Die Verbondsvolk Israel: Wie is Hulle?
Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Buite-Bybelse profesieë
Daar word dikwels na profete en profetesse geluister wat drome en visioene gehad het. Hierdie openbarings word nie aan ‘n skriftoets onderwerp nie maar ongeverifieerd aan God toegeskryf. As gevolg hiervan geniet dit groot geloofwaardigheid. Wanneer ‘n godsdienstige groep na profete luister wat op openbarings van God se wil buite die Bybel staatmaak, word hulle mislei en ontaard spoedig in ‘n kultus. Hulle word dan blinde navolgers van ‘n feilbare mens. Dit skep vir die duiwel ‘n handige kanaal vir misleiding, want op hierdie manier kan hy die Woord van God verklaar, verdraai, omseil en aanvul soos hy wil.
Selfs al het ‘n “profeet” ook ‘n sterk Christelike getuienis, kan hy nie op nuwe openbarings buite die Bybel aanspraak maak nie, want dan probeer hy om by die Bybel aan te vul. Onfeilbare, goddelike openbarings oor dit wat die Here aan die mens bekend wil maak, het in die jaar 95 op Patmos opgehou toe Johannes die boek Openbaring geskryf het. Die Bybel kan nie verder aangevul word nie, omdat dit die volle raad van God vir die mens bevat (Heb. 1:1; Hand 20:27). As ons inligting oor die toekoms wil hê, moet ons Bybelse profesieë bestudeer, verklaar en verkondig – nie drome, visioene of tale wat nuwe openbarings buite die Bybel bevat nie.
Daar is oral in die wêreld mense wat daarop aanspraak maak dat hulle steeds deur drome en visioene regstreekse, buite-Bybelse boodskappe van die Here af ontvang. Die Here het lankal teen sulke arrogansie gewaarsku: “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!” (Jer. 23:25). Talle sulke valse profesieë is die afgelope aantal jare uitgespreek, en het glad nie uitgekom nie. “As die profeet in die naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut. 18:22).
Hierdie waarskuwings is gerig in ‘n tyd toe daar nog openbarings deur profete was, omdat die Bybel nog nie klaar geskryf was nie. Ons leef egter al vir byna tweeduisend jaar in ‘n bedeling waarin alles wat die Here vir die mens se geestelike behoeftes en sy regte profetiese verwagting oor toekomstige gebeure wou openbaar, ten volle in die Bybel opgeneem is. In die lig hiervan het ons net een opdrag: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Daar is nêrens ‘n opdrag dat ons drome en visioene moet verkondig nie. Die sogenaamde moderne profete is dus heeltemal uit pas met die Bybel. As hulle enige uitsprake oor die hede of toekoms wil maak, moet hulle Bybelse profesieë bestudeer en net dit aan mense verkondig.
God oordeel deur Jesus Christus
In die Ou Testament het God dikwels sy oordele oor groepe verharde sondaars uitgestort sodat hulle tydgenote, sowel as almal wat ná hulle sou leef, moes weet dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Met die koms van Jesus het die wêreld ‘n nuwe bedeling in God se raadsplan betree. Jesus Christus is deur die Vader gestuur om sy reddende genade aan Israel én die hele mensdom te verkondig, self aan die kruis die prys vir alle mense se sondes te betaal, en verder ook om almal te oordeel wat Hom nie as hulle Saligmaker wil aanvaar nie. Hy is nie net die Verlosser nie, maar ook die Regter van die wêreld. God se oproep tot die bekering van alle mense op aarde, asook sy waarskuwing van die komende oordeel oor diegene wat sy saligheidsplan verontagsaam, word só deur Paulus verduidelik:
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul móét bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).
Die enigste oordeel wat die Here Jesus in Nuwe Testamentiese tye voltrek het, was die oordeel en gevolglike internasionale verstrooiing van Israel omdat hulle Hom as Messias verwerp het (Matt. 23:37-38; Luk. 19:41-44; 21:20-24). In die jaar 70 het die Romeine Jerusalem ingeneem en verwoes en die oorlewende Jode as slawe verkoop Sommiges het self na ander lande gevlug. Dit was net ‘n voorlopige oordeel oor Israel, want hulle sal in die eindtyd weer deur die Here geoordeel word.
Die oordeel oor die ongelowige nasies én individue sal eers ná die kerkbedeling plaasvind, in die tyd wat in die Bybel as die “groot verdrukking” en “die dag van die Here” beskryf word. Die Here Jesus het gesê: “Dan sal daar ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word… en die kragte van die hemele geskud word, En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21-22, 29-30). Die groot verdrukking vind dus direk voor die wederkoms van die Here Jesus plaas.
Jesaja sê: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9). Dit sal Christus wees wat in hierdie tyd, kort voor sy wederkoms, die ongelowige wêreld sal oordeel. Weens al die aardbewings wat dorpe en stede in puin sal lê (Op. 6:12; 16:18), sal die ongelowiges paniekbevange na die berge toe hardloop en vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
Omdat die ware gelowiges, soos in die tyd van Noag en Lot, nie vir die oordele van God bestem is nie, sal hulle dan weg wees. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). In Lukas 21:20-21 het die Here Jesus ook voorsiening vir die ontvlugting van die gelowige Israeliete uit die vernietiging van Jerusalem gemaak. Hulle het na Pella oorkant die Jordaan gevlug en dus nie in die oordeel van die Here gekom nie. Dieselfde beginsel geld vir die ontvlugting uit God se oordele kort voor die wederkoms van Christus, omdat ons nie vir God se toorn bestem is nie (1 Thess. 5:9). Ons kom nie in die oordeel nie, omdat ons oorgegaan het uit die duisternis in die lig (Joh. 5:24; 1 Pet. 2:9).
In die lig van die profetiese woord, wat aandui dat die Here eers ná die kerkbedeling en die wegvoering van die gemeente tot oordeel sal oorgaan, is dit heeltemal onbybels om nou, in hierdie tyd, God se oordele oor lande en regerings aan te kondig. Die oordele van die verdrukking sal wél kom, en dan sal die ongeredde Israel ook deel daarvan wees. “Dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).
Ons leef tans in ‘n geestelik donker wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), en ons opdrag is om te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). As gevolg van hulle eie sondigheid kies die meerderheid ongeredde mense vir hulleself regerings wat nie van die Here af is nie en wat ook nie sy wil doen nie. Dit is die rede waarom Christene verdrukking in die wêreld het (Joh. 16:33). Ons word egter gewaarsku dat ons nie deur ons eie, dwase optrede ons verdrukking in hierdie wêreld erger moet maak nie (1 Pet. 4:15-16). Dit geld ook vir die Boerevolk, wat veral nie in hierdie dae onbesonne dinge moet doen wat hulle hul vryheid kan kos nie.
Die verbondsvolk
Die werklike verbondsvolk, Israel, is die biologiese afstammelinge van al 12 die stamme van Israel. Hulle word die verbondsvolk genoem omdat God met hulle voorvaders baie spesiale verbonde gesluit het wat ook die ewige bewoning van die land Israel insluit. Nog nooit in die geskiedenis van Israel as ‘n volk was daar die geringste twyfel oor die geldigheid van die onvoorwaardelike beloftes wat die Here met die stigters van die volk gesluit het nie. God self is die waarborg vir die Abrahamitiese verbond (Gen. 15:18), die Kanaänitiese verbond (Num. 33:51–34:15) en die Davidiese verbond (2 Sam. 7:12-16; Ps. 89:3-4, 34-37) wat Israel se ewige besitreg oor die land en die bestendigheid van die troon van Dawid bevestig.
Israel se ballingskap uit die land as gevolg van ongeloof kan nie hierdie verbonde ongeldig maak of op ander volke oordra nie. Selfs al het Israel ontrou geraak, bly die Here ‘n getroue verbondsgod wat hulle weer na hulle land sal herstel. ‘n Plegtige belofte hieroor is is lank voor Israel se Assiriese en Babiloniese ballingskap en hulle internasionale verstrooiing ná die verwerping van die Messias gemaak:
“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).
Hierdie verbonde is nie op enige ander volk oordraagbaar nie, gevolglik kan net die werklike afstammeling van die 12 stamme na Israel terugkeer. Die Here het hulle weens ongeloof uit die land laat verstrooi, en dit is ook net deur sy ingryping en voorsiening dat hulle nou, in die eindtyd, weer na hulle land herstel word: Jeremia sê: “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (Jer. 31:10). Die feit dat Israel steeds ongered is deurdat hulle as volk nog altyd die Messias verwerp, diskwalifiseer hulle nie om na hulle land teruggebring te word nie. Die Here gaan hulle hier in groot benoudheid bring sodat hulle Hom sal soek:
“Die huis van Israel het vir My skuim geword… Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:19-22).
In Hosea 5:15 sê die Messias dat Israel Hom in die uur van hulle nood sal soek. Dit sal in die tyd van benoudheid vir Jakob wees, wat op die groot verdrukking dui. Paulus bevestig in Romeine 11:25-26 die feit dat Israel se nasionale geestelike herstel eers in die eindtyd sal wees, wanneer die volheid van die heidene (dit is die geestelike oes onder die nie-Joodse volke) ingegaan het. Paulus sê: “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend.” Dan sal die hele oorblyfsel van Israel in Jerusalem tot bekering kom, want die Messias kom na die Olyfberg toe terug (Sag. 14:4-5). Die Here beskryf hulle nasionale redding in Jerusalem só:
“Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).
Ná die geestelike herstel van die volk sal die Messias die vervalle troon van Dawid weer in Jerusalem herstel: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Hierdie troon is beslis nie na Engeland oorgeplaas, soos deur die moederorganisasie van die Israelvisie beweer word nie. Dié troon het in Jerusalem in onbruik geraak as gevolg van Israel se afvalligheid, en daar sal dit weer deur die Messias herstel word.
In die Messiasryk ná die wederkoms sal Jesus Christus van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer:
“In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).
Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits en verlei nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel:
“So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:20-23).
Net soos dit was sedert die herstel uit die Babiloniese ballingskap tot vandag toe, sal die volk Israel ook “Jode” genoem word. Lede van die nasies sal die slip van ‘n Joodse man gryp en met hom saamgaan, omdat die seën van die Here ryklik op die geestelik herstelde Jodedom (Israel) sal rus.
Seën hulle
Ons opdrag is om die nageslag van Abraham in die 12 stamme te seën (Gen. 12:3). As ons hulle regtig geestelik tot seën wil wees, moet ons hulle daarop wys dat die Messias die straf vir hulle sondes betaal het: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is” (Jes. 40:1-2). Sy kan rus vir haar siel in Hom vind, asook die einde van haar omswerwinge oor die aarde.
Ons moet Israel liefhê en in hierdie dae van groot stryd en aanvegtinge teen hulle om die vrede van Jerusalem bid: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe” (Ps. 122:6). Hierdie vrede sal net neerdaal wanneer die Vredevors gekom het. Sorg dat jy nie onder die Jodehaters tel nie, want dan bring jy volgens Génesis 12:3 ‘n vloek oor jouself en jou volk. Volgens Sagaria 14:12-13 wag daar absolute verdelging op die vyande wat teen Jerusalem sal optrek. Die Here sê:
“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).
Die vyande van Israel en die Jodedom is ook die vyande van God.
Een vraag moet nog beantwoord word, en dit is waarom ons soveel erkentelikheid, dank en goeie trou aan Israel verskuldig is, selfs in hulle geestelik vervalle toestand? In Romeine 11 sê Paulus oor Israel:
“Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).
Omdat hulle die Messias verwerp het, het die opdrag gekom om die evangelie na die heidendom toe uit te dra. Ons is dus die ontvangers van hulle geestelike erfenis, en op ons rus die plig om die God van Abraham, Isak en Jakob só oortuigend deur die Messias te dien, dat ons Israel jaloers sal maak. Hulle sal nog ‘n verdere bron van seën vir ons wees nadat hulle as ‘n volk gered is en ons saam met hulle in die Messiasryk in al die seëninge van die Here sal deel. Wat ‘n vooruitsig!
Die regte perspektief
Boere-Afrikaners moet as ‘n saak van dringendheid hulle geestelike perspektief regkry, want dit is van die allergrootste belang. Té lank was ons in kerke waarin vervangingsteologie verkondig is deurdat die kerk as die “geestelike Israel” in die plek van Israel gestel is. In werklikheid is die Israelvisie maar net ‘n verdere voortsetting van hierdie dwaling, en dink dié mense dat hulle die tien stamme van Israel is. Dit is van alle waarheid ontbloot. Ons voorvaders was Germaanse volke wat van Jafet afgestam het, en hulle het in Europa gewoon lank voordat die paar duisend Israeliete in die 8ste eeu v.C. na Assirië weggevoer is. Die Israeliete en die Arabiere is Semitiese volke wat van Sem afstam, daarom is Noag ons naaste gemeenskaplike voorouer met hulle.
Alle volke op aarde, insluitende die nageslag van Gam, is die ontvangers van die evangelie van verlossing, want dit is vir elke volk en taal en stam en nasie op aarde bedoel. Die vraag is net wat ons met die evangelieboodskap gedoen het? As ons dit verdraai of verwerp het, is ons nie weergebore nie en sal ons die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3). Oor sulke mense rus die toorn van God, wat binnekort in die groot verdrukking oor die hele wêreld uitgestort sal word. Sorg dat jy dit sekerlik in Christus sal ontvlug!
Wanneer jy wél gered word, word jy nie ‘n Israeliet nie, daarom hoef jy nie jou tassie te pak en Israel toe te gaan nie. Jy word net ‘n geredde Boere-Afrikaner aan wie die Here in hierdie land ‘n plek onder die son gegee het. Die gelofte wat ons voorvaders met die Here gesluit het, is vir ons ‘n verdere anker in hierdie land waar ons bly, maar dit het niks met Israel se verbonde met die Here te doen nie. Ons is in ‘n genadeverbond aan die Here Jesus verbonde, en Hy sal met ons gaan, waar op aarde ons ook al verkies om te woon.
Die wêreld stuur onwrikbaar op ‘n tyd van goddelike toorn en oordele af, asook die skrikbewind van die Antichris. In ‘n tyd soos hierdie kan ons die volgende teks ook op onsself toepas: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan” (Jer. 45:4-5).
Ons moet net die Here Jesus voorop stel en Hom soek met ons hele hart. Alle ander sake is bysake, soveel te meer as dit dalk tydelike en verganklike dinge is wat ons nastreef. Maak seker dat jy ‘n plek in die koninkryk van God het wat binnekort geopenbaar gaan word, aan watter volk jy ook al behoort.
Bron: http://www.bibleguidance.co.za/Afrar...sraelvisie.htm
Leave a comment: