Results 1 to 10 of 10

Article: Die Germane

  1. #1
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane

    Inleiding

    Hermann_and__Thusnelda_lg.jpg Die Germane van 2000 jaar gelede kon rofweg in drie kultuurstamme verdeel word volgens Plinius die Oude (23-79nC) in sy boek ‘Naturalis historia’, naamlik: Ingväone, Herminone (of Irminone) en Istväone. Hierdie name kan herlei word na die (Opper)gode wat hierdie kultuurgroepe respektiewelik vereer het, naamlik Ing, Irmin en Istvas. Die tweede gedeelte van die naam kan moontlik verband hou met die Germaanse woord –väone (wet of reg). Hierdie Germaanse stamme het geleef volgens die wet van hul (Opper)god. Alhoewel die Germane uit een stam ontwikkel het met een Germaanse taal (sien ook Oergermaans), was dit 2000 jaar gelede nie meer die geval nie.

    Tydens die eerste eeue van ons jaartelling kom die Romeine en die Germane met mekaar in aanraking as gevolg van die Germaanse volksverhuising en die uitbreiding van die Romeinse ryk. Germane was in die tyd meestal boere of jagters. Stede het hulle nie geken nie. Waar die Romeine groot kerke/katedrale/tempels gebou het, was die tempels van die Germane die natuur self (met die uitsondering van ‘n paar houttempels). Die Germaanse volkere was boeregemeenskappe wat geleef het van die land, van hulle landerye en in harmonie met die natuur. Hulle was selfversorgend en het nie meer geploeg as wat nodig was vir voedsel vir die komende jaar nie. Die jaarwiel was gebaseer op die boerekalender en hulle tradisies en feeste was gewone boerefeeste. Hulle het hulle boereverstand gebruik wat beteken het dat hulle logiese of nugtere denkers was. Verder was die Germane baie gesteld op hulle vryheid en onafhanklikheid. Dit het dan ook dikwels gelei tot konflikte tussen die stamme onderling.

    Die Germane het in klein gemeenskappe gewoon. ‘n Gemeenskap het bestaan uit ‘n stam en die stam was verdeel in ‘n aantal sibbe (groot families met ‘n gemeenskaplike stamvader). Aan die hoof van die stam het ‘n koning gestaan (ook stamhoof genoem). Elke sibbe is gelei deur ‘n sibbevader of sibbemoeder. Hy/sy was die oudste lid van die sibbe. Die koning is gekies uit die sibbevaders. Die konings (van verskillende stamme) het een keer per jaar bymekaargekom vir die Ding (volksvergadering). Dit was 'n opelugbyeenkoms. Hier is sake bespreek soos oorlog, vrede, interstreeklike sake en geskille, ens. Die konings het gestaan onder die gesag van ‘n Opperkoning. Volgens sommige bronne was daar egter slegs ’n Opperkoning aangewys wanneer ’n aantal stamme gesamentlik bedreig was. Aan die Ding kon alle mans deelneem uit die adel- (jarl) en vryburgersklasse (karl).


    Op die eiland Man is van oudsher op hierdie plek (Ding) vergader: Bekend as Tynwald Hill. Vandag vind die jaarlikse parlementêre opening steeds hier plaas en staan die parlement van Man ook bekend as Tynwald.

    Vir die Germane was daar één belangrike wet en dit was jou eer. Daar was nie ‘n God wat wette van bo af gedikteer het nie. Daar was nie ‘n God wat bepaal het wat goed en wat verkeerd was nie. Die mens moes eervol handel. Eer was die hoogste goed. ‘n Ou Germaanse spreuk het gelui: “Dis beter om te sterf as om jou eer te verloor.” Wat ‘n mens ook al gedoen het, hy/sy moes altyd ‘n goeie rede hê waarom hy/sy op ‘n bepaalde manier opgetree het. As die rede vir die optrede van die persoon goed was, dan was die handeling goed. Die Germane het geen geregtelike gesag geken nie. As iemand oneervol teenoor jou opgetree het, was jy verplig om te reageer. Jy (en jou sibbe) moes sorg vir vergelding in die afwesigheid van ‘n regter of magistraat. Die mense het geleef vir die sibbe. Hulle spreekwoord was: "Beskerm die sibbe en die sibbe beskerm jou".

    Die godsdiensbeoefening van die Germaan het plaasgevind binne die sibbe. Die sibbevader/-moeder is beskou as die aanvoerder van die sibbe en was verantwoordelik vir die godsdiens-beoefening. Tydens die jaarfeeste (in stamverband) was die onderkoning of die Gouwkoning verantwoordelik vir die offerdiens. Die ritueel by die bring van offerhandes en ook die kommunikasie met die Gode was nie ‘n handeling wat smekend of pleitend gedoen is nie. Dit was nie knielend gedoen nie en ook nie uit vrees nie. Die Germane het regop gestaan terwyl hulle die guns van die Gode vra. Die Germane is sonder erfsonde gebore en nederigheid of 'n skuldgevoel teenoor die Gode was afwesig. Hulle was die Gode wel dankbaar vir die ordening van hulle lewe. Die Gode het ‘n integrale deel van die natuur gevorm. Die begrip “Godheid” was vergestalt in die natuur: Son, Reën, Lente, Riviere....Die guns van die Gode is nooit gevra vir die individu nie, maar vir die sibbe of die stam.

    Vir die Germane was daar nege waardevolle deugde (volgens die Edda) wat hulle op die hart gedra het naamlik:


    • Moed
    • Waarheid
    • Trou
    • Orde
    • Gasvryheid
    • Betroubaarheid
    • Vlyt
    • Volharding en veral
    • Eer.


    Nog belangrike riglyne uit die Edda was:

    • Sterkte is beter as swakheid
    • Moed is beter as lafhartigheid
    • Vreugde is beter as skuldgevoel
    • Eer is beter as oneer
    • Vryheid is beter as slawerny
    • Verwantskap is beter as vervreemding
    • Realisme is beter as dogmatisme
    • Krag is beter as leweloosheid
    • Verbondenheid is beter as universalisme


    Die Edda (“bybel” van die Germane) is 'n versameling gedigte, lofliedere en odes opgedra aan die volkshelde, Gode, en die natuur (Natuurgode).

    By die afsterwe van ‘n familielid is daar in beginsel nie getreur nie. Die Germane het geglo dat die siel van die afgestorwene nog steeds tussen hulle geleef het. As ‘n mens gesterf het op die aarde (Midgard), gaan die siel na die Walhalla of na die Hel. Maar die Hel was nie die Hel van die Christen waar kierankies gebraai word nie. Hel was Helheim. Dit was die Hiernamaals. Germane wat in die stryd (oorlog) gesterf het, het na Walhalla gegaan. Op hulle het ‘n hoër doel gewag. Hulle moes nou saam met die Gode veg teen die uiterste Kwaad of die Ragnarok. Om na Walhalla te kon gaan is dan as ‘n besondere eer beskou. Dit was as 'n vernedering beskou indien 'n man in sy bed sou sterf (strooidood).

    Die Germane het geglo dat daar velerlei wêrelde was wat in verbinding met mekaar gestaan het. Daar was onder andere die Godewêreld (Asegard, onder bevel van die Oppergod Wodan of Odin), dan die mensewêreld (Midgard) en daaronder die onderwêreld (Utgard, die doderyk en woonplek van die Reuse). Hierdie wêrelde word bymekaar gehou deur die reusagtige lewensboom Yggdrasil of die “Boom van Kennis”. Die getal drie was heilig. Maar 3 x 3 was drie keer so heilig (3x3=9). Die ou Germaanse week het om die 9de nag gewissel (2). Vanaf die ring van Odin drup daar elke 9de nag, agt goue ringe af. Hierdie 8 goue ringe staan simbool vir die volgende 8 dae – die 8 dae van die week. Hierna volg weer 'n heilige nag (8+1). Verder was daar drie Gode in die tempel van Uppsala, drie Norne(1), drie wortels van die boom Yggdrasil wat na drie wêrelde uitgereik het: Asegard, Midgard en Utgard: Die wortels van Yggdrasil staan in kontak met die onderwêreld en die takke reik na die hemel en baan die weg na die Gode.

    By die tempel Uppsala was elke 9de jaar 'n groot volksfees gevier wat 9 dae geduur het. By die viering van hierdie fees te Uppsala is ook 9 hane, 9 perde en 9 mense geoffer. Tempels, in die sin van geboue, was vir die meeste Germane egter 'n vreemde fenomeen.

    Na die dood van ‘n Germaan verlaat die siel van die oorledene die sibbe nie dadelik nie. Die oorledene kom gereeld na die sibbe terug om te sorg vir die welstand van die sibbe en ook vir vrugbaarheid. Tydens belangrike feeste is die gestorwe voorouers ook uitgenooi om aan die verrigtinge deel te neem. Die Germane het geglo die Heilgar, heil van die sibbe, was ‘n soort geestelike geen wat van geslag tot geslag deurgegee is. Die kinders erf hierdie geestelike gene. Dit beteken dat die voorouers in die kinders leef en ook weer in die kleinkinders. Dit kan gesien word as ‘n soort Germaanse reïnkarnasie. Die feit dat ‘n kind uiterlike kenmerke en ook karaktertrekke toon van ‘n ouer of grootouer, was vir die Germane die bewys dat die voorouer ook in daardie kind of kleinkind voortleef.

    Die religieuse lewe van die Germaan was ten volle gewy aan die natuur. Goeie en voorspoedige gebeurtenisse is gesien as ‘n uiting van die guns van die Gode. Die Lot was ‘n onfeilbare plan. Die Lot kon jy nie ontwyk nie. Elke Germaan se geboorte- en sterfdatum was reeds bepaal (deur die Norne). Om hierdie rede was Germaanse krygers nie bang vir die dood nie. Hierdie vreesloosheid van die Germaanse kryger was vir sy vyande vreesaanjaend. Die dapper kryger gaan tog na Walhalla waar hy wil wees om die hoër doel te dien. Die Germane kon veel groter vyande verslaan met veel swakker wapentuig.

    Die Germane was besonder hard en genadeloos, maar hulle het ook baie aandag aan mekaar gegee. Oorlewing verg gehardheid. Almal wil die vinnigste, die beste en die knapste wees. Dit is ‘n natuurwet. Die Germane het as natuurmense geleef volgens hierdie wet. Wie swak was, moes uitgewerk word. As een lid van die stam swak was, was die hele stam swak. Swakkelinge en misdadigers is geoffer aan die Gode. Die Germane het nie gevangenisse gehad nie. Die oplossing was van tweërlei waarde. Die Gode is goedgestem en die stam is gesuiwer van swakkelinge. Die resultaat hiervan was die opbou van buitengewoon sterk rasse wat later die wêreld sou gaan oorheers.

    Verder moet ‘n mens nie dink dat alle Germane die Gode vereer het nie. Sommige het geen enkele God vereer nie, maar hulle het wel by die norme en waardes van die sibbe gehou. Hulle was ook nie verstoot nie. Die gemeenskap het oopgestaan vir Gode en ander Godsdienste. Elke Germaan kon soveel Gode aanbid as wat hy/sy wou, of niks nie. Die Godsdiens van die Germane het dus ook geen sendelinge geken nie. Niemand is gedwing om ‘n bepaalde God te aanbid nie. Om hierdie rede het die Christelike sendeling maklik sendingwerk onder die Germane gedoen (alhoewel aanvanklik sonder blywende sukses). Die Christelike God was ook welkom. Die spanning in die gemeenskap sou later ontstaan toe die Christene die aanbidding van ander Gode wou verbied.

    Die Germane het nie ‘n geskrewe boek gehad soos ‘n Bybel of ‘n Koran nie. Die Germane moes die ongeskrewe boek (Edda) uit hulle hoofde ken. Vir die Heidense Germaan is dit as ‘n swakheid gesien om hul geskiedenis en religie op skrif te stel – ‘n gebrek aan goeie geheue. Die geskiedenis en godsdiens moes in die volksmond LEEF. Hierdie sages, odes, gedigte, verse, liedere en verhale is saans wanneer dit rustig was (en veral tydens feeste) op kunstige en dramatiese wyse voorgedra. Dit was die taak van die Skalde (by die Kelte die Barde) om die gesamentlike geskiedenis van die sibbe, stam of volk van geslag tot geslag oor te vertel. Skalde (of Barde) was rondtrekkende digters, sangers of vertellers. Talentvolle kinders is van kleins af in hierdie vak opgelei.

    Tydens en na die kerstening van die Germane het die Christene so vinnig en so deeglik moontlik alle Heidense gebruike en simbole vernietig. Maar die kerstening het nie sonder slag of stoot verloop nie. Die Germane wat oopgestaan het vir ander gelowe, moes nou verneem dat die Gode wat hulle al duisende jare lank aanbid het, skielik uit die bose was. Wat eers baie goed en heilsaam vir die volk was, was nou baie verkeerd. Verder is hulle gedwing om net een God te aanbid, en nie meer ‘n paar nie. Baie Germane het direk hierteen in opstand gekom. Christelike sendelinge is deur die Heidene gedood, en halstarrige Heidene is deur die Christene gedood. Baie Germane het botweg geweier om van hulle Godsdiens af te sien ter wille van die Christendom en was bereid om vir hulle geloof te sterf. Baie duisende van hierdie mense het dan ook uiteindelik vir hulle geloof gesterf.

