Avond maal

Wendag


Wendag
Debat oor Christendom en Godsdiens

Andries Hendrik Potgieter Andries Pretorius FW Reitz General Louis Botha Gideon Jacobus Scheepers Jacobus Herculaas de la Rey Johanna Brandt Johannes Cornelius Lötter Koos De La Rey Pres MT Steyn Sarel Cilliers Siener van Rensburg

Christenskap


Christen geloof.

Die Christendom is 'n religie wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is en verlossing verkondig aan die volgelinge van hierdie geloof, wat as Christene bekend staan.

Christene glo in die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – Skepper van die hemel en die aarde en die Onderhouer van alle dinge. Hulle glo dat Jesus Christus, die Seun, sowat 2000 jaar gelede aan die kruis gesterf het om die sondige mens van sy sondes te verlos, opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en op 'n dag sal terugkeer om die mensheid te oordeel.

Christene beskou die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Hulle glo voorts in verlossing deur genade, met antwoorde dat 'n mens nooit die ewige lewe op grond van goeie werke deelagtig kan word nie, maar suiwer deur God se genadige redding (jou "wedergeboorte").

Wedergebore Christene verklaar met 'n absolute sekerheid dat hulle geredde kinders van God is wat tot in alle ewigheid deel sal hê in Sy koninkryk – en in dié opsig verskil die Christendom radikaal van ander godsdienste.

In Suid-Afrika, soos wêreldwyd, is die Christendom egter in talle kerkgenootskappe en sektes versplinter. Dikwels is die skismas (kerkskeuringe) die gevolg van verskillende interpretasies van minder kardinale sienings wat tog nie die hoofboodskap van die Christendom aantas nie.

Maar dit was nie altyd so gewees nie, daar was 'n tyd wat Christenskap anders was, ander sienswyses gehad het en anders oor geloof en menswees gedink en geleef het.

Die vroeë Christendom.

Christene wil nie graag daaraan herinner word dat "ortodoksie" nie van die begin af bestaan het nie. Feit is, daar was nie eintlik 'n "oorheersende" sentrale beskikker oor die Christendom in die eerste, tweede of selfs derde eeue nie. Die vroeë Christendom was 'n verskeidenheid groepe wat verskil het oor geloofsbelydenisse en praktyke. Verskillende gemeentes het mekaar uitgekryt as dwalers, afwykendes en misleides. Die verskille het voortgespruit uit kulturele diversiteit, tale, agtergronde, klem op verskillende tradisies, verskillende waardes. Eventueel sou enkeles van hierdie tradisies die "oorwinning" behaal. Dit is daardie "oorwinning" wat ons kritiese moet bedink.

Dit wil nie sê daar was geen samehorigheid nie. Daar is in die vroeë Christendom óók duidelike en ondubbelsinnige strewes na wedersydse erkenning en sentrale waardes te bespeur. Wat mens nogal opval is die klem wat op lewenstyl geplaas is. Met die gegewens wat ons het kan ons nie anders as om uiteenlopende tradisies raak te sien nie, elk met 'n eie logika en interne samehang, wat naas mekaar bestaan het. Daar was nie 'n sentrum nie, maar wel 'n soort identiteit wat vorm aangeneem het. Hierdie soortgelykheid, erkenning van 'n kenmerkende identiteit het nie in leerstellings gelê nie – alhoewel dit daar was en 'n rol gespeel het – en ook nie in liturgie nie – alhoewel dit ook 'n rol gespeel het, en ooreenkomste bevorder het. Die identiteit het juis nie net berus op godsdienstige idees nie, maar het uiting gevind in 'n lewenswyse. Die ervaring van "ons is anders", van sodoende hoort ons bymekaar, van só is ons een, was iets wat bowe al in gemeenskaplike betrokkenheid beleef is.

Ons moet nie die vroeë Christene idealiseer nie. As hulle maar net kon sou baie van die vromes sekerlik ook sonder om te blik of te bloos dieselfde gedoen het as wat hulle nakomelinge vanaf die vierde eeu gedoen het. Maar: daar is 'n groot verskil tussen jou sondige humeur te bely met drome van ander reg te ruk en om God te dank dat ons die ander kon uitwis.

