Page 1 of 3 123 LastLast
Results 1 to 10 of 21

Thread: Besetenes braak en brul

  1. #1
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Besetenes braak en brul

    ‘Besetenes braak en brul’


    Ds. Pieter Fourie


    Johannes de Villiers

    Jong mense wat soos diere brul, teen mure uitklim, naar word en selfs winde laat.

    Dít is die soort manifestasies van duiwelbesetenheid waarmee hy al te doen gekry het en wat hom noop om demone uit die lewe van mense – selfs so jonk as 10 jaar – te help verdryf, sê ds. Pieter Fourie.

    Dié predikant van die NG gemeente Rant-en-Dal in Krugersdorp aan die Wes-Rand het die afgelope week die gesig geword van ’n debat oor die bediening van bevryding (soos die beswering van demone en vloeke bekend staan) in die NG Kerk.

    Dít nadat Fourie op ’n Facebook-blad die volgende diens aangebied het: “Dink jy iemand het dalk jou of jou familie getoor of vervloek? Spook dit in jou huis? Bel my of los ’n boodskap.”

    Na aanleiding daarvan het Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, die NG Kerk se lyfblad, Fourie op Facebook met ’n “wit sangoma” en “bossiedokter” vergelyk. Die debat wat gevolg het, het die bediening van bevryding weer in die kollig geplaas. Bevryding word al meer in die NG Kerk beoefen.

    Die kwessie gaan onder meer later vanjaar op die algemene sinode bespreek word.

    Na verneem word het die storm om Fourie se bedrywighede selfs tot spanning in sy gemeente gelei.

    Op ’n kerkvergadering Woensdagaand het die gemeente Fourie gevra om sy openbare uitsprake oor geestelike oorlogvoering voorlopig te staak totdat die gemeente ooreen kan kom oor hoe daar oor die saak gepraat sal word.

    Volgens ds. Jannie Pelser, Fourie se medeleraar, is bevryding nie deel van Fourie se amptelike taakbeskrywing nie en hy doen dit in sy private hoedanigheid.

    Rapport het egter vroeër die afgelope week met Fourie, wat veral graag onder jong mense werk en die bynaam “MXit-dominee” het, gesels.

    Hy sê hy gebruik nie allerlei eksotiese rituele soos heilige water of die strooi van sout om demone uit mense te verdryf nie, maar bloot gebed en sondebelydenis.

    Soms sal hy ook mense met olyfolie salf “sodat die vyand daarna van hom wegbly”.

    Hy vertel dat hy by geleentheid al geeste uit brullende kinders van so jonk as 10 help verdryf het.

    “Baie jong mense ondersoek die okkulte. Hulle kyk na Harry Potter en ander okkultiese goed.”

    Mense wat deur duiwels ingevaar word, maak glo allerlei dieregeluide, vomeer en laat selfs winde.

    Maniere waarop mense onder die invloed van demoniese magte kan kom, is volgens hom wanneer hulle Afrika-maskers en Boeddha-beelde in hul huise het, asook deur speletjies soos glasie-glasie en in minstens een geval ’n kind wat “met ander mense ’n bloedverbond in ’n grot gesluit het waarna hulle vir hom iets gegee het om te drink”.

    “Ek was nou die dag by ’n vierjarige. ’n Dominee het kort vantevore tydens ’n kinderpreek ’n aapmasker opgesit en sedertdien kry die kind elke aand nagmerries. Die kind was vreesbevange en die duiwel het daardie vrees gebruik.

    “Toe gaan ek na die huis en sê vir die kind om die aap te teken sodat ons dit kan verbrand. En toe bid ek subtiel: ‘Vader, kanselleer die plan wat die vyand met dié kind gehad het’. En toe salf ek hom.”

    ’n Beleid ingevolge waarvan kerk*rade en ringe toesig moet hou oor predikante wat duiwels uit mense dryf, kan heel moontlik later vanjaar deur die NG Kerk aanvaar word.

