Avond maal

Wendag

Andries Hendrik Potgieter Andries Pretorius FW Reitz General Louis Botha Gideon Jacobus Scheepers Jacobus Herculaas de la Rey Johanna Brandt Johannes Cornelius Lötter Koos De La Rey Pres MT Steyn Sarel Cilliers Siener van Rensburg


Wendag
Debat oor Christendom en Godsdiens

Meditasie


Wat is Meditasie?

Meditasie is 'n Oosterse metode van ontspanning, afsluiting van die materiële wêreld en oopstelling vir die kosmiese dimensie.

Daar is oral, in die Christelike én nie-Christelike wêreld, ‘n groot oplewing in die belangstelling in meditasie. In Christelike kringe word gebed toenemend met meditasie vervang, waarna ook as kontemplasie, gesentreerde gebede of stil gebede verwys word. Meditasie gaan dikwels met joga-ontspanningsoefeninge en rustige asemhaling gepaard ten einde die linkerbrein af te skakel en na die intuïtiewe regterbrein oor te skakel.

Die doel met meditasie, ongeag of dit Hindoeïstiese Transendentale Meditasie (TM), Boeddhistiese, Islamitiese of ‘Christelike’ meditasie is, is om 'n toestand van volkome liggaamlike en geestelike rus te skep, stres uit te skakel en ook met dieper, meer kreatiewe vlakke van jou psige kontak te maak. Rasionele denke word tot stilswye gebring terwyl jy na mistiese sfere oorskakel om die dieper self in jou te ontdek. Volgens Naomi Humphrey (Meditation – the inner way) help meditasie jou om van jou gebondenheid en vrese bevry te raak deur na 'n nuwe werklikheidsbeeld te transendeer. Die resultaat hiervan is 'n veranderde, holistiese lewenswyse waarin gees en materie saamvloei.

Transendentale Meditasie (TM) is 'n Oosterse tegniek om kontak met 'n mistiese wêreld te maak. Dit is nie alleen as 'n stres-verligtende terapie baie gewild nie, maar bied ook aan sy beoefenaars 'n godsdiensbelewenis. Daar is egter talle Oosterse meditasietegnieke wat almal 'n alternatiewe bewussynstoestand tot gevolg het, en dus wesenlik misties van aard is.

Die doel met TM is om 'n toestand van volkome liggaamlike en geestelike rus te skep, stres uit te skakel en ook met dieper, meer kreatiewe vlakke van jou psige kontak te maak. Rasionele denke word tot stilswye gebring terwyl jy na mistiese sfere oorskakel om die dieper self in jou te ontdek. Volgens Naomi Humphrey (Meditation – the inner way) help meditasie jou om van jou gebondenheid en vrese bevry te raak deur na 'n nuwe werklikheidsbeeld te transendeer. Die gevolg hiervan is 'n veranderde, holistiese lewenswyse waarin gees en materie saamvloei.

Die hele gerightheid van TM is na binne. Jy soek nie na God buite jou nie, maar jy leer om die struikelblokke en beperkings te oorkom en God binne-in jou te ontdek. 'n Rooms-Katolieke priester en beoefenaar van TM, Adrian B. Smith, skryf in sy boek, TM – an aid to Christian growth, dat hy hierdie Oosterse godsbegrip aanvaar:

"The great religions of the East are more accustomed to seeking the God who is within, both within the cosmos and within one's own depth. This leads more easily to an interior form of prayer – or centring prayer… The Judeo-Christian tradition looks more often to the God without… TM can, by developing a consciousness of the depth within us, lead us to greater interiority – to an experience of God's presence deep within us."