    Die taktiek van die sendelinge het met verloop van tyd verander. Dit het gou geblyk dat dit ‘n hopelose saak was om die gewone volk te probeer kersten. Die sendelinge het hierna eers die koning en daarna die adel bekeer. Die koning is bekeer met die argument dat die Christendom beskawing bring. Baie van die konings is met hierdie verlokking na die “hoër beskawing” oortuig. As die koning en die adel bekeer was, was die res van die bevolking makliker om te kersten. Diegene wat hulle nie vrywillig wou bekeer nie, is nou met koninklike gesag tot bekering gedwing deur dreigemente van die swaard en die brandstapel. Sommige Heidene het hulself laat doop om konflik met die owerheid te vermy, maar het daarna gewoon voortgegaan om hulle ou Gode te vereer.

    Die Christelike Godsdiens was eintlik vir die Germane vreemd. Die Christelike God was onsigbaar, terwyl die Germaanse Gode via die beelde sigbaar was. Verder het die Germane in terme van “krag” gedink en nie in terme van ideologiese konsepte nie. ‘n God moes Meginn uitstraal via sy/haar afbeelding. Die aanbidder moes kragdadige heil en seën kon aanvoel en dit ontvang. As ‘n Germaan ‘n bepaalde God aanroep en hierdie heilsame krag het nie na die aanbidder gevloei nie, is die rug gekeer op hierdie God en ‘n ander God is aanbid.

    Die heilige plekke waar die teenwoordigheid van die Gode aangevoel is, was in ‘n woud onder magtige eikebome. Maar ook alleenstaande groot eikebome het hierdie gevoel van magtigheid en die aanwesigheid van die Gode verleen. Hier was die Gode vereer en aan die Gode geoffer en nie in tempelgeboue nie.

    (1) Norne was ook bekend as Skikgodinne of die Drie Wyse Maagde. Hulle het die Lotsbestemming van elke mens bepaal. Hulle het alles geweet, van alle ewigheid tot in alle ewigheid. Hulle name was Urd, Word (of Verdandi) en Skuld. Urd = oerverlede, Word (Verdandi) = hede, en Skuld = wat nog verskuldig is in die toekoms.

    (2) Die Ou Romeinse week het ook uit 9 nagte (dae) bestaan.


    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  2. #2
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - 'n Portret

    Germaanse Portret


    Hierdie gedeelte behandel hoofsaaklik die eerste kontakte tussen die Romeine en die Germane (Suidgermane) gedurende die eerste eeu van ons jaartelling. Die inligting is dan ook hoofsaaklik ontleen aan die waarnemings van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus. Tacitus het die Germane omskryf as 'n besonder suiwer volk wat nie met ander volke vermeng het nie. Vogens Tacitus was die duidelikste kenmerke die volgende: Die Germane het woeste blou oë gehad met rooi-blonde hare en hulle liggame was fors en aantreklik. Hulle kon kragtig aanval in die stryd, maar was nie bestand teen hitte nie.


    Foto: Tacitus.

    Tacitus skryf dat die Germane bepaalde oorlogsliedere gesing het voor die aanvang van die stryd, om hulle strydlus op te wek en ook om die vyand angs in te boesem. Hierdie dreunsang was laag van toon. Hierby het die Germaanse krygers hulle skilde ook op ’n bepaalde manier voor hulle monde gehou om ’n swaarder en holler geluid voort te eggo. Hierdie krygsgeskreeu het bekend gestaan as 'barditus', skildsang of baardpraat. Hierdie rou gebulder was 'n poging om die stem van Donar na te boots.

    Die familiebande onder die Germane was baie sterk. Die opstelling van die slagorde was dan ook nie willekeurig gedoen nie, maar volgens familiebande. Elke kryger moes veg met ’n familielid in sy nabye buurt (oom, neef, broer, vader, seun, ens) vir morele steun, aanmoediging en beskerming.

    'n Veldslag het begin deurdat twee partye teenoor mekaar stelling inneem. Die aanvoerder moedig sy manskappe aan en daarna hy vyand beledig. Hierna gooi hy 'n spies "Die Wapen van Odin", oor die koppe van die vyand met die kreet: "Odin, vat hulle"! Die krygers gooi hierna die meeste van hulle kleding af en gaan dan oor (soms naak) tot die aanval.

    Die knapste krygers het voor in die linie geveg en vir hulle was dit 'n edele taak. Hierdie groep elite-styders het bekend gestaan as Hund of Honderd (vergelyk Oudsaksiese, Oudengelse en Gotiese hund). Die woord hond en die Engelse woord hunt (jag) is hieraan verwant.

    Die rol van die Germaanse aanvoerders was ook anders as by die Romeine. Die Germaanse aanvoerders het hulle manskappe aangemoedig deur ‘n leidende voorbeeld te stel. Die aanvoerders het die hardste geveg en vóór in die linie. Elke Germaanse leier was ook byna permanent (ook in vredestyd) beskerm en opgepas deur 'n groepie manne wat bekend gestaan het as die komitatus (verwant aan komitee). Lede van die komitatus was besonder getrou aan die leier. Hulle het die kern gevorm van die strydmag. Tydens die aanval het hulle alles in die stryd gewerp om te voorkom dat hulle leier ooit val. Dit was as 'n skande en 'n groot vernedering beskou om die stryd te oorleef, terwyl die leier gesterf het. Sommige krygers (veral lede van die komitatus en hund) het na 'n verlore stryd selfmoord gepleeg deur hulself op te hang. Onwillige krygers is nie deur die leier gestraf nie. Dit was die taak van die priesters.

    Vanaf ongeveer 13 jaar was 'n persoon beskou as volwasse. Seuns kon volwaardig meeveg. Meisies kon trou. Die Frankiese koning Karel die Grote se 2de vrou Hildegard (Houdiard) van Vinzgouw was 13 jaar oud toe hy met haar getrou het. Sy het 9 kinders in die wêreld gebring en gesterf toe sy 25 jaar oud was.

    Waar die Romeine hulle gestorwe soldate (soms) op die slagveld agter gelaat het, het die Germane dit nooit gedoen nie. Alle gestorwe Germaanse krygers is deur hulle geliefdes weggehaal. In hierdie eerste eeue na die begin van ons jaartelling, maak die Germane gebruik van 'n interessante afweertegniek. Hulle het soms ossewaens gebruik as skans deur dit in 'n sirkel te trek en aan mekaar vas te bind. Dit het bekend gestaan as 'n 'wagenburcht' - 'n laer.

    Op die party wat 'n stryd verloor het, het daar ook 'n swaar lot gewag. Die vlugtende party is agterna gesit en baie van hierdie gevangenes is aan die Gode geoffer. Die wat nie geoffer was nie, was as slawe saamgeneem huis toe. Die wapens van die verloorders is nie buitgemaak nie. Dit is vernietig en aan die Gode geoffer deur dit in veenmoerasse te stort.

    Vroue en kinders het waar dit kon, saamgegaan na die strydperk. Die vroue moes sorg vir die bereiding van voedsel en hulle het ook die gewondes met liefdevolle aandag en sorg verpleeg. Op die slagveld kry die Germaanse kryger dus ondersteuning van sy allerdierbaarste 'besit', naamlik sy vrou, sy kinders en ook sy moeder. Maar dit is ook hierdie kosbare 'eiendom' wat hy onder geen omstandighede wou verloor nie. Die maatskaplike druk op hierdie kryger was enorm groot. Hy moes 'n buitgewone prestasie lewer. Hy móés wen! Hy moes soos 'n besetene veg om sy vrou en kinders uit die hande van die vyand te hou. Die vroue het die manne aangemoedig deur te gil en te skree, maar ook het hulle soms met swepe onder die manne ingelê. Tacitus vertel dat Germaanse vroue ook soms hulle borste ontbloot het aan die vyand. Die boodskap was: ‘kom haal ons maar, want ons manne is voos’. Die doel hiervan was om die manne (stamgenote) opnuut aan te vuur om die oorwinning te verseker. Op die slagveld het priesteresse na afloop van die stryd 'n towerspreuk gemompel aan swaargewondes wat in die 8ste eeu nC opgeteken is, naamlik: ''Ben zi bena, bluot zi bluoda, lid zi geliden, sose gilimida sin'', wat beteken: Been aan been, bloed aan bloed, lid aan lid asof dit gelym is. Die towerspreuk moes wonde help genees.

    Tacitus skryf dat die Germane baie waarde geheg het aan die opinies van vroue. Hulle het geglo dat vroue ’n talentvolle vermoë gehad het tot heldersiendheid, profetiese gawes en intuïsie. Onder die Germane was sieneresse wat die leëraanvoerders moes adviseer. Hierdie priesteresse was in wit (heilige kleur) geklee. Hulle was meestal ouerig (wys) en hulle het metaalgordels gedra. Baie van hierdie Germaanse vroue het selfs die status van Godinne behaal. Daar is ondersoekers wat aandui dat daar ook manlike priesters en sieners was onder die Germane. Maar die Wiccas (Wyse mense) was byna almal vroue. Hierdie vroue was besonder intelligent en talentvol, maar hulle sou later deur die kerk as hekse vervolg word – en op brandstapels gesterf het.

    Tacitus skryf ook dat die Germane baie strenger sedelike norme gehandhaaf het as die Romeine. Mans wat ontug gepleeg het, was veroordeel tot verdrinking in 'n veenmoeras. Verder het Tacitus ook bewondering gehad vir die sobere Germaanse huwelik. Mans was getrou aan hulle vroue en verder het elke man net een vrou gehad, met die uitsondering van 'n beperkte aantal adellike mans wat meer as een vrou gehad het. Dit was volgens Tacitus nie die geval onder die Romeine nie. Owerspel is baie swaar gestraf en egskeidings het volgens Tacitus selde voorgekom. Ander bronne vermeld egter dat Germaanse pare wel maklik geskei het en dat die 'maklike skeiding' 'n halt toegeroep is na die kerstening van die Germane. Verder het die Germane 'n streng opvoedingstyl gehandhaaf in teenstelling tot die veel soepeler Romeinse opvoedingstyl.

    By 'n huwelik moes die man aan die familie van die vrou 'n bruidskat gee. Dit was hoofsaaklik beeste plus 'n perd, 'n skild en 'n swaard. Die bruid gee dan op haar beurt 'n swaard of 'n ander wapen aan die bruidegom. Daar is ook ondersoekers wat beweer dat by die Noordgermane die bruidskat hoofsaaklik om geskenke gegaan het wat die bruid aan die bruidegom sou skenk.

    Die verhouding tussen die man en die vrou was gelyk. Die man (Ask = spierkrag) moes sorg vir 'n woning, vir kos en die verdediging van sy kosbaarste besit, naamlik die sibbe. Die vrou (Embla = psigologiese krag) moes sorg vir die intellektuele opvoeding van haar kinders (oorvertel van volksverhale, geskiedenis en religie), kleding en die bereiding van kos. Die mediese wetenskap was volledig in die hande van vroue. Sy is om spirituele advies gevra en het die leiding geneem by die bring van offerhandes.

    Die Germane het baie kinders gehad. Geboorte beperking of die poging daartoe was as 'n skande beskou. Elke kind is enkele dae na die geboorte tydens 'n seremonie met water besprinkel. Dit is moontlik dat die kind tydens hierdie 'doopseremonie' sy/haar naam ontvang het. Misvormde en gebreklike kinders moes deur die vader om die lewe gebring word, so spoedig moontlik na die geboorte. Dit was gedoen deur so 'n kind buite (in die koue) aan sy/haar lot oor te laat.

    Die huise van die Germane was baie eenvoudig. Tacitus skryf dat die Germane nie aandag geskenk het aan 'n mooi boustyl nie. Die huis moes funksioneel wees. Die huise was in die vorm van 'n heuwelagtige struktuur en het as 'n hol, heul, heuwel, hel, hil of hal bekend gestaan. Huise van hout, steen of klip was 'n latere ontwikkeling. Verder het die huise nie teenmekaar gestaan nie in teenstelling tot die Romeinse huise wat juis teenmekaar gebou was. Tacitus skryf dit toe aan die onafhanklikheidsdrang van die Germane.


    Ou Germaanse wonings

    Ons Germaanse voorouers het aanvanklik nie wyn geken nie. Hulle het later wyn ingevoer van die Romeine en ook die Kelte. Die Germane was bierbrouers en bierdrinkers. Soms het hulle ook te veel bier gedrink. Tacitus skryf dat die Germane dronkenskap nie as 'n skande beskou het nie. Ook het die Germane graag gedobbel. Maar 'n dobbelspel was alleen gespeel as die deelnemers baie nugter was. 'n Dobbelspel was vir die Germane 'n baie ernstige aangeleentheid. Dit was as 'n skande beskou om vroeg uit 'n dobbelspel te stap. Baie mense het in hierdie dobbelspelle al hulle besittings verloor. Sommiges was selfs as slawe verkoop om dobbelskuld te kon betaal. Dit was nie as 'n skande beskou om as 'n slaaf verkoop te word nie, maar wel om uit 'n ongunstige dobbelspel te probeer sluip.