    Die bediening van bevryding, soos geestelike oorlogvoering teen demone en vloeke bekend staan, is die laaste jare al hoe meer prominent op die kerk se agenda.

    Hoewel ál meer predikante dit geesdriftig beoefen, is daar ook kritici wat meen dit is soms ’n vorm van geestelike misbruik (veral teenoor jong kinders wat geglo word besete is).

    Op die vorige algemene sinode (in 2007) is ’n verslag oor die onderwerp bespreek, maar omdat baie afgevaardigdes ontevrede was oor argumente in dié verslag dat Satan en sy trawante moontlik nie letterlik bestaan nie, is die kwessie vir verdere studie terugverwys.

    Rapport het ook verlede jaar berig dat die NG streeksinode van Kwa*Zulu-Natal gemeentes in dié gebied aangemoedig het om sprekers van die Reformed Church in Africa (RCA) uit te nooi om hulle oor dié onderwerp te kom onderrig omdat RCA-leraars glo heelwat van die bevryding weet.

    ’n Nuwe verslag sal nou op vanjaar se sinode voorgelê word. Die verslag, wat later vanjaar bespreek sal word, is nog in wording en het geen amptelike status voordat die sinode daaroor gestem het nie, het dr. James Kirkpatrick, voorsitter van die NG Kerk se taakspan vir leer en aktuele sake, aan Rapport gesê.

    Dit sal waarskynlik groot klem lê op die tradisionele Christelike leerstelling dat die bose reeds deur Chris*tus oorwin is en dat duiwelse magte geen bedreiging vir ’n ware gelowige inhou nie.

    Ruimte sal egter geskep word vir diegene wat wel geroepe voel om so ’n bediening voort te sit, het Kirk*pa*trick voorspel. Hy meen egter kerkrade en ringe sal gevra word om toesig te hou oor die predikante in hul gebied wat die bevryding beoefen.

    “Dit sal ’n groter klem op verantwoordelikheid plaas. Dit sal ook getrouheid bring aan die boodskap van Christus se oorwinning. En dit sal mense beskerm teen misbruik deur beraders wat geen opleiding het nie. In baie gevalle word bevryding verkeerdelik aan mense bedien wat eerder na ’n psigiater verwys moet word.”

    Kirkpatrick maan ook teen ’n “magiese en animistiese lewensbeskouing” wat die duiwel in voorwerpe soos Afrika-maskers of eksotiese tapyte soek. Dit is volgens hom vreemd aan die evangelie van Christus se oorwinning oor die duiwel.

    “Ware bevryding is eintlik om die boodskap van Christus se verlossing te verkondig.”

    Uit Rapport dd 2011-01-22 22:29

  2. #2
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Jong mense wat soos diere brul, teen mure uitklim, naar word en selfs winde laat is volgens Pieter Fourie van die duiwel besete.

    Dit lyk vir my of psigologiese afwykings, slegte spysvertering en 'n windjie of twee, deur Fourie in die geheel aan duiwel besetenheid toegeskryf word. Die man bedryf 'n uiters primitiewe geloof.

    Andersyds is dit 'n gegewe dat die Duiwel, wat eintlik maar Jahweh se handlanger is, al hoe meer ingespan gaan word om die onvermydelike val van Jahwehisme teen te werk.

    Hierdie predikant is hoegenaamd nie besig om die evangelie van die Christus en die oorwinning oor die dood en Satan te verkondig nie. Hy hou homself besig met 'n kultiese praktyke soos in die Tyd van die Vloek (Ou Testament).

    Liefde groete.

    Die Ou Man

  3. The Following User Says Thank You to Die Ou Man For This Useful Post:


  4. #3
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Kommentaar op die artikel in Rapport:

    Beajatra
    Dominee Pieter behalwe al die bogenoemde dinge, lyk dit vir my of jy dalk op 'n dieet moet gaan!

    vickyvgemert
    Ag man, die doom se kop raas. Ek brul en word naar en laat winde en voel of ek die mure kan uitklim wanneer ek n erge migraine het. Nou vind ek uit na amper 40 jaar dat ek eintlik besete is??? Wyk Satan!!

