Wendag - Debat oor Christendom en Godsdiens


Gnostisisme

Wat beteken Gnostisisme?

Gnosis is 'n kernbegrip van Gnostisisme. Die term is afgelei van die Griekse woord gnosis wat "kennis" beteken. Gnostisiste glo dat die mens se siel, wat deel is van die godheid of Gees van God, in die fisieke wêreld vasgevang is en net daaruit kan ontsnap en na sy goddelike oorsprong kan terugkeer deur spesiale kennis (gnosis).

Gnostisisme (afgelei van Grieks gnosis "kennis") is 'n sinkretistiese filosofiese en religieuse beweging wat 'n aantal verskillende geloofstelsels in die Christelike en daarnaas ook Joodse en Egiptiese wêreld behels. Hulle gemeenskaplike geloofsbasis is die oortuiging dat mense goddelike siele is wat in 'n stoflike wêreld gevange is. Gnostici glo dat die stoflike wêreld deur 'n onvolkome gees of skeppergod, die Demiurg, geskep is en oorheers word, wat dikwels ook as 'n beliggaming van die kwaad of die Abrahamse god van die Hebreeuse Skrifte (die Ou Testament) geïdentifiseer word.

Daar bestaan 'n ander, hoër wese of God, wat die goeie beliggaam, maar vanweë sy groot afstand van die mens en sy enigmatiese en onkenbare natuur moeilik ervaarbaar word. Om hulleself van die onvolkome stoflike wêreld te kan bevry benodig 'n mens gnosis of esoteriese spirituele kennis wat net vir 'n geleerde elite beskikbaar is. Sommige Gnostiese groeperings identifiseer Jesus van Nasaret as 'n beliggaming van die Christus wat met sy vleeswording gnosis na die Aarde gebring het.

Gnostiese Christene het dikwels geen vaste kerkorganisasie ontwikkel nie, maar het eerder geprobeer om deur middel van 'n persoonlike soektog die spirituele vereniging met die goddelike te ervaar, en hiervoor was suiwer geloof nie voldoende nie.

Gnostisisme was in die eerste eeue voor Christus baie gewild in die Mediterreense en Oosterse gebiede en het ook tot 'n magtige beweging in die vroeë Christendom ontwikkel, maar is later, toe sy mededingers, die destydse proto-ortodokse stromings, tot die amptelike religie in die Romeinse Ryk verklaar is, as 'n dualistiese kettery beskou en onderdruk. Met die uitbreiding van Islam is die aantal Gnostici gedurende die Middeleeue steeds verminder, alhoewel daar ook in Wes-Europa magtige Gnostiese bewegings soos die Kathare ontwikkel en kleiner geïsoleerde groepe deur die eeue heen bestaan het.

Die term Gnostisisme het eers in die 17de eeu gebruiklik geraak en is destyds gebruik om na 'n verskeidenheid antieke Christelike bewegings te verwys wat deur hulle tydgenote as radikaal dualistiese groeperings beskou is en wat die hoogste trap van verlossing deur middel van esoteriese openbaring en mistiese spiritualiteit wou bereik.

Gnostiese stromings en leerstellings het in Europa en Noord-Amerika in die filosofieë van verskillende esoteries-mistiese bewegings van die 19de en 20ste eeu weer 'n belangrike rol gespeel. 'n Aantal groepe beweer dat hulle herstigte moderne weergawes of voortsettings van vroeëre Gnostiese bewegings is.

Met die herontdekking van Christelik-Gnostiese tekste soos die Nag-Hammadi-geskrifte was dit moontlik om die kennis aangaande die Gnostiese beweging aansienlik uit te brei. Alhoewel die presiese verhouding tussen Gnostisisme en die vroeë Christendom tans in baie opsigte nog onduidelik bly, toon die Evangelies van Thomas en Maria (waarin Maria Magdalena as 'n leidende apostel beskryf word), moontlik ook dié van Johannes, wat volgens sommige navorsers deur Maria Magdalena geskryf is, Gnostiese trekke.

Die Gnostiese Christendom het blykbaar die leerstellings van Jesus as die pad van verlossing beklemtoon – en nie sy dood en opstanding nie. Sommige Christene het hul geloof na aanleiding van die Gnosties-Christelike tekste begin herwaardeer en wegbeweeg van die ortodokse tradisie na 'n spirituele Christendom. Kerke soos die Ecclesia Gnostica in die Verenigde State en die Ecclesia Gnostica Aeterna in Europa het voortgespruit uit die herontdekking van Jesus van Nasaret se spirituele boodskap.

Die geskiedenis van die Gnostisisme hou nou verband met die geskiedenis van die Christendom. Hoewel elemente van voor-Christelike okkultisme, die Judaïsme, astrologie, Zoroastrisme en Griekse filosofieë 'n belangrike deel van die Gnostisisme vorm, het die Gnostisisme as selfstandige godsdiens eers werklik saam met die vroeë Christendom ontwikkel en gegroei.

Die Gnostisisme was 'n filosofies-religieuse sisteem met Mesopotamiese en Joodse wortels. In veral die 2de en 3de eeu nC het dit ook baie aanhangers uit die Christendom getrek. Kenmerkend van die Gnostisisme is dat kennis eerder as geloof gesien is as die sleutel tot insig in die finale geheimenisse van die lewe. Die naam "Gnostisisme" is dan ook afgelei van die Griekse woord "gnosis", wat "kennis" beteken. Die kennis wat hier bedoel is, is veral saligmakende kennis aangaande God en die mens. Maar: sulke kennis is net vir die ingewydes toeganklik, nie vir mense buite die kring van die Gnostici nie. Iets hiervan hoor 'n mens in die Evangelie van Thomas in logion (gesegde) 62:

"Jesus het gesê: 'Ek vertel my geheime aan hulle wat my geheime waardig is. Moenie dat jou linkerhand weet wat jou regterhand doen nie'."

Terwyl dit enersyds so is dat die Nuwe Testamentiese Evangelies ook melding maak van verborgenhede wat Jesus aan sy dissipels bekend maak (veral i.v.m. die betekenis van sy gelykenisse) en nie aan almal nie, het die aard van daardie verborgenheid eerder te doen met 'n stompsinnige onvermoë aan die kant van sy hoorders en nie met 'n onwilligheid by Jesus om kennis te deel nie. En ná sy opstanding, nl. wanneer Hy sy dissipels die wêreld instuur met sy boodskap van redding, word dit juis beklemtoon dat die Evangelie 'n oop geheim is wat met almal gedeel moet word.

Reeds die opskrif van die Evangelie van Thomas en die daaropvolgende eerste twee logia bevat ook die tipiese Gnostiese beklemtoning van verborge kennis:

"Hier volg die verborge woorde wat die lewende Jesus gespreek het en wat deur Judas Thomas die Tweeling, opgeteken is.

"Hy het gesê: 'Wie die betekenis van hierdie woorde ontdek, sal die dood nie smaak nie.'
"Jesus het gesê: 'Laat hy wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Alles heers en rus vind'."

Terwyl Jesus in die Nuwe Testamentiese Evangelies die Redder is wat mense deur sy versoenende werk op aarde in die regte verhouding met God bring, is Hy in die Evangelie van Thomas veel eerder 'n wysheidsleraar wat vir mense die weg aandui waardeur hulle hulself red, nl. deur die bekom van verborge esoteriese kennis wat hulle tot die lig en tot rus bring.