Die plasing van Dawie Roodt se skrywe op hierdie draad word gedoen om bepaalde redes. Enkele van dié redes is as volg:

  • Die roof/aanval kan met enige iemand gebeur – skelms het nie voorkeure nie solank dit net vir hulle voordele inhou. Hierdie voordele kan finansieel, vergelding en selfs polities van aard wees.
  • Dit is hoogs onwaarskynlik dat so ‘n roof/aanval sal plaasvind indien daar nie “binne” inligting beskikbaar is nie.
  • Dié voorval beklemtoon weer die feit dat ‘n mens jou omgewing fyner moet waarneem en jou kom en gaan deurlopend afwissel. Geen roetine moet deurlopend gevolg word nie.
  • Voor ‘n roof/aanval plaasvind word die huis en gewoontes van die inwoners lank gemonitor. Dit kan selfs langer as ‘n maand duur. Tydens hierdie tydperk word alle veranderinge en moonlike wysigings van rotienes aan die “waarnemers” deurgegee – binne inligting. Sou jy aandui dat jy die naweek weggaan, is dit waardevolle inligting vir ‘n rower.
  • Die waarnemers deel die rowers mee hoe die huis binne lyk, waar die kluis is, of daar geld in is ensomeer. Hierdie inligting word aan die rowers bekend gemaak deur bepaalde tekens te pak. Gewoonlik is drie partye ter sprake. Die persoon wat die inligting verskaf (eintlik verkoop), die waarnemers en dan die rowers self. Die vergoeding van elke party word deur onderhandeling ooreengekom.


Sou Dawie Roodt bewus gewees het van hierdie werkwyse en net ‘n bietjie kennis gehad het oor hulle aanwending van “tekens” sou hy hierdie gebeurtenis maklik kon vermy. Om hierdie stelling te motiveer sal ek later die sluier oor hierdie onbekende werkwyse ietwat lig.

Die artikel van Dawie Roodt kan hier onder gelees word.

Groetnis.

Carel


Dawie Roodt.

Ons het almal ons vrese en die vrees vir persoonlike benadeling is seker die grootste vrees vir die meeste van ons – beslis vir my. My grootste vrees is om terselfdertyd gekonfronteer te word deur my twee oorheersende vrese: die vrees vir persoonlike benadeling en die vrees vir benadeling van my geliefdes. My grootste vrees is nie vir moontlike besering as sulks nie, maar die vrees om te moet kies tussen hierdie twee vrese. Indien dit ooit gebeur, sal ek meer vrees vir my eie lewe of sal ek meer vrees vir die lewens van my geliefdes?

Ek het uitgevind.

Minder as twee weke gelede was ek besig om in my studeerkamer by die huis te werk. My vrou was besig om ons tweeling van twee te bad en ons oudste dogter was op pad huis toe van universiteit af. Dit was omtrent half-agt op ‘n koue wintersaand.

My dogter het in die deur van my studeerkamer verskyn, sonder dat ek veel notisie geneem het en anders as gewoonlik wanneer sy normaalweg ‘hallo pappa’ sê, het sy net gesê ’pappa’. Haar vreemde stemtoon het my laat opkyk. Langs haar was ? jong man – jonk, haar ouderdom – wat subtiel vir my die rewolwer in sy hand gewys het. Daar was drie. Hulle het in die motorhuis vir haar gewag.

My dogter het na my gekyk vir leiding – my pragtige, slim dogtertjie – ek het haar gesien. En vir ? oomblik het ek ook die toekoms van hierdie land langs haar sien staan; jonk, arm, ongeskoold, ongeskik vir werk en gewelddadig; die wrakhout en uitskot van ? gemeenskap wat gefaal het.

Ons beproewing het begin.

Aanvanklik het nie baie gebeur nie. Ons is aangesê om stil te bly, ons is vasgebind, ons monde is toegebind, ons is geblinddoek; ons was goeie gyselaars. Nadat ons vasgemaak is, het hulle beurte gemaak om op hul tyd ons huis deur te soek en die maklike goed bymekaar te maak: selfone, skootrekenaars – daardie soort goed. Nou en dan sou hulle vra vir ‘’the guns’’, ‘’the money’’ en ‘’the safe’’. Mettertyd was hierdie vrae meer dikwels en intens. ‘’We will ask the babies where the money is!’’Dit sou ? lang nag word …

Die krag het afgegaan, hulle laat skrik. Die vraestellery het dringender geword, ‘’where’s the money?’’; die dreigemente duideliker, die rondstampery gewelddadiger. My tyd het gekom, ek moes my vrees kies.