    Tacitus skryf dat die Germane hulle slawe eintlik ook nie werklik as slawe behandel het nie. Slawe was nie in kettings aangehou nie en het ook nie dwangarbeid verrig nie. Tog skryf Tacitus dat baie slawe deur hul eienaars gedood is. Die doodslaan van 'n slaaf was nie beskou as 'n oortreding nie. Slawe het gedeel in die voorspoed en teëspoed van die gesin. Die Germaanse maatskappy het uit 3 klasse bestaan, naamlik slawe (thrall), vryburgers (karl) en die adel (jarl). Slawe was meestal oorlogsbuit. Die hare van manlike slawe was kort geskeer. Mans uit die adel en vryburgers het lang hare gehad. Lang hare was die sieraad van die hoër klasse.

    Vir die Germaan was sy wapens van baie groot belang. Hy het nêrens heen gegaan sonder sy wapens nie. Ook waar 'n ooreenkoms beklink was tussen twee partye, het die gebruik van wapens deel uitgemaak van die seremoniële afsluiting van die ooreenkoms. 'n Goeie swaard was baie waardevol. Met 'n goeie skede daarby was dit sewe koeie werd. 'n Skild en 'n lans daarenteen was tesame maar twee koeie werd. Wat egter ook baie belangrik was vir die Germane was die grootte van die veestapel. Hoe groter, hoe ryker. Die kleinvee was maar van 'n kleinerige soort. Dan het die grootvee ook nie die edele voorkoms en pragtige horings gehad van die Romeinse grootvee nie, aldus Tacitus.

    Tacitus skryf oor die Germaanse konings, dat hulle nie absolute mag gehad het nie. Hulle is deur die volk verkies en kon maklik weer hulle posisies verloor. Die konings het wel uit die Germaanse adel gekom. In die Ding (volksvergadering) kon burgers hulle mening lug. 'n Voorstel wat nie aanklank gevind het nie is met 'n gemor deur die volk afgewys. Wanneer daar 'n voorstel gemaak was wat 'n breë steun geniet het, het die Germane hulle spiese teen mekaar gekletter. Die ou Germane het dus 'n verregaand en uitgebreide demokrasie geken. Die volksvergadering is gelei deur die koning, maar die dissipline was gehandhaaf deur priesters. Die Germane was egter nie bang vir hulle konings nie en skryf Tacitus dat die burgers soms maar traag gereageer het op koninklike 'opdragte'.



    Dit blyk uit die beskrywing van Tacitus dat die Germane baie onrustige mense was. As daar 'n lange tyd vrede was, gaan soek die jongmanne die stryd op. Hulle doen dit uit verveeldheid. Hulle sluit dan aan by stamme waar wel 'n stryd gevoer was. In hierdie gevaarlike omstandighede was dit makliker om beroemd te word en bewondering af te dwing vir onverskrokke dapperheid. Tacitus skryf dat die Romeine baie versigtig was vir die Germane en dat hulle 'n baie groot respek gehad vir die Germaanse deeglikheid en hulle onweerstaanbare dapperheid. Baie Romeine het botweg geweier om teen die Germane te veg. Tacitus skryf dat baie Romeine 'oorwinningsfeeste' gevier het deur bloot 'n fees te vier in plaas van die swaard op te neem. Alleen die wilde en vurige blikke van die Germane was vir die Romeine al 'n verskrikking. Die gemiddelde Germaanse kryger was in die tyd ook 'n kop langer as die gemiddelde Romeinse soldaat.



    Die Germaanse volkere:

    Alemannen | Ambronen | Ampsivaren | Angelen | Angrivariërs | Asdingen | Bataven | Bajuwaren | Bojers | Bructeren | Bourgondiërs | Cananefaten | Chamaven | Chasuarii | Chauken | Cherusken | Chatten | Cimbren | Dulgubnii | Eburonen | Fosi | Franken | Frisii | Gepiden | Goten | Harii | Helisiërs | Herulen | Hermunduren | Juten | Lakringen | Langobarden | Lemoviërs | Lugiërs | Manimiërs | Marcomannen | Marobudui | Mattiakken | Naharvalen | Nemeten | Nerviërs | Ostrogoten | Quaden | Rugiërs | Sakse | Semnonen | Silingen | Sitones | Skiren |Sueben | Suionen | Sugambren | Tencteren | Teutonen | Toxandriërs | Treveri | Triboken | Tubanten | Tudri | Ubiërs | Usipeten | Vandale | Vangione | Visigote | Volcae | Warne

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  3. #3
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Die Vrou

    Die Germaanse Vrou


    Met die koms van die Christendom na Europa, sou die rol van die Germaanse vrou in die maatskappy, 'n metamorfose ondergaan. Voor die koms van die Christendom was die vrou (net soos die man) 'n eersterangse burger. Sy het hoë aansien in die gemeenskap geniet. Geen Germaanse leër het dit ooit gewaag om 'n stryd te begin, sonder om eers die vroue te raadpleeg nie.

    Tacitus (56-120n.C.) skryf dat die Germane geglo het dat daar iets heiligs in die vrou skuil. Sy het oor profetiese gawes beskik. Sy was heldersiende. Sy het oor telepatiese en intuïtiewe kragte beskik wat van haar 'n Sieneres gemaak het om mee rekening te hou. Die Volva's kon alles sien van die begin tot die einde: van die skepping tot die einde van die wêreld (Ragnarok). Sy is vereer vanweë haar vermoë om beheer uit te oefen oor bonatuurlike en magiese kragte. Verder was die Germaanse vrou vereer om haar verleidelike skoonheid en aantreklikheid. Juis om hierdie talente, was die vrou van haar voetstuk gehaal met die koms van die Christendom.

    Baie Germaanse vroue het om haar middel 'n klein swastika of sonwiel gedra. Dit het simbool gestaan vir oneindigheid en die ewige lig. Haar armbande was in die vorm van 'n slang (of akkedis) wat vrugbaarheid en wysheid vergestalt het. Ook het sy sleutels aan 'n gordel om haar middellyf gedra. Dit was simboliese sleutels wat haar outoriteit bevestig het en haar toegang verleen het tot die bonatuurlike wêreld. Vergelyk ook die sleutels van die koninkryk van die hemel (Mat 16:19); die sleutels van die dood in Openb 1:18 en ook die simboliese sleutels wat die katolieke priesters dra.

    Daarbenewens was sy 'n outoriteit op die gebied van die geneeskunde. Dit was 'n terrein waar geen man hom mee bemoei het nie. Sy het medisyne aangemaak. Sy het gesorg vir die siekes en die gewondes. Sy was die heler en die dokter. Verder het sy kinders voortgebring en as sodanig is sy gesien as die skepper van menslike lewe. Sy het in die lig gestaan van die Moedergodinne. In die Germaanse religie was die Godinne en Gode ewe heilig. Man en vrou was gelyk. Die eerste twee mense was tegelykertyd geskape uit hout. Ask en Embla (twee selfstandige bome).

    Ook by die ou Germaanse godsdiensbeoefening het sy 'n leidende rol gespeel. Daar was baie meer priesteresse as priesters in die Germaanse gemeenskap. Bowendien, skryf Tacitus, het die manlike Germaanse priesters hulle soos vroue geklee.

    Die oordrag van ons volksgeskiedenis en volkskuns na die volgende geslagte was hoofsaaklik in haar hande (moeders lees vandag nog Germaanse 'sprokies' voor aan hul kinders). Ook op die gebied van skriftelike taalhantering het sy 'n leidende rol gespeel. Die meeste runemeesters was vroue. Dit het nie alleen taalhantering ingesluit niet, maar ook die magiese aspekte van rune. Met die koms van die Christendom is die Germaanse rune deur die kerk verbied.

    By die bestudering van die Germaanse mitologie blyk dit duidelik dat vroue 'n belangrike skakel gevorm het tussen die mens en die Goderyk. Die Drie Norne (vergelykbaar met die Griekse Fate) bepaal immers die lot van elke mens. Die kryger wat op die slagveld sterf word deur die Walkure na die Walhalla begelei. Mense wat 'n strooidood (beddood) sterf, word onder beskerming geneem van die Godin Hel. Daarbenewens speel die Hekse, Wicca's, Seidkona's, Volva's, Elwe, Disas, Matrone en Gefjons 'n belangrike rol as intermedium tussen die aardse lewe en die Hiernamaals.

    Met die koms van die Christendom na Germaans-Keltiese Europa vind 'n ommeswaai plaas. Die vrou word 'n tweederangse burger. Erger nog, tydens die Middeleeue is sy wreed en brutaal vervolg. Juis haar eens gewaardeerde talente sou haar op die brandstapel laat beland. Miljoene talentvolle vroue is in Europa deur kerkvaders na die brandstapel begelei. Die Heks (Wyse Vrou) sou met die koms van die Christendom verander in 'n bose Heks (Duiwelsgebroed).

    Waar die vrou in die ou Germaanse gemeenskap die berader en die arts was, moes sy met die koms van die Christendom hierdie vakgebied opgee. Die mediese beroep sou voortaan met mans gevul word (vroue kon nog assisteer).

    Ondersoekers wys daarop dat talle Germaanse- en Keltiese vroue aanvanklik (na hul kerstening) ook Christelike priesters was. Dit was 'n taak wat hulle volvoer het voordat hulle gekersten was. Maar vroulike Christelike priesters was 'n doring in die oog van Rome. Hierdie vroue moes die veld ruim en die Christelike priesteramp verlaat. Die priesterlike amp was nou die uitsluitlike domein van die man.

    Die nuwe godsdiens het die vrou beskou as oorsaak van alle sondes in die wêreld. Eva is deur 'n 'pratende' slang verlei waarna sy die onskuldige Adam verlei het. Sonder die vrou, sou die man nóóit gesondig het nie. Sy veroorsaak 'n sondeval.

    Na die sondeval het die sonde nie opgehou nie. Met haar skoonheid sou sy elke man tot sondige gedagtes verlei. Beeldskone vroue het tydens die Middeleeue 'n groot risiko geloop. As sy te mooi was, beteken dit dat sy moontlik 'n verleidelike heks was, wat op die brandstapel hoort. En as sy te bekwaam of intelligent was, het sy dieselfde risiko geloop.

    Daar was selfs vroeër in kerklike kringe geglo dat 'n vrou nie 'n siel het nie. Sy is geskape uit Adam. Sy was beskou as deel van Adam: sonder identiteit. Sy kom uit die man (by die Germane kom die man uit die vrou) en was nie eerste geskape nie, maar tweede. Om die rede moet sy onderdanig wees aan die man. Omdat die vrou skuldig was aan die sondeval moet die man oor haar heers, volgens Gen 3:16.

    By die bestudering van die Bybel (en die Koran), blyk dat die Midde-Oosterse vrou 'n besonder onderdanige posisie beklee het ten opsigte van die man. Sy spreek haar man aan as ''heer'', sy is onrein wanneer sy menstrueer of geboorte geskenk het. Verder word sy beskou as haar man se eiendom. Die Bybelse vrou is 'n stil figuur op die agtergrond. By die bestudering van die Germaanse Edda's is dit baie duidelik dat die vrou op geyke voet met die man verkeer. In die Edda's is sy prominent op die voorgrond aanwesig.

    Ook by die Kelte blyk dat vroue voor die koms van die Christendom hoë posisies beklee het. Boudicca was byvoorbeeld in Brittanje in die 1ste eeu n.C. 'n baie belangrike koningin en leëraanvoerder. Maar sy was nie die eerste en enigste nie. Tacitus skryf dat die Romeinse leërs dit later nie meer vreemd gevind het om teen Keltiese leërs te veg onder aanvoering van 'n vrou nie. Ook in die Keltiese sages kom koninginne voor wat leërs aangevoer het. Nog ander bekende vroulike leëraanvoeders (of vroulike stryders) onder die Kelte was Medb, Scáthach, Aoife, Credne, Coinchend, Estiu, Cartimandua, Onomaris, Eponina, Chiomara, Camma, Macha Mong Ruadh, ens. Talle ondersoekers en geskiedskrywers (byvoorbeeld Tacitus en Pausanius) maak melding van die hoë posisies van vroue in die Keltiese gemeenskap.

    Keltiese en Germaanse vroue kon die hoogste posisies in die maatskappy bereik sonder wetlike belemmering. Hulle kon maklik van hul mans skei as hulle dit sou verkies. By 'n egskeiding het die vrou haar eie besittinges behou asook alle geskenke wat sy by haar man ontvang het. Germaanse- en Keltiese vroue kon grond besit en het erfreg gehad. Romeinse- en Griekse vroue daarenteen, het hierdie regte nie gehad nie. Romeinse- en Griekse vroue het die status gehad van slavinne en is beskou as 'n besitting. Met die koms van die Christendom na Noord en Wes-Europa vind 'n oordrag plaas van die Romeins-Griekse kultuur na die Germaans-Keltiese kultuur. Die maklike egskeidings onder Germaanse- en Keltiese egpare is 'n halt toegeroep by die invoering van die Christendom.

