PDA

View Full Version : Bid werk nie, sê dominee



Die Ou Man
1st March 2011, 08:08
Bid werk nie, sê dominee
2011-02-28 22:20

Neels Jackson

Gebed in die vorm van versoeke rig aan God werk nie, meen ds. Albert Cruywagen van die NG gemeente Riebeeckpark in Kempton Park.

Daarom sê hy die kerk moet nuut oor gebed dink, soos oor ander geloofsbegrippe.

As voorbeeld noem Cruywagen die gebed dat God ’n mens in jou motor op die pad moet bewaar.

Dit werk nie so nie, sê hy.

Hy ken drie gesinne wat gebid het dat God hul kinders moet bewaar en elkeen van dié gesinne het twee kinders in padongelukke verloor.

Net so maak het nie vir hom sin om vir reën te bid nie.

Hy glo nie dat God in die weerstelsels ingryp nie. Daar is groot natuurkragte wat dit beheer.

Dit beteken nie dat hy gebed wil afskaf nie. Cruywagen vul dit egter met ander inhoud.

As jy op die pad gaan, verduidelik hy, is dit jy wat moet wakker wees.

Daarom moet jy bid dat die Here jou versigtig sal maak.

“Eintlik praat ek dus met myself,” sê Cruywagen. Ten diepste is gebed vir hom ’n gesprek met homself met God as aanhoorder daarvan.

Só gesien is gebed vir hom baie sinvol. In aansluiting by die ou Oosterse kerklike tradisie van meditasie meen hy mense behoort meer tyd aan stilte saam met God te bestee.

Gebed is vir hom een van verskeie godsdienstige begrippe wat nuut vertolk moet word “op ’n manier wat werk”.

Ten diepste gaan dit oor die manier wat ’n mens God verstaan. Hy het afgesien van die tradisionele teïstiese siening van God wat baie kerkmense nog huldig en noem sy benadering ’n nieu-teïstiese siening.

Cruywagen dink egter nie dat hy daarmee die kerk ondermyn nie, inteendeel. Waar ander mense sy soort sienings as die Trojaanse perd binne die NG Kerk sien, dink hy daaraan as die ridder op die wit perd wat tot die kerk se redding kom.

Hy ken byvoorbeeld jong mense wat niks meer van die kerk wil weet nie, maar op ’n manier nog aan God wil vashou. Hulle vind aanklank by sy manier van dink.

Self sê hy ook hy staan by die Bybel as die Woord van God en die belydenisskrifte.

Ja, hy kry soms baie lelike teenkanting van Christene, maar sy gemeente verstaan hom. Hulle voel rustig oor sy manier van dink en preek.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Bid-werk-nie-se-dominee-20110228) dd 2011-03-01

Silencio
1st March 2011, 18:02
Gebed werk, maar jy moet ook redelikheid aan die dag lê, ons weet nie wat God se wil is vir ons nie so ons kan nie werklik God blameer as ons bid vir iets en dit gebeur nie, ons kan kwaad wees, hartseer, en nie verstaan nie, maar jy kan nie alles onder dieselfde kam skeer nie, daar is altyd positief en negatiewe resultate, hierdie dominee is nou weer doemprofeet voel ek, want dit is asof hy mense wil aanhits om nie met God te kommunikeer nie en juis so 'n wrig tussen ons en die Vader in te werk.

Groetnis
Silencio

Die Ou Man
2nd March 2011, 10:07
‘Gebed werk nie’: NGK sien dit anders
2011-03-01 22:00

Neels Jackson

Ds. Albert Cruywagen se siening oor gebed is volgens prof. Piet Strauss, moderator van die algemene sinode, nie die NG Kerk se siening nie.

Cruywagen, leraar van die NG gemeente Riebeeckpark in Kempton Park, het vroeër gesê gebede dat God ’n mens moet bewaar as jy in jou motor reis “werk nie”.

Hy het gebed bestempel as ten diepste ’n gesprek met jouself, terwyl God luister.

Volgens Strauss vind ’n mens die NG Kerk se siening oor gebed in art. 13 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat oor die voorsienigheid van God gaan.