Oosterse oorsprong:

Dr. Nicol (1989:8) erken die Oosterse oorsprong van hierdie gebruik:

"In die Weste het die Boeddhistiese meditasie veral deur middel van die Zen-Boeddhisme heelwat navolging gevind. Sekere Christelike leermeesters van meditasie, soos Thomas Merton, staan 'n meditasiestyl voor wat aan die Zen verwant is in soverre daar bv. baie intens na innerlike leegheid gestreef word. In Indië het die Joga ontwikkel, 'n streng metode van inkering en konsentrasie. Die doel is die bevryding van die gees deur die beheersing van die liggaam. In Europa word Joga en Zen selfs by Protestantse byeenkomste ter wille van ontspanning gebruik. In Suid-Afrika is die bekendste meditasievorm met Oosterse wortels seker die Transendentale Meditasie (TM). Dit is 'n ontwikkeling van Joga wat in die sestigerjare deur Maharishi in die Weste bekend gestel is. Die volgelinge hoef geen geloof te hê nie. Dit is hoofsaaklik 'n natuurlike tegniek wat aangeleer kan word."

Oorskakeling na die regterbrein:

'Christelike' meditasie volg presies dieselfde pad as alle ander vorms van meditasie, nl. die oorskakeling van die linker- na die regterbrein. Dr. Nicol (1989:73) sê: "As jy 'n beginner is, moet jy drastiese stappe neem om jou intellek te bedwing." Die hele doel hiermee is om die sg. rasionele linkerbrein tot stilswye te bring sodat gewaarwordinge na die vlak van die intuïtiewe regterbrein kan verskuif. Dit open die weg na die ontsluiting van 'n diep bewussynsvlak waar psigiese, of buitesintuiglike, waarnemings gedoen kan word. Die Oosterlinge is vir eeue reeds op mistiese regterbreinervarings ingestel, terwyl die Westerlinge hulle-self hoofsaaklik tot rasionele denke beperk. Die belangrikste tegniek om 'n persoon te help om na die onbekende wêreld van sy innerlike oor te skakel, is meditasie. Dr. Nicol (1989:70) sê die volgende hieroor:

"Een van ons Westerlinge se probleme is die oorheersing van die koue verstand... Sielkundiges verduidelik dit dikwels met verwysing na die linker- en regterlob van die brein. Die rasionele, analitiese, logiese, redenerende vermoëns van die brein is meer in die linkerlob gesetel, terwyl die moontlikhede wat dieper as die rasionele lê, die intuïtiewe en emosionele, meer in die regterlob lê. Dit is 'n algemene menslike ervaring dat die linkerlob die regterlob kan verdring."

Meditasie dien die dubbele doel om die linkerbrein deur ontspanningstegnieke tot ruste te bring, en dan na die regterbrein se intuïtiewe bewussynsvlak oor te skakel. Vir almal wat meditasie beoefen, ongeag vanuit watter geloofsagtergrond, is hierdie ervaring baie belangrik, anders het die meditasie-oefening misluk.

Ontspanningsoefeninge:

'n Voorgeskrewe ontspanningsritueel waarin daar van die tone en voete af boontoe op elke liggaamsdeel gekonsentreer word sodat dit kan ontspan, gepaard met innerlike ontspanning en 'n afdaling na die onderste lae van jou psige, is kenmerkend van alle vorms van meditasie. Burns (1985:88) sê:

"Close your eyes and allow yourself to relaxt each part of your body as you have done before in total relaxation. While you are relaxing, feel your body, part by part, until you feel yourself as a whole body unit. Breathe naturally and move towards your body center, focussing on your energies."

Die oefeninge in konsentrasie, ontspanning en rustige asemhaling word in die meeste handleidings uitvoerig bespreek, en kom tot 'n groot mate met mekaar ooreen (vgl. Sutphen, 1989:231-250, Zdenek, 1983:148-157, Nicol, 1990 b:19-24 en 1993:15).

Goeie én bose ingewings:

Uit al die verskillende meditasieskole kom dieselfde bekentenis, nl. dat die mens se intuïtiewe bewussynsvlak die oorsprong van goeie én bose ingewings is.

Die Nuwe Era-skrywer, Dick Sutphen (1989:45-47) verwys na goeie én negatiewe geeste wat die mediteerder intuïtief kan beïnvloed. Teen laasgenoemde moet hy weerstand bied. Die goeie geeste, sê hy, is hoofsaaklik van die Indiane, Hindoes, Egiptenare en Sjinese afkomstig omdat hierdie volke volgens hom oor besondere wysheid beskik.

