Dis 'n Sondagoggend so om en by half nege die oggend. Ek en 'n dosyn of so seuns en dogters sit in die konsestorie agter in die kerk waar ons oor 'n halfuur voorgestel word aan die gemeente, en by die aand diens aangeneem word as klaar gematrikulerende jong lidmate na jare van kinderkrans dans tot katkisasie!!! Die volgende oggend klim ek die flossie weermag diensplig toe! Op daardie stadium was ek maar sestien jaar oud! Dominie en ouderlinge kom ingestap, oudste ouderling oom Bart Nel vra die seun reg langs my om die verrigtinge met gebed te open. Hy stamel aan sy woorde en trek weg, almal buig die hoofde in donkerte van gemoed en plegtig word hulle meegevoer aan sy stammerende stem eerder as dit wat hy kwytraak. Ek soos oudergewoonte maak nie ogies toe nie, ek kyk hom wat bid aan, gee hom stille inspirasie met my kyk, en toe kyk ek na die meisie langs hom, die seun langs haar en gaan op die ry af terwyl hy bid, tot my ogies val op oom Bart. Hy het toe ook nie sy oe toegemaak nie, en gluur my aan. Net daar amen die laaitjie langs my, en almal na-aap dit, en oom Bart burder uit vir my: 'En HOEKOM maak JY nie JOU oe TOE as ons BID nie???" Almal snak na hul asems. Ek kyk hom doodluiters reguit in die oe en seg prontuit sonder huiwering: "Oom Bart, as ek my oe toemaak, sien ek kaalgat meisies..." In ons ou konserwatiewe verlede het n sestienjarige seun net aan n paar dinge gedink, en geloof was nie een van hulle nie! Die meisies begin skaam giggel, die seuns brul van die lag, en oom Bart verloor alle beheer. Nodeloos om te seg, ek is die volgende dag weermag toe met n volle sensuur sensasie van berisping en verpligting om weer terug te kom vir meer opleiding voor heropname as volwaardige lidmaat, met skynbaar verskriklike vernedering veroorsaak vir my familie in die gemeente!!! Sondaar!!
Twee jaar later, vars van Angola af, met my balsak vol klere en my bakkie wat ek nounet gekoop het, trek ek op n saterdag oggend sonder meubels of werk in n enkel vertrek woonstel in n blok in in n stad in wat vandag Gauteng is. Maandag gaan ek werk soek, en begin lewe! Later die middag ry ek die straat af, en so waar reg voor my is n sirkel en agter die sirkel n kerk! In die tuin in n ou oom en paar manne besig om die tuin te bewerk en gras te sny. Ek trek af, klim uit, stap oor die pad, vra die oom oor die heining of hy weet hoe laat is die diens moreoggend, ek is lus vir sing met n orrel! hy kyk my op en af, en vra waar bly ek. Ek seg ek het nounet ingetrek in daai blok woonstelle, en wys my vinger terug in die rigting van waar ek kom. Hy glimlag breed, kyk op sy horlosie, en vra of ek oor n halfuur tuis sal wees, en in watter nommer bly ek, want hy wil dan oorkom om sommer my tiendes te kom optel, want sien seg hy, hy is die ouderling en neem waar as diaken vir die gebied en ek val mooitjies in sy wyk!! Niks word gese van wat ek gevra het nie, dis summier geignoreer! Kyk, ek het nie nodig om vir jou te vertel wat ek presies vir hom geseg het nie, daardie woorde hoort tuis in Angola... van skoolseun na jonge gedwonge moordenaar as soldaat agter die rug en direk terug in die beskawing en al wat hy wil he is my geld, so asof dit belangrik is om my siel te koop? ... maar ek het hom mooitjies vertel om sy kerk in sy dinges te druk, en omgedraai en weg gestap, en nooit weer terug gegaan of terug gekyk na die kerk as my behoud nie.
Het my gesin met drie dogters grootgemaak sonder n kerk, en vandag dink ek is ons beter af sonder daardie moontlike huigelary in wese!!
Bookmarks