Deur: Waldor
Geagte Woestyngod.
Ek besef dat hierdie brief hoog waarskynlik as ‘onafgelewer’ sal terugkom...
Hierdie skrywe van my, hierdie skriftelike poging om uit te kom waar so baie, gereeld persoonlik kuier, en lyk my baie familiêr en tuis is. Hier is mense wat skriftelik getuig dat hulle U persoonlik ken, want U praat kwansuis met hulle. Dog na vele pogings met sulke mense vererg hulle hulself wanneer ek doodeenvoudig vra hoe U stem klink. Sommige lees U gedagtes en verkondig hele wêreld gebeure en selfs toekomstige gebeure deur tussen die lyne te praat van wat daar aangehaal word van wat U aan iemand sou gesê het. Al wat ek hieruit kan aflei, is dat daar oral privaat en op verskillende vlakke met U gekoukus word. Dat sekere van U uitlegte en bedoelings wat die ganse mensdom baie ernstig raak, aan uitgesoektes ‘gefluister’ word, en dat dit dan aan die onbevoorregte bykans ontelbare siele verkondig moet word teen finansiële vergoeding. Want in baie gevalle is om U te ken ‘n beroep.
Daar bestaan by my geen twyfel nie - Die sigbare en waarneembare orde in die natuur spel dit duidelik uit. In die uitspansel, in die natuur, in die wetenskap, in die oneindige kom en gaan van die seisoene, in die ewig getroue en ononderbroke opkom en sak van die son deur al die eeue heen – in al hierdie verskynsels en oral waar daar lewe is, loop daar ‘n duidelik sigbare lewende draad. ‘n Onberispelike krag, ‘n mag. Iets iewers, wat groter is as wat die menslike verstand op sy hoogste vlak kan beskryf of begryp of effektief bedink, bestaan wel.
Ek twyfel nie aan die onuitputlike krag wat op alle vlakke van hierdie lewe vir ons beskikbaar is nie. Ek twyfel nie aan die onsterflikheid van die menslike gees en die oneindige vooruitskouings vir die voortbestaan van die mensdom nie. Aan die werklikhede van dit wat die ewig verbeterende navorsing en tegnologie vir ons kan bied en kan voortbring, twyfel ek ook geensins nie. Ek kan nie twyfel nie, want dit is alles is tasbaar daar!
Ek twyfel aan U God van die woestyn wat iewers op ‘n berg in die Midde Ooste woon, want U strook nie – U, die God van Abraham, Isak en Jakob. U die God van my Sondagskool, die God van die kerk, die God van die permissiewe psalmdigter, van die tien gebooie. Van die Anakonda in die Ark. U wat in die vorm van U seun, op aarde, die kindertjies nadergeroep het om deur U geseën te word omdat, en om Uself aan te haal ...”aan sulkes die hemel behoort...” Dit, terwyl U skaars een duisend jaar (en ‘n duisend jaar is vir U mos soos ‘n dag), vantevore, sonder om ‘n heilige vinger te verroer het, in die hemel gesit het en aanskou het hoe ‘n ‘uitverkore’ vader sy geliefde dogter keelaf sny omdat hy dit so aan U belowe het, en U dit so goedgekeur het en toegelaat het. ‘n kind wat haar liefde aan haar pa betoon deur na hom te hardloop, se keel word afgesny om U te behaag, en dit hét U behaag!
Aardrykskundig is daar die mooiste landstreke. Die mooiste plantegroei en natuurskoon dwars oor die wêreld heen. Plekke met die kleurrykste natuurlike blomme, met voëlsoorte en diere. Daar is Oostenryk, Switserland, die Europese heuwels, die Skotse hooglande, my eie Suid Afrika se Magoebaskloof en die mooie Kaap asook die magdom idilliese eilande en tropiese plekke van die wêreld . Al hierdie plekke, maar U kies die dorre vuil sandhel in en om Palestina en Irak as die plek waar die grondlegging van U raadsplan vir alle mense moet geskied.
U kies ‘n mensdom wat vir al die eeue soos niksnutte deur hierdie sandduine ploeter en mekaar se watergate plunder, en soos ‘n Mugabe, in U opdrag, grond roof pleeg en vrou, kind, hond, esel en slaaf uitmoor en alles vernietig. Diésulkes verkies U bo hulle tydgenote, wat verantwoordelik was vir positiewe en opbouende ontdekkings, skeppinge, uitvindsels, merkwaardige seevaart, perde telery, verfynde pottebakkery, beeldhouwerk, verheffende kunste, grootskaalse handel en die maak en uitvoer van olyfolie en wyne... en, laat ek dit nou maar sê, in fisiese voorkoms ongetwyfeld vêr afsteek by die mense wat U ignoreer het. Ek neem aan U hou nie van sport nie want U mense in die Midde Ooste presteer gladnie by die Olimpiese Spele nie!
Van kindsbeen af het ek op verskeie kerkbanke gesit waar die woorde “God is Liefde” die purper kleed wat oor die kansel drapeer is, bewoord het. Terwyl my kinder, en later volwasse oë menigmaal oor hierdie vertroostende ‘prima leuse’ gespeel het, moes my ore hoor en my persepsies ervaar hoe daar in dieselfde naam gemoor, geplunder, geroof en vervloek is, en mense offers gebring is. Dit is vir my retrospektief gesproke, asof daardie kleed simbolies is vir die ‘toegooi’ van al die dade van die Kerkvaders – U verteenwoordigers en afgevaardigdes wat so gereeld met U in gesprek tree.. Ek dink aan hulle brandstapels, die martelinge in die kerkers, en kelders van U heiligdomme, om nie te praat van al die in den Hemel goedgekeurde volksmoord aan die hand van die Ou Testamentiese Patriarge met wie U kompromieë en selfs ewige verbonde aangegaan het.
Ek hoor U het die see met ‘n staf laat oopkloof en weer toespoel oor die Egiptiese weermag ter wille van ‘n groepie weghol slawe. Maar tog het U toegelaat dat Konstantyn in 365 na U, uit suiwere politieke magsbehep, ‘n ‘menslike’ stemming hou en op grond van die uitslag daarvan bepaal uit welke geskrifte ‘U Woord’ saamgestel moet word al dan nie! En dan, dan laat U toe dat daardie mensgemaakte ‘konkoksie’ die ganse wêreld ingaan as synde die ‘onberispelike’ “Woord van God”. Maar hierdie “Woord” maak perse van U ‘n skisofreen – Daar staan duidelik aldus U, dat ons eerder soos die voëls van die hemele moet wees want: “...hulle kwel hulle nie oor die dag van more nie...” ken U nie dan U eie skepping nie Here? Die swaeltjies, wat sit hulle dan te doene wanneer hul in die herfs klokslag op die drade vergader? En wat van die vinke, om enkele gevalle te noem; wat hul nessies strategies en moeitevol teen more se slang booor die dam en rivier waters saamvleg; sien U nie die kwelling oor die dag van more hierin nie? Ek het nog nooit gesien dat die voëls vir die engele wag om hul neste te kom bou nie – soos wat ons ‘Godvresendes’ moet verstaan uit die argument en self verkoop en probeer doen.
Help tog. Konstantyn en die woestynsand-kaskenades in Palestina en Irak het van U Godheid, mens gemaak. Vir veertig etlike jare – so lank as wat U ‘prima volk’ in die woestyn verdwaal het waar die primitiewe Boesman luilekker ronddraf – het ek en andere verdwaal geraak in die weergawes van wie, en wat U is, en hoe U opereer. Ek sit hier met ‘n twee duisend jaar oue adres van U – die mees onlangse adres van U. Uit ondervinding en waarnemings weet ek dat dit waarskynlik ‘n vals adres is wat Konstantyn laat ‘indeks’ het toe hy van al die antieke geskrifte in Alexandrië ontslae geraak het. Die regte adres is natuurlik versteek toe die ‘Mossad’ U identiteit verander het. Die werklike adres, daar waar daar onverpoos vir ontelbare millenniums lewe uitborrel, is weggegooi of versteek of selfs in iemand se boesem op ‘n brandstapel verbrand...
Ek rig hierdie brief en stuur dit dan nou maar aan die God van Abraham, Isak en Jakob, met die volle vertroue dat die God wat die son ononderbroke laat opkom, en wat die breinlose by na die rykste blom lei, (lees my “God van die By”), en wat beslis dat die sterkste hond die teef wat op hitte is mag dek, tog maar hierdie brief sal onderskep, en die dinge sal regstel. Want by die ‘onderskepper Skepper’ lê al die regte antwoorde
Met Geestelike afwagting
Waldor.