Die humanistiese sielkundige en mistikus, Marilee Zdenek (1983:20) sê dat 'n persoon vanuit sy intuïtiewe bewussynsvlak deur geluksgodinne gelei óf deur drake geteister kan word. Sy waarsku teen laasgenoemde, maar beveel 'n geluksgodin as leidster baie sterk aan.

Een van dr. Nicol se probleme is omdat hy 'n meditasievorm voorstaan wat op 'n oorskakeling na die intuïtiewe vlak van die regterbrein gebaseer is, word hy ook met goeie én slegte ingewings gekonfronteer. Die goeie ingewings aanvaar hy as komende van God, terwyl die slegte ingewings hulle oorsprong by die Bose het. Hy stel die saak só (1989:97):

"As mens op ingewings wag, kan jou eie innerlike of selfs bose magte ook met jou praat." In 'n vorige artikel het dr. Nicol (1987) gesê: "Hulle wat mediteer ontvang soms ingewings van Bo... Ons kan nie vanselfsprekend aanvaar dat hulle van God kom nie en moet hulle versigtig hanteer, maar hulle kan kosbaar wees."

Mistisisme vir godsdiens eenheid:

Dit raak toenemend duidelik dat die mistiek een van die belangrikste terreine is waarop die wêreldgodsdienste mekaar ontmoet en aanknopingspunte vir eenwording kry. Meditasie is ‘n belangrike poort wat toegang tot die wêreld van die mistiek bied. Hierdeur word van die rasionele denke van die linkerbrein af na die intuïtiewe ingewings van die regterbrein oorbeweeg. Daarna word daar deur verskillende bewussynsvlakke afgedaal totdat ‘n kosmiese bewussyn ervaar word. Op hierdie vlak word die ontdekking gemaak dat alle gelowe dieselfde God aanbid, wat die Universele Bron van Wysheid is.

Dr. Celia Kourie, 'n Rooms-Katolieke teoloog van Unisa, bevorder ook die idee van die mistiek baie sterk. Sy sê: "Mysticism is a very deep phenomenon which cuts across all religions. It was neglected as a result of the dryness that crept into Reformed churches." Sy glo dat alle gelowe na mistiese ervarings van eenwording met God lei, en dat die Gees van die een God deur alle godsdienste werk.

Genesing:

Meditasie en die benutting van die regterbrein se psigiese kragte word in al sy vorms as 'n kragtige instrument gesien om die mens van sy probleme te verlos en aan hom antwoorde op sy kwelvrae te gee. Die mistikus, Burns (1985:90), sê dat 'n mens se kreatiewe en geestelike potensiaal nie aan jou fisiese beperkinge onderhewig is nie. Genesende krag en die vermoë om dinge te verander, is tot almal se beskikking (1985:141). Antwoorde op vrae is ook by hierdie innerlike bron te vinde. Sutphen (1989:49) sê: "Always remember to trust your instincts..." Mens moet net deur meditasie binnekant toe soek: "In my superconscious mind lies an awareness of ultimate truth."

Dr. Nicol (1989:83-84) slaan meditasie ook hoog aan as 'n beproefde metode om oor probleme te triomfeer:

"Behoorlike meditasie oor bekommernisse maak dit as't ware mak. Jy neem dit aan, verwerk dit, en so word jy baas oor jou bekommernisse... Alle ander vrese kan ook deur meditasie hanteer word.. Ons moet nie verwag dat ons bekommernisse en vrese sommer sal verdamp wanneer ons daaroor mediteer nie. Die realistiese ideaal is dat ons hulle in so 'n mate toeëien en verwerk dat hulle ons nie meer soos vreemde vyande kwaad aandoen nie."

Dr. Nicol (1990 a) krediteer meditasie selfs met die vermoë om bose magte te kan verdryf:

"Dit verdryf die bose magte uit jou lewe, soms op 'n ervaarbare wyse. Daarom het die NG Kerk se amptelike struktuur nie probleme daarmee nie. Bybelkor en die Algemene Jeugkommissie laat binnekort publikasies verskyn met die doel om dit te bevorder."