Hy het ook na die Ons Vader-gebed verwys waarin Jesus sy volgelinge geleer het om vir hul daaglikse brood te bid. Strauss het gesê gelowiges kan maar bid en vir God vra.

’n Mens kry nie alles wat jy vra nie. Hy sê soms nee.

Volgens Strauss regeer God en is gelowiges in die hande van die Here.

Dis vir gelowiges ’n troos.

Tog gebeur slegte goed met mense en dit kan nie alles verklaar word nie.

Slegte gebeure kan egter nie aan God toegeskryf word nie, maar is te wyte aan die sonde.

Strauss het gesê dat daar natuurwette is wat die weer beheer, sluit God nie daar uit nie. Hy regeer deur sy natuurwette.
Mense het wyd uiteenlopend op Cruywagen se sienings gereageer.

Op Beeld se webwerf was daar mense, onder andere van sy gemeentelede, wat hom verdedig het.

Ander mense het getuienis gelewer van hoe hul gebede wel verhoor is.

Daarby was daar ook talle Christene wat Cruywagen uitgeskel het.

Hy is onder meer uitgekry vir ’n valse profeet, ’n sot, ’n idioot, ’n skande vir die bediening, siek in die kop, en ’n stommerik.

Cruywagen het gesê hy het self oorwegend positiewe reaksie gekry. Die beledigings maak seer, maar hy skuif dit gou van hom af.

Oor kritiek dat hy die Bybel nie reg vertolk nie, het hy gesê hy is klein genoeg om oop te wees vir oortuiging.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Gebed-werk-nie-NGK-sien-dit-anders-20110301).

Die Ou Man
2nd March 2011, 10:16
Uittreksels uit die kommentaar.

Stofflé

Ag kom nou. How convenient vir die kerk om te sê dat "slegte goed weens die sonde" is en nie aan "God toegeskryf kan word nie."

Die belaglikheid daarvan is enersyds komies, maar andersyds tragies dat n instansie nie alleen sulke bog kan kwytraak nie, maar dat hulle dink intelligente, logiese mense dit moet glo.

agnossie

Juistement, Stofflé. Strauss se uitlatings is baie meer verregaande as die van Cruywagen. Want hy besef nie eens dat deur te stel dat slegte dinge nie aan "God toegeskryf kan word nie" hy in wese erken dat sy god nie almagtig en alwetend is nie. Die mense wil maar net nie verstaan dat as jy glo dat "god alles geskep het" het hy nie net die goeie nie, maar ook die kwaad geskep. "God" is dan ten volle verantwoordelik vir die "kwaad" Die enigste vraag wat wel gestel kan word is: Hoekom het hierdie beweerde almagtige wese dan toegelaat dat die kwaad so kwaai posvat? En die enigste logiese antwoord daarop is te skrikwekkend vir hierdie mense om te kontempleer.

Nexus 6

Dit is in elk geval te verwagte. Daar is geen manier dat die geïnstitusionaliseerde kerk met hierdie dominee sou saamstem nie. Histories was dit nog altyd so in elk geval.

Ek moet sê, ek het lanklaas so 'n klomp 'fluff' soos hierbo in 'n koerantartikel gelees.

Moenie jou laat afskrik deur kritiek nie dominee. Die decibel hoogtes van die geskreeu is 'n aanduiding van jou impak. Veronderstel nou daar was slegs 'n stille reaksie of selfs geen. Jy sou maar bra 'af' gevoel het, nie waar nie? En kyk nou!

Ek hou daarvan as hulle senuwees begin 'tril' en die reaksies raak beledigend. Presies wat ek sou verwag het van hulle. Dit is soos om 'n groot klip op te lig en al die 'bugs' laat spaander om uit die lig te kom.

Doen so voort dominee Cruywagen. Begin net 'n bietjie dieper dink hieroor. Jy's goed oppad.

Ek haal graag hierdie versie aan (alhoewel ek nie 'n groot voorliefde het vir die aanhaling van bybelversies nie maar hierdie een is besonders):

*** "Know ye not that ye are gods, and sons of the most high?"
--- Psalm 82:6

Hierdie woorde word selfs bevestig deur die Christus self in Joh 10:34.


