gewone mense kon die Hebreeuse dokumente lees wat deur die Judese skrifgeleerdes opgestel is. Tog word daar veral in die Pentateug, maar ook deur die res van die Ou Testament ‘n dringende begeerte weerspieël om tekste aan ieder en elk bekend te maak – al is dit deur mondelinge aankondiging. So lees ons byvoorbeeld in Eksodus 24:3-4: Moses het toe al die gebooie en bepalings van die Here aan die volk gaan bekend maak. Hulle het soos een man gesę: ‘Ons sal alles doen wat die Here beveel het.’ Toe het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf; en in vers 7: Hy het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Deuteronomium 31:11-12 stel dit nog sterker: … moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor. Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan. Daar is nog heelwat soortgelyke tekste wat die openbare voorlees en aanhoor van die Woord van die Here beskryf. Natuurlik is dit onwaarskynlik dat Moses, Joshua (8:34-35), of Josia (2 Kg 23:1-3) man alleen die hele volk kon toespreek, maar die punt is: in die Hebreeuse Bybel is skrif en geskrewe dokumente nie slegs die besit van die koning en priester nie, maar die hele volk moet kennis dra van wat daarin staan.

Die onderrigsisteem was waarskynlik grotendeels mondeling van aard: ons lees dat priesters en Leviete die mense moes onderrig (bv Lev 10:11; Deut 17:9-12; 31:9-13; 33:9b-10), maar hierdie onderrig moes ook in die huisgesinne ingeskerp word (Deut 6:6-9). Israel beoefen as’t ware ‘n nuwe soort skryfkuns, skrif wat gememoriseer en in die hart en in die verstand ingebrand word.

Die ‘ewig-durende’ tekste van Mesopotamië en Egipte het ook heelwat memorisasie behels, en die onderrig-sisteem was daarop gemik om ‘n elite geletterde skrywersklas in stand te hou – ‘n stand verhewe bo die res van die bevolking. Die Pentateug keer hierdie ideaal op sy kop en visualiseer dat die hele Israel ‘n volk met wysheid en insig is (Deut 4:6). Kennis van die wet en ander leringe onderskei Israel van die nasies, en stel hulle in staat om ‘n heilige opgevoede minderheid te wees binne die węreld van die Ou Nabye Ooste.

Tog is dit wel so dat skrif teen die einde van die 4e eeu vC meer algemeen in gebruik was as vroeër. En die verhouding tussen die geskrewe medium en die teologie van die Hebreeuse Bybel het sy oorsprong in die gebeure rondom die Ballingskap. Die klem op geskrewe tekste kom duidelik na vore in die boeke Esra-Nehemia wat net na die Ballingskap afspeel. Die leier is Esra, die skrifgeleerde – nie ‘n koning of ‘n profeet nie. Het alles slegs by ‘n mondelinge oordrag gebly, sou sekere sake beslis in die vergetelheid verdwyn. Dit maak nie saak hoe goed iets gememoriseer word nie: namate kultuur verander – en geen kultuur is staties nie – raak sekere dinge irrelevant, oorbodig, en verdwyn uit die geheue. Dit is anders wanneer dit op skrif gestel word. In radikaal veranderende omstandighede het Israel ‘n Boek – nie ‘n koning, ‘n tempel of ‘n land nie. Hierdie Boek moes hulle help om die verlede te onthou, sodat hulle kon weet hoe om in die hier en nou, die hede te lewe, maar ook sodat hulle vir die toekoms kon voorberei.


Slot

Skrif het uiteindelik sy pad in allerlei tekste gevind, nie slegs in heilige geskrifte nie. En vandag is ons ook glad nie meer beperk tot boeke en woorde op papier nie. Skrif se lang en moeisame pad het gekom langs kleitablette, papirus, perkament, papier tot by die internet.


Bronne
Berman, JA 2008. Created Equal. How the Bible Broke with Ancient Political Thought. Oxford: Oxford University Press.
George, AR 2003. The Babylonian Gilgamesh Epic. Introduction, Critical Edition and Cuneiform Texts. Volume I. Oxford: Oxford University Press.
Krüger, JS; Lubbe, GJA & Steyn, HC (reds) 2008. The human search for meaning. A multireligion introduction to the religions of humankind. Pretoria: Van Schaik.