    Met die koms van die Christendom is 'n patriargale tradisie in Midde-Europa gevestig. In Nederland sou vroue vanaf 1922 algemene stemreg verwerf het. Die kerk het dit teëgestaan. As blyk van afkeur van die invoering van vroulike stemreg, is selfs 'n nuwe politieke party gestig, naamlik die Staatkundig Gereformeerde Partij. Hierdie party bestaan vandag nog steeds en is steeds gekant teen vroulike stemreg en die vrou as ampsdraer.

    By die bestudering van die Keltiese en Germaanse mitologië val dit op dat die vrou nie alleen 'n belangrike rol gespeel het in die maatskappy nie, maar selfs 'n verhoogde status gehad het. Sy was 'n simbool van die Moedergodin. Sy het simbool gestaan vir kennis, wysheid en geregtigheid. Die huidige simbool vir geregtigheid in talle Westerse lande is 'n weegskaal of die afbeelding van 'n vrou.

    In Europa sou die kersteningsgolf die laaste oor Noord-Europa gespoel het. Die Heidendom het daar die langste stand kon hou. Om hierdie rede het die Noord-Europese maatskappy nooit werklik 'n patriargale maatskappy geword nie. Selfs vandag nog word die Skandinawiese lande as 'vroulike' lande bestempel teenoor die Midde-Oorsterse 'manlike' lande.

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  4. #4
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane se Skeppingsgeskiedenis

    Die Germaanse Skeppingsgeskiedenis


    Die oerkoei Audhumla lek die Reus
    Búri uit die ys, terwyl Ymer van haar melk drink.
    Die Noord-Germaanse skeppingsverhaal verskil van die Suid-Germaanse ekwivalent. Die Noord-Germaanse skeppingsverhaal vertel van ‘n oerruimte (’n groot leegte) wat deur ’n groot kloof (of ’n gapende afgrond bekend as Ginnugagap) in twee verdeel was deur 'n warm vurige wêrelddeel teenoor 'n ysige wêrelddeel. Die Vurige deel was Muspel genoem en sy toegangspoort was bewaak deur Sutur (waar ons die woord swart van ken) met sy vlammende swaard. Die ysige wêrelddeel was Nifel genoem. Van Nifel ken ons ook die Afrikaanse woord newel). In Nifel was ’n bron en uit hierdie bron het twaalf strome gevloei wat gesamentlik bekend gestaan het as Elivágar. Alles in Nifel was koud en donker. Alles in die buurt van Muspel was warm en verlig. Hierdie oerruimte het Ginnungagap geheet en hier het die eerste lewende wese ontstaan, naamlik Ymer (’n Reus) uit die ryp. Ymer was dus ’n Rypreus. Hy het ontstaan uit smeltende ryp en uit die druppels is sy beeld gevorm. Ymer, die eerste lewe in ’n chaotiese wêrled, was beskou as ’n bose figuur. Tydens ’n diepe slaap het hy baie gesweet en uit die sweet het manlike en vroulike figuur ontstaan. Uit hulle nageslag sou die Rypreuse ontstaan.

    Uit die druppels van die smeltende ryp sou ook nog ’n figuur ontstaan, naamlik die Oerkoei Audhumla. Uit haar spene sou 4 melkriviere ontstaan het wat as voeding sou dien vir Ymer.1

    Die Oerkoei Audhumla moes vir haar oorlewing aan die ys lek. Volgens sommige bronne het die Oerkoei Audhumbla vir Ymer uit die ys gelek en het hy nie ontstaan uit smeltende ryp nie.

    Die Oerkoei Audhumbla sou ook nog ’n figuur uit die ys gelek het en dit was die Reus Búri. Audhumla het drie dae nodig gehad om Búri uit die ys te bevry. Uit Búri sou die goeie Reuse geslagte en die Godegeslagte ontstaan het. Búri het 'n seun gehad met die naam Borr (ons Afrikaanse woord Boer kom van Búri en Borr). Borr en Bestla (beide reuse) het drie seuns gehad, naamlik Odin, Vili en Vé. Dit was die eerste drie Gode.

    Odin, Vili en Vé het later vir Ymer gedood en alle ander Rypreuse in sy bloed laat verdrink (behalwe vir Bergelmir en sy vrou). Die drie broers het die liggaam van Ymer hierna in die Ginnungagap gestort. Uit hierdie liggaam van Ymer het die skepping gegroei. Die vleis van Ymer het die grond gevorm, sy gebeente die berge, sy tande en kakebeen die rotse en kranse, sy bloed het die riviere, mere en seë gevorm. Uit sy skedel sou die hemel gevorm word en vonke sou die son, maan en sterre vorm. Die woord Ginnungagap is ’n samestelling waarvan die eerste gedeelte waarskynlik afkomstig is van die Germaanse woordstam *gin- en wat ons vandag herken in woorde soos geen (niks of leegte) en ook begin (ontstaan van die skepping). In die tweede gedeelte van die samestelling herken ons die worde gaap, gaping en ginnegaap.

    Die wêreld sou deur 4 dwerge gedra word. Hierdie dwerge was eers maaiers wat geleef het van die vleis van Ymer na sy dood. Die dwerge het bekend gestaan as Noord, Suid, Oos en Wes of Norðri, Suðri, Austri en Vestri. Die eerste 2 mense was 2 stukke hout (boomstamme) wat deur Odin, Vili en Vé op die strand gevind was1. Dit was lewelose hout. Odin sou aan die 2 stukke hout asem, lewe en spraak gegee het, Vili het bewussyn en beweeglikheid gegee en Vé het die uiterlike beeldvorm gegee asook gehoor. Ook het die 3 broers aan hierdie twee mense klere gegee en hulle Ask en Embla genoem.

    Ask en Embla word uit hout geskape.


    Die woord Ask is verwant aan die Oudnoorse Askr. Dit is ’n boomsoort: Es. Embla dui ook op ’n boomsoort naamlik *elmla of Olm (ook bekend as Iep). Ask en Embla ontstaan dus uit twee bome wat los van mekaar sou staan, maar gelyk aan mekaar. Ask sou spierkrag vergestalt en Embla psigologiese en spirituele krag. Van Ask en Embla sou alle mense afstam. Dat mense uit boomstamme sou ontstaan was nie vreemd nie, want ook die Gode het uit boomstamme ontstaan, in die sin dat Godebeelde (Ans = totempale) uit boomstamme gekerf was. Daarbenewens was bepaalde boomsoorte ook aan bepaalde Gode gewy.

    Volgens Tacitus het die Suid-Germane ’n ander skeppingsverhaal geken. Die God Tuisto sou ’n seun gehad het met die naam Mannus. Mannus het weer drie seuns gehad met die name Ingo, Isto en Irmino. Uit hierdie drie seuns sou die Hoof-Germaanse stamme ontwikkel het, naamklik aan die kus die Ingwaeonen, in die middel die Herminonen en in die Ooste die Istwaeonen.

    Die Skepping in die Germaanse religie ken ook ’n einde bekend as Ragnarök. Wanneer die Eindtyd nader kom sal daar eers ’n verwoestende oorlog kom wat drie jaar sal duur. Broer sal teen broer veg en baie bloed sal vloei. Hierdie oorlog word gevolg deur ’n ‘magtige winter’ (Ondnoors fimbulvetr). Dit sal vir drie jaar baie koud wees en die son sal nouliks te sien wees. In die drie jaar sal daar geen somer wees nie. Hierna sal die Son en die Maan deur wolwe verslind word. Die sterre aan die hemel sal verdwyn en die aarde sal sidder en beef.

    Hierna sal die Vuurreuse, onder leiding van Surt (Swart) en sy vrou Sinmore, die Wêreldboom, Yggrasil, in vlamme sal laat opgaan. Eintlik het die eindtyd al begin met die moord op die geliefde God Balder, maar die Groot Stryd moet egter nog plaasvind. Tydens hierdie eindstryd sal twee hooffigure teen mekaar optrek op 'n slagveld met die naam Vigrid. Hierdie twee figure is die Oppergermaanse God Odin teenoor die God (soms Reus) Loki. Odin sal gesteun word deur die Gode en die Einheri’s (gestorwe Germaanse krygers) wat al duisende jare oefen vir hierdie oorlog. Loki sal gesteun word deur die Reuse, Fenrir, die Midgarslang en ander bose mitiese wesens.

    Hierdie oorlog sal ook gekenmerk word deur ’n aantal tweegevegte waarvan die uitslag nou reeds bekend is. Odin sal veg teen Fenrir, Freyr teen Surt, Thor teen Midgardslang, Tiwas teen Garm en Loki teen Heimdal.

    Surt en sy Vuurreuse sal met vuur teen die Gode optrek en die aarde verskroei. Dit is ’n kosmiese oorlog met ’n vernietigende einde. Dit is die einde van die Ou Wereld. Uit die as van die ou skepping ontstaan 'n Nuwe Wereld. Die Bose Magte onder leiding van Loki word verslaan. In die nuwe skepping is daar geen Reuse of Bose Magte nie. Slegs enkele Gode oorleef die Ragnarok, naamlik Vidar en Vali (seuns van Odin), Modi en Magni (seuns van Thor). Twee Gode keer terug uit die doderyk en hulle is Balder en Höder. Slegs een man en een vrou sal die Raganrok oorleef en hulle is Líf (leef) en Lífthrasir (strewe na lewe). Hulle is die stamouers van die nuwe mensgeslag in die Nuwe Wereld.

    1 Die oerkoei kom ook voor in die mitologie van Egipte, Persië en Indië. Die 4 melkstrome kom ook ooreen met die 4 riviere in die paradys van die Joodse skeppingsverhaal.


    Met dank en erkenning aan Heiligdom

  5. #5
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Mei Viering

    Feeste


    Mei Viering


    Die woord Mei is afkomstig van die Latynse woord maius wat groter, groei of wasdom beteken het. Die herkoms van die woord kan herlei word na die Godin Maia. Sy was by die Romeine die Godin van die aarde en vrugbaarheid en by die Grieke 'n Arkadiese nimf (moeder van Mercurius). Maia, Maj of Mai was 'n Maagdgodin. Die Romeine het hierdie lentefees Floralia genoem ter ere van die Vrugbaarheidsgodin Magna Mater. Die Meifees word beskou as een van die oudste Europese feeste en dateer uit die prehistorie. In Swede is rotstekeninge uit die Brons- en Ystertyd gevind wat dui op die verering van bome in die tyd. In Europa het hierdie fees uitgeroei tot een van die grootste en bekendse feeste.

    Die fees is gevier op 1 Mei maar ook soms op 30 April en ook soms in die nag van 30 April en 1 Mei.


    Die belangrikste kenmerk van hierdie fees is dat 'n boom geplant was en om die boom was daar gesing en gedans, maar soms was 'n versierde paal of boomstam (of 'n groot tak) gebruik in plaas van 'n boom. Hierdie fees was 'n ware volksfees wat gepaard gegaan het met optogte en spelletjies. Ook is Meivure aangesteek. Omdat hierdie fees 'n baie ou herkoms het, het die wyse waarop daar fees gevier was, baie verskil van streek tot streek. Tot in die Middeleeue was hierdie tradisie nog springlewendig en was dit in byna alle dorpe en stede gevier. Vroeër was daar verenigings wat hulself Meigilde genoem het en onder die gesag gestaan het van 'n Meigraaf wat verantwoordelik was vir die feesreëlings. Lede van hierdie vereniging het in 'n bos 'n boom uitgesoek en dit uitgegrawe of gekap. In die Lae Lande was die Es, Den of Spar gewild as Meiboom, maar in ander gebiede was ook weer voorkeur gegee aan ander boomsoorte. Hierdie boom is op 'n versierde Meiwa gelaai. Met die terugkeer na die dorp was daar 'n stoet gevorm en voor in die stoet het lede van die Meigilde op Meifluitjies geblaas. Die doel van die fluitjieblasery was om die bose geeste wat tydens die fees besonder aktief was te verjaag. In die middel van die dorp is die Meiboom gestroop van die meeste van die takke en op die dorpsplein geplant of in 'n woonwyk. Soms was die boom direk voor 'n kerk geplant. Dit kom uit 'n ou gebruik om die boom juis voor 'n tempel te plant. Alleen bo in die boom was 'n paar takke agtergelaat. Hierdie Meiboom was dan versier met vlaggies, kranse, strikke, krone, glinstende materiale en linte. Om die boom het 'n fees ontstaan. Meisies het in 'n kring om die boom gedans. Aan die top van die boom is linte vasgemaak. Die eindpunte van die linte het die meisies vasgehou tydens die dans. Die dames was almal 'n wit geklee. Tydens die fees was daar ook baie gewilde Meiliedere gesing en spelletjies gespeel. Aan die einde van die fees gooi die Meigraaf 'n krans in die rigting van die meisie van sy keuse. Sy was dan gekroon as die Meigravin (of Meikoningin) vir die volgende jaar. Op baie van hierdie Meifeeste was daar ook diep in die bottel gekyk. Daar was selfs 'n spesiale drank gebrou wat as Meidrank bekend gestaan het.