Die Ou Man

Die stelling "Hy het ook na die Ons Vader-gebed verwys waarin Jesus sy volgelinge geleer het om vir hul daaglikse brood te bid," is 'n interessante een. Dit bied 'n eenvoudige oplossing vir hongersnood en voedselsekerheid.

In die werklike lewe werk dit egter nie so nie. Die persoon wat sy brood verdien sit dit op sy gesin se tafel met of sonder gebed, ongeag die geloof waarby hy ingekoop het.

Die Ou Man

Die stelling "Slegte gebeure kan egter nie aan God toegeskryf word nie, maar is te wyte aan die sonde" word natuurlik deur Jahweh, die God van die Ou Testament self weerlê.

Jahweh stel dit soos volg: "So het Ek dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie." (Esegiël 20:25)

Jahweh sê ook dat hy die een is: "wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen." (Jesaja 45:7)

Die volgende stelling is ook baie kostelik.

"Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul 'n spies in sy hand hou." (1 Samuel 18:11)

Ek sien nie werklik 'n rol vir die Duiwel nie.

Shatters

Dit is hoekom CRUYWAGEN uit die NG KERK moet bedank en vir atieste of wie ookal gaan kerk gee .. hy kan nie meer namens die NG kerk praat nie . RAAK ONTSLAE van hom so gou as moontlik!!!

Die Ou Man

In wie moet ons glo, in die kerk of in die Skepper?

Die rympie "ek glo aan 'n heilige algemene christelike kerk" was nog altyd onvanpas.

moorcrj

prof. Piet Strauss , jy moet wakker word want jy praat stront met jou stelling "Slegte gebeure kan egter nie aan God toegeskryf word nie, maar is te wyte aan die sonde."
Ek onthou so twee jaar terug was daar 'n geval in Nelspruit waar 'n Gesin aan tafel gesit het een aand. Die klein dogterjie ( 5jaar oud ) het gebid : " Dankie Liewe Jesus dat jy so mooi na ons kyk , dankie vir die lekker kos en beskerm my Mamma en Pappa, Amen". Kort nadat sy Amen gese het bars 3 booswigte die huis in en skiet haar Pappa voor haar dood en verkrag haar Mamma en daarna skiet hulle haar Mamma.
Nou slim prof Pieterjie Strauss, wat het die klein dogterjie gesondig dat sy en haar gesin dit verdien... Wat het die gebed gehelp? Niks. Elkeen moet na homself en sy gesin self omsien. Ek dink nie GOD beinvloed dag tot dag gebeure op die aarde nie. Net so kan GOD ook nie die skuld kry vir dit wat verkeerd gaan op die aarde nie. Dit is in ons hande wat gebeur sleg of goed.

Ek bid, maar ek vra vir niks nie. Ek het 'n persoonlike verhouding met GOD, ek is vir baie dinge dankbaar vir alles. God het my geseen met talent en insig om na myself te kan omsien. Hy gee my innerlike krag om voort te gaan in moeilike tye.

Wat my nog verder grief, is as mense by 'n begrafnis se dat God het vir Sannie kom haal. Terwyl Sannie dalk wreed verkrag en vermoor is. Wat 'n pot stront raak predekante kwyt. Wat se tipe god stuur 'n moordenaar om jou te kom haal. My GOD sal dit nooit doen nie.

Die Ou Man
2nd March 2011, 10:55
Nog kommentaar:

Die Ou Man

Gestel ek bid dat my gesin te midde van al die plaasmoorde gespaar bly en ondanks my pleidooie word ons aangeval.

Deur wie se wil word die handeling van die moordenaars gerig?

coetzeell

Die moordenaars self. Dis hul keuse.

Zebbie

So wat jy se is dat mens kan jou knie deur bid en die Here prys en loof maar hy sal jou onderwerp aan die moordenaars "se wil"? Snaakse god die van julle........GET REAL MAN !!!!!!!!!!!

Die Ou Man

coetzeell, jy aanvaar dus dat daar 'n "wil" buite die wil van God bestaan.

Het die HERE die mag om die moordenaars se keuse (wil)te beïnvloed?

