PDA

View Full Version : Germaanse Skeppingsverhaal



Die Ou Man
24th April 2011, 11:11
Die Germaanse Skeppingsgeskiedenis

Die oerkoei Audhumla lek die Reus
Búri uit die ys, terwyl Ymer van haar melk drink.Die Noord-Germaanse skeppingsverhaal verskil van die Suid-Germaanse ekwivalent. Die Noord-Germaanse skeppingsverhaal vertel van ‘n oerruimte (’n groot leegte) wat deur ’n groot kloof (of ’n gapende afgrond bekend as Ginnugagap) in twee verdeel was deur 'n warm vurige wêrelddeel teenoor 'n ysige wêrelddeel. Die Vurige deel was Muspel genoem en sy toegangspoort was bewaak deur Sutur (waar ons die woord swart van ken) met sy vlammende swaard. Die ysige wêrelddeel was Nifel genoem. Van Nifel ken ons ook die Afrikaanse woord newel). In Nifel was ’n bron en uit hierdie bron het twaalf strome gevloei wat gesamentlik bekend gestaan het as Elivágar (http://en.wikipedia.org/wiki/%C3%89liv%C3%A1gar). Alles in Nifel was koud en donker. Alles in die buurt van Muspel was warm en verlig. Hierdie oerruimte het Ginnungagap geheet en hier het die eerste lewende wese ontstaan, naamlik Ymer (’n Reus) uit die ryp. Ymer was dus ’n Rypreus. Hy het ontstaan uit smeltende ryp en uit die druppels is sy beeld gevorm. Ymer, die eerste lewe in ’n chaotiese wêrled, was beskou as ’n bose figuur. Tydens ’n diepe slaap het hy baie gesweet en uit die sweet het manlike en vroulike figuur ontstaan. Uit hulle nageslag sou die Rypreuse ontstaan.

Uit die druppels van die smeltende ryp sou ook nog ’n figuur ontstaan, naamlik die Oerkoei Audhumla. Uit haar spene sou 4 melkriviere ontstaan het wat as voeding sou dien vir Ymer.1

Die Oerkoei Audhumla moes vir haar oorlewing aan die ys lek. Volgens sommige bronne het die Oerkoei Audhumbla vir Ymer uit die ys gelek en het hy nie ontstaan uit smeltende ryp nie.

Die Oerkoei Audhumbla sou ook nog ’n figuur uit die ys gelek het en dit was die Reus Búri. Audhumla het drie dae nodig gehad om Búri uit die ys te bevry. Uit Búri sou die goeie Reuse geslagte en die Godegeslagte ontstaan het. Búri het 'n seun gehad met die naam Borr (ons Afrikaanse woord Boer kom van Búri en Borr). Borr en Bestla (beide reuse) het drie seuns gehad, naamlik Odin, Vili en Vé. Dit was die eerste drie Gode.

Odin, Vili en Vé het later vir Ymer gedood en alle ander Rypreuse in sy bloed laat verdrink (behalwe vir Bergelmir en sy vrou). Die drie broers het die liggaam van Ymer hierna in die Ginnungagap gestort. Uit hierdie liggaam van Ymer het die skepping gegroei. Die vleis van Ymer het die grond gevorm, sy gebeente die berge, sy tande en kakebeen die rotse en kranse, sy bloed het die riviere, mere en seë gevorm. Uit sy skedel sou die hemel gevorm word en vonke sou die son, maan en sterre vorm. Die woord Ginnungagap is ’n samestelling waarvan die eerste gedeelte waarskynlik afkomstig is van die Germaanse woordstam *gin- en wat ons vandag herken in woorde soos geen (niks of leegte) en ook begin (ontstaan van die skepping). In die tweede gedeelte van die samestelling herken ons die worde gaap, gaping en ginnegaap.

Die wêreld sou deur 4 dwerge gedra word. Hierdie dwerge was eers maaiers wat geleef het van die vleis van Ymer na sy dood. Die dwerge het bekend gestaan as Noord, Suid, Oos en Wes of Norðri, Suðri, Austri en Vestri (http://nl.wikipedia.org/wiki/Norðri,_Suðri,_Austri_en_Vestri). Die eerste 2 mense was 2 stukke hout (boomstamme) wat deur Odin, Vili en Vé op die strand gevind was1. Dit was lewelose hout. Odin sou aan die 2 stukke hout asem, lewe en spraak gegee het, Vili het bewussyn en beweeglikheid gegee en Vé het die uiterlike beeldvorm gegee asook gehoor. Ook het die 3 broers aan hierdie twee mense klere gegee en hulle Ask en Embla genoem.

