PDA

View Full Version : Nederland is Diép Gewortel in Zuid-Afrika



Die Ou Man
5th April 2012, 08:43
Nederland is diép gewortel in SA

Dis môre presies 360 jaar ná Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap. Danie Langner karteer die veranderende bande tussen Nederland en Suid-Afrika.

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck die VOC-nedersetting wat later bekend sou staan as Kaap de Goede Hoop gestig.

Die historikus Hermann Giliomee wys uit dat dit dus Nederland is wat die ontwikkeling van die Kaapse nedersetting die meeste beïnvloed het.

In Nederland het die Gereformeerde Kerk se Calvinisme die grootste invloed op die samelewing gehad. Hiervolgens was ’n individu vry om sonder die priester se bemiddeling sy sieleheil te soek.

Alle Nederlanders, ongeag klas, het volgens die Romeins-Hollandse reg gelykheid voor die reg geniet, terwyl geen spesiale voorregte aan die Europese adel toegeken is nie. Dit was die Romeins-Hollandse reg wat van die begin af in die Kaap toegepas is.

Ten spyte van die houvas van groot kapitalistiese maatskappye soos die VOC op die ekonomie kon ondernemende persone uitstyg tot die middelklas. Individuele grondbesit en prysmededinging het gou aan die Kaap wortel geskiet.

Die band met Nederland is deur verskeie geslagte Suid-Afrikaners gekoester. In krisistye is gepoog om die Nederlandse band te versterk.

Dit is geen verrassing nie dat die Voortrekkers in hul soeke na vryheid in 1837 besluit het dat die naam van die Voortrekkerrepubliek Die Vrye Provinsie Nuwe Holland in Suidoos-Afrika moes wees.

Pres. Paul Kruger het in die Nederlandse teoloog dr. Abraham Kuyper ’n geesgenoot gevind en sy eerste verkiesingsmanifes kom bykans woordeliks ooreen met die program van beginsels van Kuyper se antirevolusionêre
party.

Koningin Wilhelmina het die skip Gelderland beskikbaar gestel aan die bejaarde president en met Kruger se dood het sy Kruger se vaderlandsliefde en karakter geloof.

Prominente Suid-Afrikaners soos dr. D.F. Malan, Vader Kestell en Totius het aan Nederlandse universiteite studeer sodat Nederlandse denkrigtings steeds invloed in Suid-Afrika uitgeoefen het.

Die digter N.P. Van Wyk Louw ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Utrecht en in 1949 word hy aangestel as professor in Afrikaans aan die Vrye Universiteit van Amsterdam.

Met die Van Riebeeckfees in 1952 het Louw in Amsterdam die hoop uitgespreek dat die oplossing van Suid-Afrikaanse probleme in “de grote Nederlandse humanistische traditie zou kunnen geschieden”.

Op 4 April 1952 skryf hy in “Die vensters oop!” dat Nederland vir Suid-Afrika twee waardes bied, naamlik ’n venster en ’n tradisie. Oor Nederlands as “venster” skryf hy dat die persoon wat Nederlands as leestaal gebruik ’n ryk kultuurhistoriese wêreld oopmaak.

Met “tradisie” verwys Louw daarna dat Nederland vryheid gevestig het “soos nêrens in die wêreld nie” – na-sionale vryheid ná die groot stryd teen Spanje, maar ook ’n persoonlike vryheid van ondersoek en verdraagsaamheid teenoor andersdenkendes.

“Dit het van Holland die land gemaak waar agtereenvolgende denkers uit Frankryk, Engeland en uit ander lande veiligheid en vryheid kon kom kry. Dit was die vryheidslig wat uit Nederland gestraal het oor Europa. En daaruit het ons voortgekom.”

Anti-paternalisme, rassegelykheid, politieke bevryding en ’n kollektiewe skuldgevoel oor soveel Nederlanders wat siende blind was vir die Nazi-vervolging van Nederlandse Jode was kenmerke van die stille omwenteling wat die Nederlandse samelewing ná 1945 beleef het.