    Pareidolia
    Net nog 'n duidelike bewys van die veragterliking van die Afrikaner. As jy GLO in 'n boek (stel jou voor die Harry Potter-reeks, aangesien dit hierbo genoem word) wat stories van pratende donkies, towenaars, demone, hekse, stokke wat in slange verander, kos wat uit die lug uit val, mense wat op water loop (kul jou hier, kul jou daar....), zombies wat uit die dood opstaan, en 'n verskeidenheid toweragtige, absurde en primitiewe stories vertel, het jy beslis psigiatriese hulp nodig. Naas die Harry Potter-reeks staan die bybel as 'n topverkoper van absurditeite. Vermaaklik, ja. Om ernstig opgeneem te word??? Kom tog by! En nou kry ons lieplappers soos Fourie wat duidelik die kluts kwyt is. En almal vreet dit vir soetkoek op. Hoe pateties! En ek is vol afwagting op die verontregting in die reaksies wat nou weer gaan volg op my skrywe. Komende van die bygelowige christen-apologete, natuurlik. Red 'n volk!

    Allas
    Ek wou se Harry Potter voer ons 'n poep.

    Ou Pietertjie jy is so snaaks. Lyk my jy spandeer die gemeente se tiendes by die Spur. Word groot en gaan kry vir jou 'n regte werk. Deur mense bang te maak met julle bangmaakstories oor god en satan grens aan bedrog.

    Ek kan sien dat iewers in die nabye toekoms gaan iemand die kerk dagvaar vir miljoene vir al die twak en breinspoeling wat hulle vir jare gevoer is en al die geld wat die kerk uit hulle getap het. En sonder bewyse dat al die goed waarmee julle mense hul lewens deur bangmaak, bestaan, gaan die saak dalk maklik gewen word.

    Blip
    Wat 'n klomp snert! Ouens wat so aangaan is eerder dronk, gerook of net mal as "besetenes". Dis bygeloof.

    muis
    asb!!! VERLOOR GEWIG EN MOENIE DIE NG KERK SE NAAM SO GAT MAAK NIE asb!!!

    Ralph
    Dit is interessant dat die hedendaagse bevrydings-operateurs hulle beroep op Jesus se bediening. Maar nêrens het Jesus lang gesprekke of sessies gehad met al die manifestasies wat die afgelope 40 jaar in dié soort bediening na vore kom nie. Het die demone taaier geraak deesdae? Jesus het net 'n "woord" gespreek. Veral as ek ds Pieter se gruwelike hantering van die Bybel aanskou, kan ek nie glo dat hy Geessensitief genoeg is om te onderskei tussen sielkundige manipulasie en ware bevryding nie. Die waarheid maak vry - nie premoderne rites en truuks nie.

    Retha
    Los die verslae en lees maar net weer die Bybel. Die NG Kerk moet tog asseblief net nie in die hande van die duiwel bly nie. Natuurlik sal mense wat nog nie deur Christus se evangelie bevry is nie, deur bose geeste geteister word en dank die Heer vir mense wat nie bang is om hulle hande met bevryding "vuil te maak nie". Alles is deesdae so oppervlakkig, sodra daar diepper gedelf word, word jare aan verslae spandeer, terwyl sielle verlore gaan. Selfs mense wat reeds deur Christus se evangelie bevry is, word soms deur demone geteister. Daar is beslis 'n oorlog tussen goed en kwaad, lig en duister. Hoekom anders sal die Here in SY Woord ons maan om die wapenrusting aan te trek. Nou wil die NG Kerk ons laat slap le. Ag nee man, dit word net erger en erger en erger. Op hierdie stadium is die NG Kerk die duiwel (en ja hy en sy trawante bestaan wel)se grootste oorwinning. Kom ons begin maar weer onder bome vergader en vertel die mense van Jesus se liefde en die duiwel se boosheid. Trek aan julle wapenrusting en hou aan om Jesus se liefde, vrede en vergifnis vir ander mense te wys en bid die sinode kom tot bekering.