Ek het die een met die mes oortuig dat ek geld in my motor het, as hy my sou toelaat om hom te wys. Uiteindelik het hy my buitentoe geneem. Hy het gesukkel om die motorhuisdeur oop te maak. Ek het die babas hoor huil.

Ek het daarin geslaag om my hande los te kry. Ek het daar gestaan, met my hande los, maar agter my rug. My tyd was nou; kies jou vrees nou op hierdie oomblik en lewe dan daarmee saam! Die regte oomblik kom. Ek val hom aan, ek slaan hom, ek hou hom vas terwyl hy probeer wegkom, ek baklei vir wat myne is – ek kies die groter vrees.

Hy kreun terwyl hy probeer om uit my greep te kom, kap my arm, sny deur spiere, senings en veroorsaak ‘n breë wond op my kop. Hy kom los uit my greep, maar nie uit sy vrees nie. Hy hardloop skreeuend weg van ? gewonde man; van nou af sal ek sy nemesis wees. Maar ek het die groter vrees gekies en oorwin.

Ek deel hierdie nie omdat ek ? held is nie. ? Held sou vroeër opgetree het, suksesvoller, presieser, akkurater. Ek deel hierdie omdat ek ? keuse gemaak het en ek weet dat ons ? keuse moet maak. Die tyd om ons vrees te kies is nou in belang van ons land. Ek daag jou uit om jou vrees te kies.

Baie vrese het daardie aand vir my voorgelê. Sommige vrese het ek gekies, ander is vir my gekies. Ek het gehardloop om hulp te soek. My bure het dadelik op my alarm gereageer. Ek het teruggehardloop, weer oor die muur, weer oor die brug, by die stoeptrappies op, net om by ons voordeur ineen te stort toe ek my gesin sien; ek is gered, maar my liggaam was besig om te veel bloed te verloor!

My dogter was die held, omdat sy my betyds by die hospitaal gekry het in haar motor. Ons tuinier, ook ? held, het beskerm en gehelp waar hy kon. Ons bure het my gesin ingeneem. Ek is hospitaal toe geneem terwyl ek in my eie bloed lê en elke nou en dan my bewussyn verloor. Die hospitaalpersoneel was absoluut wonderlik. Die noodprosedure het soos ? droom gewerk. Goed-geoliede ratte, bekwame hande, goedhartige oë.

Ek het gedink, ‘’waarom sou enige regering selfs daaraan dink om dit te verander na die manier waarop die staat mediese ondersteuning verskaf?’’. ‘’Waarom verander hulle nie liewer die staat se mediese stelsel na wat ek ondervind het nie?” Ek weet ek wil nie deel wees van die nasionale gesondheidsplan nie. Ek weet dit gaan net weer nog ? ramp wees! Net soos Eskom, SAA of PetroSA en soveel meer.

Nog vrees en pyn; ? kateter, ? vrou – toevallig ? swart vrou – wat my saggies was terwyl ek daar lê in my nederige naaktheid. Maar ek is gered en my gesin ook. ? Paar dae in intensiewe sorg, ? paar uur in die teater, baie eenhede bloed en absolute oorweldigende ondersteuning van almal in Suid-Afrika, voordat ek huis toe is. Baie dankie! Thank you! Nkosi!

Hulle sê rehabilitasie sal tot ? jaar duur.

Dag twee by die huis en die proses om ons lewens weer aanmekaar te sit, begin. Selfone; ‘Meneer, jy moet self inkom, dis die wet, dis vir jou eie beskerming’! Ure later, stapels papiervorms en die selfoonmaatskappy wat deur die regering gelisensieer is, kan ons nie in verbinding met die buitewêreld kry nie. Nog vorms,’vir jou beskerming, meneer’; met al hierdie wette en regulasies wat veronderstel is om ons te beskerm, waarom is dit so moeilik om ons gesteelde fone terug te kry?

Ek sien op daarna om die krakende burokrasie aan te pak, om nuwe bestuurderslisensies te kry. Ek weet van onbekwaamheid, die onsubtiele skimpe vir omkoopgeld, die arrogantheid van die ‘’staatsdiens’’.

Al my vriende vra, ‘’sal jy weggaan?’’ Eers het ek nie geweet wat om te doen nie, maar nou weet ek. Ek sal nie gaan nie! Ek sal die groter vrees kies. Daardie aand het ek die bose gesien; maar ek het net soveel gesien wat goed is in hierdie land; my bure, my vriende, sakevennote, die hospitaal, almal – almal! – was net wonderlik; hoe kan ek my mense los, my mense vir wie ek moet bedank vir my lewe? As ons die goeie teen die slegte opweeg, sal die goeie veelvuldig meer wees as die bose; dit maak dit makliker wanneer jy jou vrees kies.

As ekonoom weet ek wat die syfers vir ons sê, maar ek kan dit letterlik ook in my gebeente voel. Ek kan sien hoe hierdie land stadig versleg, hoe ons instellings onteer word met net ? paar wat staande bly, hoe ons staatsondernemings verwoes word deur onbekwaamheid, met ‘n enorme uitwerking op die ekonomie. Ek kan sien hoe korrupsie, nepotisme, baantjies-vir-boeties, onbekwaamheid en swak leierskap hierdie land lei na ekonomiese stagnasie, werkloosheid, armoede, chaos en die uiteindelike onvermydelike gevolg: die sinkput van ? gefaalde staat waaruit selfs die kankerselle wat dit veroorsaak het, nie kan ontsnap nie.

Daardie aand het ek aanvaar dat ek beroof, geslaan, gesny en selfs meer aangedoen word, net soos ek aanvaar dat ons land geslaan en beroof word. Maar dan, daardie aand, het ek ‘n drumpel bereik, ‘n afsnypunt, waar ek geweier het om langer so behandel te word. Ek glo my optrede het die toekoms van my gesin tot hul voordeel verbeter. Ons kan besluit om dieselfde vir die toekoms van ons land te doen. Ek daag jou uit!

Asseblief: Ek staan nie geweld voor nie. Ek weet nie eens of dit die regte ding was om die indringer aan te val nie. Maar as ek in staat was om my grootste vrees te kies, weet ek dat ek die toekoms vir my gesin en my land kan verander; maar ons moet dit saam doen!

Ek is nie meer bang nie, ek het my landgenote in aksie gesien. Ek het hul bekwaamheid gesien, hul goedhartigheid en hul sorg. Ek het hul doeltreffendheid, hul uitsette, hul gees gesien en ervaar. Ek weet ek kan op hulle vertrou.

Dit is wat moet gebeur: vergeet van die NOP, NDR, IBAP en ander afkortings wat in elk geval nie ingestel word nie. Net drie stappe is nodig.

Begin ‘n proses waarin alle staatsamptenare, (ondernemings in staatsbesit ingesluit) weer vir hul werk moet aansoek doen. En voortaan word mense net op meriete aangestel en nie op grond van kontakte, gunste, sosiale vereistes nie; net meriete.
Vestig dadelik ‘n wêreldklas-stelsel vir vaardigheidsontwikkeling (onderwys) om ‘n groeiende en florerende ekonomie te ondersteun.
Verwyder alle hindernisse vir indiensneming. Moenie “werk skep” nie, maar hou op om mense wat gewillig is om te werk, te keer om hul eie werk te skep.

Moenie my vertel dit is nie moontlik nie, dit is al voorheen gedoen. Die heel eerste stap sal egter vir ons almal wees om ons politieke leiers in hul ampte verantwoordelik te hou om te doen wat nodig is. Politieke leiers wat hul eie grootste vrees sal kies.

Kom ons staan op. Kom ons loop saam. Kom ons mobiliseer en weier om misdade te pleeg, om geïntimideer te word, om om te koop, om korrupte leiers te ondersteun. Kom ons staan daardie kankeragtige selle teen!

Kom ons kies die groter vrees omdat ons Suid-Afrikaners is.