Wat Kort die Vrou?
Deur: Waldor
By monde van Friedrich Nietzsche het Zaratustra vir die nuuskierige ou vrou gesê: “...Wanneer jy oor vrouens praat, moet jy net tot mans praat…” Die vrouens het op die beurt hierdie raad uit nature van die begin af andersom gevolg, want as ‘n man wil weet hoe die vroue oor ons dink en voel, moet hy deur Sarie, Rooi Rose, Femina of enige van die vrouetydskrifte oftewel soortgelyke vroue spreekbuise gaan blaai. Gaan krap daar waar etlike vrou tot vrou besprekings gereeld oor die man te vinde is... Daaruit leer jy die vrou se ware gees en behoeftes ken.
Uit die mond van die vrou het die vrouetydskrifte van ‘n seks handleiding vir mans, tot ‘n wekroep aan, en ‘n klagstaat téén, ons geword. Meneer, as jy daar om die braaivleisvuur weer jou lot bekla oor die wispelturigheid en emosioneel onstabiliteit van die vrou, los dan die man praatjies en gaan krap in die geskrewe bek van die perd. Daar is baie duidelik geslete, alles vertellende tande in die bek van die perd. Daar is baie te leer, daar is kardinale openbarings in wat die vroue vir mekaar te sê het. Onthou op Mars onttrek die man hom na sy grot en gaan top en mor binne mond terwyl daar aan die ego herkou word. Maar op Venus kloek die vroue saam en praat intiem met mekaar oor alles en nog wat. En veral dan oor die man.
Moenie eens droom om die vrou se bedrading te laat oordoen nie. Herbedrading van die vrou bring kortsluitings. In die bedrading van die vrou is die kragstroom van die lewe vasgelê. Moenie kortsluitings bywerk nie. Baie van die grootste struwelinge kom daarvan dat die man dink hy gaan die vrou soos ‘n sakdoek opvou en in sy sak druk... Dit gaan nie daaroor dat ‘n vrou nie liniêr kan dink of ordentlik kan parkeer, of rigting aanwys nie. Dit gaan nie daaroor of die vrou van die bleddie punt af dwaal in ‘n rusie, stryery of redevoering nie. Dit gaan eweneens nie daaroor dat die vrou uit die man se bril moet kan fokus op logika nie. Dit gaan oor die vrou se ‘bedoelde’ plek in die geykte samestelling van hierdie intrinsieke wêreld. Die vrou se insette oorbrug die eksaktheid waarmee die man hom verknog. Die vrou is deur, en in die sistematiese ontwikkeling van die natuur bedraad, nie deur dogmas, geloof en politiek nie. Dit is ‘n man wêreld, geskep deur dogmas, geloof en politiek, en nou moet die vrou inprop by ‘n kragstroom waarvoor sy nie bedraad is nie.
Gaan kyk na die voëls van die aarde. Die voëls van Hustler en Loslyf moet gaan kers opsteek en dieper kyk na die geveerde voëls waarin die bloudruk van God se wil veranker is. Ja, in die bladsye van die Kamasutra is wel die kersies op, oftewel, vír die koek, maar in die ope boek van die natuur sien mens op die takke en tussen die blare tot baie diep in Venus se koukus kamers... Nadat die mannetjie die wyfie oortuig het dat hy die beste vere het en dat sy gene die beste belofte vir duplisering inhou, fokus sy hoofsaaklik op die nes. In die nes moet sy ‘ten volle’ vrou kan wees. Die nes verteenwoordig sekuriteit en sekuriteit is die bakermat waaruit die vrou tot haar volheid kom. Die nes in die takke van die blare is die ewebeeld van die menslike koninkryk waarin die vrou moet figureer.
Wat kan beter wees as ‘n gesonde vroulike gees, waar harmonie ontspring vanuit ‘n ongeëwenaarde intuïsie, seksualiteit, sensualiteit en ‘n natuurlike skoonheid – die dinge waaruit, waarop en waarvan die skeppende gees van die man so diep en ewig afhanklik is. Maar as die vrou nie eerstens sekuriteit ervaar nie, blom sy nie van, en met haar inherente deugde nie. Sy raak ondervoed, sy stoot nie al die kleur na haar blare nie. Verwelking tree in. In hierdie veranderde wêreld het die man ‘n apatiese tuinier geword.
Die dag toe die vrou haar Godgegewe kragte moes onderwerp aan die ‘onderdanigheid’ wat die dogma van die kerk impliseer het, het die mens begin skade opdoen onder die kunsmatige magte wat die priesterdom hier op aarde kom vestig het. Daar is herrangskik aan die vleg knope en gras voue van die nes - die mannetjie is verwar oor die korrekte uitleg daarvan, en die wyfie se insette is tragies ingeperk. Die mannetjie kwetter nou verward en geïrriteerd, die kuikens en eiers val uit die nes wanneer daar geskrop word en die listige slang het vrylike toegang deur die einste opening wat die mannetjie self ontwerp het.
Dit is tyd dat die neste herrangskik word. Ons moet terugkyk en inkyk in die lesse van die verlede, na die tyd voordat die vrou se intuïsie opgesluit is. Ons moet die grense om ons baie duidelik trek en dit bewaak met die ridderskap wat met bedoeling in ons geplaas is. Ons moet vir die vrou daardie sekuriteit bied wat haar tot haar volheid sal laat kom.
Comment