Nederlanders het wit Afrikaanssprekendes algaande met toenemende agterdog bejeën, want apartheid was vir hulle in die teken van die rassediskriminasie en rasseheerskappy van ’n vooroorlogse Europa.

Skrywers soos Ben van Kaam het met vrug berigte oor die Ossewabrandwag en Afrikaner-verset teen deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gebruik om Afrikaners gelyk te stel aan Nazi’s.

Die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Nederland het vanaf Maart 1974 die spesiale fonds van die Wêreldraad van Kerke se program teen rassisme ondersteun.

Die fonds het die gewapende stryd van organisasies soos die ANC, Swapo, die PAC en Zanu-PF help finansier. Die Suid-Afrikaanse regering en die meeste Afrikaanse kerke het hulle gedistansieer van die fonds.

’n Regstreekse gevolg daarvan was dat die NG Kerk in 1974 sy bande met die Gereformeerde Kerke in Nederland verbreek het.

Die Nederlanders het voortgegaan om die anti-apartheidsbeweging aktief te ondersteun en het in die 1980’s ’n kulturele boikot teen Suid-Afrika ingestel.

Die politieke omwenteling ná 1994 het ’n nuwe tydvak vir bande tussen Nederland en Suid-Afrika ingelui, veral wat Afrikaanssprekendes betref.

In ’n onlangse mosie voor die Nederlandse parlement is gevra dat die parlement kennis neem van die geweldmisdaad en die ondergrawing van mediavryheid in Suid-Afrika.

Die gevolge van die kulturele boikot word afgebreek deur sangers soos Jannie du Toit, Amanda Strydom, Chris Chameleon, Stef Bos en die 2011-Festival voor Afrikaans wat deur meer as 2 000 Nederlanders bygewoon is.

Beter skakeling vind plaas deur geleenthede soos die Jongerenprojek en die 2010-Rondetafel-konferensie voor Afrikaans.

Onder Afrikaanssprekendes is daar ’n bewuswording dat Afrikaans ’n gedeelde taal tussen baie kultuurgroepe is.

Dit vra in Louw se woorde ’n “verdraagsaamheid”, maar ook innoverende denke om die vryheid waarvan Louw reeds in 1952 skryf op kulturele vlak beter te ontgin.

Wanneer erkenning vir taal- en kulturele verskeidenheid meer as lippetaal is, kan Van Riebeeckdag ’n vryheidsdag vir alle minderhede word en Suid-Afrika toenemend ’n land van goeie hoop vir al sy burgers.

- Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Uit Beeld (http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Nederland-is-diep-gewortel-in-SA-20120404)

Die Ou Man
7th April 2012, 18:06
Fiksasie met Nederland onregverdig

deur Martin T. Labuschagne van Centurion

Danie Langner se artikel “Nederland is diép gewortel in SA” (Beeld, 5 April) het betrekking.

Toe ek die artikel oor Nederlanders en Afrikaners gelees het, het ek my so bloediglik vererg dat ek krokodille kon vang!

Hierdie gedurige fiksasie met Nederland as kultuurvennoot is nie net onnosel nie, dit is ook flagrant onregverdig.

Eerstens is die verknogtheid aan die moederland ’n kolonialistiese oorblyfsel.

Ek het geen bande met Nederland nie, want ek is deel van ’n aparte, onafhanklike etnos en nie met ’n naelstring aan die moederland verbind nie.

Tweedens, dit is ook ’n flagrante miskenning van sommige Afrikaners se kultuurerfenisse.

My voorouers was nie Nederlanders nie, maar Franse.

Hoekom word daar nooit gepoog om bande met Frankryk te smee nie? Of Duitsland? Of Portugal? Of een van die vele ander lande van herkoms nie?

Ons moet ook mooi onthou hoe Nederland terreur teen Afrikaners gefinansier het. Hulle gedrag teen Afrikaners gedurende die apartheidsjare was kinderagtig.

Ek sal enige kultuurband met Nederland boikot en wil graag sien dat die Nederlandse straatname verwyder word.

Uit Beeld (http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Fiksasie-met-Nederland-onregverdig-20120405).