Ask en Embla word uit hout geskape.

Die woord Ask is verwant aan die Oudnoorse Askr. Dit is ’n boomsoort: Es. Embla dui ook op ’n boomsoort naamlik *elmla of Olm (ook bekend as Iep). Ask en Embla ontstaan dus uit twee bome wat los van mekaar sou staan, maar gelyk aan mekaar. Ask sou spierkrag vergestalt en Embla psigologiese en spirituele krag. Van Ask en Embla sou alle mense afstam. Dat mense uit boomstamme sou ontstaan was nie vreemd nie, want ook die Gode het uit boomstamme ontstaan, in die sin dat Godebeelde (Ans = totempale) uit boomstamme gekerf was. Daarbenewens was bepaalde boomsoorte ook aan bepaalde Gode gewy.

Volgens Tacitus het die Suid-Germane ’n ander skeppingsverhaal geken. Die God Tuisto sou ’n seun gehad het met die naam Mannus. Mannus het weer drie seuns gehad met die name Ingo, Isto en Irmino. Uit hierdie drie seuns sou die Hoof-Germaanse stamme ontwikkel het, naamklik aan die kus die Ingwaeonen, in die middel die Herminonen en in die Ooste die Istwaeonen.

Die Skepping in die Germaanse religie ken ook ’n einde bekend as Ragnarök. Wanneer die Eindtyd nader kom sal daar eers ’n verwoestende oorlog kom wat drie jaar sal duur. Broer sal teen broer veg en baie bloed sal vloei. Hierdie oorlog word gevolg deur ’n ‘magtige winter’ (Ondnoors fimbulvetr). Dit sal vir drie jaar baie koud wees en die son sal nouliks te sien wees. In die drie jaar sal daar geen somer wees nie. Hierna sal die Son en die Maan deur wolwe verslind word. Die sterre aan die hemel sal verdwyn en die aarde sal sidder en beef.

Hierna sal die Vuurreuse, onder leiding van Surt (Swart) en sy vrou Sinmore, die Wêreldboom, Yggrasil, in vlamme sal laat opgaan. Eintlik het die eindtyd al begin met die moord op die geliefde God Balder, maar die Groot Stryd moet egter nog plaasvind. Tydens hierdie eindstryd sal twee hooffigure teen mekaar optrek op 'n slagveld met die naam Vigrid. Hierdie twee figure is die Oppergermaanse God Odin teenoor die God (soms Reus) Loki. Odin sal gesteun word deur die Gode en die Einheri’s (gestorwe Germaanse krygers) wat al duisende jare oefen vir hierdie oorlog. Loki sal gesteun word deur die Reuse, Fenrir, die Midgarslang en ander bose mitiese wesens.

Hierdie oorlog sal ook gekenmerk word deur ’n aantal tweegevegte waarvan die uitslag nou reeds bekend is. Odin sal veg teen Fenrir, Freyr teen Surt, Thor teen Midgardslang, Tiwas teen Garm en Loki teen Heimdal.

Surt en sy Vuurreuse sal met vuur teen die Gode optrek en die aarde verskroei. Dit is ’n kosmiese oorlog met ’n vernietigende einde. Dit is die einde van die Ou Wereld. Uit die as van die ou skepping ontstaan 'n Nuwe Wereld. Die Bose Magte onder leiding van Loki word verslaan. In die nuwe skepping is daar geen Reuse of Bose Magte nie. Slegs enkele Gode oorleef die Ragnarok, naamlik Vidar en Vali (seuns van Odin), Modi en Magni (seuns van Thor). Twee Gode keer terug uit die doderyk en hulle is Balder en Höder. Slegs een man en een vrou sal die Raganrok oorleef en hulle is Líf (leef) en Lífthrasir (strewe na lewe). Hulle is die stamouers van die nuwe mensgeslag in die Nuwe Wereld.

1 Die oerkoei kom ook voor in die mitologie van Egipte, Persië en Indië. Die 4 melkstrome kom ook ooreen met die 4 riviere in die paradys van die Joodse skeppingsverhaal.


http://www.wendag.com/forum/attachment.php?attachmentid=364

Met dank en erkenning aan Heiligdom (http://www.heiligdom.com/germ_skepping.html)

Die Ou Man
24th April 2011, 11:21
Standbeeld van Ask en Embla, die eerste 2 mense in
die Germaanse skeppingsverhaal in Sölvesborg, Swede.