In die oorgang wat Konstantyn aan die gang gesit het, het iets van Christen-menswees ondergegaan en iets anders uitgekom. Dis presies daaroor wat óns moet dink en besluit. Vredemaak as 'n risiko (Mt 5.3) en vrede deur superieure slaankrag is nie dieselfde nie.

Kerkeenheid

Kerkeenheid blyk egter 'n veel groter uitdaging te wees. Sinodes word links en regs gehou, elkeen noukeurig georkestreer om 'n spesifieke meerderheid by voorbaat te hê, en mense word oor en weer verban en herstel en weer verban. Aanvanklik probeer Konstantyn deur onderhandeling 'n middeweg tussen die strydende partye te bewerkstellig.

Konstantyn het gedink godsdiens is om God te aanbid en te verheerlik met glorie en ordelike harmonie. Vanuit hierdie perspektief beywer hy hom vir eensgesindheid en goeie verstandhoudings in sy Ryk, veral onder die Christene. Konstantyn was 'n praktiese man, met 'n sterk weersin aan verdeeldheid. In 'n brief vermeld hy sy verstomming dat "juis diegene wat eensgesind en met broederliefde behoort te lewe, teen mekaar is op 'n skandelike, nee, verwerplike manier, en aan mense wat onvertroud is met hierdie mees heilige godsdiens, redes gee om dit te bespot" (Januarie 314, aan Chrestus, biskop van Sirakuse; cf. Eusebius Historia ecclesiastica 10.5.21–22)

Die Konsilie van Nisea 325 n.C.

Keiser Konstantyn die Grote (275-337 n.C.) het die Christelike godsdiens tot 'n legitieme godsdiens van die Romeinse Imperium verklaar en die konsilie van Nisea byeengeroep. Die doel van hierdie konsilie was om eenheid onder die verskillende Christelike groepe te bewerkstellig en die verskille eens en vir altyd te besweer.

Die vergadering se eerste bymekaarkoms vind plaas op 20 Mei 325. Die belangrikste werk was afgehandel teen 19 Junie. Op 25 Julie het die keiser sy twintigste jaar as regeerder saam met die biskoppe gevier en op 30 Julie was hy terug in Nikomedia. Om en by 275 biskoppe het die vergadering bygewoon. Konstantyn was voorsitter.

Die eerste punt op die agenda was beskuldigings (van afvalligheid en valse lojaliteite) sodat "ongewensdes" terug gestuur kon word. Konstantyn raak selfs betrokke by teologiese debatte en na lang besprekings en op aandrang van Konstantyn word daar aangedui dat die Seun "van dieselfde essensie" as God is, word 'n verklaring opgestel, 'n belydenis onderteken, anatemas uitgespreek, sekere biskoppe word verban en hul heilige geskrifte (evangelies) verbrand, waaronder Arius wat nie saamgestem het met die idee dat Christus werklik God was nie, die datum vir Paasfees word gefinaliseer, en reëls vir dissipline opgetrek.

Op 25 Julie is hulle werk klaar, en teen die einde van daardie jaar stuur Konstantyn briewe uit om die besluite van Nisea 'aan te beveel' by gemeentes en die gesag daarvan te onderskraag.

Twee dekades later is keiser en kerk se strewes ook nie meer dieselfde nie. Eenheid, samewerking en "goeie" verstandhoudings sou nog baie bloed laat vloei. Net vir geval mens nog nie wantrouig genoeg is oor wat alles wat by die konsilie van Nisea uitgedink is nie.

Wat Nisea ons leer, die eintlike uitkoms daarvan, is nie die waarheid oor God of die finale uiteensetting van die wese van Christus nie. Die verhaal van Nisea is soos enige ander kerkgeskiedenis: Die verhaal van mense wat probeer om 'n totale oorwinning oor hulle opponente te behaal en om dan net toe te kyk hoe dinge uit mekaar val.

Konstantyn se aandeel:

Ongetwyfeld was Konstantyn ambisieus en koelbloedig. Dit is so dat hy homself as God se instrument gesien het en sonder om te blik of te bloos aan ander voorgeskryf presies wat God van hulle verwag.

Konstantyn was ook baie ernstig oor sy godsdiens. Hy noem homself die "apostel van diegene buite die kerk", die "gewone apostel". In sy eie woorde:

Deur die goddelike geloof te bewaar neem ek deel aan die lig van waarheid; gelei deur die lig van waarheid erken ek die goddelike geloof. Met die mag van hierdie God as my bondgenoot, het ek begin vanaf die verste kant van die Oseaan om die hele bewoonde wêreld, stuk vir stuk, op te hef na die hoop op ongetwyfelde verlossing. Hom roep ek op my knieë aan, gekant teen alle verwerplike bloedoffers en haatlike reuke, en met die rug gekeer na elke aardgebonde vlam, wat gelei het na vuil, bose en vreeslike dwaling waardeur baie mense en volke verwoes is. (Konstantyn se brief aan Sapor, koning van Persië; Vita Constantini 4.9–10).

Konstantyn se kruis:

Maksentius die Romeinse keiser word op Op 28ste Oktober 312 verslaan deur sy stiefkleinseun asook skoonseun, Konstantyn. Gedurende die geveg word op sommige van Konstantyn se soldate se skilde 'n nuwe kenteken, blinknuut opgeverf. Waar kom die teken vandaan en wat het dit beteken?

Laktantius (geskiedenis skrywer asook onderwyser van Konstantyn se seun) vertel dat Konstantyn in 'n droom die vorige nag beveel is om die "hemelse teken van God" op die skilde van sy vegters te plaas. Laktantius is nie juis duidelik as hy die teken beskryf nie, maar sê dat dit lyk soos 'n plus-teken met 'n sirkel bo-aan. Baie mense hou van die idee dat dit die Chi-Rho was, die eerste twee letters van "Christus" in Grieks, C en R bo-op mekaar, maar Laktantius beskryf dit nie so nie. Volgens Laktantius gehoorsaam Konstantyn die droom, en die oorwinning word behaal.

Vyf-en-twintig jaar ná die gebeure, en ná Konstantyn se dood, vertel Eusebius van Sesarea dit heel anders:

Konstantyn het blykbaar aanvanklik die bevryding van die hoofstad [Rome] aan ander oorgelaat, maar hulle het gefaal. Mettertyd, in die lig van die geweldige verdrukking van die mense van die hoofstad, het hy gesweer om die tiran omver te werp. Hy het egter besef dat 'n magtiger bondgenoot as blote troepe nodig is, weens die "bose towerkragte" wat Maksentius inspan. In alle erns begin Konstantyn die verskillende gode teen mekaar opweeg, en hy besef, skielik, dat al sy voorgangers tot nou toe mislei moes gewees het, dat slegs die "een allerhoogste God" kan help. Konstantyn bid heel ernstig tot hierdie God, en strek sy regterhand uit om hulp te vra. Terwyl hy bid, sien hy helder oordag 'n kruis van lig en die woorde hoc signo victor eris (Latyn) of toutoo nika (Grieks): "met hierdie teken sal jy oorwin" (dis onseker watter taal die hemele daardie dag gepraat het). Nie net hyself nie, maar sy "volle leërmag" wat saam met hom op die spesifieke verkenningstog was, het die wonderwerk aanskou. Die "volgende" nag verskyn "die Christus van God" self aan Konstantyn en beveel hom om die teken op die baniere van die leër te plaas, en dit as afweermiddel te gebruik.

Daar is heelwat aanduidings dat die chi-rho-teken eers lank na 312 in gebruik geneem was. Die eerste christelike simbole verskyn op Konstantyn se muntstukke eers in 315, en die laaste huldiging van die songod word nog uitgebeeld op muntstukke van 323.

Die vroeë Christendom, baie soos die hedendaagse Christendom, was uiters ingewikkeld en uiteenlopend. Die kerngeloof dat Jesus die Messias was, was algemeen deur die Christendom aanvaar, maar die aard van hoe dit in Jesus tot uiting gekom het, word reeds eeue lank deur die verskillende Christen groepe gedebatteer.



Powered by Wendag®

Copyright © 2021 Wendag. All rights reserved.

Content Copyrighted ©2017-2022 by Wendag.