Frank71

Zebbie en Die-Ou,
Sien dit so, om gebede te laat waar word is blykbaar net die god se wil. M.a.w. die god vereenselwig hom met die 'vrye' wil van die moordenaars. Aangesien die god blykbaar almagtig is, kon dit die moordenaars maklik verhoed het om die moord te pleeg. Dit is dus die god se wil dat die slagoffers vermoor word. Afrikaanse christene moet dus minder die regering blameer vir plaasmoorde(wat blykbaar veel minder mag het as 'n sogenaamde almagtige god) en uitvind hoekom dit hulle god se wil is dat sinnelose plaasmoorde plaasvind.

agnossie

En wie het die moordenaars so moordadig gemaak?

Die Ou Man

Agnossie, volgens die Bybel sit die HERE (Jahweh) agter alles.

Dit is die HERE "wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen." (Jesaja 45:7)

Die Ou Man
5th March 2011, 09:27
Bid: Wat is die feite?
deur Koos, Monumentpark

2011-03-03 13:00

Bid werk, of dit werk nie. Wat sê die feite?

As God gebede (soms) verhoor, soos die meeste gelowiges glo, moet dit immers met gelowige gemeenskappe (of ten mense vir dié wat gebid word) beter gaan as met dié waarvoor nie gebid word nie . Anders is daar geen krag in gebed nie. So wat is die feite?

Ds. Cruywagen het onlangs die krag van gebed bevraagteken. Die stortvloed van bitsige kritiek daar rondom vra nugterheid. Laat ons onbevooroordeeld na die saak kyk.

Meeste gelowiges glo dat God gebede verhoor – maar op een van drie maniere: a) “Ja”, b) “nee”, of c) “wag, nie nou nie”. As daar ‘n plekkie vir opsie a en c is, word gebede dus “soms” verhoor.

So waarvoor bid gelowiges? Behalwe vir danksegging en prysing bid gelowiges vir gunstige uitkomstes. Voorbeelde daarvan is bede vir gesondheid, genesing, verligting, beterskap, wysheid, vrede, “behoed en bewaar”, voorsiening, ingryping, selfs ingryping in weerstelsels, ensovoorts.

As God (soms) hierdie versoeke verhoor moet dié mense en gemeenskappe wat bid of voor gebid word, immers gesonder wees, langer leef, veiliger wees, gelukkiger wees, meer voorspoed en wysheid ervaar, beter oeste kry, meer eksamens slaag, minder ongelukke ervaar, ens. In kort, meer “geseënd wees”.

Na die beste van my wete, is dit nie so nie. Glad nie so nie. As dit so was, was oorwegend nie-gelowige gemeenskappe (soos Skandinawiërs) slegter af as oorwegend gelowige gemeenskappe.

Daar is ook baie navorsing gedoen oor die krag van gebed.

Tussen 2002 en 2005 het die Bush-administrasie meer as $2.3 miljoen spandeer aan “prayer research”. Diè sistematiese studies (dubbel-blinde kliniese studies) se bevindinge is in vooraanstaande joernale gepubliseer (Archives of Internal Medicine, Lancet, American Heart Journal, Mayo Clinic Proceedings, ens.) Die krag van gebed kon geensins waargeneem word nie. In elke geval het die etlike honderde koronêre pasiente waarvoor gebid was, GEEN beter oorlewing of genesing ervaar het as die kontrolegroep nie. *

In elk geval, genesende krag van gebed blyk slegs te “werk” in gevalle waar die siekte die potensiaal het om vanself of natuurlik te genees (soos kanker of griep of depressie). Geen “amputee” se gebed is al verhoor nie. Ook geen persoon met ‘n genetiese defek of ‘n morsaf rugmurg nie. (Ek moet egter erken dat Shabir Shaik se wonderbaarlike genesing van ‘n terminale siekte my argument dalk uit die water blaas…)

Dit is die koue feite. Jammer as dit nie by u a-priori standpunt inpas nie. En Ds Cruywagen, ek hoop nie jy gaan jou werk as gevolg van fundamentaliese aktiviste veloor nie.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/MyBeeld/JouStorie/Bid-Wat-is-die-feite-20110303)