Avond maal

Wendag


Wendag
Debat oor Christendom en Godsdiens

Andries Hendrik Potgieter Andries Pretorius FW Reitz General Louis Botha Gideon Jacobus Scheepers Jacobus Herculaas de la Rey Johanna Brandt Johannes Cornelius Lötter Koos De La Rey Pres MT Steyn Sarel Cilliers Siener van Rensburg

Deïsme


Wêreldvereniging van Deïste - God het ons rede gegee, nie godsdiens nie:

Welkom by Deïsme

Saamgestel deur die Wêreldvereniging van Deïste

Deïsme kan baie vir jou en die samelewing bied. Deïsme is die kennis van God gebaseer op toepassing van ons rede/verstand op die konsepte/wette wat dwarsdeur die Natuur gevind word. Die konsepte voorveronderstel ‘n Ontwerper. Daarom is Deïsme ‘n naturalistiese godsdiens en nie ‘n “geopenbaarde” godsdiens nie. Die naturalistiese godsdiens/filosofie van Deïsme stel daardie mense wat Deïsme aanvaar, vry van die teenstrydighede van bygelowigheid en die negatiwiteit van vrees, wat so sterk verteenwoordig is in al die “geopenbaarde” godsdienste soos Judaïsme, die Christendom en die Islam. (Hierdie godsdienste word “geopenbaarde godsdienste” genoem, omdat hulle almal daarop aanspraak maak, dat hulle ‘n spesiale openbaring van God ontvang het. Baie van hulle getroue volgelinge glo dit en baie van hulle heilige boeke is hierop gebaseer.) As genoeg mense Deïste word, sal verstand verhef word bo vrees en mite, en sal sy positiewe kwaliteite deel word van die gemeenskap as ’n geheel. Dan sal biljoene mense, in plaas van om die onsinnige geweld en mites van die “geopenbaarde” godsdienste na te jaag, gefokus wees op hul Godgegewe verstand, wat sal lei tot onbeperkte persoonlike en gemeenskaplike vooruitgang.

Hierdie is nie ‘n waanbeeld nie. Deïsme het die potensiaal om ‘n band te vorm met elke menslike wese omdat elke mens ‘n Godgegewe verstand het. Daarom vind Deïsme aanklank by die meeste mense wat daarvan bewus gemaak word. Hierdie Godgegewe rede/verstand, wat so eie is van en die sleutel tot Deïsme is, is die natuurlike stand van die menslike natuur. Die bygelowe van die mensgemaakte “geopenbaarde” godsdienste is nie die natuurlike stand van die menslike natuur nie. Die rede waarom ons Godgegewe verstand deur mensgemaakte mites en bygelowe besmet word, is baie eenvoudig. Aktiewe mense het hierdie onwaarhede aangemoedig. Sommige van hierdie mense is gemotiveer deur eie gewin terwyl ander onkundig is. Aangesien aktiewe mense hierdie probleem aangebring het , kan dit reggestel word deur aktiewe persone. Soos die aantal aktiewe Deïste vermeerder, sal ons aksies en energieë veroorsaak dat Deïsme die “geopenbaarde” godsdienste van die wêreld oorskadu en sal Deisme uiteindelik, deur harde werk en onbaatsugtigheid, die “geopenbaarde” godsdienste vervang. Mensliewendheid en die individue wat die mensdom uitmaak, sal dan in staat wees om hulle volle potensiaal stap vir stap te bereik.

Gebruik die skakels op die webblad om meer te wete te kom oor Deïsme. Hierdie webblad sal u leer dat God en godsdiens verskillende entiteite is, dat een van Deïsme se talle voordele is om u, u familie en vriende teen kultusse te beskerm, dat Amerika se Verklaring van Onafhanklikheid ‘n Deïstiese dokument is, dat die Bybel en die Koran ‘n bose en waansinnige prentjie van God skilder, dat die Skepper van die Natuur so werklik is soos die wette van die natuur, en nog baie meer.

‘n Verklaring deur Thomas Paine, die man wat meer as enigiemand anders gedoen het om mense van Deïsme te leer, sal moontlik opreg in jou hart en siel weerklink, nadat jy geleer het wat Deïsme werklik is: “Daar is ‘n opgewektheid in Deïsme, indien dit reg verstaan word, wat in geen ander geloof gevind sal word nie. Al die ander gelowe het iets wat óf ons verstand skok, óf teenstrydig is daarmee, en die mens, indien hy enigsins dink, moet sy denke onderdruk om hom te forseer om hierdie godsdienste te glo. Maar, in Deïsme verenig ons denke en geloof volmaak. Die wonderlike struktuur van die heelal, en alles wat ons waarneem in die stelsel van die skepping, bewys aan ons die bestaan van ‘n God en die gelyktydige uitbasuin van Sy hoedanighede, beter as boeke kan,.”

Kultus:

Volgens Deïste is ‘n kultus ‘n groep mense wat onredelike oortuigings aanhang. Op grond van hierdie definisie is Judaïsme, die Christendom en Islam kultusse, omdat hulle lede hulle Godgegewe verstand opgee om die onredelike dogmatiese leringe en bygelowe te glo of te aanvaar, soos bv dat God vaste eiendom as ‘n geskenk aan die Jode gegee het, die opstanding en hemelvaart van Jesus, geloofsgenesing, Mohammed se hemelvaart na die hemel, en nog vele meer vals en onredelike eise. Deïsme is van mening dat geloofsgenesing ‘n bygeloof is, want indien geloofsgenesing waar sou wees, sou onskuldige hulpelose kinders nie gesterf het deur hul ouers se pogings van Bybelse geloofsgenesing nie. Omdat Deïsme altyd vry en onafhanklike gedagtes en denke bevorder, is dit onmoontlik dat Deïsme ‘n kultus sal word.

Deïsme:

Deïsme is die erkenning van ‘n universele skeppende krag groter as dit wat deur die mensdom verklaar word, wat ondersteun word deur die persoonlike waarneming van wette en patrone in die natuur en die heelal, wat verewig en gestaaf word deur die aangebore vermoë van menslike verstand, en gekoppel word met die verwerping van aansprake deur individue en georganiseerde godsdienste, dat hulle spesiale openbarings ontvang het.

Geloof:

Hierdie woord is so erg misbruik deur “geopenbaarde” godsdienste dat dit op hierdie stadium slegs beteken dat die mens sy Godgegewe verstand onderdruk met die doel om ’n onredelike aanspraak deur ‘n “geopenbaarde” godsdiens te aanvaar, of ten minste te verdra. Dit is die enigste manier wat “geopenbaarde” godsdienste mense kan kry om sulke onsinnige en onredelike aansprake soos oorspronklike sonde, op water loop, die behandeling van siekes sonder mediese sorg, en die verdeling van die Rooi See te aanvaar. Deïste verkies die woord “vertroue” eerder as geloof, weens die verdraaide betekenis van die word geloof soos eeue lank misbruik deur die “geopenbaarde” godsdienste. Een hoof verskil tussen Deïsme en die “geopenbaarde” godsdienste is dat Deïste nie glo dat geloof nodig is om in God te glo nie. ‘n Aanhaling deur Voltaire som dit op: “Wat is geloof? Is dit om te glo dit wat voor die hand liggend is? Nee, vir my is dit voor die hand liggend dat daar ‘n nodige, ewige, almagtige en intelligente wese bestaan. Dit is nie ‘n geval van geloof nie, maar ‘n saak van die verstand.”

God:

Die ewige universele skeppende krag wat die bron van wette en patrone is wat deurgaans in die Natuur gevind word.

Intelligente Ontwerp:

Intelligente Ontwerp verwys na die strukture in die Natuur, soos die van DNA wat waargeneem kan word, en die kompleksiteit daarvan ‘n intelligente Skepper nodig het. “Struktuur” in hierdie konteks beteken iets wat in ‘n definetiewe patroon van organisering gerangskik is. In Deïsme het Intelligente Ontwerp niks te make met die onredelike Bybelse mite van skepping nie.

Natuurlike Geloof:

Geloof in God gebaseer op die toepassing van denke/rede op die wette/patrone van die Natuur, in teenstelling met geopenbaarde godsdiens wat gebaseer is op beweerde openbaringe.

Filosofie:

Die studie van waarhede en beginsels van bestaan, kennis, of gedrag.

Denke/Rede:

Die verstandelike magte wat gebruik word om gevolgtrekkings of afleidings te maak wat op feite gebaseer is. Deïste sien rede as die tweede grootste geskenk van die Natuur se God aan die mensdom, met lewe as die grootse geskenk.

Godsdiens:

‘n Stel oortuigings rakende die wese, die aard en die doel van die heelal.

Openbaring:

Om iets te openbaar of bekend te maak. In die godsdienstelike sin beteken openbaring gewoonlik goddelike openbaring. Wanneer God Hom aan iemand openbaar, sal dit ‘n goddelike openbaring slegs aan daardie persoon wees. Indien daardie persoon die openbaring aan iemand anders oorvertel, sal dit hoorsê wees vir die volgende persoon aan wie dit oorvertel word. Indien daardie persoon die openbaring glo wat oorvertel word, plaas die persoon nie sy vertroue in God nie, maar in die persoon wat die openbaring oorvertel.

Geopenbaarde godsdiens:

‘n Gestruktureerde stelsel van geloof in en aanbidding van God gebaseer op die oortuiging dat God met sekere indivuduele stigters/lede van daardie geopenbaarde godsdiens kommunikeer of gekommunikeer het. Soos bo vermeld, plaas iemand wat in enige van die geopenbaarde godsdienste glo, nie sy vertroue in God nie, maar in die persoon/persone wat daarop aanspraak maak dat hy/sy/hulle/ ‘n goddelike openbaring ontvang het.

Vertrou:

Die vertroue in ‘n persoon of saak, gebaseer op rede/verstand en ondervinding.

Vrae oor Deïsme wat dikwels gevra word:

Wat is die grondslag van Deïsme?

Denke en Natuur. Ons sien die patroon wat dwarsdeur die bekende heelal gevind word en hierdie besef bring ons tot ‘n sterk geloof in ‘n Skepper of God.

Is Deïsme ‘n vorm van ateïsme?

Nee. Ateïsme leer dat daar geen God is nie. Deïsme leer dat God bestaan. Deïsme verwerp die “openbarings” van die “openbaarde” godsdienste, maar verwerp nie God nie.

Indien Deïsme ‘n geloof in God leer, wat is dan die verskil tussen Deisme en ander gelowe soos die Christendom, Judaïsme , Islam en Boeddhisme?

Soos bo vermeld, is Deïsme gebaseer op natuur en rede/verstand, nie “openbaring” nie. Al die ander godsdienste (Taoïsme moontlik uitgesluit, hoewel bygelowigheid in beide Boeddhisme en Taoïsme ‘n rol speel), maak aanspraak op ‘n spesiale goddelike “openbaring”, of hulle het vereiste “heilige” boeke. Nie een van die twee geld by Deïsme nie. In Deïsme is dit nie nodig vir ‘n predikant, priester of rabbi nie. Al wat jy nodig het is jou gesonde verstand en om te peins oor die skepping.

“Geopenbaarde” godsdienste, veral Christendom en Islam, gebruik hebsug en vrees om bekeerlinge te werf en te behou. Hebsug hoort tot die bekeerlinge se “geopenbaarde” godsdiens sodat hulle byvoorbeeld beloon kan word met die ewige lewe, en as jy ‘n Christen is, kan jy enigiets kry wat jy vra. In kombinasie met hebsug gebruik hulle vrees vir die dood. Niks hiervan gebeur by Deisme nie. Deïsme leer dat ons moet doen wat reg is, omdat dit die regte ding is om te doen. En Deïsme gee nie voor dat ons weet wat met ons gaan gebeur as ons doodgaan nie. Ons het God lief en vertrou Hom genoeg sodat ons nie daaroor hoef te peins nie. Soos Thomas Paine geskryf het: “Ek is in die hande van my Skepper en Hy sal van my liggaam ontslae raak na hierdie lewe in ooreenstemming met Sy regverdigheid en goedheid. Ek laat alles aan Hom oor as my Skepper en vriend en beskou dit as aanmatigend om te bespiegel oor wat die Skepper met ons gaan maak na die dood.”

Glo Deïste dat God die wereld geskep het en dan net terugstaan?

Sommige Deïste glo so, en sommiges glo dat God tussenbeide sal tree in die mens se sake. Byvoorbeeld, toe George Washington moes kies tussen ‘n baie riskante ontruiming van Amerikaanse troepe uit Long Island, of om oor te gee, het hy die riskante ontruiming gekies. Toe hy uitgevra is oor die troepe se moontlike uitwissing, het hy gesê dis die beste wat hy kon doen en die res het hy aan die Voorsienigheid oorgelaat.

Bid Deïste?

Slegs gebede van dank en waardering. Hulle skryf nie aan God voor nie.

Is daar enige Deïstiese rituele of beloftes?

Nee. Aangesien Deïsme nie poog om beheer oor mense uit te oefen nie, is dit nie nodig vir rituele nie. Met betrekking tot beloftes, soos byvoorbeeld troubeloftes of woorde by ‘n begrafnis, glo Deïste om hierdie beloftes eerder self te skryf, as om ander mense hierdie belangrike beloftes te laat skryf. Deïste is te onafhanklik om op predikante te vertrou om hierdie belangrike dinge te doen.

Is daar Deïstiese kerke of tempels?

Nee, maar Deïste werk daaraan om Deïstiese Denksentrums dwarsoor die wêreld te vestig. Die eerste Deïstiese Denksentrum is in die Berg Rainier Nasionale Park gebied in Washington. Hierdie sentrum word beman deur ‘n kundige Deist en is elke naweek oop om Deïsme aan nuwe mense bekend te stel en om kameraderie aan mede-Deïste te bied. Soos die Wêreld Vereniging van Deïste se lidmaatskap groei, sal die Denksentrums vrywillige dokters, verpleegsters en tandartse aanstel om gratis mediese en tandheelkundige sorg te verskaf aan diegene wat nie mediese sorg kan bekostig en wat nie deur ‘n geloofsgeneser gesond gemaak kan word nie. Die beweging wil ook gratis literêre programme en klasse in astronomie, biologie en al die wetenskappe aan die publiek bied. Dit stem baie ooreen met Thomas Paine se idees soos uiteengesit in sy “The Age of Reason”.

Hoe sien Deïste God?

Deïste sien God as ‘n ewige wese wie se mag gelyk is aan sy/haar wil. ‘n Aanhaling van Albert Einstein gee ‘n goeie Deïstiese beskrywing van God: “My geloof bestaan uit ‘n nederige bewondering vir die onbegrensde superiere gees wat homself openbaar in die kleinste besonderheid wat ons in staat is om waar te neem met ons verpiepte en dwase verstand. Daardie diep emosionele oortuiging van die teenwoordigheid van ‘n superieure redenerende mag, wat geopenbaar word in die onbegryplike heelal, vorm my idee van God.”

Is Deïsme ‘n kultus?

Dit is onmoontlik vir Deïsme om ‘n kultus te wees, omdat Deïsme mense leer om selfstandig te wees en hulle aanmoedig om hul verstand te gebruik. Deïsme leer om “gesag te bevraagteken”, ongeag die gevolge. Anders as die geopenbaarde godsdienste, maak Deïsme nie onredelike aansprake nie. Die geopenbaarde godsdienste moedig mense aan om hul godgegewe verstand op te gee, of ten minste op te skort, en dit geloof te noem. Hoe logies is dit om te glo dat Moses die Rooi See verdeel het, of dat Jesus op die water geloop het, of dat Mohammed die Koran van ‘n engel ontvang het? Om jou verstand so te onderdruk om hierdie stories te glo, skep slegs ‘n presedent wat daartoe lei om ‘n Jim Jones of ‘n David Koresh te glo.

Wat is Deïsme se antwoord op al die boosheid in die wêreld?

Meeste van die boosheid van die wêreld kon oorkom word of uit die weg geruim word indien die mensdom sy godgegewe verstand reeds van sy vroegste evolusionêre fases aanvaar het. Per slot van sake, al die wette van die natuur wat ons ontdek het en geleer het om tot ons voordeel te gebruik, van rekenaars tot medisyne tot ruimte reise, het ewig bestaan. Maar ons het besluit om eerder in bygeloof en vrees te leef, as om te leer en kennis op te doen. Dit is meer gerusstellend om te glo dat ons nie verantwoordelik is vir ons eie dade nie, as om eintlik die harde werk te doen wat nodig is vir sukses.

Deïsme maak nie daarop aanspraak om al die antwoorde te hê nie, maar glo dat hulle op die regte pad is vir daardie antwoorde.



Deïsme:

Deïste - God het ons rede gegee, nie godsdiens nie

Deïsme is die erkenning van ‘n universele skeppende krag groter as dit wat deur die mensdom verklaar word, wat ondersteun word deur die persoonlike waarneming van wette en patrone in die natuur en die heelal, wat verewig en gestaaf word deur die aangebore vermoë van menslike verstand, en gekoppel word met die verwerping van aansprake deur individue en georganiseerde godsdienste, dat hulle spesiale openbarings ontvang het.




Powered by Wendag®

Copyright © 2021 Wendag. All rights reserved.

Content Copyrighted ©2017-2022 by Wendag.