PDA

View Full Version : Om God mak te wil maak



Silencio
1st March 2011, 19:06
Dit is interessante leesstof wat baie verskillende opinies kan uitlok, geloofsoortuigings kan heelwat verskil, ek gaan op 'n latere stadium my opinie lig, ek gee vir eers deur aan julle.

bron: Beeld - 2011-01-31 00:11 Stephan Joubert

In “The Times They Are A-Changin’ ” sing Bob Dylan oor hoe verskillende groepe God eksklusief vir hulself probeer toeëien. God is altyd “on our side”.

In dieselfde trant haal John Moffitt (Picturing Extraterrestrials, 2003) vir Voltaire aan wat vertel van ’n pous wat sou gesê het: “If God made us in His own image, we have certainly returned the favor.”

In ’n interessante studie het Nicholas Epley en sy span in 2009 bevind dat mense hul vooropgestelde idees van wat God dink veel sterker met hul eie opinies belyn as met ander mense s’n. Kortom, God dink presies net soos hulle!

Epley-hulle het ook agtergekom in daardie gevalle waar godsdiens*tiges oortuig kon word om van standpunt te verander oor bepaalde religieuse sake, God se standpunt ook dienooreenkomstig verander het!

Ten spyte van al ons plannetjies om God te probeer oortuig om net soos ons te dink, troon Hy bokant dit alles uit. God is Wie Hy is, soos wat Hy Hom in Eksodus 3 aan Moses bekendstel. Hy is die Woord, soos wat Jesus Hom aan ons kenbaar maak in Johannes 1.

God openbaar Homself altyd op Sy eie terme, ten spyte van ons pogings om Hom halfpad op ons eie voorwaardes te ontmoet.
Hy oorkruis op eie stoom elke onoorbrugbare roete na ons toe.

Hoe ontsnap ons aan ons aanhoudende pogings om God “hanteerbaar” te maak en Hom te probeer afbuig tot op ons vlak? Hoe hou ons op om Jesus gedurig te wil afkoel tot kamertemperatuur?

Wel, deur altyd rekening te hou met die gevaarlike, ontembare kant van God.

God is kenbaar. Hy is naby. Hy is ’n Vader. Tog is Hy ook ’n brullende leeu.

Dit herinner my aan C. S. Lewis se bekende Narnia-verhale. Lewis se doel hiermee (aldus my sanger-digter-pastoor-vriend Koos van der Merwe, wat ’n deeglike nagraadse studie hieroor gedoen het), is om God ook aan kinders bekend te stel.

Aslan, die leeu in hierdie verhale, verteenwoordig juis iets van Hom.

Wanneer een van die kindertjies in die Narnia-verhale, genaamd Jill, op ’n keer by ’n stroom gaan water drink, loop sy in Aslan vas.

As sy hom vra of hy haar gaan opeet, waarsku hy haar dat hy al vantevore kinders geëet het.

Sy antwoord maak dit duidelik dat sy hom sal moet vertrou as die nabye, maar ook as die gevaarlike leeu.

Lewis het geweet God se nabyheid sou Hom nooit onskadelik, voorspelbaar of mak maak nie.

Soms moet jy in die drif met sy hemelse boodskapper worstel, soos ’n Jakob in Genesis 32. Ander kere weer moet jy saam met ’n Petrus in Lukas 5:8 benoud uitroep: “Gaan weg van my, Here.” Saam met die Prediker (4:17-5:2) moet jou woorde gedurig min wees op God se heilige voorstoep.

Die ontdekking van God is tegelyk magneties en vreesaanjaend.

Dit trek jou nader en druk jou op jou agtervoete. Dit verplaas jou ver buite al jou geestelike geriefsones. Dit laat jou magteloos en buite beheer staan. In dieselfde asem bevry dit ook. Dit bring ’n radikale nuwe vrede wat woorde in jou verhemelte laat stol.

Die belangrikste manier om te ontsnap aan jou diepgesetelde behoefte om God te probeer tem, is om telkens self vas te loop in die lewende God. Dan verdamp jou slim idees en steriele praatjies oor Hom in ’n oogwink. Saam met Thomas val jy in sulke oomblikke voor Jesus neer met net een belydenis op jou lippe: “My Here en my God.”

Agter Job aan erken jy dan stotterend dat jou hoorsê-verstaan van Hom daar en dan vervang is met eerbiedige stomheid. Slegs dan verander jou godsdiens van ’n wapen om ander mense op hul plek te sit, of hefbome om God te probeer manipuleer, na ’n lewenslange verhouding propvol verwondering en aanbidding.

Groetnis
Silencio