Die moeisame reis van ’n filosoof op soek na God
Dit was ’n lang en moeisame geloofsreis van die ou klipkerk in Laingsburg waar hy grootgeword het tot by die berg Sinai in Egipte.
Baie gode sou tydens dié reis die pad van die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse kruis. Die volksgod van die Afrikaner en die Mosaïese stamgod van Israel is maar twee van die vele wat hy sou raakloop op ’n reis wat die godsbeeld van sy kinderdae onherroeplik sou verander.
Nou vertel Esterhuyse dié ongewone reisverhaal in sy opspraakwekkende nuwe boek, God en die gode van Egipte, waarin hy onverskrokke en eerlik vertel hoe die God van sy kinderdae plek moes maak vir ’n totaal ander godsbeeld. Dit is ’n godsbeeld wat dramaties verskil van die tradisionele God wat die kerk aan mense voorhou. Ná jare se worsteling oor wie en wat God is, lyk die Afrikaanse filosoof en denker ongestoord oor die beroering wat sy boek – waarskynlik een van die opspraakwekkendste boeke oor geloof tot nog toe in Afrikaans – by sommige Christengelowiges gaan veroorsaak.
Hy sê sedert die laat 1970’s het dit vir hom al hoe moeiliker geword om na die “ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal” te luister.
In die storm-en-drangjare van die apartheidstyd het die “kritieke besluit” gekom dat dit nie so kan aangaan nie. Hy het uit die kerkraad en die Broederbond bedank.
En êrens langs dié pad het die man wat Stellenbosch toe gekom het om sendeling te word heeltemal opgehou om kerk toe gaan. Volgens NG kerkrekords is hy sedert 2004 ook nie meer gelegitimeer as predikant nie.
“Enigeen wat vir my sê ek het my geloof prysgegee, doen dit vanuit hul eie perspektief. Ek het egter ’n baie sterker affiniteit oor my verstaan van die rol wat Jesus van Nasaret in die hele verhaal gespeel het as wat ek in Laingsburg of in die kweekskool gehad het. Ek het absolute vrede.”
Die vraag “wie” God is, is glad nie so ’n eenvoudige vraag as wat mense dink wat in Hom glo nie, sê Esterhuyse.
’n Vreemde kombinasie van die filosoof Nietzsche en Jesus het sy geykte idees só heen en weer geskommel dat baie min daarvan oorgebly het. Nietzsche se stelling dat die enigste Christen wat ooit geleef het aan die kruis gesterf het, was vir hom ’n juweel. Soos ook sy mening: Die kerk is presies dit waarteen Jesus gepreek het!
Geïnspireer deur Genesis en Nietzsche het hy Egipte agt keer besoek om te probeer verstaan hoe mag, politiek en etiek in antieke Egipte in die praktyk gewerk het. Dit was die primêre inspirasie vir sy boek.
Dit was daar op die bergspits van Sinai waar Esterhuyse teenoor homself erken het daar bestaan nie ’n onhistoriese, permanente of tydlose verstaan van God nie. God het met verloop van tyd dramaties verander en ontwikkel.
Daar is nie net een begrip van God in die Bybel teenwoordig nie. Daar is sommer baie! Abraham het God byvoorbeeld anders verstaan en belewe as Moses.
Ook die verhaal van erfsonde het hom gekwel.
“Dit is ’n verhaal wat ingebring is om mense baie skuldig te laat voel. Jesus, wat ’n revolusionêr was, se verhaal vee dit egter alles van die tafel af.”
Hy bieg dat hy self skuldig was daaraan om mense met die hel bang te praat “sodat hulle in die hemel in kan spring”.
“Die erfsonde was ’n wonderlike geloofsartikel om mense rêrig te help skrikmaak. Mense moet in God kan glo omdat hy God is en nie omdat daar ’n hemel of ’n hel is nie.”
Die invloed wat sommige antieke Egiptiese verhale op die Bybel gehad het, loop soos ’n goue draad deur Esterhuyse se geloofsreis.
Die neerslag van die drie-eenheid in die Egiptiese legende van Osiris, Isis en Horus het hom bevry van die dogmatisme van die Christelike godsdiens, veral die “geloofsartikel” dat “óns geloof” die alleensaligmakende geloof is.
“So asof ons geloof netjies verpak van Bo beskikbaar gestel is en daar geen ander tussengangers soos menslike woorde, voorkeure, vooroordele, tradisies en die noodlot van interpretasie was nie.”
Die begrip van God moet gedemokratiseer word, sê hy nadenkend, maar met ernstige oortuiging.
“Hierdie idee dat óns geloof die alleensaligmakende geloof is, het te make met ’n verskriklike outokratiese, eintlik diktatoriale opvatting van God wat ongelukkig wel ook in die Bybel teenwoordig is.
“Dit is vir my ’n groot bevryding om te kan sê daar bestaan nie iets soos ’n alleensaligmakende geloof nie omdat ek dit voorheen nooit kon of wou sê nie.”
Een ding waarvan Esterhuyse tydens al die jare van worsteling oor geloof nooit kon wegkom nie, is die voorbeeld van Jesus as rolmodel vir sy lewe.
Die aanhoudende debatte oor Jesus se godheid is egter vir hom van nul en gener waarde.
“Om Jesus in ’n geboortelike en byna biologiese verhouding as God se Seun te interpreteer is die grootste onsin wat ek in my lewe teengekom het. As jy dit egter sien as metafories omdat Hy vir jou ’n rolspeler in jou lewe is dan sê ek ja. Maar dit is waardeloos om diskussies te voer oor Jesus se biologiese verbintenis met God. Mense wat debatte voer oor Jesus se fisieke, liggaamlike opstanding, hemelvaart ensovoorts dink nog in tydruimtelike terme. Ek dink aan metaforiese terme en in terme van simbole en metafore. Dit is hoe die Bybel ook dink.”
Vir Esterhuyse móét sy geloof ’n morele impak hê. “As my verstaan van God nie ’n verskil kan maak nie, wil ek nie so ’n God aanbid nie en Jesus se lewe hét ’n verskil gemaak.”
Ten spyte van sy worsteling met God kon Esterhuyse nooit die ateïsme omhels nie. Hy het begrip daarvoor dat mense agnosties is en verstaan ook as ander verkies om glad nie te glo nie. Maar vir hom lê daar nog altyd die voetspore van die onsienlike in die verhale wat oor duisende jare ontstaan het.
Hy sê God, soos hy Hom verstaan, laat ons toe om deur baie vensters te kyk. Die venster wat Jesus oopgemaak het, is vir hom persoonlik die mees betekenisvolle. Maar dit sluit nie die vensters wat ander gelowe oopmaak per definisie uit nie.
Gode kom en gaan en dieselfde sal ook die een of ander tyd met die Christelike godsdiens gebeur, voorspel Esterhuyse.
“Eendag sal ons nog van die moederkerk ’n baie mooi museum maak, maar dit hoef niks weg te neem van die onsienlike nie. Al wat saak maak, is dat jy en “God” mekaar ken en raaksien. En iets daadwerkliks met dié kennis en sien doen, want uiteindelik moet “geloof” ook deur “werke” beliggaam word."
- God en die gode van Egipte deur Willie Esterhuyse word uitgegee deur Lux Verbi en kos R120.
Rapport 14/03/2009
Die moeisame reis van ’n filosoof op soek na God
Jean Oosthuizen
Bookmarks