    natie.victor

    Waaroor moet daar gepraat word NG Sinode? Jesus Christus het op die oomblik opgetree vir dié wat Hom nodig gehad het, en ook daardie krag en mag aan ander gegee. As Hy vir Sinodes (en Fariseers) moes wag om besluite te need sou niks gebeur het nie! Hierdie Ds. doen niks onderduims nie, terwyl julle sinode vergaderings hou, red hy siele vir Jesus, dalk selfs nog julle eie kinders............

    Fossiel
    Ek het goeie kontak gehad met die bevrydings beweging, en in die proses heelwat vrae gevra, oor standpunte wat gemaak word. Selfs het ek gehoor van kinders wat sg gebind is omdat hulle ouers tydens swangerskap hulle geslag bepaal het.

    Daar is in die Bybel GEEN rekord van 'n gelowige wat gebind of besete is nie. Slegs ongelowiges. Die beste bevryding vir my was om by 'n kerk aan te sluit wat hierdie waarheid leer, en leer van 1 Joh 5:18 - die Seun van God bewaar ons en die duiwel kry geen vatkans op ons nie. Pleks om my moeg te maak oor agter watter tafelpoot 'n demoon op my spring, verheug ek my dat Jesus die enigste is waarop ek staat maak. Calviniste (wat juis klem le op genade)moet eerder studie doen oor genade, as om ons moeg te maak oor dinge wat nie in die Bybel is nie.

    Olyfolie is slegs 'n simbool en het geen krag op sy eie nie.

    kobus bloemf
    indien ds fourie die roeping ervaar om hierdie ernstige saak aan te spreek en daadwerklik iets daaraan te doen, vertrou ek dat hy die nosige hulpmiddels en mense sal ontvang/ontmoet. satan is oorwin, heeltemal reg, MAAR die finale oordeel kom nog. die verloorder "spook" nog lustig, in ons huise, onder ons kinders, selfs waar ons hom allermins verwag. AS DS FOURIE HIER LEES, KONTAK ASSEBLIEF AUKSANO IN BLOEMFONTEIN. dankie vir die moed van u oortuiging en getrouheid aan u roeping

    ewald
    Huh?

    ewald
    Van braak en brul gepraat. Pietertjie jy lyk op 'n haar na 'n brulpadda en dis tyd om te braak my vriend. Mag liewe jesus jou verlos van jou verslawing aan kos. AMEN.

    Hannes
    Dis baie duidelik dat al Ds Pieter se demone in sy kop, en dalk meer spesifiek, sy ken sit. Die tipe twak wat hy verkondig plaas ons terug in die middeleeue.

    Tc
    Dit is twak!
    Julle gee die duiwel heeltemal te veel eer.
    Oppas om nie appostels van die 'bose' te raak nie.

    Tc
    Twak!
    Leuens. Speletjies. Toneelspel.
    Hulle gee die 'bose' heeltemal te veel eer. Daardeur raak hulle aposetels van die sg. 'duiwel'.

    Blip
    Hul's mal of dronk of gerook. Nie deur bose geeste besete nie. Dis net bygelowige snert.

    Sir Lancelot
    Daar bestaan nie iets soos demone nie. Nes daar ook nie iets soos Kersvader, die Paashaas en die tandemuis bestaan nie. Ek daag enige een uit wat hier lees om my verkeerd te bewys. Wie hier het al 'n demoon "face to face" gesien? Ek praat nie van 'n leeu wat in die nag brul, en jy glo dan dis 'n demoon nie. Of dat jy 'n swart kat gesien het, en nou glo jy vas jy het 'n demoon gesien nie.

    Hope123
    Ek sal jou met die grootste plesier en liefde wys hulle bestaan. Ek is net bang jy gaan dit nie maak nie ou swaer. Ek sal ook 'n DVD saam bring sodat ek dit later op You Tube kan plaas sodat die wat nie aan demone glo kan sien hoe word jy 'n gelowige. Waar woon jy dan reel ons 'n "sessie"?

    milada.maritz
    Dit is so jammer die artikel lê klem op "besetenes wat braak en brul".... Nie alle bose geeste werk so nie. Daar is ander wat op 'n baie meer subtiele manier te werk gaan!!
    Dit is tyd dat die mense wakker skrik en besef dat hierdie geeste 'n werklikheid is!
    Efesiërs 6:12
    "Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug."

    En hoekom anders sou Jesus ons leer bid (met die Onse Vader) om vir beskerming teen die bose te vra..... en Sy wil te laat geskied op aarde, net soos in die hemel.

    God is tog nie 'n mens nie.... God leef IN ons. Hy is 'n Gees. Hoe kan ons dan die bestaan van bose geeste ontken?

    Ek dink ds Pieter en almal wat gepla word deur bose geeste het eerder gebed as ondersteuning nodig.... nie kritiek nie!!

    Hope123
    Amen!

    Emwee
    Dit is die ernstige probleem met godsdiens en die breinspoelling en indoktrinasie daarvan. Kinders is onvangklik en baie sensitief en geloofssake en godsdien behoort verbied te word. Daarom is ek van mening dat kinders self die besluit oor godsdiens kan maak as hulle volwasse genoeg is.

    Aaptwak
    EN daar sien ek toe ook vanoggend my eerste demoon, pragtig aagetrek in sy mooi blou hempie en vaal wurgende dassie. Asb dominee, hou jou eerder besig met dit wat jou werk is. Jou teoriee is gewoon gebaseer op 'n klomp stront wat jy jouself wysegemaak het. Ironies genoeg veg die NG Kerk so hard om relevant te word dat hulle waarskynlik nog sangomas ook gaan aanstel in die nabye toekoms.
    Dominee kan dalk beter doen vir sy gesondheid as hy eerder sy kos salf met olyfolie, eerder as om kindertjies te bemors.

    johan.crafford
    Dis altyd interessant hoe mense uitlatings maak en van goed praat wat hulle niks van af weet nie. Soos 'n hele paar hieronder gedoen het. Hoekom?Pieter, dankie vir die ongelooflike goeie werk wat jy doen. Diemense wat jou ken en by jou betrokke is weet wie en wat jy is.

  5. #4
    Mod knipmes's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Polokwane
    Age
    57
    Posts
    652
    Blog Entries
    7
    Rep Power
    56

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Tong in kies...

    Wat is die verskil tussen 'n demoon en 'n poep? (ekskuus... windjie!)

    Daar is nie eintlik 'n verskil nie, want jy kan beide nie sien nie...

    en die ooreenkoms?

    Beide laat slegs so 'n nasmaakie in die mond as jy dit teenkom!!!














    groetnis
    knipmes

  6. #5
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Demoondoom kry steun


    Krugersdorp se demoondoom wat demone al brullend uit “bestenes” dryf terwyl daar gebraak en winde gelaat word, het ’n bondgenoot gekry wat vir hom in die bres tree. ’n Omstrede Vrystaatse NG dominee wat voorheen in die nuus was oor demoonuitdrywing beweer hy het by geleentheid al 19 demone uit iemand gedryf .

    Ds Pieter Fourie van die NG Gemeente Rant-en-dal op Krugersdorp het die hele land aan die praat met sy demoonuitdrywing - selfs by kinders sou jonk soos tien en vier jaar. Nou het ds Etienne Maritz van die NG Gemeente Koppies-Weltevrede in die Vrystaat hom in ʼn artikel wat in die jongste Kerkbode verskyn by ds Fourie se standpunt geskaar.

    Maritz is enkele jare gelede deur sy vorige kerkraad versoek om onverwyld die praktyke van demoniese uitdrywing te staak. Dit was nadat dit op die lappe gekom het hoe hy en sy mede demoonuitdrywers ’n vrou so daarmee getraumatiseer het dat sy sielkundige behandeling moes ontvang.

    Hy skryf in die jongste Kerkbode mense wat demonies besete is, kan die demone soms sien en hoor praat, maar sodra hulle bevry is verdwyn daardie vermoë. Hy verduidelik nie hoe tel die demoonuitdrywers die demone as hulle nie gesien kan word nie. Maritz sê die man uit wie daar 19 demone gedryf is het nog waanbeelde beleef nadat hy van die demone “bevry” is. Hy is daarna vir skisofrenie behandel en is nou permanent op medikasie.

    Volgens Maritz het hy al ondervind dat sataniste weghardloop en buite die kerk teen die grond neerslaan as daar gebid word. Demone kan volgens hom nie die teenwoordigheid van die Heilige Gees verdra nie. Ook nie as daar oor die bloed en kruis van Jesus gepraat of gesing word nie.

    Ds Etienne Maritz is tans leraar van die NG Gemeente Koppies Weltevrede. Ds Maritz was al vantevore in die nuus oor sy demoonuitdrywery. In 1999 is hy deur die NG ring van Pretoria-Wes versoek om sy duiweluitdryf-praktyke te staak nadat ’n Pretoriase vrou vertel het hoedat sy vyf jaar lank met sy demoonuitdrywing geteister is.

    Ds Maritz se verhaal is al vertel maar hier is dit weer.

    Mev Ena van den Berg, wat volgens Rapport deur ds. Maritz as die “bruid van Satan'' aan die wêreld voorgehou is, het destyds aan Rapport vertel sy vrees steeds dat ander gelowiges in presies dieselfde slaggat as sy kan trap. Sy was erg omgekrap omdat die Noord-Transvaalse Sinode van die NG Kerk haar versoek geweier het om verder op te tree teen ds. Maritz, wat nog sy predikantsamp beklee.

    “Dit laat my voel of die kerk nie sy lidmate teen dié soort ding wil beskerm nie,'' het sy destyds aan Rapport gesê. Die koerant het berig mev Van den Berg het veelvuldige beserings opgedoen tydens die openbare duiweluitdryfsessies waaraan sy in haar eie gemeente en ook op openbare verhoë elders in die land onderwerp is. Die geweld wat tydens die sessies teen haar gebruik is, is op videoband opgeneem. Mev. Van den Berg is deur haar predikant wysgemaak dat sy van “miljoene'' demone besete is. Sy het dit geglo.

    Sy het haar verstommende verhaal van pyn en marteling aan Rapport vertel ná haar huisdokter en psigiater haar gehelp het om uit ds. Maritz se invloed te ontsnap.

    Mev. Van den Berg het later ook ’n klag by die SA Geneeskundige en Tandheelkundige Raad (SAGTR) ingedien teen die twee dokters wat haar buik oopgesny het om 'n “satanistiese sender'' daarin te soek. Die twee, drr. Cornu Pretorius van Carletonville en Tommy Gray van Pretoria, het die operasie op 18 Mei 1996 uitgevoer.

    Albei het tydens onderhoude met Rapport erken dat hulle op soek was na 'n vreemde voorwerp van satanistiese oorsprong toe hulle mev. Van den Berg se buik in die teenwoordigheid van die predikant, die hoofouderling en nog 'n man oopgesny het. In haar klagtebrief aan die SAGTR het mev. Van den Berg geskryf dat sy nie toestemming vir die operasie gegee het nie, dat sy met onsteriele instrumente geopereer is, dat haar waardigheid en privaatheid geskend is deurdat 'n fotograaf by die operasie toegelaat is en dat sy brutaal en onmenslik tydens die operasie onder lokale verdowing behandel is.

    Die “satanistiese sender'' wat haar NG predikant en sy twee gelowige doktersvriende uit haar buik probeer sny het, was eintlik net 'n broeksknoop wat op X-strale gewys het, het sy later tydens ’n tugverhoor van die Raad van Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) getuig. Die operasie het plaasgevind in Pretorius se “spreekkamer'' in die kerksaal van die NG gemeente Pretoria-Wes, Maritz se gewese gemeente. Pretorius was een van Maritz se ouderlinge.

    Die dominee het haar na bewering aan die hande en hare in bedwang gehou terwyl hy hardop gebid en telkens “sny dieper'' geskreeu het, het Rapport berig.

    Hulle was op soek na die ronde voorwerpie wat op X-strale van haar buik aangedui word.

    Sy dink dis die knoop van die broek wat sy aangehad het toe die X-strale geneem is. Die dominee het dit as 'n “satanistiese sender'' aangesien. Sy het die broek hof toe gebring om die knoop te wys.

    Die dominee het na bewering self haar skoene uitgetrek voordat hy haar op die operasietafel aan die hare vasgevat en begin bid het. Hulle het nie haar toestemming gehad nie. Wat daarna gebeur het, beskou sy as “marteling'' het sy aan die koerant vertel.

    Sy het met die hulp van haar sielkundige uit die dominee se invloed ontsnap wat haar glo tydens al die “bidsessies'' gebreinspoel het om te glo dat sy van demone besete was. Maar in werklikheid was sy nooit 'n satanis nie.

    Na haar nagmerrie ondervinding van vyf jaar het sy aan Beeld gesê: “Ek was 'n beeldskone vrou. Kyk hoe afgekraak is ek nou.” Sy het in 'n stadium as “die bruid van Satan” bekend gestaan. “Ek is dag en nag vol pyne. Ek moet voortdurend pille drink en kan nie slaap nie,” het sy aan die koerant vertel.

    Die twee dokters is deur 'n tugkomitee van die Raad van Gesondheidsberoepe skuldig bevind op 'n aanklag van onbetaamlike gedrag weens 'n operasie op 'n vrou waartydens hulle 'n “satanistiese voorwerp'' uit haar buik wou verwyder.

    Hulle is deur die komitee vermaan. Dr. Tommie Gray, internis van Pretoria, en dr. Cornu Pretorius, huisdokter van Carletonville, het weens die operasie op mev. Ena van den Berg (sy was toe 62) op nog sewe aanklagte voor die tugkomitee verskyn, maar op dié aanklagte is hulle vrygespreek.

    Die twee dokters en ds. Etienne Maritz, wat tydens die operasie teenwoordig was, het volgehou hulle was na 'n satanistiese voorwerp op soek.

    In 'n verklaring het die dokters beweer dat die vrou van die duiwel besete is. Ds Maritz het ook 'n verklaring uitgereik waarin hy beweer die vrou word “deur magte agter haar gebruik en misbruik''.

    Maritz het aan tydskrifte vertel sy is van miljoene demone besete. Video's in Rapport se besit het gewys hoe hy en sy helpers haar pynig “om die demone uit te dryf''.

    Volgens die verklaring wat destyds deur Maritz na die tugverhoor uitgereik is, wag hy en sy span “met rein gewetes op die oordeelsdag wanneer alles aan die lig sal kom''.

    Hy het ook ontken dat die NG ring van Pretoria-Wes hom ooit verbied het om voort te gaan met 'n bediening aan “okkulties gekwelde'' mense.

    Luidens die ringsbesluit, wat destyds aan Rapport beskikbaar gestel is, is Maritz gelas om “onverwyld die praktyke van demoniese uitdrywing soos op Van den Berg toegepas, te staak''. Die ring het glo ook gelas dat hy skriftelik onderneem om dit te doen.

    Die vrou se psigiater het haar ervarings beskryf as "sogenaamde bidsessies van geestelikes wat duidelik grens aan die absurde en massahisterie''.

    Bron

  7. #6

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Absoluut, absoluut verstommend!
    I am a child of Earth and starry Heaven;
    But my race is of Heaven alone"

  8. #7
    Member Pionier's Avatar
    Join Date
    Jul 2007
    Location
    Boerland
    Posts
    148
    Rep Power
    47

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Quote Originally Posted by Die Ou Man View Post
    Jong mense wat soos diere brul, teen mure uitklim, naar word en selfs winde laat is volgens Pieter Fourie van die duiwel besete.

    Dit lyk vir my of psigologiese afwykings, slegte spysvertering en 'n windjie of twee, deur Fourie in die geheel aan duiwel besetenheid toegeskryf word. Die man bedryf 'n uiters primitiewe geloof.

    Andersyds is dit 'n gegewe dat die Duiwel, wat eintlik maar Jahweh se handlanger is, al hoe meer ingespan gaan word om die onvermydelike val van Jahwehisme teen te werk.

    Hierdie predikant is hoegenaamd nie besig om die evangelie van die Christus en die oorwinning oor die dood en Satan te verkondig nie. Hy hou homself besig met 'n kultiese praktyke soos in die Tyd van die Vloek (Ou Testament).

    Liefde groete.

    Die Ou Man

    DOM

    Jesus en sy dissipels had dit tog by meer as een geleentheid gedoen?

  9. #8
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Re: Besetenes braak en brul

    Quote Originally Posted by Pionier View Post
    DOM

    Jesus en sy dissipels had dit tog by meer as een geleentheid gedoen?
    Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het--dit is die duiwel--
    en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

    Wat was die doel van die opstanding dan?

    Of het niks daardeur verander nie?

    Of is die Bybel besig om teenstrydighede te verkondig?

    Is die duiwel nou tot niet soos Hebreërs 2:14,15 verkondig, of is hy steeds operasioneel en onaangeraak deur die opstanding?

  10. #9
    Member Pionier's Avatar
    Join Date
    Jul 2007
    Location
    Boerland
    Posts
    148
    Rep Power
    47

    Default Re: Besetenes braak en brul

    DOM

    J� se tog self die duiwel word as bondgenoot ingespan om Jahwehisme te bevorder, dws die duiwel word hoewel oorwin, geloofwaardig geag.
    Algar hier op aarde dra ook nie die Gees van die Trooster nie, wat word van die Israeliete wat trou sweer aan Jahweh? Of die wat voorvadergeeste oproep? Of die wat weier om die Evangelie te aanvaar?
    In kort hul bid tot 'n dooie gode en dra die (bose)gees van dooies.
    Is die ewigheid hul beskore? Ek gelooft niet.

  11. #10
    Mod Die Ou Man's Avatar
    Join Date
    Feb 2007
    Location
    Swerwer
    Posts
    1,437
    Rep Power
    64

    Default Re: Besetenes braak en brul

    In die Christus te tyd (dit is nou uitgesluit die Griekse wysgeërs) was daar nie iets soos skisofrenie, vallende siekte (epilepsie), ens nie. Alles was toegeskryf aan bose geeste. Selfs blindheid is aan die bose toegeskryf.

    Baie van die Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese duiwels het vandag ander name en oorsake. Die simptome van epilepsie, skisofrenie en ander psigo-somatiese verskynsels is 2000 jaar gelede in die Jodedom deur die bank toegeskryf aan demone. Vandag weet ons van beter.

    Selfs Alfred Fleischer se demoon kan vandag deur die sielkunde verklaar word as "megalomania".

    Hoeveel demone bly oor wanneer ons alle fisiologiese en psigiese oorsake eenkant toe skuif?

Bookmarks

Bookmarks

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •