Die Verbondsvolk Israel: Wie is Hulle?
Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Maniere van Skrifverklaring
Daar is baie verskillende maniere waarop die Bybel verklaar of vertolk word (in teologiese taal staan dit as eksegese bekend) om by mense se eie, vooropgestelde idees aan te pas. Sommige van hierdie verklarings is subjektief, met ‘n sterk politieke ondertoon, en is daarop ingestel om die Bybel en kerk polities aanvaarbaar te maak. In hierdie gevalle wissel die manier van Skrifverklaring saam met die politieke klimaat in ‘n land of volk.
In Suid-Afrika was daar in die apartheidsjare bv. verskillende kerke wat die konsep van afsonderlike ontwikkeling teologies geregverdig en ook die Bybel so verklaar het. Hulle het Bybelse gronde vir die idee van verskillende kerke vir verskillende volke, rasse en taalgroepe gevind. Toe die politieke klimaat egter in die tagtiger- en vroeë negentigerjare radikaal verander het, het baie van hierdie kerke saam met dit verander. Toe het hulle skielik geen regverdiging meer in die Bybel vir ‘n volksingesteldheid op kerklike gebied gekry nie en afsonderlikheid, of apartheid, tot ‘n sonde verklaar.
In reaksie hierop het daar kerke en godsdienstige groepe ontstaan wat hulleself van die polities-georiënteerde teologiese liberalisme gedistansieer en hulleself by duidelike identiteitsbewegings geskaar het. Sommige het hulle samehorigheid binne volksverband gevind en dit ook kerklik uitgeleef, byvoorbeeld as Boere-Afrikaners. Ander het egter veel verder gegaan en by ‘n sogenaamde “Bybelse identiteitsbeweging” aangesluit deur hulleself “Israeliete” te noem. Hieruit is die Israelvisie gebore, wat ‘n gewysigde voortsetting van die Brits-Israelse denkrigting is.
Dit is van die allergrootste belang dat elke persoon wat die Christelike geloof bely, sal vasstel presies hoe die Bybel vertolk moet word, en wat sy of haar identiteit en roeping as Christen in die samelewing is. Om duidelikheid hieroor te kry, moet ons net eers vasstel wat die einddoel met polities-georiënteerde vertolkings van die Bybel is.
In godsdienstige liberalisme word die Bybelse feit heeltemal ontken dat die Here grense tussen volke gestel het. ‘n Teks soos die volgende word óf geïgnoreer óf heeltemal verdraai: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand. 17:26). Hierdie “grense” het tog baie belangrike implikasies – nie net volkekundig en staatkundig nie, maar ook taalkundig en godsdienstig. Die evangelie moet aan elke groep in sy eie taal- en kultuurverband verkondig word, omdat dit benewens die redding van individue ook daarop ingestel is om gesins- en volksinstellings te verchristelik, te onderskraag en te versterk.
Die teologiese liberalis ontken grense van hierdie aard omdat hy besig is om aan ‘n internasionale, geïntegreerde, nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou, waarin daar uiteindelik ook beweer sal word dat alle godsdienste dieselfde God aanbid. Hy beroep homself graag op tekste soos die volgende: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus” (Gal. 3:28). Hierdie teks word dan verdraai deur dit sosio-polities te verklaar en te beweer dat volksgrense verval, sosiale stande uitgewis en dat geslagsverskille tussen mans en vrouens nie in ag geneem moet word nie. Alles kan dus saamvloei en een word, wat beteken dat homoseksuele verhoudings ook in orde is.
Hierdie teks het duidelik net op geestelike gelykwaardigheid betrekking. Wanneer dit by redding kom, gee die Here nie aan ‘n Jood voorkeur bo ‘n Griek, aan ‘n ryke bo ‘n arme, of aan ‘n man bo ‘n vrou nie. In samelewingsverband geld al hierdie verskille egter nog steeds: Paulus identifiseer homself baie duidelik as ‘n Israeliet of Jood (Rom. 11:1; Hand. 22:3); diensknegte word tot gehoorsaamheid aan hul here aangemoedig (Ef. 6:5); en die man se posisie as die hoof van die vrou word ondubbelsinnig bevestig (Ef. 5:22-23).
Die ernstige Christen kan homself hoegenaamd nie met die liberale teoloë se wyse van Skrifverklaring vereenselwig nie – nie net omdat dit op politieke of humanistiese aanvaarbaarheid ingestel is nie, maar ook omdat dit op ‘n skewe en krom verklaring van die Skrif gebaseer is.
Aan die ander kant van die spektrum is daar egter ook ‘n regse, polities-georiënteerde vorm van eksegese wat as die grondslag vir ‘n valse identiteitsbeweging gebruik word. Hierdie mense volstaan nie by hulle Bybelse volksbewustheid nie, maar eis ook die identiteit van die volk Israel vir hulleself op. Om dit te kan doen, moet hulle die Jode tot ‘n bastergeslag verklaar ten einde hulle identiteit as “Israel” te kan oorneem. In hulle vervangingsteologie gaan hulle dan nog verder en verklaar dat net die blanke volke van die wêreld die stamme van Israel is met wie alleen die Here ‘n verbond gesluit het. Die gekleurde volke word as onredbare heidene beskou. Hierdie beweging staan as Blanke Israelisme, Wit Teologie en ook die Brits-Israelse Beweging bekend.
Die vraag wat in hierdie boekie beantwoord sal word, is wie die verbondsvolk, Israel, regtig is. Die algemene skrifverklaring van die Israelvisie sal ondersoek word sodat die foutiewe aannames daarvan duidelik sal blyk. Daar is baie verskillende splintergroepe in hierdie beweging, maar daar is tóg ‘n aantal sentrale gedagtes wat deur almal van hulle gedeel word.
Oorsig van die beweging se dogma
Volgens die Israelvisie se siening is God se uitverkiesing, sy verbonde en genadewerk tot Israel alleen beperk. Op grond hiervan klassifiseer Israelvisiegroepe die mensdom geneties in twee groepe – die kinders van God en die kinders van die duiwel. Let wel, dit is nie ‘n geestelike klassifikasie soos wat die Bybel tussen verlore en geredde mense onder alle volke onderskei nie, maar ‘n biologiese klassifikasie. ‘n Persoon moet ‘n fisiese afstammeling van Israel as die verbondsvolk wees om ‘n erfgenaam van God se beloftes te kan wees, want sy verbond is net met Abraham en sy nageslag deur Isak en Jakob as ‘n ewige verbond gesluit. Alle ander nasies word tot ‘n permanent verdorwe heidendom verdoem waarop die toorn van die Here rus.
Hierdie twee groepe word as ‘n finale en onveranderlike verdeling beskou. Wanneer verbastering tussen die kinders van God en die kinders van die duiwel plaasvind, word hulle en hulle nasate na bewering almal deur die Here verwerp: “Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs nie sy tiende geslag nie…” (Deut. 23:2).
Vyandskap
Hierdie biologiese klassifikasie word na Genesis 3:15 herlei waar die Here vir die slang gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Dié mense redeneer dat net soos wat daar engele was wat met vroue gemeenskap gehad het en die reuse daaruit gebore is (Gen. 6:4), die duiwel ook met sekere vroue gemeenskap gehad het. Sy saad het in hulle uitgebroei en op dié wyse is daar ‘n geslag van duiwelse mense gebore wat onredbaar is omdat hulle van die duiwel afstam.
Omdat die Here vyandskap tussen sý kinders en die kinders van die duiwel gestel het, word dit as verkeerd beskou om die geslag van bose mense geestelik te probeer bearbei. Dit is soos om jou pêrels voor die varke te gooi – hulle sal dit onder hulle pote vertrap en dan omdraai en jou verskeur. Volgens die Israelvisie het die Here verklaar dat alle heidene, mans, vrouens en kinders, uitgewis moet word omdat hulle die saad van die slang in hulle omdra en dus vyande van Hom is. Soos die varke van Gadara is selfs hulle diere ook duiwelbesete daarom moet dié ook met die banvloek getref word.
Stamvaders
Die geslag van duiwelskinders het verskeie stamvaders wat deur die Israelvisie geïdentifiseer is. Kain word as die eerste gekleurde mens en rebel teen GodHereHH beskou wat deur die saad van die slang verwek is. Hierdie afleiding word van Eva se verduideliking gemaak waarom sy van die verbode vrug geëet het: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet” (Gen. 3:13). Daar word aangevoer dat die woord bedrieg (Hebreeus nasha) mislei of verlei beteken, en op die seksuele verleiding van Eva deur die duiwel dui. Sy het egter duidelik gesê dat die slang haar mislei het om aan God ongehoorsaam te wees deur van die verbode vrug te eet. In elk geval staan daar in Génesis 4:1: “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar.”
‘n Ander sataniese stamvader volgens dié siening was Gam. Uit hom het die Kanaänitiese of geel volke deur sy seun Kanaän afgestam, asook die Kusitiese of swart volke deur sy seun Kus (Gen. 10:6). Een van Kus se seuns was Nimrod wat ‘n geweldenaar en rebel teen God was. Hy het die stad Babel gebou en ook die grondslag vir ‘n heidense godsdiensstelsel gelê wat vandag nog nagevolg word en in heftige opposisie teen die enigste ware godsdiens is.
Daar is ook sommige groepe wat nog verder gaan en sê dat die swartes glad nie mense is nie, maar duiwelbesete diere van die veld wat nie siele het nie. Hulle het glo saam met die ander diere die vloed in Noag se ark oorleef. Hulle absolute vyandigheid teen die blanke mense van God, en veral teen die sendelinge wat hulle probeer bearbei, word aan hulle dierlike en duiwelse karakter toegeskryf wat nie verander kan word nie.
Twee ander stamvaders wat ‘n prominente rol in hierdie diaboliese familiekring vervul, is die wilde Ismael en die harige en rooierige Esau uit wie die ontembare Arabiese volke afstam. Volgens Génesis 36:2-3 het Esau met Kanaänitiese vroue getrou, wat nasate van Gam was. Om dié rede word Esau se afstammelinge, soos die Amalekiete en Edomiete, as fanatiese vyande van God beskou wat van hulle vader én moeder se kant af van die saad van die slang deurdronge is. Teen hierdie agtergrond word verklaar waarom daar van Esau se bose kleinseun, Amalek, gesê word: “Oorlog het die Here teen Amalek van geslag tot geslag” (Ex. 17:16).
Die hele eindtydse konfliksituasie waarin die wêreld nou is, word tot ‘n groot mate na die stryd tussen Jakob en Esau herlei. Dit het alles begin deurdat daar na bewering twee sade in Rebekka se baarmoeder was – die een is deur Isak en die ander glo deur Satan bevrug. Esau was, en is steeds, deur sy afstammelinge die groot vyand van Israel. Uit dié groep sal ook die Antichris voortkom. Die vermenging tussen Edomiete en afvallige Jode speel volgens hierdie beweging ‘n groot rol in die antichristelike magsmonstering, omdat die Edomitiese Jode volgens hulle ook ‘n slang-nasie is.
Israel en Juda
‘n Gebeurtenis waarop die Israelvisie ‘n groot deel van sy teorie bou, is die historiese verdeling tussen die noordelike tienstammeryk van Israel, en die suidelike ryk van Juda en Benjamin wat ná Salomo se bewind plaasgevind het. Hulle sien dit as ‘n permanente verdeling wat ingetree het, en wat dwarsdeur die Nuwe Testamentiese bedeling tot vandag toe nog geld. Aan Israel word al die beloftes en seëninge van die Here toegeskryf, terwyl die grootste deel van Juda en Benjamin na bewering met die afstammelinge van Esau vermeng geraak het en as ‘n bastergeslag by al die ander vyande van God gereken moet word. Na hierdie mense van gemengde bloed word net as Jode verwys en nooit as Israeliete nie.
Die begrip Israel word uitgebrei om in die huidige tyd al die blanke nasies van die Weste in te sluit, vandaar die begrippe Blanke-Israelisme en Wit teologie. Daar word beweer dat die sg. tien verlore stamme van Israel wat in 721 v.C. deur Assirië as ballinge weggevoer is, na Wes-Europa en die Britse Eilande getrek het. Hulle nasate sluit al die blanke volke van vandag in. Hulle word skerp van die Jode onderskei, daarom sê hierdie beweging ook: “Daar kan of mag nooitvan die volk Israel as Jode gepraat word nie.”
Met die Babiloniese ballingskap tussen 597 en 581 v.C. het Juda sy koninklike troon in Jerusalem verloor en is dit glo na Engeland oorgedra waar dit deur die Britse vorstehuis voortgesit is. Brittanje het hierna vir die Brits-Israelse Beweging die verbondsland (Berit-ain) geword, n.a.v. die Hebreeuse term berit (verbond). Hulle meen verder ook dat Saxons van Isaacsons afgelei is, dus is die Anglo-Saksiese volke die Engelssprekende seuns van Isak! Tevergeefse moeite word gedoen om ook ander Engelse woorde te probeer kry wat as bewyse kan dien dat Engels uit Hebreeus ontwikkel het.
Juda en Esau
Ná die Babiloniese ballingskap het Juda en Benjamin na hulle land teruggekeer, en die verwysing na hulle in Esra en Nehemia as Jode moet volgens dié beweging eintlik Judeërs wees. In die jaar 125 v.C. het Juda teen Edom (die nageslag van Esau) oorlog gevoer, hulle oorwin, en volgens die Israelvisie het daar ‘n totale vermenging en verbastering tussen Edom en Juda plaasgevind. Hulle sê dat die term Jood op hierdie bastergeslag van Edomitiese Jode betrekking het. Met geringe uitsonderings van ‘n aantal suiwer Judeërs wat nie vermeng geraak het nie, word die Jode nou by die saad van die slang en die vyande van God gereken. Die skrifgeleerdes en Fariseërs in Jesus se tyd was glo hoofsaaklik uit hierdie groep afkomstig, daarom het Jesus vir hulle gesê: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Matt. 23: 33); en ook by ‘n ander geleentheid: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh. 8:44).
In hierdie teorie word selfs die begrip wedergeboorte in Johannes 3 anders vertolk. Daar word geredeneer dat dit beteken om van bo gebore te wees, m.a.w. van God. As jy ‘n kind van God uit een van die tien stamme van Israel is, is jou afkoms reg en is jy outomaties ‘n erfgenaam van die koninkryk van die hemele. As jy nie van bo gebore is nie en aan een van die baie volke en rasse behoort wat deel van Satan se koninkryk uitmaak, kan jy nie gered word nie en sal nooit die koninkryk van God beërf nie.
Dit is teen hierdie agtergrond dat hulle dikwels na Jesus se opdrag verwys: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 10:5-6). Die verlore skape van die huis van Israel word as die blanke volke van Europa geïnterpreteer, vir wie die evangelie eintlik bedoel is. Die blankes van Suid-Afrika is Europeërs van oorsprong, en word dus ook by die Israeliete ingereken vir wie die evangelie bestem is.
Die Khazar Jode
Die sogenaamde verbasterde Jode in Israel wat vir Christus verwerp en gekruisig het, het volgens hierdie denkrigting deur die eeue heen hulle stryd teen die koninkryk van die hemele voortgesit. Ná die val van Jerusalem in 70 n.C. het hulle uitgewyk en noord van die Swartsee gaan vestig. Hier was hulle as die Russiese Jode bekend.
In die 8ste eeu het die Turkse Khazars hulle tot Judaïsme bekeer en met die Russiese Jode vermeng geraak. Hulle het daarna as die Khazar Jode bekend gestaan. Daar word beweer dat 90% van die Jode wat tans in Israel en in die Weste is, afstammelinge van die woeste Khazar stamme is wat eeue lank oor die steppe van Rusland geswerf het. Hulle het nie alleen beheer oor Rusland verkry nie, maar is ook vir die kommunisme en ander antichristelike ideologieë verantwoordelik. Deur die Illuminati, die Vrymesselaars en die georganiseerde geldmag buit hulle die ander lande ekonomies uit, ondermyn hulle polities en probeer om die hele wêreld in hulle mag te kry.
Volgens Esegiël 38 en 39 sal die Joods-beheerde Rusland (aldus die Israelvisie) saam met Kus (die swart nasies), asook Turkye, Libië en Persië wat as die afstammelinge van Ismael en Esau ook slang-nasies is, ‘n aanval op Israel (die Westerse nasies) doen. Die Protestantse Weste is dus in ‘n titaniese stryd teen die bose bondgenootskap tussen Esau, Ismael, die Khazar Jode en die gekleurde hordes van die wêreld gewikkel.
Baie moeite word deur Israelvisiegroepe gedoen om aan hulle lede te vertel wie hulle werklike vyande is, nl. die Jode en die gekleurde nasies. Hulle beweer dat dit die verbasterde Khazar Jode is wat nou na Israel terugkeer, saam met ‘n groep donker Askenazim Jode wat Mongoolse bloed in hulle are het. Die klein groepie suiwer Judeërs wat volgens dié teorie oorgebly het, is die Sefardiese Jode wat baie min invloed in Israel het.
Die haat teenoor die Jode as ‘n sogenaamde verbasterde geslag mense wat aanhoudend die Israelvolke aanval, uitbuit en ondermyn, is só sterk dat verskeie Israelvisie-groepe groot bewondering vir tiranne soos Hitler het wat miljoene Jode op ‘n grusame wyse laat doodmaak het. Vir baie van hulle is die Jode openbare vyand nommer een, en word hulle kwaai veroordeel.
Die groot komplot
Die Khazar Jode word as die leidende groep gesien wat in ‘n komplot gewikkel is om die eersgeboortereg van Jakob te steel en vir Esau in te palm. Hulle hou hulleself aan die Christelike kerk in die Weste as die uitverkore volk voor om sodoende erkenning en steun te verkry. Hulle doen hulleself voor as afstammelinge van al twaalf die stamme, en sodoende word die verbasterde volk op wie God se toorn en banvloek na bewering rus, tot die status van bondsvolk verhef. Hulle einddoel is om die wêreldheerskappy te verkry wat in die nageslag van Jakob aan die Messias toegesê is. Dit is die rede waarom hulle Jesus Christus haat en Hy vandag nog steeds nie in Israel welkom is nie. Die stryd tussen God (via Jakob) en Satan (via Esau) gaan dus nog steeds voort. Christus sal Homself egter op dié hartelose en eeue-oue vyande van Israel wreek, daarom sê Jesaja dat die Here Jesus se kleed by sy wederkoms rooi van die bloed van Edom sal wees (Jes. 63:1-6).
Die blanke Westerlinge word deur hierdie beweging bemoedig dat alhoewel die stryd vorentoe teen die vyande van God nog baie hewiger gaan word, die oorwinning verseker is. Die Bybel sê daar kom ‘n tyd van benoudheid vir Jakob, maar hy sal daaruit verlos word. Protestantse Europa (die Israel van God) leef in die skadu van ‘n dreigende Russies-Arabiese offensief (die aanslag van Esau), terwyl ons hier in Suid-Afrika aan die vyandelikhede en venyn van Gam se swart nageslag blootgestel is. Hulle werk ook ten nouste met die Russiese Khazar Jode saam as ‘n surrogaatmag vir die bevordering van kommunisme. Ons moet net ontwaak tot die bewussyn van ons ware identiteit as volk van God, en tot die gehoorsaming van Ou Testamentiese opdragte oor wat om met hierdie vyande te doen. Hoewel sekere ekstremistiese groepe geweld in dié verband regverdig, bied die groot meerderheid van hulle net passiewe weerstand en wag dat die Here sal ingryp en met hulle vyande handel.
Openbarings van God deur profete
Verskeie Israelvisiegroepe plaas hulleself in ‘n Ou Testamentiese bedeling waarin God op verskillende tye openbarings deur middel van profete aan sy volk gemaak het. Hulle aanvaar nie die feit dat die Bybel klaar geskryf is en dat dit die volle raad van God vir die mens bevat nie. As gevolg hiervan is hulle vir goed-klinkende buite-Bybelse profesieë deur selfaangestelde profete oop.
Een van die profete wat in ‘n stadium wyd deur baie groepe aangehang is, is Siener Van Rensburg. Hy het duidelik ‘n vorm van vervangingsteologie beoefen toe hy sy eie drome en gesigte verklaar het. Siener het die Boerevolk in die plek van Israel gestel, en na aanleiding daarvan profesieë wat op Israel betrekking het, op die Boerevolk van toepassing gemaak. Volgens die Bybel sal Israel én ander nasies onder die mag van die Antichris kom en 42 maande lank kwaai deur hom verdruk word (Dan. 9:27; Op. 13:5-7). Hierna sal die Antichris se mag gebreek word.
Siener het in die lig hiervan beweer dat die Boerevolk 42 maande lank onder die dwingelandy van ‘n antichristelike swart regering sal staan, maar dat hulle ná 42 maande van dié regering se oorheersing bevry sal word. Dit het by baie mense die verwagting geskep dat die ANC-regering in 1998 tot ‘n val sou kom. Volgens ander profesieë van Siener sou die bevryding teen die draai van die millennium kom, m.a.w. rondom die jaar 2000. Daar sou ‘n nag van terreur wees waarin die Boere in opstand sou kom en deur die Here se hulp die juk van vreemde oorheersing sou afwerp.
Profesieë van hierdie aard is deur sekere Israelvisie- én ander regse groepe aangegryp, en planne is gemaak om die regering onder meer deur terreurdade tot ‘n val te bring. Nie alle Israelvisiegroepe het hierdie strategie ondersteun nie, maar het nogtans die hoop gekoester dat daar deur goddelike ingryping bevryding sou kom. Dit het nie gebeur nie, en hierdie verwagting wat deur ‘n buite-Bybelse profeet geskep is, was grootliks daarvoor verantwoordelik dat talle Boeremaglede in die gevangenis beland het.
Hoewel Siener se profesieë sedertdien baie van hulle geloofwaardigheid verloor het, is daar steeds Israelvisiegroepe wat al hulle geloof op sulke buite-Bybelse profesieë plaas. In Mei 2004 het Dirk van Vuuren van die Dogter van Sion ‘n boodskap aan Nelson Mandela, die regering en die media gerig waarin hy profesieë aanhaal van God se oordele wat oor Suid-Afrika uitgestort sal word indien die Boeremaglede nie uit die tronk vrygelaat word nie. Direkte woorde van Jahweh word aangehaal, soos na bewering aan sy profetes, Linda Newkirk, die sg. “White Buffalo Calf Woman,” geopenbaar. Hierin eis Jahweh dat sy volk, Israel, soos van ouds in Egipte, deur die moderne Farao vrygelaat sal word – anders sal Hy groot oordele oor die regering en sy mense uitstort.
Israel teenoor die nuwe wêreldorde
Die volk van God, Israel (die blanke nasies) word as die enigste gelowige en behoudende groep mense op aarde teenoor die identiteitlose wêreldsamelewing van die Antichris se komende ryk op aarde gestel. Israel word opgeroep om hulle teen die moderne liberalisme te verset, wat besig is om die weg na ‘n nuwe wêreldorde met sy verdorwe, humanistiese en sataniese inslag te baan. Die Israelvisie sien hulleself as die enigste ware manifestasie van die volk van God in ‘n heidense wêreld vol afgodsdienaars en kompromiemakers. Kerke wat die Joodse staat in Israel erken, asook alle kerke wat hulleself oopstel en sendingwerk onder anderskleuriges doen, word as meelopers van die Antichris bestempel. Hulle werk tot hul eie ondergang met die vyande van God saam.
Uitsprake deur Israelvisiegroepe
In die onseker en gevaarlike wêreld waarin ons leef, soek baie mense na ‘n nuwe sin vir waardes en identiteit, asook ‘n verklaring vir die aanslae teen die blankes in Suid-Afrika en die donker toekoms wat dit skep. As gevolg hiervan verkry die Israelvisie aansienlike openbare ondersteuning. Sommige van die groepe is meer radikaal in hulle siening as ander. Hieronder is ‘n oorsig van beskouings wat deur verskeie groepe in Suid-Afrika gehuldig word:
Volksverhuisings na Wes-Europa
As gevolg van ‘n gebrek aan bewyse oor die volksverhuisings van die Assiriese en latere Babiloniese ballinge na Wes-Europa en Engeland, wend die Israelvisie hulle tot verskeie teorieë in hierdie verband. Ds. F.J. Pelser sê in sy boekie, “Die blanke – sy herkoms, identiteit en lotsbestemming,” dat die Israelse en Judese ballinge deur ‘n sterk oostewind na Wes-Europa gedryf is. As ‘n bewys hiervoor noem hy Jesaja 27:8 wat na ‘n geweldige oostewind verwys. Die ballinge het in stamverband voor hierdie sterk wind uitgetrek, en die volgende vestigingsplekke word deur ds. Pelser geïdentifiseer (slaan die betrokke teksverwysings na en kyk hoe totaal buite verband dit aangehaal en toegepas word):
- Sebulon (Holland) het by die strand gaan woon en die see uitgesuig om grond te kry (Gen. 49:13; Deut. 33:18-19). Sebulon verval in Rooms-Katolisisme omdat hy sy siel gering geag het.
- Efraim (Engeland) het die steen van Israel, wat die klip is waarop Jakob geslaap het [aldus ds. Pelser], saam met hulle geneem (Gen. 49:24). Die troon van Dawid is in Brittanje opgerig, en daar sal nooit ‘n opvolger vir dié troon ontbreek nie (1 Kon. 9:5).
- Manasse (VSA) sal vet grond kry [die Mississippi-vallei] en baie koring produseer. Nasies sal ook voor hom moet buig (Gen. 27:28-29; Deut. 33: 13-17).
- Aser (Frankryk) sal sy eie olie besit (Deut. 33:24), ryk kos eet (Gen. 49: 20), baie hawens besit (Rig. 5:17) en rustig woon.
- Dan (Denemarke) sal soos ‘n slang wees wat ‘n sleepsel nalaat (Gen. 49:17). Hierdie sleepsel kan in die name Dundee, Danhauser en Dunkirk gesien word.
- Naftali (België) sal vir sy prosa en digkuns bekend wees (Gen. 49:21). Sebulon en Naftali [Holland en België] lê bymekaar (Matt. 4:13).
- Benjamin (Zimbabwe en Zambië) sal vir wildsvleis lief wees (Gen. 49:27). Hulle sal later “Jerusalem” genoem word (Rig. 1:21), en in ‘n stadium moet vlug (Jer. 6:1).
- Juda (Suid-Afrika) sal in die suide by die “tong” [skiereiland] woon (Jos. 15:1-2). Hulle sal edelwyne produseer (Gen. 49:11). Dit sal die jongste dogtervolk van Sion wees (Gen. 49:9; Klaagl. 2:13). Sy vorste was wit maar sal swart word (Klaagl. 4:7-8). Teen die tyd van die einde sal die mag van die “heilige” [apartheids-] volk verbreek word in die Anglo Boere-oorlog (Dan. 12:7). Manasse [Amerika] en Efraim [Engeland] sal vir Juda [Suid-Afrika] onderdruk (Jes. 9:20).
Verstrooide Israeliete in Suid-Afrika
‘n Sterk plaaslike toepassing word van die Israel-beweging gemaak deurdat verskeie groepe hulle op die profesieë beroep wat verwys na die land “oorkant die riviere van Kus” (Jes. 18:1-7; Sef. 3). “Kus” dui op swart Afrika. Volgens die profeet Jesaja word die inwoners van dié land [Suid-Afrika] “almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die wilde diere van die aarde; en die roofvoëls sal daarop die somer deurbring, en al die wilde diere van die aarde sal daarop oorwinter” (Jes. 18:6).
Ds. G.J. Steenkamp van die Gemeente van die Verbondsvolk sê in sy boekie, “Antwoorde op Bybelse probleembegrippe,” die volgende oor dié teks:
“Hierdie volk word oorgegee aan die roofvoëls – die geld- en wêreldmagte. Hoe moet ons beleef dat die wêreldheersers ons ons vryheid en regte ontneem! In die somertyd is die roofvoëls bedrywig, d.w.s. in die ryk en vol tyd sal hulle oor ons wees. Hierdie volk word ook oorgegee aan die diere van die aarde. Wie anders is dit as die swartes en uit hulle gebasterdes? En let op: in die wintertyd, in die swaar tyd, nou, sal die wilde diere hulle deel doen. Wat beleef ons nou? Die swartes kry grond, huise, regeermag, noem maar op.”
Ds. Steenkamp glo egter dat “die oorblyfsel van Israel uit Suid-Afrika” (Sef. 3:13) die eindtydse aanslag teen hom sal oorleef en na die Here sal terugkeer. Daar is ander Israelvisiegroepe wat Suid-Afrika die verbondsland van God se volk noem, en Tafelberg as die berg Sion beskou.
Geen basters in Israel nie
‘n Sleutelteks wat gereeld deur Israelvisie-groepe aangehaal word, is die volgende: “Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs sy tiende geslag mag in die vergadering van die Here nie kom nie” (Deut. 23:2). Die definisie vir ‘n baster word geformuleer as: “Bloedvermenging tussen ‘n Israeliet en ‘n nie-Israeliet.” Na aanleiding hiervan word daar ‘n terugwerkende suiweringsveldtog onderneem om Israel van alle moontlike blootstellings aan vreemde bloed in die verlede te vrywaar, want daar kan nie aanvaar word dat Israel ook dalk die bloed van slangnasies in hulle het nie:
- Die ‘onthulling’ word gemaak dat Sippóra, die dogter van Jetro, met wie Moses getrou het, nie ‘n Kusitiese vrou was nie (Num. 12:1), maar in werklikheid uit die huwelik tussen Abraham en Ketura gebore is.
- Rut was ook nie ‘n Moabiet nie, maar ‘n Judese meisie. Sy is slegs ‘n Moabiet genoem as gevolg van die land waarin sy gewoon het. Studiegroep Aktueel wy ‘n hele artikel, “Rut – Moabiet of Israeliet?,” aan dié onderwerp.
- Van die hofdienaar van Ethiopië sê ds. Steenkamp: “Die man van Ethiopië, wat nou in die nuwe Afrikaanse Bybel ‘die Ethiopiër’ genoem word, kan ook niemand anders wees as ‘n verstrooide Israeliet nie.” Twee van die redes wat hy noem, is die volgende: “(1) Hy lees die Hebreeuse taal uit ‘n boekrol – wat hy waar in die hande kry? En wie het hom Hebreeus geleer? (2) Hy en Fillipus verstaan mekaar, en binne ‘n paar kilometers verstaan hy die Skrif. Dit is tog bewys dat ‘n swarte jare neem om iets van die evangelie te verstaan, en wat my betref kan die swarte nooit verstaan nie.”
Addergeslag
In sy boekie, “Die twee sade op aarde,” sê pastoor F.W.C. Neser van Vereeniging dat Jesus nooit sleg van ander mense gepraat het nie, daarom moet daar ‘n goeie rede wees waarom Hy die Jode en Fariseërs slange en addergeslag genoem het (Matt. 23:33). Jesus het ook aan hulle gesê: “Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het” (Matt. 23:31). Die woord “kinders” dui vir past. Neser nie op geestelike kinders nie, maar op biologiese kinders. Hy sê dat die slang (Satan) vir Eva verlei en met haar gemeenskap gehad het, en dat Kain daaruit gebore is. Kain is dus die vader van ‘n biologiese geslag van duiwelskinders wat “slange” en ‘n “addergeslag” genoem word, en wat gevolglik nie gered kan word nie.
Edomiete en Egiptenaars
Die volgende teks verskaf aan die Israelvisie groot hoofbrekens omdat dit hulle dogma grondliggend weerlê:
“Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die Here kom” (Deut. 23:7-8).
Ds. Steenkamp voel verplig om hierdie gedeelte as verkeerd te beskou en gevolglik te verwerp:
“Die onmoontlike van die bestaande teks is dat dit bots met die res van die Skrif. Jahweh is onveranderlik, konsekwent. Hy sal nie die een oomblik dít sê en die volgende oomblik iets anders bedoel nie. Die Egiptenare was vyande, en uit dié slawehuis is Israel uitgelei. Die Edomiete word genoem ‘n volk op wie God vertoorn is tot in ewigheid (Mal. 1:1-4). Ek sou ook graag wou weet hoe en waar die derde geslag bepaal kon word in die praktyk van die lewe. En as die derde geslag dan kon inkom, waarom dan nie die tweede of die eerste nie? Nee, dié teksgedeelte het geen sin nie. Moses het die Egiptenare ook nie as sy naaste behandel nie (Ex. 2:12-13). Ons het hier met ‘n foutiewe teks te doen.”
Israel, Egipte en Assirië
Jesaja sê die volgende oor die Messiasryk: “In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië… En Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25). Volgens ds. Steenkamp dui die “hom” wat deur die Here geseën word “nie verskillende groepe nasies aan nie, maar kan slegs op een, nl. Israel, wys. Die geskiedenis is ook heel duidelik dat Israel as bannelinge in Assirië was en as vlugtelinge in Egipte.”
Die Israelvisie het hier ‘n groot probleem, want as daar Israeliete is wat met Arabiere van Assirië en Egipte vermeng geraak het (Ismael en Esau se nageslag), hoe kan die Here hulle dan nog volgens die Israelvisie se teorie as mense van gemengde bloed in die vrederyk seën?
Die oorblyfsel van die mense
“…sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:17).
Ds. Steenkamp sê dat dié teks in Handelinge ‘n doelbewuste poging is om die Nuwe Testament te verander deur Israel – oor wie dit gaan – uit te wis en die heidennasies in te bring. Oor die beeld van die rein en onrein diere waarvan Petrus moes slag en eet (Hand. 10:11-16), sê hy dat die onrein diere nie op ander nasies dui nie, maar op die onbesnede Israeliete. In dieselfde verband sê hy dat Lukas 2:14 só vertaal moet word: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde in die mense (Israel) van sy welbehae.”
Israel besoedel homself
“Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. Want hulle het opgetrek na Assur – ‘n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! – hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf” (Hos. 8:8-9).
Ten einde vers 9 by sy dogma te laat aanpas, verander ds. Steenkamp dit só: “Want hulle het opgetrek na Assur – ‘n wilde esel hou homself apart (eenkant) maar Efraim gee liefdesgeskenke.” Sy kommentaar hierop is: “Ons sien dat Hosea hier sê dat Efraim dommer is as ‘n wilde esel wat sy apartheid handhaaf. Om te vermeng, gee Efraim liefdesgeskenke aan die heidene.
Jood en Griek
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Gal. 3:28).
Ds. Steenkamp verklaar hierdie teks só: “Daar is nie verskil by Jahweh as dit kom by die taal, sosiale stand of geslag van sy volk nie. Maak tog die teks reg: ‘Dit maak nie saak of jy ‘n Judees- of Griekssprekende, slaaf of vryman, man of vrou is nie, want julle is almal een (gelyk) in die Messias, Jashua’. Let op vers 29: ‘En behorende aan die Messias is julle die (biologiese) nageslag van Abraham, en volgens die belofte erfgename’.” Grieke en alle ander nasies kan dus nie gered word nie – net Griekssprekende lede van die verbondsvolk, omdat hulle van Abraham afstam. Dit geld ook Judeërs en Israeliete wat enige ander taal praat en hulle as verstrooides elders in die wêreld bevind.
Diere van die veld
In ‘n inligtingstuk, “Adamiet of…,” wat deur die Yahzerah Bybelstudiegroep saamgestel is, word die eerste artikel, getiteld, “Bestaan dié diere nog?,” uit Die Kerkbode van 17 Junie 1981 aangehaal. Die afleiding word gemaak dat daar in die Bybel na die swartmense as die diere van die veld verwys word. Aan die einde van die artikel word hierdie “dier” só beskryf:
“Opsommenderwys is hierdie ‘n merkwaardige dier. Hy word die wilde dier van die aarde genoem en word onderskei van vee en viervoetige diere van die aarde (Gen. 1:24-25). Gevolglik is dit ‘n dier met twee bene, dit eet gesaaides, olywe en druiwe, dus kos wat die mense eet (Ex. 23:11). God straf hierdie dier met swere wat in blare uitbreek (Ex. 9:9). ‘n Man en ‘n vrou kan met so ‘n dier geslagsgemeenskap beoefen (Lev. 20:15). Hierdie dier het hande en voete en woon ook in stede (Jer. 7:20). Hulle dien die mens (Jer. 27:6) en ontvang loon vir hulle arbeid (Sag. 8:10). Hierdie wilde dier maak van ‘n land ‘n wildernis en kan ‘n mens verhinder om daardeur te gaan (Eseg. 14:15). Die dier dra klere van materiaal en kan met God kommunikeer en berou oor sy sonde hê (Jona 3:8). Verder kan hierdie diere alles belaster waarvan hulle niks weet nie; hulle kan dus met mense kommunikeer (Judas 1:10). Hierdie wilde diere van die aarde was ook saam met die ander diere en vee in Noag se ark en het dus só behoue gebly.”
Dit is die wilde diere aan wie Suid-Afrika volgens Jesaja 18:6 oorgegee sal word. Koning Nebukadnésar moes vir sy straf sewe jaar tussen wilde diere (swart stamme) in die bos bly en saam met hulle gras en boomwortels eet (Dan. 4:15). Hulle was sy bediendes gewees (Jer. 27:6). Paulus het ook met só ‘n wilde dier geveg (1 Kor. 15:32).
Rigiede skeiding
Die Israelvisie sien homself as ‘n behoudende, regse groep wat sy bondsvolk-identiteit teen die linkse aanslag van ‘n goddelose wêreldmening moet beskerm. Om dié rede stel hy sy fundamentele teologiese siening wat baie sterk op afgesonderdheid, eksklusiwiteit, rasse- en volksuiwerheid gebaseer is, teenoor die liberale teologie van die afvalliges wat met die heidenwêreld, en selfs met die diere van die veld, wil vermeng.
Comment