    Soms was die Meiboom na 'n week of twee verwyder. Soms is die boom na 'n tyd verkoop op 'n spesiale veiling. Maar soms het die boom vir die hele jaar bly staan as herinnering aan die fees. Die fees het in hoofsaak gewentel om jongmense, maar niemand was uitgesluit nie. Die fees het bestaan aan groepies mense wat weer in mans en dames opgedeel was en wat dan aan allerlei kompetisies deelgeneem het. Die Meikoningin het 'n klein Meiboompie (of soms 'n Meitak) ontvang wat sy voor haar huis geplant het.

    Dit was in sommige sterke gebruiklik dat jongmans 'n Meitak neem en dit in die tuin plant van sy geliefde, of onder haar venster. In Amsterdam is in 1612 'n verbod geplaas op die saag van Meitakke, want die bome in die stad het te swaar daaronder gely. Oortreders kon gegesel word wanneer hulle betrap was. Ook was dit soms gebruiklik om 'n bepaalde soort tak te plaas met 'n spesifieke betekenis. So was 'n dennetak beskou as 'n liefdesverklaring. Aan vriendelike meisies was 'n berketak gegee en dit was as 'n komplement beskou. Wispelturige meisies het 'n tak van 'n kersieboom gekry en onbeskofte meisies 'n doringtak. Oujongdames het 'n voëlverskrikker ontvang. In sommig streke was 'n Meitak deur 'n jongman aan 'n meisie aangebied met die bedoeling dat hy die nag by haar kon slaap. Met die aanvaarding van die tak was daar dan aan die man goedkeuring gegee. Baie jong dames is tydens hierdie feeste deur jong mans ontmaagd.

    Dit was ook gebruiklik om Meivure aan te steek. Dit was beskou as vreugde vure. Hierdie vure was ook Meierblitse genoem. As gevolg van 'n brandgevaar was daar baie beperkings deur die owerheid gestel op hierdie vure. Tog blyk uit talle geskrifte dat 'Maeijfjûren' hoog opgelaai het in die dorpe en van ver af gesien kon word. By die Kelte was dit gebruiklik om juis tussen twee vure deur te loop wat as 'n reinigingsritueel of ook 'n oorgangsritueel beskou was. Nie alleen het die volk tussen die vure deurgeloop nie, maar is ook die vee daardeur gedryf. Die Keltise fees staan bekend as Beltene, Beltane, Beltaine of Beltain wat felvuur beteken. Vir die Kelte vorm hierdie lentefees die teenpool van Halloween. Beide hierdie feeste dui op die oorgang tussen somer en winter. Die mense het vroeër net twee seisoene geken, naamlik winter en somer.

    Die Meifeeste was vrugbaarheidsfeeste. Die Germaanse Liefdesgodin Freya het sentraal gestaan in die Germaanse viering daarvan asook Wodan/Odin en soms ook die Vrugbaarheidsgod Fro of Freyr. Die Germane het geglo dat Wodan en Freya bose geeste sou verdryf en daarmee ook die lente sou bring. Tydens die Middeleeue het die Meifees in Duitsland bekend geraak as Walpurgisnacht. Walpurga was tydens die Middeleeue 'n fanatiek heksejagter. Tydens die Meifeeste sou hekse uit alle hoek en gate gekom het op besemstele of katsterte om die mense lastig te val. Walpurga sou later deur die kerk heilig verklaar word vir sy pogings om heksery in die ban te doen. Tog is die Meifees hierdeur nie verdring nie.

    Onder die Grieke en Romeine het hierdie vrugbaarheidsfees (soms) selfs in 'n wettige orgie ontaard. Tydens hierdie fees mag elke man en vrou vir één nag met iemand anders 'trou'. In sommige gebiede was dit self die gebruik om 'n jaar lank met iemand anders 'getroud' te wees. Daar is ondersoekers wat beweer dat die Meiboom (of Meipaal) simbool gestaan het vir die manlike geslagsorgaan en die linte (of slierte), manlike saad.

    Wat verder kenmerkend was van hierdie fees, was dat huurderkontrakte van huise op 1 Mei afgeloop het en is nuwe huurpryse bepaal. Ook het die arbeidskontrakte in die tyd verstryk wat dan hernieu moes word. Hierdie onderhandelinge oor huurpryse en nuwe arbeidsvoorwaardes het soms tot onenigheid gelei en was daar spesiale Mei-regsittings om die konflikte op te los.

    Die kerk het hierdie fees as 'n besondere euwel beskou en dit met alle mag probeer verbied. Dit was nie suksesvol nie. Daarna het die kerk probeer om die fees te kersten deur die hoofrol toe te wys aan Maria en die maand Mei te wy aan die Maagd Maria. Die priesters het selfs Meitakke en Meiboompies in die kerk gebring asook baie blomme en ruikers in Mei. Die gedagte was om die Heidense sfeer van die fees te verdring en 'n Christelik etiket daaraan te hang. Later het die maand Mei selfs bekend gestaan as Mariamaand of Blommemaand. In die 17de eeu het die owerhede begin om die kap van Meibome te verbied. In die 19de eeu het hierdie gebruik uit die meeste groot stede begin verdwyn. Tog is die gebruik nooit uitgeroei nie. Meivieringe word vandag nog steeds op die platteland van baie Europese lande gevier. In baie lande is 1 Mei steeds 'n openbare vakansiedag.

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  6. #6
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Kersfees

    Feeste


    Kersfees


    Hierdie gedeelte hang saam met die gedeelte wat handel oor die Germaanse Joelfees en behandel die herkoms van Kersfees.

    Die dae voor en na 21 Desember het in die Noordelike halfrond bekend gestaan as die sonnestilstand. Die dag- en naglengte verskil baie min. Vanaf 25 Desember word die verskil merkbaar. Talle ou volkere het die Sonnewendingsfeeste op verskillende dae gevier afhangende van die lengte van die sonnestilstand en dus die “presiese” moment waarop die son die wending maak. Die meeste sonnewendingsfeeste in Europa is tussen 23 Desember en 6 Januarie gevier. Van al hierdie sonnewendingsfeeste het ons vandag drie feesdae behou, naamlik 25 Desember, 26 Desember en 1 Januarie.1Terloops, die maand Desember was 'n ou 'tiende' maand by die Romeine. Deci = tien en afkomstig van Indoeuropese *dek'm.

    Dit is bekend dat die Grieke reeds honderde jare voor die koms van Christus op 25 Desember die Sonnewendingsfeeste gevier het. Dit is ook bekend dat die inwyding van die Kolos van Rhodos (of Helios in Grieks) plaasgevind het op 25 Desember 283 voor ons jaartelling, met sonsopkoms. Hierdie beeld van die Songod is 34 meter hoog en weeg 200 ton (een van die sewe wêreldwonders).

    Ook in die Romeinse Keiserryk is daar op 25 Desember Sonnewendings-feeste gevier. Die belangrikste Songod van die Romeine tot ongeveer 300 nC was Sol Invictus (Onoorwinlike Son), maar die God Mithras se geboortedatum is ook op 25 Desember gevier. Daarna is ook nog Saturnalia (ter ere van die Landbougod Saturnus) en Larentalia gevier.

    Dit klink miskien vreemd, maar die eerste Christene het tot en met die jaar 200 nie die geboortedag van Jesus gevier nie. Trouens, hulle het nie eens daaraan gedink om dit te vier nie, want die viering van ‘n verjaarsdag was tipies Romeins en Heidens en vir ‘n Christen of Jood was dit ondenkbaar om so ‘n fees te vier. Toe meer Heidene hulle later tot die Christendom bekeer het, het hulle voortgegaan om hulle verjaarsdae te vier.

    In 221 het ‘n gesaghebbende offisier, Julius Africanus, besluit dat dit goed sou wees om die geboortedag van Jesus op 25 Desember te vier. Hy was ‘n aanhanger van Mithras, maar is tot die Christendom bekeer. Die geboortedatums van Mithras en Jesus sou dan saamval. Die biskoppe van daardie tyd was egter geheel en al gekant teen die viering van Jesus se geboorte. In 330 het Pous Julius I egter 25 Desember tot die geboortedag van Jesus verklaar, en daarmee het hy aan hierdie dag ‘n ander betekenis gegee. Nie die Son nie, maar Jesus was die “Onoorwinlike Son” (Sol Invictus) en die “Son van Geregtigheid” (Sol Justitiae) en die "Lig van die Wêreld". Op 25 Desember 335 het die eerste Kersviering in Rome plaasgevind.

    Mithras
    Na 335 het al meer biskoppe daaraan begin dink om die geboorte van Jesus te vier en talle datums is voorgestel as “geboortedag” van Jesus. In 354 vaardig Pous Liberius ‘n dekreet uit waarvolgens Christene Jesus se geboortedag op 25 Desember moes vier. Baie biskoppe was woedend oor hierdie besluit. Volgens hulle was daar 364 ander dae om uit te kies; 25 Desember was deur en deur ‘n Heidense dag en as sulks onaanvaarbaar. Hoewel hulle aanvanklik geweier het om gehoor te gee aan hierdie dekreet, het kerke langsamerhand as uitvloeisel van Konstantyn se versoenings-politiek 25 Desember begin aanvaar as Jesus se geboortedag.

    Die meeste Christene neem aan dat Jesus in ‘n stal (vir diere) gebore is, maar dit staan nie in die Bybel nie. Lukas en Mattheus het hieroor geskryf. Lukas vertel dat Jesus in ‘n “krip” sou lê en in doeke toegedraai was. Die woord stal (vir diere) word nie vermeld nie. Die Griekse woord waaruit die vertaling vir krip gedoen is, is “phatne”. Dit kan vertaal word met voerbak, maar dit is nie die eerste woord waaraan ‘n Jood van daardie tyd sou dink nie. Die Jode het in daardie tyd hulle voedsel in houtbakke bewaar, en veral hulle brood (broodbak van vandag), wat dan in doeke toegedraai was om dit beter te bewaar. Dit is veel meer waarskynlik dat ‘n baba in so ‘n bak kon lê. Jesus sou as lewende brood vir mense gekom het, en nie vir diere nie 2, en sou dan in doeke toegedraai in ‘n houtbak neergelê word en nie in ‘n krip nie. Buitendien sou geen mens ‘n kind in ‘n voerbak vir diere laat lê nie vanweë die higiëne. Die geboorteverhaal van die stal en die kind in die krip kom van die God Mithras (3). Die huise van 2000 jaar gelede het baie anders gelyk as dié waarin ons vandag woon. Mens en dier het onder een dak geslaap. Ons Afrikaanse woord “woonstel” kom van “woonstal”. Terloops, die betekenis van Bethlehem is “Huis van Brood”.

    Vir ‘n lang tyd is die viering van Kersfees algemeen aanvaar, maar na die Hervorming het Godvrugtige Protestante dit verwerp. In 1644 toe die Puriteine ‘n meerderheid in die Engelse parlement behaal het, is verklaar dat 25 Desember nie meer as geboortedag van Jesus gevier sou word nie. Dit sou ‘n gewone markdag wees en sou bekend staan as “The Profane Man’s Ranting Day”. Op hierdie dag sou die polisie Kersfeeste opbreek, die versierings verwyder en die skuldiges arresteer.

    Vir Protestants- Amerika was Kersfees ‘n “paapse” feesdag. ‘n Aansienlike deel van die Engelse koloniste het die Kersfeesviering beskou as Godslastering. Hierdie siening het geheers onder die Puriteine, Baptiste, Kwakers, Presbiteriane en Calviniste. In 1659 is die viering van Kersfees verbode verklaar in Massachusetts en hierdie wet sou 20 jaar van krag bly. In daardie tyd was 25 Desember ’n gewone werksdag en dit was selfs verbode om die dag vry te neem. Kersfees is verbied as “unseemly to the spiritual welfare of ye community”. In Boston was 25 Desember ook ‘n gewone werksdag en skooldag tot en met 1870. In 1836 was Alabama die eerste staat waar 25 Desember as openbare vakansiedag uitgeroep is.

    Die viering van 25 Desember wat ons vandag Kersfees noem, is ‘n fees wat al baie duisende jare plaasvind. Ons huidige kalender kan ook beskou word as ‘n nie-Christelike kalender. Ons jaartelling begin 750 jaar na die stigting van Rome en nie in die geboortejaar van Jesus nie. 'n Christelike kalender sou beteken het dat Jesus in die jaar 0 op oujaarsdag gebore moes wees. Op die eerste dag van die nuwejaar sou Jesus dan een dag oud gewees het.


    (1) Die tydperk van die Sonnestilstand is die Saturnalia genoem en die tyd na Saturnalia tot en met die einde van die jaar was bekend as Larentalia, waarna die nuwe jaar kon begin.

    (2) Verg. Ook Joh 6:51: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe. En die brood wat ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

    (3) Interessant is dat baie eertydse Christene Jesus nie altyd beskou het as Goddelike wese nie, maar as ‘n skepsel van God. Hierdie opvatting is gehuldig onder leiding van Arius. Om ‘n einde te maak aan hierdie gedagtegoed het Konstantyn ‘n aantal biskoppe byeengeroep om die saak te bespreek. Hierdie sinode sou later bekend staan as die Konsilie van Nicea en daar is by hierdie geleentheid besluit om die Goddelike status van Jesus te aanvaar. Jesus het hier gelyke status gekry met God die Vader. Die Goddelike Drie-eenheid is nie op hierdie sinode aanvaar nie, maar eers later. Dit was egter ook nie ‘n sinode soos ons dit vandag ken nie. Dit het twee maande geduur en talle biskoppe het gekom en gegaan. Dit was dus moeilik om te bepaal hoeveel biskoppe daar werklik was en of hulle ooit gestem het oor bepaalde sake. Van belang is dat Konstantyn die voorsitter was en hy het die aanwesiges eintlik gelei waar hy wou. Vir Konstantyn was dit belangrik dat Jesus gesien sou word as Seun van God en dus ook ‘n God. Die belangrikste doelwit van Konstantyn was die assimilasie tussen die Christendom en die Mithraïsme. Die Christendom moes aanvaarbaar gemaak word vir die Heidense Romeine.


    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  7. #7
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Ostara / Paasfees

    Feeste


    Ostara / Paasfees


    Paasfees is in werklikheid van oorsprong ‘n ou Heidense fees: Ostara.

    Voor die kerstening van Europa is hierdie fees in Engeland gevier onder die naam Easter en in Duitsland onder die naam Ostern. Waar die naam van hierdie fees in Nederlands en Afrikaans verander is na Paasfees is die ou benaming in Duitsland en Engeland behou tot en met vandag. In Nederland was hierdie fees egter vroeër bekend as Ooster of Ester. In Oud-Hoogduits was dit Ôstarûn en in die Middeleeue het Paasfees bekend gestaan as Ôstertac (Oosterdag). Die maand Maart was in Saksies bekend as Estermonath (Estermaand). Die Godin Ostara het 'n baie ou herkoms, want haar naam is ook herkenbaar in 'n aantal name van ander Indo-Europese Godinne, byvoorbeeld die Romeinse Aurora, die Griekse Eos, die Litouwse Austrá, die Voorasiatiese vrugbaarheidsgodin Astarte, die Mesopotamiese Ishtar en die Vediese Usas. In die Germaanse taalgebied bestaan 'n aantal plekname wat dui op Ostara. Voorbeelde is Oosterhout wat tot in die elfde eeu bekend gestaan het as Ostreholt. Dan het Oosterbeek nog in 834 Ostarbac geheet. Heiligerlee het vroeër bekend gestaan as Asterlo (Oosterloo).

    Ostara was ‘n seisoensgodin. Sy het die koms van die vrugbare periode aangekondig, nl. lente (in Europa). Haar naam dui op die ooste waar lig (die son) vandaan kom. Ostara was die Godin van die stralende lenteson en sy het gesorg vir blymoedigheid en vrolikheid. Omdat Ostara die vrugbare periode ingelei het, is ook ander minder bekende Vrugbaarheidsgode- en godinne in die tyd vereer. Op die eerste dag van Ostara sou die son drie vreugdespronge maak voordat hy werklik opgekom het. Water wat op hierdie dag uit ‘n put gehaal is, was heilig en heilsaam. Tydens hierdie fees is ook vure op heuwels aangesteek wat in Nederland en Duitsland bekend staan as Paasberg en Paasvuur. Tydens die Middeleeue was daar in baie distrikte 'n verbod uitgevaardig teen die aansteek van Paasvure, maar die gebruik kon nie uitgeroei word nie. In 1342 skenk 'n Graaf in Hörde 'n berg op sy landgoed aan die volk waar hulle "up hillige Paschendag" vreugdevure kon aansteek. In die werk van Johann Timeus met die titel Vom Osterfeuer word beskryf hoe die mense in 1590 in die omstreke van Brunswijk, Lûnel en Hildesheim op die heuwels paasvure aangesteek het waarna die volk hulle vermaak het met musiek, dans en spel. Na afloop van die fees het die feesgangers oor die vuur en as gespring en ook is die vee ten slotte oor die as gedryf. In die 17de eeu sou die kerk steeds kla oor die ongeregeldheit der schandelicke ende ergerlicke paeschvuyren. Vandag word Paasvure steeds in Europa tydens die Pase aangesteek. Ook is die aansteek van Paaskerse tydens die Pase 'n oorblyfsel uit die tyd van die Ostara-vuur.

    Ostara was ‘n vrugbaarheidsfees. Die Afrikaanse woorde 'oes' en 'oestrogeen' dui op hierdie vrugbaarheid. 'n Baie belangrike simbool van vrugbaarheid uit die verre verlede is die eier. Paasfees staan in Estland bekend as Munadepühad of Eierfees. Hierdie lentefees het om eiers gewentel en is eiers geoffer aan die Lentegodin Ostara. Eiers is ook op 'n bord begrawe in 'n akker, wat as 'n offer beskou was aan hierdie Lentegodin, om die vrugbaarheid van die gewasse te verhoog. Tydens hierdie lentefees was uitbundig fees gevier. Daar was nie alleen baie eiers geëet tydens die fees nie, maar hierdie volksfees het ook spelletjies ingesluit wat met eiers gespeel was(1). Die speurtog na die eiers in die Paastyd (baie gewild in Europa tydens die Pase) is ‘n oorblyfsel van Ostara.

    Benewens die eier as vrugbaarheidsimbool was ook die haas en die hen vrugbaarheidssimbole. Ouers het aan hulle kinders vertel dat hase eiers lê. Dit is verder bekend dat die haas gewy was aan die Liefdes- en Vrugbaarheidsgodin Freya. Ook die Grieke het die haas geoffer aan die Liefdesgodin Aphrodite. In die agtste eeu het Pous Zacharias die eet van haasvleis vebied omdat dit 'n Heidense offerdier was. Ook was die haas geassosieer met die Oudromeinse maangodin Diana. Maar ook die haan het as simbool gedien vir vrugbaarheid. Die haan het in die top van die boom Yggdrasil gesit en is verbind met die koms van die eerste lig in die oggend. ‘n Haan op ‘n stok, met lekkers daaraan (in Nederland bekend as Paaspalm) is ‘n oorblyfsel uit die Ostara. In die tyd van die Ostara was dit gewild om brood te bak in die vorm van hase, hane, henne en eiers. Die kerk het probeer om hierdie "Heidense Offerkoeke" te verbied in 743 tydens die sinode van Leptines in Henegouwen. Hierdie verbod was onsuksesvol en is koeke, lekkers en sjokolade in hierdie vorms, vandag steeds tydens die Pase verkrygbaar.

    Daar word in Engeland beweer dat die “Hot Cross Buns” deur die kerk ingevoer is om die Heidense gebak te verdring. Daar word egter ook beweer dat die “Hot Cross Buns” via die Mithraïsme na Engeland gegaan het en dat dit bekend was voor die koms van die Christendom. Daar word ook beweer dat brode met 'n kruis daarop 'n baie ouer herkoms het. Dit is eintlik 'n hamerteken. Die hamer is simbool van die Germaanse God Thor. Die ou Germane het hierdie hamertekens (of kruistekens) aan hulle huise gehad, op hulle skilde, op hulle vlae, op hulle wapens (en later stadswapens), familiewapens en op hulle brood. Terloops die woorde brood en bord is verwant (verspringing van die r). Die ou Europeërs het groente en vleis op 'n plat stuk brood geëet. Hierdie gereg staan vandag bekend as 'n pizza (vergelyk Hebreeuse pita en Griekse petta).





    YslandSwedeNoorweëFinland
    Boerland



    Die viering van die lentefees was uiters gewild en dit het ook oor 'n aantal dae gestrek. Die Heidense herkoms van 'n aantal ander dae rondom Pase is ook interessant. Direk na die einde van die Karnaval, volg Aswoensdag. Na Aswoensdag volg 40 dae vastyd tot en met Paas-Saterdag (ook Stille Saterdag).

    Aswoensdag het 'n Heidense oorsprong, maar hierdie dag is deur die Katolieke kerk ingepalm. Op Aswoensdag sal die Katolieke priester 'n askruisie (sy vinger word in as gedoop) op die voorhoofde maak van Katolieke Christene met die woorde: "Gij zijt uit as en tot as zult ge wederkeren''. Vir die Katolieke dui dit op die nietigheid van die mens.

    Vir die Heidene het 'n askruis juis simbool gestaan vir opperste weerbaarheid en beskerming. Die woord as is afkomstig van die Godegroep Ase. Die woorde van die Katolieke priester is ouer as die Christendom en beteken: "Van die Ase is jy, en tot die Ase sal jy terugkeer". Onder die Heidene het as verder ook simbool gestaan vir vrugbaarheid. As is na die offers in akkers gestrooi om dit vrugbaar te maak.

    Die belangrikste biddae en dankseggingsdae vir 'n goeie oes, het plaasgevind op 'n Woensdag (Wodan se dag) en dan veral op die tweede Woensdag in Maart en die 1st Woensdag in November (danksegging). Vergelyk die Amerikaanse Dankseggingsdag.

    Na Aswoensdag volg Wit Donderdag. Die belangrikste Gode vir die Ou Germane was Wodan en Donar. Sommige Duitsers (en ook Skandinawiërs) het nog tot laat in die Middeleeue Donderdag as rusdag geken het ter ere van die God Donar. Donar was ook bekend as die Huweliksgod en is die meeste huwelike (tot in die laat Middeleeue) op 'n Donderdag gesluit (2). Wit was vir die ou Germane 'n heilige kleur en die kleur wit was op dié dag 'n heersende kleur. Die meeste huwelike is dan ook voltrek in Maart voor of tydens die Ostara. Wit was die kleur van die priesteresse en ook die kleur van die dansende meisies wat die kern gevorm het van die lentefeeste.

    Wit Donderdag staan in Griekeland ook bekend as Rooi Donderdag, wat verband hou met die opkomende rooi lente-son. Vandaar ook die rooigeverfde eiers (later Paaseiers) wat ook na die son verys. Vir die Ou Germane was rooi, naas wit, ook 'n heilige kleur, maar veral dan van die Joel (huidige Kersfees).

    Wit Donderdag staan in Duitsland en Denemarke bekend as Groen Donderdag. Groen staan simbool vir die komende lente. Op hierdie dag was juis baie groen groente geëet tydens die fees. In Limburg is op die dag 'n groenkleurige sop genuttig wat bekend gestaan het as ''Dissipelsop'' wat dui op die kerstening van die Heidense feesgereg. Groen Donderdag is vandag steeds 'n vakansiedag in Denemarke. In Litouwe staan Groen Donderdag bekend as Velu Velikos - die groot dag van die geeste.

    Na Wit Donderdag (of Groen Donderdag) volg Goeie Vrydag.

    Die datum waarop Ostara gevier was het per streek verskil. In sommige streke was dit gevier op 21 Maart, dus presies tussen midsomer (21 Junie) en midwinter (21 Desember). In ander streke was die fees gevier tussen 21 en 25 Maart en in ander streke weer op die eerste volle maan na 21 Maart.

    Die kerk het aanvanklik probeer om die Heidense fees stop te sit, maar sonder sukses. Ook moes daar 'n vaste datum gekom het vir die viering van Paasfees. Luther was onder andere 'n voorstaander hiervan. Maar die wens van Calvyn was dat hierdie feesdag moes verdwyn. In Switserland was hierdie fees dan ook 'n tyd lank afgeskaf. Die Calviniste het hierdie vrolike lentefees ook probeer omskep in 'n dag van boetedoening. Aan die einde van die 17de eeu was Pase by die Protestante gevier as boetedag in plaas van 'n feesdag. Hierdie mense sou die nagmaal bewoon in swart roukleding en alle vorme van vrolikheid was verbode. Die Christelik Paasfees was tot en met 325 saam met die Joodse feesdag gevier. Vanaf 325 vier die Christene die opstandingsfees nie meer op die 14de dag van die Joodse maand Nisan nie, maar op die Sondag daarna. Paasfees word vandag gevier op die eerste Sondag na die eerste volle maan wat op of na 21 Maart val (tussen 21 Maart en 26 April).

    (1) Van hierdie feeste met eiers ken ons vandag nog tydens volksfeeste waar met eiers in lepels gehardloop word, eiers deur die lug gegooi word sonder dat dit breek, vrot eier, ens.

    (2) Elke huwelik is met die slaan van 'n hamer beklink - die hamer van Donar. Dieselfde hamer word vandag steeds gebruik in geregshowe.



    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  8. #8
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Goeie Vrydag

    Feeste


    Goeie Vrydag


    Goeie Vrydag? Wat is/was goed aan Goeie Vrydag? Die woord Goed in Goeie Vrydag slaan op God en nie op Goed nie.

    Wanneer ’n mens Middelnederlandse tekste lees kom jy soms op ’n woord af waar jy nie weet of die bedoeling God of Goed was nie. Byvoorbeeld: goederhande/goderhande en godertyeren, goedertyeren. Die woord God as aanspreektitel is nie so oud nie. Ons voorouers het hulle Gode op hulle name aangespreek. Soms het hulle versamelname gebruik soos Wane of die Ase. Van die woord Ase het ons Asië waar die son opkom. Die woord ‘goed’ het na ons kerstening betekenisspesialisasie ondergaan en gesplits in Goed en God met twee volledig uiteenlopende betekenisse. Sien die woorde Ase en Goed op die pagina Herkoms van een aantal woorde.

    Vergelyk die volgende:

    Die woorde God, good (verafgod) en Goed is aan mekaar verwant.

    ‘Good bye’ is ’n samevoeging van ‘God be with ye’, ook in Good luck (Gods geluk). Vergelyk ook ‘thank goodness’ en ‘for goodness sake’. In hierdie gevalle is good (goed) = God.

    In ander tale het ons die volgende:

    Afr/Ned Engels Deens/Noors Sweeds Duits
    God God Good Gud Gott
    Goed Good Godt/God God Gut

    Goeie Vrydag kom van Godes/Godens/Godins Vrydag (God se Vrydag). Omdat Jesus op 'n Vrydag gekruisig is, sou ’n mens kon dink dat dit die rede was waarom ons vandag van Goeie Vrydag praat of Godse Vrydag. Maar hierdie moontlikheid is baie klein, omdat ’n mens eerder ’n benaming sou verwag het soos ‘Jesusdag’ of ‘Kruisingsdag’ of so iets.

    Die volgende is baie meer waarskynlik: Voor ons kerstening was daar in Maart (1) ‘n baie belangrike vrugbaarheidsfees gewees (21 Maart, presies tussen die Europese Midwinter en Midsomer). Hierdie fees het ons Ostara, Ester, Ooster of Easter (Eng) genoem. Hierdie fees was aanvanklik opgedra aan die Godin Ostara. Later het 'n jonger Godin haar plek ingeneem. Haar naam was Freya. Sy het Ostara uiteindelik verdring. Die Germaanse Ostara is verder ook verwant aan Isjtar, Ishtar of Astarte.

    Die kerk het eers baie hard geprobeer om die fees uit te roei, maar sonder sukses. Daarna is probeer om die fees te kersten deur Paasfees op dieselfde tydstip te vier as die Heidense Ostara en die Ostara te probeer verdring. Ook die verdringingsproses was nie suksesvol nie. Later is daar besluit om die tydstip van die fees effens te verskuif sodat dit met die Joodse viering daarvan sou saamval. Vandag ken ons Paasfees aan die Heidense vrugbaarheidsimbole, naamlik paashase en paaseiers en ook koekies en sjokoloade in hierdie vorms.

    Die viering van die Heidense Ostara het nie noodwendig op 'n Vrydag geval nie. Die term Goeie Vrydag stam uit ons Germaanse religie. Goeie Vrydag = Godin Freya se dag. Ons huidige Paasfees is die resultaat van die versmelting tussen Europese en Semitiese feeste.

    Ten slotte nog die volgende oor ‘Good luck’. Die woord geluk (Eng lucky) kom van die Germaanse God Loki. Hy was ’n baie wispelturige God. Deur sommige stamme is hy gesien as ’n soort duiwel. Maar as hy aan jou kant was, het dit baie goed gegaan met jou. In Nederlands hoor ’n mens die volgende uitdrukking baie: ‘Met God se geluk het ek die eksamen geslaag’. Maar wat beteken hierdie uitdrukking dan, want dit maak nie sin nie? Dit beteken eintlik: ‘Met God Loki se hulp het ek die eksamen geslaag’. ‘Good luck’ is eintlik God Loki!

    (1) Die maand Maart (soms April) was vroeër bekend as Ostara of Ester by die ou Germane.

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  9. #9
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Halloween

    Feeste


    Halloween


    Halloween is oorspronklik ‘n Keltiese fees en word al baie duisende jare gevier. Vir die Kelte (maar ook sommige ander volkere) was die einde van die dag die tydstip wanneer die son ondergaan. Met die intree van die skemer het die volgende (nuwe) dag begin. Die winter in Europa begin ongeveer aan die begin van November. Die oes is van die lande gehaal en die rustyd kan begin. Die Keltiese nuwe jaar staan bekend as Samhain. Samos = somer, en hain = einde. Samhain = einde van die somer. Die oorgang van dag (lig) na nag (donker) of die oorgang van somer (lig) na winter (donker) was vir die Kelte van besondere betekenis, want dit het die grens van einde en begin aangedui. Hierdie oorgang na die nuwe jaar is uitbundig gevier.

    Die groetwoord hallo is moontlik afgelei van Halloween wat op 1 November (of ook op 31 Oktober) gevier is. Die nuwe jaar word gegroet. Halloween kom van Hallow-e’en of All Hallows Eve, of ook Allerheilige. Halo is 'n simbool vir heiligheid, want die ring (of ligring) wat bo die koppe van Katolieke heiliges afgebeeld word, staan vandag steeds bekend as 'n halo.

    Die Kelte het net soos alle ander volkere geglo in die lewe na die dood. Na die dood gaan die lewe voort in 'n Ander Wêreld (hiernamaals). Maar elke jaar sou die poorte van die Ander Wêreld vir één nag oopgegaan het. Dit is die nag van 31 Oktober op 1 November of Halloween. Inwoners van die Ander Wêreld kon in die nag terugkeer na die aard om wraak te neem teen mense wat hulle nie goed behandel het nie (tydens hulle vorige lewe). Hiervoor was die mense op aarde baie versigtig en was dit ook een van die redes waarom Kelte gesorg het dat hulle goed met hulle naaste omgaan tydens die aardse lewe.

    Om die wesens uit die Ander Wêreld gunstig te stem het die Kelte vir die besoekers uit die Ander Wêreld kos voorberei en voor die deure van hulle huise neergesit. Om moontlike ongewenste besoekers uit die Ander Wêreld op afstand te hou, is daar vuurtjies in uitgeholde beetknolle (witbeet of suikerbeet) laat brand. Die latere Keltiese emigrante na Amerika het pampoene in plaas van beetknolle gebruik. Verder het die feesgangers van destyds ook maskers gedra om die besoekers uit die Ander Wêreld te verwar. Die vrees het naamlik bestaan dat ‘n lewende persoon maklik deur ‘n besoeker uit die Ander Wêreld meegesleur kon word (om daar gestraf te word vir 'n moontlike wandaad).

    Met die kerstening van die Kelte is hard probeer om die fees tot ‘n einde te bring, maar die poging het nie geslaag nie. Die Christene het graag hulle martelare vereer, en die Katolieke kerk het dit goed gevind om ‘n feesdag in te stel ter herdenking aan alle mense wat ter wille van die Christelike geloof gesterf het. Dit het bekend gestaan as Martelaredag. In 732 verander Gregorius III die naam van hierdie feesdag na Allerheilige, en dit is op 13 Mei gevier. In 844 is besluit om Allerheilige voortaan op 1 November te vier. Die bedoeling van hierdie verskuiwing was juis om die Heidense Keltiese Halloween te probeer oorskadu en dit te probeer kersten, en dat die Heidense gebruike hopelik mettertyd tot niet sou gaan.

    Alhoewel die fees in Suid-Afrika nie werklik gevier word nie, word dit wel in Amerika en Kanada asook in sommige Europese lande gevier. Talle Europese lande het op 1 November ‘n vakansiedag met die naam Allerheilige. Maar met Allerheilige word ook Halloween gevier.

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

  10. #10
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    58

    Default Die Germane - Heksejag

    Heksejag


    Reeds vir baie duisende jare was daar in elke Germaanse nedersetting ‘n medisynevrou (of selfs meer as een). Sy was spesiaal deur haar voorgangster uitgekies en in die vak opgelei. Sy kon kruie meng, salf aanmaak en kruiedrankies berei om siekes te genees. Sy het haar ook op bonatuurlike magiese kragte beroep. In die Germaanse taalgebied is hierdie vakvroue Wicca's genoem (Wyses (of Wyse Vroue)) en in moderne Engels Witch. In Afrikaans kry ons nog die woorde wiggelary, wiggelroede en ook wik en weeg wat aan wicca verwant is.

    Maar Wicca’s is soms ook Haegasussa genoem (haag + suster) en soms ook Haegtesse. Dit beteken ook Wyse of Hoge Vrou. Die woord Haeg is verwant aan die Germaanse God/Godin Hagal wat met Rune verband hou. Verder is die woord Haeg of Haag verwant aan hoog of hoogheid, haag, behaag, behae, heg, hek, heks en akkedis (of hagedis). Tes of Dis (van Haegtesse) is eweneens ’n heilige Vrou. Sien Dis onder Germaanse Gode. Die slang en die akkedis is immers beskou as beskou as wysheidsimbole. Die slang of akkedis wat homself aan die stert byt was gesien as 'n simbool van onsterflikheid en volmaaktheid. By die Grieke was dit die ouroboros.

    Voor die kerstening van Germaans-Europa het die Wicca’s of Haegtesse (Hekse) hoë aansien in die gemeenskap geniet. Alhoewel die Hekse of Wicca’s geliefde en gesiene persone was, was hulle ook soms omstrede. Die rede hiervoor is dat hulle beide wit- en swart magie beoefen het. Die doel van wit magie is om siektes te genees (positiewe kragte). Die doel van swart magie is om teëstanders of opponente te na te kom (negatiewe kragte).

    Tot ongeveer die 13 eeu, is heksery beskou as ‘n normale deel van die volkskultuur, waardeur die mens beheer probeer verkry het oor natuurverskynsels. Teen die 14de eeu het die siening, onder kerklike druk, radikaal verander. Die Germaanse gemeenskap was teen dié tyd al vir die grootste gedeelte gekersten, maar die ou gebruike uit die verre verlede het bly voortleef. Die Wicca's of Hekse was steeds die dokters, psigoloë en adviseurs in die maatskappy. Dit was ‘n doring in die oog van die kerkvaders wat hierdie laaste Heidense bastion wou kelder. Hierdie kerkvaders het hulle motivering gevind in Exodus 22:18 waarin staan dat Hekse nie mag lewe nie. Die eens gewaardeerde en gerespekteerde Hekse word nou die parias van die samelewing - duiwelsgebroed. Hulle het vervolging in die gesig gestaar, en dit het gekom.

    'n Deeglike studie gedoen deur Prof Karl Ernst Jarke van die Berlynse universiteit het in sy bestudering van die 17de eeuse strafsake aangedui dat sommige ter dood veroordeelde Hekse, inderdaad aspekte van die ou Heidense natuurreligie beoefen het.

    Die Heksejag kan in drie fases verdeel word. Aanvanklik was die vervolging gemik teen medisynevroue. Later het die fokus verskuif na ander vroue wat nie noodwendig met medisynemakery te doen gehad het nie. Later het die fokus verskuif na ryk inwoners in die buurt en dit het meer om geld begin gaan, naamlik die inkomste wat uit die vervolging van Hekse verdien kon word.
    Aanvanklik is die hekse meesal nog lig gestraf, maar met verloop van tyd het die strawwe al swaarder geword en in frekwensie toegeneem. Die hoogtepunt van die heksejag was tussen 1550 en 1650, met die ergste gevalle tussen 1610 en 1630. Die laaste teregstellings het plaasgevind in Nederland in 1610; in Engeland in 1684; in Frankryk in 1745, in Duitsland in 1775, in Switserland in 1782 en in Pole in 1793. Die Middeleeuse wette wat heksery in Brittanje verbied, is eers in 1951 afgeskaf.

    Die mense uit dié tyd was besonder onkundig en hulle is deur die kerk onkundig gehou. Alle wetenskap of pogings tot nuwe uitvindings, of die logiese verklaring van gebeurtenisse, is in die kiem gesmoor. “Logiese” verklarings was die werk van die duiwel. Hierdie vroue was dikwels intelligent, aantreklik, kreatief en talentvol (die hoogste bome vang die meeste wind), maar is deur die kerk beskou as ‘n groot bedreiging vir die geloof omdat hulle met “duiwelsbedrywighede” besig sou wees.

    Die eintlike vervolging van hekse het begin na die verskyning van ‘n boek, Malleus Maleficarum (in Nederlands bekend as “Heksenhamer”) uit die pen van die Duitse inkwisiteurs Heinrich Institoris en Jakob Sprenger in 1487. Daarin is aanwysigings gegee oor die vervolging van hekse. Die boek is geskryf na aanleiding van die berugte bul “Summis Desiderantes Affectibus” (1484) van Pous Innocentius VIII, waarin hy die kerklike jag op hekse geopen het. In die boek is nie alleen beskryf watter bose werke deur hekse veroorsaak is nie, maar ook die hele strafproses en hoe hulle gemartel moes word.

    Aanvanklik was maar slegs ‘n paar vroue hekse, maar dit was nie lank nie of enige persoon kon as heks aangewys word. As die buurman siek was, het iemand hom getoor. As ‘n koei te min melk gegee het, was dit miskien die skuld van die buurvrou. As dit weke lank nie gereën het nie, was dit die skuld van ‘n vrou in die buurt. ‘n “Verdagte” kon by die dorpsbestuur aangegee word en is dan laat haal vir ondervraging en van daar af het alle ellende begin.

    Dit was egter moeilik om te kon bewys dat iemand ‘n heks was. Daar is verskillende metodes gebruik om dit te kon bepaal, onder meer ‘n weegskaal. ‘n Heks moes op ‘n besem kon vlieg en kon dus nie swaarder as 50 kg weeg nie. Ons uitdrukking “wik en weeg” kom uit hierdie tyd. As ‘n volwasse vrou minder as 50 kg geweeg het, is sy verdink.

    ‘n Algemene gebruik was die waterproef. Omdat die duiwel die doopwater weggewys het, sou ‘n heks ook deur water “afgewys” word. Sy sou daarop bly dryf. ‘n Verdagte se regtertoon is aan haar linkerduim vasgebind en sy is in die water gegooi. As sy bly dryf, was sy skuldig. Die vroue van daardie tyd het egter swaar rokke gedra waarin baie lug opgevang was, wat beteken het dat hulle lank kon dryf. Byna niemand het die toets geslaag nie. Dit is beskou as ‘n oordeel van God. Hy sou op hierdie manier aandui wie skuldig en wie onskuldig was.

    Nog ‘n gebruik was die steekproef. Daar is op die liggaam van die verdagte gesoek na hekse- of duiwelstekens, soos moedervlekke, littekens, vratte en geboortevlekke. Vratte is beskou as duiwelstepels waaraan swart katte sou gesoog het. Veral jong vroue is dan heeltemal ontklee en alle liggaamshare is afgeskeer (soos voorgeskryf deur die “Heksenhamer”) om die ondersoek te vergemaklik. Daar is dan aan haar liggaam bewyse gesoek dat sy met die duiwel omgang sou gehad het, wat ook seksuele omgang ingesluit het. Soms is selfs jong meisies hiervan beskuldig. As hulle maagdelikheid dan onaangetas was, het die edele kerkvaders en geleerde regters verklaar dat die duiwel die maagdevlies herstel het. Die “duiwelstekens” is met ‘n skerp voorwerp geprik, en as die verdagte geen pyn toon nie, of daar kom geen bloed uit die wond nie (of te min), was dit ‘n teken dat die verdagte ‘n heks was. Ons Afrikaanse woord “steekproef” kom van hierdie gebeure.

    ‘n Verdagte is swaar gemartel, totdat sy erken het dat sy met die duiwel omgang gehad het, want erkenning was die enigste ware bewys van haar skuld. Voordat sy op die brandstapel beland het, moes sy ook soveel moontlik name noem van “medeverdagtes”. “Skuldiges” is uiteindelik op die brandstapel met vuur “van levende lijfve ter doot ghebracht”. Daar is geglo dat die heks haar towerkrag deur die verbranding sou verloor. Die meeste vroue is lewend verbrand, maar daar is ooggetuienis bekend van vroue wat eers verwurg is voordat die vuur aangesteek is; dit is as versagtende straf beskou en is toegedien as hulle reeds vroeg in die marteling hulle omgang met die duiwel erken het. In Engeland is die meeste hekse opgehang.

    In 1593 is op die markplein van Ieper ‘n meisie, haar moeder en haar grootmoeder tereggestel. Slegs die meisie is eers verwurg voordat sy op die brandstapel vasgebind is en met ekstra strooi bedek is om haar liggaam uit die oog van die publiek te hou.

    Sommige vroue is tydens hulle “verhoor” deur die kerkvaders en geregsdienaars verkrag. Niemand sou dit weet nie, want die vroue was alleen, geïsoleerd, het geen advokaat gehad nie en geen kontak met familie nie. Geen haan sou na haar dood kon kraai oor die misdade wat teen haar gepleeg is nie, en sy is in elk geval beskou as duiwelsgebroed en op pad na die ewige verdoemenis.

    Ander voorbeelde van gruwelike marteling was dat vroue vasgebind en onder hulle voete met kerse gebrand is (vuurproef), hulle naels is uitgetrek, hulle is met gloeiwarm tange geknyp en hul duime is in bankskroewe geklem wat voortdurend aangedraai is (sommige bankskroewe was voorsien van getande klemme). Bene in hul liggame is gebreek en hulle is met allerlei instrumente op ‘n pynbank gemartel. Dit het ure lank geduur. Elke vrou het geweet wat die afloop sou wees as sy sou erken dat sy kontak met die duiwel gehad het. Bitter min vroue se gebede is verhoor. Maar dit is wel bekend dat sommige vroue vrygespreek is; ook dat ander die marteling deurstaan het en vrygelaat is. Baie het egter tydens die marteling reeds gesterf en baie het selfmoord gepleeg.

    Die teregstellings was op die markpleine van dorpe en stede, en in sommige streke op die “galgenveld” net buitekant die dorp langs die belangrikste toegangsweg. Dit het meestal in die openbaar gebeur, maar dit is bekend dat op sommige plekke ‘n skerm om die brandstapel gebou is sodat die publiek die gebeure nie kon volg nie. Dit was byvoorbeeld die geval in 1597 en 1601 in Veurne, en in 1605 in Oostende (België).

    In 1616 is Bette Blaere in Veurne gevange geneem omdat sy tussen die Vlaamse duine met die duiwel sou gedans het. Bette het erken dat sy daar met ander mense gedans het, maar nie met die duiwel nie. Sy is 26 ure lank ononderbroke gemartel; die magistrate wat haar moes “verhoor” is elke ses uur afgelos. Uiteindelik het Bette erken dat sy met die duiwel gedans het en sy is op 13 Februarie 1616 tereggestel. Haar dogter, Maye de Waele, was reeds vroeër gemartel en op 29 Mei 1615 tereggestel.

    Ook mans is tereggestel. Jan de Deyster van Nieupoort in België was ‘n vrolike man met vyf kinders en het in ‘n beskeie huisie gewoon. Op ‘n dag het hy te veel gedrink en in die strate gesing dat alle priesters towenaars was. Hy is hiervoor gevange geneem en is op 17 Januarie 1603 te Nieupoort met vuur om die lewe gebring. Een van sy dogters was toe tien jaar oud; sy sou later met ‘n bakker trou en elf kinders kry. Maar ook sy het op die brandstapel gesterf. Die kerkvaders, regters en ook die gewone bevolking het geglo dat heksery ‘n familietrek was.

    Anders as wat algemeen aanvaar word, is nie net ouer vroue en weduwees as hekse vervolg nie. Aanvanklik is wel meer gefokus op medisynevroue, maar later was elke vrou verdag. Uit die 34 hekse wat in Brugge tereggestel is, was 14 weduwees, 14 getroud, 1 ‘n ongetroude moeder en van 5 is geen inligting bekend nie. In Kortryk in België was daar 23 tereggestellings. Hiervan was 9 getroud, 5 weduwees, 1 ongetroud en van 1 was daar geen gegewens nie. In Nieupoort is 20 hekse vermoor. Hiervan was 1 ongetroud, 9 weduwees en 10 getroud. Uit ondersoeke blyk dit dat die meeste hekse getroude vroue was. Hulle mans kon nie ingryp by die vervolging nie en dit het gebeur dat so ‘n man ook in hegtenis geneem en aangekla is as heksmeester. Op hom het dan dieselfde lot gewag as op sy vrou.

    In 1613 moes op die “galgenberg” van Roermond (Nederland) 64 hekse tereggestel word. Die groep was egter te groot en die wyse regter het besluit dat vanaf 24 September elke dag twee hekse op die brandstapel moes sterf.

    Aanvanklik is alle hekse deur die kerk vervolg en tereggestel, maar later is die “bevoegdhede” oorgedra na die dorps/stadsbestuur. Dat die meeste teregstellings vroue was, blyk uit die volgende statistieke. In Namen was 87% van die veroordeelde hekse vroue. In Noord-Frankryk was dit 86,5%; Veurne 67%; Nijvel 97%; Leuven en Tienen 100%; Togeren 100%; Brugge 70% en Kortryk 67%.

    Kenmerkend van die laaste fase van die heksejag was dat dit gemik was op die ryk burgers in die omgewing. In 1628 is in Offenbach in Duitsland nege vroue veroordeel en tereggestel. Hulle besittings is oorgeneem deur die kerk en die dorpsbestuur. Voordat ‘n heks verbrand is, moes sy nog name van “medepligtiges” noem, op wie dieselfde lot gewag het. Toe die Keiser van Oostenryk die bates van alle tereggestelde hekse opeis, het die heksejag opgehou omdat die dorpsbestuur en die kerk niks daaruit verdien het nie. Na ‘n uitgerekte siviel-kerklike geding het die keiser sy eis laat vaar en die vervolging van hekse is hervat. Toe kla die priesters weer dat hulle aandeel in die hekse-buit te klein was, en weer is die vervolging gestaak totdat ‘n ooreenkoms tussen die strydende partye bereik is. Die jag op hekse het “groot besigheid” geword. Geestelikes, regters, dokters, klerke, die beul en knegte van die beul, sipiers, boodskappers en selfs die leweransiers van die hout vir die brandstapel moes uit die nalatenskap van die veroordeelde betaal word. In sommige gevalle selfs die etes van die regters en die priesters tydens die “verhoor”. Die vervolging het opgehou toe daar ‘n tekort ontstaan het aan ryk burgers. In die verloop van twee jaar is 79 persone as hekse verbrand in dié stad met ‘n inwonertal van 2,500 mense.

    Angsbevange om as heks aangewys te word, het burgers begin om ander aan te dui as hekse. Daar was later oor en weer beskuldigings en dit het tot groot angs in die gemeenskap gelei. Soms het mense ander as hekse aangewys uit wraak of as gevolg van onderlinge rusies. Twiste oor die buit was algemeen. Toe Keiser Ferdinand II van Oostenryk (1619-1637) die konfiskasie van eiendom verbied het, het die heksejag plotseling opgehou.

    Die gemeenskap het verskillend reageer op die heksejag. Vir sommige was dit ‘n groot gebeurtenis wat aanskou moes word. Vir hulle was die jammerklagte en die rou krete uit die kele van die sterwende mense vermaaklik. Ander was baie ingenome met die edele taak wat die kerk onderneem het om die kwaad uit die gemeenskap te verwyder. Nog ander was verbaas, geskok en verskrik. Hulle kon nie glo wat hulle aanskou nie en wou die saak teëgaan, maar was te bang. Mense wat kritiek teen die kerk gelewer het, het spoedig self op die brandstapel beland.

    Die voorstanders van die heksejag het gemeen dat die stuiptrekkings wat die sterwendes in die brandende vuur gekry het (as gevolg van die effek van die vuur op die senustelsel), daarop gedui het dat die veroordeeldes inderdaad hekse was. Ook die gille en die krete sou tipies van hekse wees. Die feit dat God hierdie vroue in nood nie te hulp gekom en van die vuurdood gered het nie, was ‘n verdere aanduiding dat dit om regte hekse gegaan het.

    Sommige priesters en geregsdienaars het baie moeite gedoen om soveel moontlik vroue op die brandstapel te kry. Hulle het noukeurig boek gehou van elke teregstelling waarby hulle betrokke was, want hulle sou met ‘n edele taak besig wees, die gemeenskap sou hulle respekteer vir hulle moedige optrede en uiteindelik sou ‘n mooi beloning van hulle Hemelse Vader op hulle wag in die hiernamaals.

    Biskop Johann von Schöneburg uit Tier (in Duitsland) het tussen 1587 en 1593 in 22 dorpe 368 hekse verbrand. Biskop Philipp Adolf von Ehrenberg het in Würzburg tussen 1623 en 1631 in totaal 900 hekse verbrand. Biskop Gottfried Johan Georg II Fuchs von Dornhem het in Bamburg tussen 1623 en 1633 ten minste 600 hekse laat verbrand. Dan was daar ‘n regter in Lotharingen met die naam Nicholas Rémy (sterf in 1616) wat baie trots was op die feit dat hy 3,000 hekse laat verbrand het. Hierdie regter het die kinders wat hul ouers as hekse aangegee het, se lewens gespaar, maar hulle met swepe laat slaan terwyl hulle om die brandstapels van hulle ouers gejaag is.

    Dit is nie bekend hoeveel mense uiteindelik as hekse verbrand is nie. Historici bereken dit op duisende (tussen “tienduisende” en twee miljoen). Die owerheid en die kerk het met hierdie teregstellings in sommige gevalle groot geld bekom.

    In die middel van die 17de eeu was daar steeds kerkvaders wat die heksejag nuwe lewe wou inblaas om te voorkom dat die duiwel die wêreld uiteindelik sou regeer, maar teen daardie tyd het die gesag van die kerk al verswak. Wetenskaplike ondersoek, wat voorheen deur die katholiek kerk verbied was, het nou momentum begin kry. Rasionele denke het die gedagtegoed van die katolieke kerk begin verdring. Dit was die begin van baie ontdekkings en uitvindings asook ekonomiese vooruitgang. Die teorieë van Galilei (1564-1642) en Newton (1442-1727) het begin deurwerk na die intellektuele bolaag van die samelewing.

    Die heksejag word beskou as die swartste bladsy in die gekiedenis van die Christendom.

    Met dank en erkenning aan Heiligdom.

Tags for this Thread

Bookmarks

Bookmarks

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •